Somerfaan se bewuswording en nuwe album

Somerfaan se bewuswording en nuwe album
Foto’s: Francois Lion-Cachet

Foto’s: Francois Lion-Cachet

Spliffs, shrooms en koffie: gesprekke onder 'n boom oor sy musiek

Ek staan op ’n Sondag in die donkeroggend op om vir At Nel, oftewel Somerfaan, te ontmoet by sy huis in Melville. Hy het die afgelope paar maande vir die maak van sy album Dagbreek (2020) douvoordag en suutjies opgestaan; voor sy kinders wakker word. Hy wou hê ek moes na die album kom luister soos dit gemaak is. Hy noem sy vroegoggend-ritueel sy “bewuswordingsproses, soos veldskool”. Ek kry ook ’n koppie kitskoffie toe ek daar aankom, bestelling vooraf geplaas. Ons beweeg na die klankdig-studio.

At is in 1968 gebore en het op ’n plaas buite die Transvaalse Heidelberg grootgeword. “He honed his musical ear & talent thru playing percussion on Farm implements from a young age [sic],” lui die teks wat verskaf is. In 1995 begin hy saam met sy vriend Paul Riekert die Afrikaanse industrial band Battery-9. Tussen die jare 1995 en 2000 veroorsaak hulle ’n herrie met hulle optredes. In hierdie tyd vervaardig Battery-9 vier albums en wen in 1998 ’n SAMA vir die beste rockalbum. Hulle behaal kultusstatus en headline by verskeie feeste. In 2000 gaan At Nel solo onder die naam Somerfaan. Somerfaan tree af en toe op, onder meer by OppiKoppi. Die wat weet, weet. Hy stel in 2004 sy album Uiters Geheim vry. In 2007 is dit Kyk Of Sy Kyk en hy wen daarvoor ’n SAMA vir beste alternatiewe album. Tussendeur ’n klompie singles verskyn daar ook die albums Laaste Somer (2011) en Alien boogie stuff (2016) wat heelwat collabs insluit, onder andere met Chris Chameleon voor hy die pad byster geraak het. At werk om den brode vir die sneakermaatskappy Puma.

Buiten sy vrou Jo-Ann is ek die eerste persoon wat die nuwe album hoor. Hy beplan nie ’n physical launch soos in die verlede met van sy albums en singles nie. ’n Klyntji-storie sal genoeg wees, aldus Somerfaan. Dagbreek se beskrywing lui as volg: “On Dagbreek he embarks on a little journey that covers exquisite pastoral landscapes, broody hot forest nights, a Lars von Trier-esque valley of broken-hearted desolation, ghosts and morning madness, and finally an escape from Babylon on a remote beach somewhere, never to be found again.” Somerfaan brei met die album uit aan sy unieke klankwêreld. Hy gebruik samples, loops, beatboxes en synthesizers Afrikaanse lirieke is volop in sy oeuvre, so ook in Dagbreek.

Ons begin te luister.

SF DAGBREEK COVER TITLE SMALL.jpg

Oh My Heart (ook met ’n Anton L’amour remix)

Die eerste track se spelerige squishiness laat my dink aan Hayao Miyazaki en Studio Ghibli se animasiefilm Ponyo (2008). Die lied getuig van Somerfaan se wye reeks klankinvloede. Anton L'Amour se remix aan die einde van die album is subtiel en toon aan hoe eenders iets anders kan wees. Dis meer soos ’n deel een en twee, eerder as twee verskillende liedjies.

Lang pad saam

’n Wiegeliedjie vir grootmense. Dit herinner my ’n bietjie aan sy 2011-track ‘Morning is Broken’ met ene Regse Verkleurmannetjie. Daar is ’n wending na iets soos ’n “morning prayer”. Die beat tel dan op. Die gorilla op een van die studio se speakers trek my aandag, ’n teken van iets wat kom. Somerfaan sê sy lirieke kom van ’n klomp plekke af na hom toe. Hierdie track is geïnspireer deur Tom Waits se ‘That’s The Way’ met lirieke deur William Burroughs.

DSC_0073.jpg

Hart in jou driveway

Die track se naam was eers ‘Somerfaan von Trier’. Dit gaan oor ’n bar fight wat eindig met ’n steek in die kop, “maar dis seker ook OK”. Somerfaan sê die lied handel oor “al die fokops van my 30’s”, tragedies soos in Lars von Trier se films, veral Dancer in the Dark (2000) met Björk. Hy verwys ook na ’n ander film oor ’n meisie in ’n kleindorpie wie se ou gaan werk op ’n olieplatform. “Jo-Ann sê ons almal doen dit, verloor ons shit as ons partner cheat of ons los. Hierdie track is nie vir almal nie, nie vir die jong outjies nie, maar die track moes in. Dit het ’n plekkie. As almal nie daarvan hou nie, is dit nie die einde van die wêreld nie,” sê Somerfaan.

Ek wil net sê

Hierdie outjie se voorlopige titel was ‘Laat in die nag’. Dít pas by die gorilla op die luidspreker. Tribal beats wat diep pomp. “Ek het gedink Jo-Ann gaan sê ‘waddefok’ [wanneer sy hierdie track hoor], maar toe tune sy dis haar favourite.”

Pienk maan môre

Hier gaan dit oor ’n ou wat besig is om sy kop te verloor. ’n “State of depression” volgens Somerfaan. Die angs herinner aan sy ‘Polisiehelikoper’. Daar is ’n tekstuele verwysing na Nick Drake se 1972-album Pink Moon, al is die klank heelwat anders. “Somerfaan, is jy OK?”

Jy het my verloor

“Ek is nie ’n fan van spoken word poetry nie. Die binnesmondse gepreuwel is nie vir my nie. Ek kan daarmee wegkom met loops wat by mekaar oorneem. Nie almal kan samples maak nie. There can be too much going on.”

Totsiens Babylon

Die track begin met die aansteek van ’n spliff. Somerfaan is gatvol. Dis ’n ode aan die kantoorwerker van Babilon wat genoeg gehad het. “Fok hulle almal,” lui die besluit. Somerfaan gaan met verlof, op die strand is hy heeltemal buite bereik. Hy leef van vis en mieliebrood. Dié verhaal speel af in Mosambiek, vêr van hier.


Ons is klaar geluister. At rol ’n joint. Nog ’n koppie koffie met Cremora. Ons beweeg na buite. Die grasperk op die erf is yl; At skryf dit toe aan die droogte. Daar is egter bome en bonsais waaroor ons begin te praat. At bied vir my ’n trek aan maar ek wys dit van die hand, angs sê ek, ek verkies microdosing. At vertel my oor sy heavy trip op mushrooms toe die bome met hom gepraat het. Ek vra hom wat hulle gesê het. “Hulle hou nie van ons nie. Hulle dink ons is ignorant as fuck.” Hy vertel dat bome meer weet as wat ons dink: “Hulle het 12 senses, ons het vyf.” Ons merk die oggend se goue lig op wat skyn deur die takke en die vliegtuie wat ná die lockdown weer vertrek. “Die Japanese het ’n woord vir die silhoeët van takke teen die lug,” sê At.

[Bome] hou nie van ons nie. Hulle dink ons is ignorant as fuck.
— Somerfaan
DSC_0114.jpg
DSC_0075.jpg
DSC_0123.jpg
DSC_0084.jpg
DSC_0067.jpg
DSC_0080.jpg
DSC_0087.jpg
DSC_0090.jpg
DSC_0096.jpg
DSC_0108.jpg

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Somerfaan se bewuswording en nuwe album gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand