Veronique Jephtas gesels oor My kroon se krank

Veronique Jephtas gesels oor My kroon se krank

Haar jongste teaterprojek saam met Lynthia Julius en Tinarie van Wyk-Loots

Ek, ’n jong Bruin Afrikaanse vrou, kan trots sê dat Bruin kunstenaars soos Veronique Jephtas, Lynthia Julius, Ronelda Kamfer en Crystal-Donna Roberts vir my en ander Bruin Afrikaanse jong vroumense inspireer om te weet dat onse identiteit verder gaan as al die jare se marginalisering en liegtery oor die kleur van onse velle, die tekstuur van onse hare en hoe ons kamma nie reg Afrikaans met sy groot woorde kan praat nie.

Nou scroll ek op die KKNK-program en ’n groot bos hare groet vir my trots in Kaaps Afrikaans, dis mos hoe dit moet wees, hoe meen julle da! Veronique Jephtas is ’n skrywer, aktivis, digter, protespoësiekunstenaar, dramaturg, regisseur en aktrise van die Paarl. Sy het in 2019 in kreatiewe skryf gespesialiseer toe sy haar honneursgraad in drama en teaterstudies voltooi het. Veronique het haar debuut as dramaturg by die 2020-Toyota US Woordfees gemaak met die teks Hoe change hulle, waar die eenmanstuk deur Marlo Minnaar uitgebeeld is. ’n Jaar daarna is haar debuutdigbundel Soe rond ommie bos gepubliseer. 

Haar nuutste projek is ’n toneelstuk, My kroon se krank, wat sy saam met Lynthia Julius geskryf het. Tinarie van Wyk-Loots is betrokke as regisseur en Lee-ann Van Rooi as produksiebestuurder. In hierdie produksie is Veronique self op die verhoog en sy beeld nie net een nie, maar drie uiteenlopende karakters uit. Hierdie karakters is al drie vroue van kleur uit verskillende generasies wat some type of way voel oor identiteit en die politiek. Elzanne Coetzee beskryf die stuk as ’n wordingsreis; ’n “herinnering om raakpunte te vier en verskille te respekteer”.

Ek gesels met Veronique oor die skryfproses van My kroon se krank, wat onlangs ook by the Vrystaat Kunstefees gewys het.


EDWINA: Vertel ons meer oor die skryfproses van My kroon se krank. Hoe het die teks ontstaan en hoe het dit gekom dat Lynthia betrokke geraak het?

VERONIQUE: Die skryfproses was ’n long ass one. Vanaf 2019 na Teksmark krap ek al hieraan. Ek het middel 2019 begin skryf hieraan en is begin 2020 klaar mettie eeste draft. Daarna het ek altyd gekrap en geskaaf, oorie vroue konstant groei en ek ’n bieter vestandhouding met hulle en bieter understanding van hul omstandighede het. Innie begin hettie teks timely references gemaak na veskeie political events of figures, soe met daai moesie teks oek altyd byhou mettie times, maa dis toe later uit. Ek isse moerse fan van Lynthia se skryfwêk en ôs twie losbekke het immediately geclick iewers in 2020. Ek wou nog altyd iets saam met haa doen, maa dit moes baie spesifiek wies. En ek hettie gewiet wannee ek wee soe ’n befokte konsep gan uitdink nie. LOL! Temagewys pas dit by beide van ôs se wêk en toe vra ek haa of sy kans sien om saam met my te krap aan die teks wat reeds bestaan. Toe is sy bang, want sy sê die teks is reeds soe goed, toe sê ek haa moer, dissie nou die tyd vi flattery nie. En toe skryf ôs. Al issit ’n sinnetjie insit hie en ’n paragraaf byvoeg daa. Dit was baie easy, ’n timely en blessed collaboration. Ek vetrou Lynthia met my woorde ennie geskommel en geskrap daarvan. So ook sy vi my. Ek is bang vi Lynthia se woorde, dit slaan aanhoudend my wind uit my maag. 

EDWINA: Baie van die tematiek in die toneelstuk het te doene met onderwerpe waaroor jy en Lynthia altwee skryf in julle gedigte. Hoekom het My kroon se krank juis die vorm van ’n toneelstuk aangeneem in plaas van gedigte, kortverhale, essays, ensovoorts?

VERONIQUE: Dissie krag van teater. Dis ’nslice of life. ’n Live performance dwing jou om jou ongemak uit te daag. Be it the one being addressed or the one doing the addressing. Innie teks sê Debbie: “Die awkward phase dwing jou om die mees eerlike weergawe van jouself innie oë te kyk.” Daai’s presies wat teater doen, veral met ’n verhoogstuk soes My kroon se krank

EDWINA: Watter rol het Tinarie gespeel in die verwerking van die teks? 

VERONIQUE: Geen. Sy’t soes ienage anne director saam gesny annie teks by siekere dele, maa dit was dit. She just came in every day and slayed with her vision and direction. Badass.

EDWINA: Hoe is My kroon se krank oor die algemeen ontvang? Watter tipe kommentaar en terugvoer hoor jy meestal? 

VERONIQUE: Baie goed. Ek sê al van KKNK af, die kroon sak salig. Die Here is getrou en ek is dankbaa dattie gesprek narie tyd meer oorie karakters gaan as oorie spel. Dit gaan oorie storie, nie die aktrise nie. Al is jy hoe impressed. My gebed bly dat dié vroue gesien wôd en dat ek maa bloot ’n vessel is. Die gehoor is oek baie verbal, oorie material hys toe slat. Soe hulle beaam en lewer kommentaar soema net daa, veral wanneer Aunty Pat gesels. Skinnerbek innie begin. Seer wond annie einde. Kommentaar wat ek elke keer hoor is: “Baie dankie!” Ek dink dit bly by my, omdat ek kan sien dat mense, veral onse mense, dankaar is vi drie vroue van drie veskillende generasies wat finally eerlik praat. ’n Tannie het in trane ná ôs eeste show by KKNK gesê dat haa seun ’n meisie van kleur date, en nou ná die show vestaan sy daai meisie baie meer. Is dit nie tog hoekô ôs teater maakie? Om change te evoke in society, huise en ôsself? That made me happy. 

EDWINA: Het jy/julle ’n spesifieke teikengroep in gedagte gehad met die skep en opvoer van My kroon se krank?

VERONIQUE: Nee. Nie eers slegs mense met natural hair nie. Ek het net gewiet dis vi vroue. Dis ’n produksie sonne perke. Harregat, wild en slaan ammel mettie sweep. Maa oek tog soe sag. Inviting. Dis regtig vi ammel. 

EDWINA: Wat is die connection tussen kreatiewe uitdrukking en protes/aktivisme in jou werk?

VERONIQUE: Kyk, oppie ou end vannie dag is alles political. Die personal is political ennie political is personal. Jy kamma weghaloep, maa jy gaan gevang wôd. Soe ommie twie te skei vi my is moeilik. As jy sien ek issie biesag met iets wat jy sou beskryf as “aktivisme” nie, wiet net ek soek ’n release, net ’n break vannie toxic fumes af. Soms is ek oek net gatvol en wil niks sê nie. Dit sê ek omdat ek glo everything is political, and by choosing not to make everything political, that in itself is a political act. Soe hulle twie is constantly connected, selfs in hulle faint disconnection. You’ll always know my immediate political stance based on the art form and means of expression I am focussing on at the time. 

EDWINA: Hoe vervleg jy jou verskillende vorme van uitdrukking (poësie, teater, spoken word, ensovoorts)? Is daar ’n sekere uitdrukkingsvorm wat meer natural kom wanneer jy oor bepaalde temas dink?

VERONIQUE: Ek dink ek vervleg hulle deur altyd eerlik te skep. Dit kô vanselfsprekend. Teen my wil. Glo my, soms wil ek net skryf oor blomme ennie aankoms van lente, maar dan donner iemand in parliament weer ’n tender om en dan is ek van voor af kwaad. Ek kan dit skei, though. Easily, en dis te danke aan my drama training by Universiteit Stellenbosch, so I know when I need to be solid and I know when I can be fluid and flow. Storievertel/toneelspel kô die maklikste wanneer ek iets wil sê. Digkuns wanneer ek wil beskryf hoe ek voel en spoken word wanneer ek wil vloek, maa nie lelik wil praatie. 

EDWINA: Watter kunstenaars — teatermakers, skrywers, ensovoorts — het ’n bepalende invloed op jou as skrywer en akteur?

VERONIQUE: Mense soes Ronelda S Kamfer, Warsan Shire, Vangile Gantsho en Nico Scheepers, Safia Elhillo, Carlo Daniels, Nathan Trantraal, Ocean Vuong, Hiromi Itõ, Mam Gcina Mhlophe, Lee-Ann van Rooi, Lydia Davis, Tinarie van Wyk-Loots, Crystal-Donna Roberts, Ricardo Arendse, Pieter Odendaal, en vele meer.

EDWINA: Watter tipe toneel wil jy meer van sien by kunstefeeste? 

VERONIQUE: Ek sal love om meer satire te sien. My hart lê eintlik by daardie genre. 

EDWINA: Waaraan werk jy op die oomblik? Wat is volgende?

VERONIQUE: ’n Play. Iets heeltemal buite my comfort zone. Soe dit strek my lekker as skrywer. Ek is deel vannie Tuis, ek’s liefie-geselskap hierdie jaar byrie Toyota US Woordfees met thee Janice Honeyman wattie regie behartig, soe ekke gaan lekke speel, en dan vang ek later die jaar graad. God-willing. Soe dalk ’n PhD binnekort. Lynthia sê ek moet aansoek doen dat sy darem nie soe alleen moet sit en stres en syp en skryfie.


Hierdie storie is moontlik gemaak deur die Art Stories Incubator-program van Breinstorm Brand Architects, in samewerking met Klyntji en Iqoqo. Dit is befonds deur ’n PESP-3-toekenning wat ondersteun word deur BASA en die Departement van Sport, Kuns en Kultuur.

Creative Commons Licence
Dié storie is ingevolge ’n Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivatives-lisensie gepubliseer. Dit mag dus herpubliseer word onder die lisensievoorwaardes, solank ’n skakel na die oorspronklike Klyntji-storie ingesluit is, saam met die erkenning hierbo.
Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Veronique Jephtas gesels oor My kroon se krank gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand