Ronelda S Kamfer se Chinatown tref jou met 'n vuilkyk
Ná 'n jaar pols die bundel se woede steeds
Chinatown is Ronelda S Kamfer se vierde digbundel en dit het in November 2019 by Kwela Boeke verskyn. Amper ’n volle jaar ná die bundel se verskyning, is dit steeds aan die aandag trek.
Sedert Chinatown se verskyning verlede jaar het die bundel vele aandag onder resensente geniet. Opvallend uit die beskrywings en resensies van Chinatown, is resensente se gebruik van geweldbeelde om die bundel se impak te beskryf (“emosionele slaankrag”; “[g]edigte wat tref soos goedgemikte meshoue”; “[h]ardegat verse vol dinamiet en onrus”) en hulle opmerkings oor die “woede” wat uit die bundel vloei. Volgens Joan Hambidge is “[d]ie gewone Kamfer-aanslag [...] hier: woede, woede en nog meer woede [...]” en “stal” Kamfer haar “anger” in Chinatown “uit”.
Die lesers wat bekend is met Kamfer se werk, sal daarom die temas wat in Chinatown se verse na vore kom, herken: die feminisme, geweld teenoor vroue, mental health, rassisme, patriargiale strukture, sosio-ekonomiese ongelykheid, moederskap, en die gesin, word nogmaals onder Kamfer se loep geneem. Maar dié temas – alhoewel bekend vir die gesoute Kamfer-leser – verskyn in Chinatown in nóg kragtiger gedaantes en verse as in sy gelowe voorganger, Hammie (2016). En hoe skryf mens tog oor hierdie temas sónder om woede daardeur uit te straal (of “uit [te] stal”)?
Die atmosfeer wat met Chinatown saamhang, maak juis plek vir die uitpak van hierdie kwessies en die “woede” wat daarmee gepaardgaan. In die eerste gedig en titelgedig in die bundel, ‘Chinatown’, word die ruimte waarin die bundel afspeel, geskets en word die tematiese kontoere van die bundel as geheel neergelê. Wanneer die spreker elke Sondag “permission [het] om / vir twee ure die hospitaal te verlaat”, gaan die gesin op ’n uitstappie na die pa “se spot vir familie-bonding”: Chinatown.
Chinatown
elke Sondag kom my familie my visit en kry ek permission om
vir twee ure die hospitaal te verlaat dan gaan ons Chinatown toe
my pa se spot vir familie-bonding my ma vir reasons wat obscure
is soek elke Sondag ’n nuwe duvet cover of comforter ek bring
die plastic potjie met my Valium Lithium Atarax Zopimed en
Epilim saam my suster smuggle vir my rum of vodka in ’n rooi
waterbottel en ons luister CCFM se frequently broken frequency
of P4 se old-school love songs my ma wil weet wat die dokter sê
ek antwoord haar stadig want my tong is opgeswel van al die pille
hy sê ek sukkel om myself te express
Met hierdie laaste versreël open die bundel dan as sulks ook met die ironie dat die digter-spreker juis in die verse wat volg, duidelik haar emosies en ervaringe uitdruk. Die laaste versreël van die openingsgedig sluit juis dié ironie in wat gepaard gaan met gesprekke rondom feminisme, gender-based violence, mental health en onderdrukking wat plaasvind wanneer diegene in magsposisies nie werklik luister nie: “[die dokter] sê ek sukkel om myself te express” – maar het hy ooit werklik probeer luister in ‘Prince Myshkin’?
Dit is binne hierdie ruimte van “fake wealth”, “shiny kak” en “die reuk van uselessness” (‘Chinatown daddy’) waarin die gedigte in Chinatown gestalte kry. Die spreker navigeer as’t ware ’n “chinatown” (’n samelewing, ’n omgewing, ’n realiteit) vol kunsmatighede en ontrafel die fake-ness; die fake word van die eg geskei, die effense afwyking van die bekende Westerse logo word uitgewys en ontbloot as ’n copy. Die bundel as geheel bied dus – in kenmerkende Kamfer-styl – kritiese kommentaar op die kunsmatighede wat onderdrukkende, rassistiese en patriargale sisteme onderhou.
Waar Kamfer in haar vorige bundel Hammie (2016, Kwela) die verhouding tussen ma en dogter ondersoek, fokus sy in Chinatown op die digter-spreker se verhouding met die vaderfiguur. Die spreker se waarnemings van en gevoelens teenoor die vaderfiguur word die kragtigste in ‘Chinatown daddy’ en ‘grapjas-dêddie’ verwoord, waarin ’n sterk fokus op die (kunsmatige) patriargale ideologieë wat hierdie vaderfiguur kenmerk, uitgepak word.
Chinatown daddy
my pa se strengths lê in sy sophisticated use van tone en projeksie
die way wit mans hulle suit-baadjies se middelknoop vasmaak
wanneer hulle opstaan agter hulle desks en besluit hulle gaan
nou nie meer verder die detective se vrae beantwoord nie
my pa se style kry hy in Blaxpoitation-films
en die invisible stature van ’n tronkgangstermy pa volg die leftovers
van die wit man se toxic masculinity
hy is trauma se experimental phase
sy legacy gaan wees: die mistress van wit manlikheid
die always-a-bridesmaid vir die bride van wit patriarchy
sy oë bly sad asof die juffrou sy punte in die klas uitgelees hetmy pa is soos ’n Roman Polanski
omring met ou mans wat jong bloed ruik
draai ek om en vra et tu Dad?
sy favourite plek om na toe te gaan is Chinatown
want hy relate met die fake wealth die shiny kak
wat jou oë brand en die reuk van uselessness
grapjas-dêddie
my pa is obsessed
met mob-films
ek het eendag gesê
Dad geniet darem
die afknouerige wit mans
toe threaten hy om my vrek
te klap
toe vra hy of ek dink hy is ’n gay
toe sê ek nee
ek praat van die patriarchy
toe sê hy oh
Benewens die kragtige verse oor die vaderfiguur en die digter-spreker se verhouding met en gevoelens teenoor hom, is daar ook verse wat ’n sterk verband tussen geslagsgebaseerde geweld en mental health toon, soos veral uitgebeeld in die gedigte ‘Contra 30’, ‘Chinatown op ’n Sondag’, ‘safe word’ en ‘stamps opplak’. In die laaste gedig van die bundel, ‘nuwe meds’, kry die leser insig in die spreker se kwesbaarheid “wanneer / die edge te naby is”.
Die digter-spreker se geestesgesondheid en unieke ervaringswêreld, sowel as die gesin se ambivalente ondersteuning van die spreker en haar struggles – soos in ‘niemand is stukkend nie’ – word ook op die voorgrond geplaas. Die spreker het “lankal [haar] virtues / getrade vir die freedom van [haar] vices” (‘Miss Militancy’) en “dra [haar] demons / soos goue bamboo earrings” en “gee [haar] demons troetelname / en treat hulle goed / soos ’n ma met ’n blind spot” (‘bamboo’). Die leser kan aflei dat dit hieruit is wat die digter-spreker ’n tipe krag trek om aan die verse in Chinatown gestalte te gee.
Dit is met hierdie selfde krag waarmee die digter-spreker haar blik op die feminisme en die (Afrikaanse) letterkunde vestig. Die digter-spreker neem ’n stewige posisie in teenoor die kunsmatige Wit hegemonie en oorheersing binne die feminisme en in die (Afrikaanse) literêre kanon, soos afsonderlik verwoord word in ‘ek soek nie ’n plek langs die tafel nie’ en ‘my poems is nie confessions nie’. Die spreker moedig lesers soos sy – wat aan diskriminasie en onderdrukking blootgestel is – aan om vir Elizabeth Eybers, Ingrid Jonker en Sheila Cussons “[vas te ketting] waar hulle hoort” en om vir Dalene Matthee “[te] begrawe”, en om te “onthou dat ’n wit vrou ’n wit man is” (vgl. ‘straatmeid’,).
Binne die millieu van Chinatown bied die digter-spreker verder blitsige kritiek op die appropriasie van Bruin kuns deur “wit liberals” (‘Blitzkrieg-sokkie’) en die beperkte spasie wat vir Bruin studente en kunstenaars in Wit hegemoniese akademiese spasies bestaan (‘ver was nog nooit naby nie’).
Uit die pyn en sogenoemde byna blinde woede wat in die bundel se verse verpak word, word daar telkens ook tekens van hoop, van regstel en generational genesing gegee, veral waar die verhouding tussen ma en dogter ter sprake is. Dié keer is die spreker die moeder wat vir haar dogter “die ABCs van white supremacy” en “vir haar van haar ancestors [leer]”. Die spreker stel dit met rou eerlikheid: “ek is die ma wat ek nie gehad het nie / sy is die kind wat my ma nooit gekry het nie” (‘meire’). So ook word hierdie opbouende, bemagtigende ma-dogter-verhouding met die metafoor van ‘brujas’ uitgebeeld.
brujas
my kind is into dark shit
soos haar ma
ons idolise die evil queens en
ek leer haar dat die
good witch maar net ’n bad
witch is wat in ’n security complex blyek en sy lê op die kooi
en sy séance my dooie ma
sy vra wat my fear is
ek smile en sê
babygirl
Mammie is fearless
Die bundel sluit ook ’n gedig in wat aan Kamfer se man, Nathan Trantraal, opgedra is. Hierdie gedig staan in sterk kontras teenoor die gedigte waarin die spreker se vader se vorm van Wit, patriargale en toksiese manlikheid verwoord word, en gee eerder ’n opbouende, ondersteunende beeld van manlikheid en die verhouding tussen man en vrou weer. Hierdie gedig sluit ook pragtig aan by Trantraal se gedig aan Kamfer in sy bundel Oolog (2020, Kwela).
boujee boys en Rothmans Rooi
vir Nathan
kry vir jou ’n boujee boy
een met ’n goue chain en navy ollas
een wat taxi vat en sy change vir sy ma gee
kry vir jou een wat sy pa slaan
as hy sy hande lig teen sy ma
’n boujee boy met ’n fresh fade
wat by Texie’s sit en vir jou die middlecut geekry vir jou een wat sy night terrors wegsteek
en los entjies rook sonder om te nip
maak sy taal jou litmus test
hou sy hand vas want die ghetto
is vol Dementors
lees saam Céline en Dostoyevsky
en worship die empty space tussen PTSD
fight die power en bou die empire
vat alles saam met julle
die vuil sand van julle history die scars van die parkie
die smaak van die Black Lable en rook saam
uit dieselfde pakkie Rothmans Rooi
want as julle survive cheer die wind
en die see kalmeer
Met die hernude opbloei hierdie afgelope jaar – beide internasionaal en plaaslik – van aktivisme, gesprekke en bewustheid rondom geslagsgebaseerde geweld, rassisme en die strukture en gedrag wat beide instandhou en onderhou, is die gedigte in Chinatown só relevant en só kragtig. ’n Jaar ná die bundel se verskyning bied Chinatown ’n uitdagende ruk-aan-die-skouers wake-up call vir enigiemand wat gedink het hulle kan in 2020 gemaklik met hierdie onderwerpe omgaan, of dit ignoreer. Met die verloop van amper ’n volle jaar sedert die bundel verskyn het, tref (om die cliché te gebruik) Chinatown soos ’n Street Fighter combo-kick en “met ’n vuilkyk” (‘senretsukyaku’, p.30) nóg harder as ooit.
As jy nie ook “woedend” is nadat jy Chinatown gelees het nie, moet jy jou afvra: Hoekom is ek nié?
Andréa Müller is ’n Meestersstudent in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch (US). Sy het vroeg in 2020 haar Honneursgraad aan die US verwerf.