Ons praat met die persoon agter daai Doef Doef-musiekvideo

Ons praat met die persoon agter daai Doef Doef-musiekvideo
fsuhrjun3quo3tczzjtu.jpg

Synth Peter vertel ons oor homself en wat pomp

“Ek dronk, dis 12uur in aand, wat in die lewedige poes gaan aan? [sic]” “Waar n fok is my Suid-Africaners? [ook sic]” “Super absolute gevaarlike progressive afrikaans uitstekend!!!!!!! [sic, obvs]” “ek doef doef in my moer in [net so]” “Doef Doef what ever it means it's laka [verbatim]”. Só lees van die kommentaar op Synth Peter se ‘Doef Doef’-musiekvideo. Dit het in twee maande sowat 370k views gekry; nie te sleg nie. Ons wou meer oor Synth Peter en die liedjie uitvind en het met dié musikant in gesprek getree.


Wie is die persoon agter Synth Peter? Vertel ons meer van jou agtergrond.

My naam is Pieter Geyer. Ek is in Rustenburg gebore en het grootgeword tussen my Oupa se plaas en Pretoria. Ek het kitaar begin speel op die ouderdom van 13, met die hoop om cool te wees en hopelik ’n paar meisies se aandag te kry. Ek het elke dag kitaar geoefen en het smoorverlief geraak op musiek en om musiek te kan skryf, het my betower. Ek was in ’n paar bands deur die loop van my hoërskoolloopbaan, maar ek was eers in 2013 in my eerste “ernstige” band. Ná skool het ek Stellenbosch toe getrek, want dis mooi, en ek het geen idee gehad wat om met my lewe te doen nie. Al wat ek geweet het, is dat ek ’n beroep in musiek bo alles anders verkies. In Stellenbosch het ek ge-waiter en by troues ge-DJ vir oorlewingsgeld. Ek het myself in die begin van 2016 begin leer hoe om musiek self te produce, want ek kon nie lekker remixes in die hande kry om by die troues te speel nie. Ek het op YouTube tutorials begin kyk, en hoe meer ek geleer het, hoe meer wou ek leer... Ek het totaal verlief geraak op elektroniese dansmusiek en het elke dag spandeer om beter en beter te raak met die komponering daarvan. Ek het in die begin van 2019 ’n platekontrak losgeslaan en in 2020 het my debuutalbum Die Toekoms is Synth nommer een status behaal op die Apple Music Afrikaans Top 200 chart. My enkelsnit ‘Doef Doef’ het soos ’n veldbrand vesprei en was ook bo-aan die charts.

Ná skool het ek Stellenbosch toe getrek, want dis mooi, en ek het geen idee gehad wat om met my lewe te doen nie.
— Synth Peter

Hoe en wanneer het Synth Peter ontstaan?

Een aand toe ek op pad terug was van ’n partytjie af. Ek het besef dat daar bittermin Afrikaanse musiek is wat jong mense mee kan relate. Nog minder waarop jy kan dans sonder om te sokkie. Die idee van Synth Peter is toe gebore met een doel: DANS.

Uit watter internasionale musiekgroepe en -genres put Synth Peter inspirasie? ‘Doef Doef’ se visuals herinner aan ‘Drank & Drugs’. Is daar ander invloede?

Visueel: Ons het gemik om ‘Doef Doef’ se visuals te laat voel soos die musiek waarby dit speel. Chaotic, nie te ernstig nie, en met die fokuspunt op dans. Dis baie cool dat die mense dit vergelyk met ‘Little Big’ en ‘Drank & Drugs’; dis twee baie relevante groepe van ons tyd.

Musikaal: Ek trek inspirasie uit alles en almal om my. Ek maak musiek wat ek wens het bestaan, met die geluide van vandag. Dans!

Hoe het jou samewerking met Katinka en Loufi ontstaan?

Hulle het my ge-DM op Instagram en gesê ons moet eendag collaborate. Toe ek ‘Doef Doef’ maak, toe DM ek hulle en sê ons moet NOU collaborate.

Wat dink jy van Afrikaanse sokkiemusiek? En die alternative Afrikaanse rock scene? Bied synth iets nuuts; indien so, wat?

Sokkiemusiek: Lekker saam-sing pret vir die hele gesin, I guess. Sokkie skep ook baie geleenthede vir skaam jongmense om bietjie “lyf teen lyf”-aksie te kry.

Afrikaanse rock scene: Hier kan jy jouself vind of verloor. Dit is die eerlikste scene en kultuur in ons land. Geen pretensies word toegelaat nie.

Synth/klubmusiek: Wat elektroniese dansmusiek bied, gaan oor dans. Dit gaan oor eenheid met jouself en met die mense om jou. Die elektroniese geluide is soos ’n taal wat die vervaardiger met jou praat – dit laat jou lyf vanself beweeg en as jy jou oë styf toeknyp, kan dit jou na ’n ander wêreld neem vir ’n paar minute. Die wat weet, weet.

Hoe beïnvloed COVID-19 dans- en klubmusiek?

Die klubs het nou geskuif na mense se huise toe. Die boude moet geskud word!

Waar kom die idees vir Synth Peter se videos vandaan? Wat laat dit viral gaan?

Ek probeer vir mense net ietsie lekker gee om na te kyk terwyl jy die tunes luister – dit gaan oor die musiek. Wat dit laat viral gaan, weet ek nie. As iemand dit uitfigure asseblief laat weet my, want dan gaan ek elke video so maak.

ezgif.com-gif-maker (1).gif

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Ons praat met die persoon agter daai Doef Doef-musiekvideo gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand