In gesprek met Hunter Kennedy oor Fokofpolisiekar

In gesprek met Hunter Kennedy oor Fokofpolisiekar

Hunter Kennedy / Foto: Michael Ellis

En nou is dit 18 jaar later

FRANCOIS: Hunter, as liriekskrywer het jou werk literêre waarde. Dit was en bly vir baie woorde van bevryding. Dit laat my eerstens dink aan Bob Dylan, maar ook aan plaaslike Afrikaanse skrywer-musikante soos Jaco van der Merwe en Toast Coetzer. Wie is jou literêre invloede en hoe groot rol speel boeke en ’n skrywersdrang in jou lewe?

HUNTER: Dankie dat jy voel die woorde het waarde! Ek voel nog steeds asof ek nie regtig weet wat ek doen nie, so dis lekker om te lees. Daar is ’n lang lys van skrywers wie se werk ek koester. Toast is verseker op daai lys. Ek onthou so ’n line van hom: “Dankie Liewe Jesus vir draadtrek en toebroodjies,” en ek het gedink dis fokken cool. Ek mag dalk die line verkeerd onthou. Lol. Ek sien deesdae die Pixies (Frank Black)/Nirvana (Kurt Cobain)-metode van skynbare lukrake idees langs mekaar string, nogal baie raak in my werk. Love nog altyd ’n element van chaos in ’n stuk. Dinge moet so bietjie uitrafel. Ek weet nooit regtig wat liedjies beteken totdat ons klaar is nie. Lirieke speel ’n groot rol in my lewe. Ek waardeer dit dalk selfs meer as tradisionele digkuns. So dis seker nie verbasend dat die meeste van my invloede liriekskrywers is nie. Springsteen, Paul Simon, maar ook Kanye en Trent Reznor en Alkaline Trio, Harry Nilsson, Propagandhi, NOFX. Ek love Bukowski. Chris Chameleon se Ingrid Jonker-toonsetting het verseker ’n indruk op my gelaat. Johannes Kerkorrel se Eet Kreef (1989) is die enigste Afrikaanse album wat ek geluister het, behalwe Leon Schuster, voor ons Fokof begin het. Ek het baie Breyten Breytenbach gelees toe ons Fokof begin het. Die Ysterkoei Moet Sweet (1964) was groot vir my. Tim Heidecker het volgens my ’n briljante album uitgebring laas jaar, Fear of Death. Ek begeer sy sarkasme en innigheid. Dit verander natuurlik ook. Die invloede is oral en aanhoudend. Ek het byvoorbeeld met ‘Mejuffrou Sonneblom’ die Billboard Top 100 se titels ge-google translate Afrikaans toe en van daar af maar net ’n los visuele narratief probeer bou uit found objects essentially. Om praise and worship te gespeel het in die koffiekroeg op hoërskool was verseker ook ’n massive invloed en goeie leerskool. Man, daar is net so baie. Damien Hirst se pop anargisme, Neil Gaiman se verbeelding, Chuck Palahniuk se scenarios, Arno Carstens se shamanism, Graham Hancock se navorsing, Jack Parow se swagger, David Kramer se waarneming, Alan Watts se zen, Bill Hicks se brein, ens. Ek hou baie van boeke! Dis probably die enigste ding behalwe drank wat ek vir myself koop. Ek het laas Desember Koors (2016) van Deon Meyer gelees en ek was beïndruk en jaloers. Ek probeer myself leer oor storie-skryf. Ek stel belang daarin om ’n roman of ’n draaiboek te skryf, maar dis moeilik!

FRANCOIS: Hoe verskil FPK voor en ná julle hiatus van julle ouer musiek tot rondom 2008 en julle nuwer musiek vanaf 2017? Hoekom het julle besluit om op te hou, en toe weer om musiek te begin maak onder die naam van Fokofpolisiekar?

HUNTER: Ons het op die einde van die dag actually maar net ’n 3 maande-hiatus gevat. In daai drie maande ander bands begin en toe het ons maar net weer begin jol as Fokof whenever daar tyd was. Ons het min musiek uitgesit. ‘Antibiotika’ in 2008 en ‘Paranoia’ in 2013, dink ek. Ons het ’n break gevat, want ons was gatvol. Vyf jaar basically van poes arm wees, hard party en hard toer het maar sy tol geëis. Ons was like “fok hierdie kak!”, maar toe begin ‘Skyn Heilig’ pretty goed doen en toe begin ons maar net weer live te speel. Ons joke altyd dat ons probeer het om op te breek, maar dit het nie gewerk nie. Ek en Francois het gedink ons gaan Engels swot. Dit het nie lank gehou nie. Ek het vergeet ek het ingeskryf by Unisa actually. Daai hele tyd is maar ’n blur. Ek het vir Die Jong Burger begin rubrieke skryf en in aKING begin jol en Die Heuwels saam met Pierre ge-launch en Supra Familias begin, gewerk by The President aan die MK Bruce Lee magazine as editor. Amazing learning experiences in daai tyd. As ek nou terugkyk, dink ek ons het net gevoel ons kon meer doen. As ek nou daai ou footage van ons kyk, kry ek koue rillings. Ek was fokken depressed en het heel waarskynlik aan ’n angssteuring gely. Ek kry nog steeds angsaanvalle, maar oor die algemeen is ek gelukkiger en ek dink dit het grotendeels te doen met die emosionele sekuriteit wat ’n gesin mens bied. FPK verskil nogal drasties van die begin tot nou, ons is ouer, getroud met gesinne, doen nie meer drugs nie, ens. Maar vir my voel dit principally dieselfde. “Passie Liberasie Onafhanklikheid” was ons leuse van die begin af en ek dink ons leef dit uit. Ek voel ook die aanslag is nog steeds pynlik eerlik en ons doen net wat ons wil. Daar was ’n discussion met Selfmedikasie (2017) of ons nou woede gaan fabricate, maar dis bullshit. Ons sing nog steeds wat ons voel en dit was maar nog altyd die punt. As ek nou As Jy Met Vuur Speel Sal Jy Brand (2003) luister kan ek presies onthou hoe ek gevoel het en ek is bly ek voel nie meer so nie. Ek dink dit is ’n goeie snapshot van ’n 21-jarige se state of mind, so dit verbaas my nie dat jong mense nog steeds aanklank vind daarby nie. Die besluit om Selfmedikasie (die eerste vollengte album sedert 2006) vry te stel het teen daai stadium oor jare aangekom. Basies elke jaar gesê ons gaan iets doen en dan het dit net nie uitgewerk met almal se dagboeke nie. 2017 was maar net die regte tyd. Everything came together. Met Wynand se drive en die crowd funding campaign het ons nie ’n ander keuse gehad nie. Lol.

Ek voel die aanslag is nog steeds pynlik eerlik en ons doen net wat ons wil. Daar was ’n discussion met Selfmedikasie (2017) of ons nou woede gaan fabricate, maar dis bullshit.
— Hunter Kennedy

FRANCOIS: Die beeld van Fokofpolisiekar was nog altyd ’n integrale deel van die groep se identiteit. Buiten julle showmanship, staan die menige foto’s wat Liam Lynch oor die jare van julle geneem het, sowel as Merwe Marchand se grafika vir my uit. Het julle van die begin af geweet watter tipe image julle wou uitbeeld, en hoe het dit ontwikkel oor die jare? Wie was die kern rolspelers in die skep van die estetika gewees?

HUNTER: Ek dink ons almal is redelik visually driven, ja. En almal dra by op verskillende tye. Dit was verseker van die begin af belangrik vir ons om ’n visuele taal ook te inkorporeer in ons messaging. Bemarking is ’n groot fokus vir ons. Ons het idees gehad en gedink bands daai tyd utelise nie werklik guerilla marketing in hulle aanslag nie. Matt Edwards en Arno Kruger en Willem Samuel was aanvanklik die grafiese ontwerpers. Ek het aan die begin nog my opinie ingegooi en saam met Matt gesit en design, maar ek bedoel die dudes weet wat hulle doen. Ons het baie band meetings gehou en in 2003 omtrent elke dag geoefen. Dit was exciting. Ons het basically ’n company begin. Die merch en bier en bar en al daai kak was toe al reeds bespreek. Die visuele invloede is seker maar nog dieselfde, skate punk en rock ’n roll basically. In terme van image het ons gedink ons wil skokkend wees. Ons het gesê ons wil uitkom as Sex Pistols evolved in The Clash en dan eindig soos The Police. Nie seker hoe akkuraat dit is nie, maar daar is elemente daarvan wat wel waar voel. Ons het aanvanklik oor ’n look gepraat, maar kon nie bekostig om nuwe klere te koop nie, so ons het maar net hand-me-downs gedra en dit was toe maar die look. Gordon Laws van Noise Magazine het dit beskryf as “bergie chic”. Ons het ’n mail drop gedoen saam met Hannes Esterhuizen waarin ’n fake dominee die ouers waarsku teen die nuwe duiwelse band. Pentagram sticker bombs. Full colour thick-stock flyers self uitgedeel by die feeste. Music video launches. Handwritten lyrics uitgedeel by shows. Vir KKNK jeugsangbundels ge-print. Fokken lekker physical marketing vibes. Liam het in die bus gespring. Ek dink hy het maar net sy eie oog gevolg. Ek is dankbaar vir hom, anders sou ek fokkol onthou het nie. Ek dink Liam se brief was maar om te dokumenteer, maar sy kunstige angle het verseker ’n sekere status gegee aan ons manewales. Ons het grootgeword in die tactile era en ons love al daai kak. Met Selfmedikasie het ek die track listing op The Hero’s journey (1990) van Joseph Campbell gebaseer en as ek reg onthou, het dit Merwe die idee gegee vir die Ouroboros. Merwe het al die panels in daai boekie create. Ek love dit. Die visuals gee baie keer die liedjies konteks. Ek en Merwe het selfs collaborate op die Droom Hoog EP (2018) se cover! Ons is almal redelik opinionated in die band, so die designers het baie keer ’n harde tyd. Dit help dat ons al vriende is vir so lank met byvoorbeeld Merwe, want ons weet hy sal die spirit kan interpreteer. MJ du Preez is die nuutste hond in die huis en ek dink hy nail dit. Ken hom ook al vir jare en ons deel dieselfde smaak, dink ek. Snake het ’n great oog en dra verseker ook baie by tot die look and feel van die band se designs, asook natuurlik die bier wat hy basies dryf.

FRANCOIS: Hierdie is dalk ’n loaded vraag, maar ek hoor graag wat jy dink. Fokof is gekommersialiseer as handelsmerk – merch, bier, die bar. Wat is jou gedagtes as iemand sê FPK het uitverkoop? Fokofpolisiekar se oorsprong het, in my lesing daarvan, nie oor geld gegaan nie, maar is vandag ’n besigheid. Mens kan seker nie ’n musiekgroep kwalik neem om finansieel suksesvol te wil wees nie – inteendeel, dit moet dalk eerder gevier word? Wat is jou siening?

HUNTER: Ag, ja I mean mense kan maar sê wat hulle wil. In my opinie beteken sold out dat mens as ’n groep die klank verander het om te pander na ’n groter audience, nadat jy by ’n major ge-sign het. As ons uitverkoop het, het ons aan onsself uitverkoop, want ons is independent. Bier, bar, al die kak is ons eie initiatives. Die band gaan nog steeds nie oor geld nie. Maar fok, ek wou en wil musiek maak vir ’n lewe, so dan moet mens geld maak. Ek sal nou nie sê ons is fokken ryk nie. As ’n partner in die besigheid is sold out vir my ’n goeie ding. Sell die fokken shows uit! Sell die fokken merch uit! Sell die fokken bier uit! Kom ons gooi! Nie een van ons maak ’n inkomste net uit Fokof uit nie.

As ’n partner in die besigheid is sold out vir my ’n goeie ding. Sell die fokken shows uit! Sell die fokken merch uit! Sell die fokken bier uit! Kom ons gooi!
— Hunter Kennedy

FRANCOIS: Fokofpolisiekar was aan die begin ’n “bedreiging” vir die christelike en nasionalistiese Afrikaner-kultuur. Toe ek in die laerskool was, het ons skoolhoof in ’n Maandagoggend-saalbyeenkoms ons teen julle gewaarsku. Vandag, as band en in julle persoonlike hoedanighede, is julle deel van die room van die Afrikaanse en breër vermaaklikheidswêreld. Ek dink aan televisieprogramme, tydskrifvoorblaaie, kommersiële deals met groot maatskappye en massakonserte. Is julle nog teen die sisteem of het julle deel geword daarvan? Het jy ooit gedink FPK sou ná só ’n lewe lei en hoe voel jy daaroor as jy vandag terugkyk?

HUNTER: Watse sisteem!? Ek dink ons word meer aanvaar, omdat ons tipe mense in gesagposisies in beweeg. Ek het gedink ons gaan nie dertig maak nie, so ek’s eintlik nogal trots op ons dat ons almal alright uitgedraai het. I mean ons het geweet Johnny gaan fine wees, maar daar was verseker vrae oor die res van ons. My droom is steeds om te fokof uit die samelewing uit. Maar ek sal dit doen as my dogter uit die skool uit is. Moet net bietjie opspaar. Ek is dankbaar vir my lewe. Ek is dankbaar vir my vrou en my kind. Dankbaar vir my vriende en die mense wat ons musiek luister en support. Ek is dankbaar ek en my pa kon vrede maak; ek is net poes dankbaar. Lol. Dinge kon anners uitgedraai het. Ek is steeds nie gelowig nie, ek is steeds gay-friendly, pro-feminist, anti-fascist, anti-racist, anti-asshole basically, maar ek dink mense is geregtig op hulle eie opinies en ek stel nie regtig belang daarin om meer iemand te probeer oorreed nie.

Ek is dankbaar vir my lewe. Ek is dankbaar vir my vrou en my kind. Dankbaar vir my vriende en die mense wat ons musiek luister en support. Ek is dankbaar ek en my pa kon vrede maak; ek is net poes dankbaar. Lol.
— Hunter Kennedy

FRANCOIS: Om aan te sluit by my vorige vraag: Julle vroeë punk rock was kwaad en anti-establishment, gehul in tienerangs en ’n soeke na identiteit. Is julle nog steeds kwaad of het die musiek se aard in iets anders verander? Kan mens beide voorstedelik en opreg punk wees?

HUNTER: Wat is “opreg punk”? Ek raak nog steeds kwaad, ja. Voel nie vir my asof dinge beter geraak het nie, voel vir my in fact asof dinge kakker geraak het. My lewe is wel beter as wat dit was. Nou het ons meer ervaring en ons is in beheer van ons eie lewens. Pick your battles. Die musiek was veronderstel om cathartic te wees en as ons nog presies dieselfde kak gesê het as aan die begin, sou ek gevoel het soos ’n mislukking.

Fokofpolisiekar vier in 2021 hulle 18de bestaansjaar.

FRANCOIS: Die onderwerp van Covid voel nou al holrug gery, maar hoe het die pandemie julle livelihoods beïnvloed? Dit blyk dat julle redelik vinnig aangepas het na aanlyn werksaamhede, maar dit moes ’n terugslag gewees het, en is dalk steeds? OppiKoppi en ander musiekfeeste het grotendeels in die hek geduik. Tot watter mate kan die internet die plek van die fisiese inneem, veral met betrekking tot die musiekprojekte waarby jy betrokke is?

HUNTER: Ek dink nie dit kan nie. Dit was net survival, maar ek wil nie noodwendig weer streaming shows doen nie. Die vibe kom van die mense wat saamsing. Dis spiritueel. Op streaming kan ons julle nie hoor nie. Dan is dit boring.

FRANCOIS: Hoe groot rol het die MK-televisiekanaal gespeel in FPK se sukses? Wat was die impak van MK se toemaak op alternatiewe Afrikaanse musiek?

HUNTER: MK was amazing vir ons. Daar is geld in alternatiewe jeugdige Afrikaanse musiek ingedruk. MK het festivals ge-sponsor regoor die land en dit het gevoel asof daar baie bands gevorm het en dit was ’n spesialis-platform wat in die meeste mense se huise toeganklik was. Ek bedoel dis invaluable! Dit was ’n scene. Met die toemaak van die kanaal dink ek ons was fine, maar nou is dit weer baie moeiliker vir nuwe bands om aandag te trek. Dis nou maar weer soos wat dit was voor MK. I guess dit was net nie sustainable nie. Ek dink Spoegwolf sou nou goed gedoen het op MK. Lol

FRANCOIS: Hoe het FPK se luisteraars verander met tyd? Is die meerderheid van julle luisteraars jonk of het julle nog julle aanvanklike luisteraars wat nou, soos julle, werk, trou en kinders kry (“...En moontlik dan aan depressie ly,” aldus FPK se lirieke in ‘Tygerberg Vliegtuig’)? Is Fokof se jong en relatiewe nuwe fans kwaad oor dieselfde dinge as waaroor julle was? Of hoe het dit waaroor die jeug kwaad, onseker en betrokke mee is met tyd verander? En maak julle musiek vir ’n spesifieke mark?

HUNTER: Jirre, ek moet sê ek het nie ’n fokken clue nie. Ek kan verstaan hoe eerstejaars en tieners relate. Die musiek wat ons nou skryf, is vanuit ’n ouer perspektief. So miskien kan dit op mense groei? Die albums is maar basies ’n audio biografie, jy weet? Ek dink ons het baie fans behou. Ek sien hulle nog steeds baie by shows en dit het nogal soos ’n familie geraak, jy weet? Daar is definitief nou ouers wat hulle kinders voorstel aan Fokof. Dis actually nogal wholesome vir my. 

FRANCOIS: Hierdie een hou verband met my vorige vraag: In die begindae was FPK duidelik dat julle niemand verteenwoordig nie, dat julle nie ’n generasie se spreekbuis is nie. Maar tog het duisende aanhangers, ek inkluis, gevoel dat julle die zeitgeist van Afrikaner-opvoeding op die kop geslaan het. Dink jy ’n fan wat nie rondom 2003 tot 2010 oud genoeg was om na julle shows te gaan nie, dieselfde waardering vir Fokof kan hê?

HUNTER: Ek dink nie daai kak maak saak nie. Ek love Sam Cooke se ‘A change is gonna come’, maar ek was nie in die States in die 60’s nie. Fok enige iemand wat vir my sê ek mag dit nie luister nie, omdat ek nie verstaan nie. Fok gatekeepers. Ek dink baie keer het die fans wat 18 raak en vir die eerste keer ’n Fokof show kom kyk, meer waardering. Hulle leef in afwagting as gevolg van hulle ouer siblings se wilde verhale en dan gee hulle, hulle fokken beste. Dis befok. Love daai shit.

FRANCOIS: Het jou siening van geloof verander/verskerp sedert die vroeër jare?

HUNTER: Seker maar verskerp. My geloof verander gereeld. Ek is net nie meer so gretig om mense se minds te verander nie. As hulle poeserig wil wees, dan is dit hulle kak. I guess mens kan ‘Ek Glo In Die Son’ gaan luister vir my geloofmanifesto.

FRANCOIS: Watter kwessies is vandag vir jou die mees dringend en wat na aan jou hart lê? Daar is onder andere die omgewing, korrupsie, ongelykheid, rasse-retoriek.

HUNTER: Ek sou nie myself beskryf as ’n kampvegter nie. Ek het natuurlik idees oor al hierdie stuff. Dis ’n tough vraag. All of the above! Lol. Greed is seker maar die grootste kak. Ek is hartseer oor die tipe wêreld waarin my dogter gaan grootword. Die lewe is ook wat jy maak daarvan. Ek probeer om nie voorskrywend te wees nie; wat de fok weet ek? Ek doen my bes en luister na my gewete en my instink en dan gaan ek fokof sometime uit hierdie kakspul uit.

FRANCOIS: Dink jy ons is te midde van die volgende Afrikaanse musiekbeweging, of is dit iets wat nog moet kom? Ek dink in die lyn van Voëlvry, toe VanFokKingTasties en daarna het ons gedink dit gaan Spoegwolf wees. Is dit? Daar is ook ’n oplewing van content culture (Praating en RadioRaps op YouTube en TikTok as voorbeelde).

HUNTER: Ek fokken hoop so! Dit is seker maar inevitable? “Every generation throws a hero up the pop charts,” in die woorde van Paul Simon. Daar is awesome nuwe shit verseker. Ek is baie opgewonde om te check wat die jongeres mee gaan opkom. Hulle is verseker beter as ons! Ek wil Afrikaanse games begin sien. Sal maybe een moet maak? Enige iemand keen?

FRANCOIS: Sal jy eendag ’n digbundel vrystel?

HUNTER: Nee, maar my Engelse album is op pad! Ek dink ons sal al die Fokof-lirieke in ’n boek sit sometime. Ek dink nie (never say never) ek moet ’n digbundel vrystel nie, want ek skryf nie gedigte nie.

Foto: Michael Ellis

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van In gesprek met Hunter Kennedy oor Fokofpolisiekar gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand