In gesprek met Emilie Badenhorst en Kanya Viljoen oor Ekstasis
Twee meisies se verhaal van queer intimiteit en identiteit in Velddrif
Ekstasis is deur die regisseurs Emilie Badenhorst en Kanya Viljoen gemaak, met Mariana Del Carmen en Inez Robertson in die hoofrolle. In die film word ontluikende queer liefde en intimiteit in die kusdorpie Velddrif verken, sowel as die soeke na en ontknoping van multikulturele Afrikaanse identiteit. Die film word tans by internasionale filmfeeste ingeskryf.
Volgens Badenhorst en Viljoen het hulle die film gemaak om uit te beeld hoe jong vroue dele van hulleself vind deur die verkenning van hulle eie en ander se liggame, binne die konteks van die gemeenskappe waarin hulle leef. “In die film word die veeltalige landskap van Suid-Afrika, Afrikaner-kultuur en LGBTQIA+ liggame gekombineer om oomblikke van intimiteit te verken, sowel as die liefde wat in hierdie spasies ontstaan en ontwikkel.”
Aldus die persverklaring oor die film het Suid-Afrika van die wêreld se mees progressiewe wetgewing wat LGBTQIA+ regte aanbetref, maar daar is steeds ’n kommerwekkende aantal gevalle van geweld en diskriminasie teenoor die queer gemeenskap. Die filmmakers vertel dat hulle deur die hoofkarakters se liefdesverhouding alledaagse ervarings en emosies wou uitbeeld, om sodoende die menslike aard daarvan te vier en die narratief daaromtrent te normaliseer. “Om net te wees, en om as ’n vrou te identifiseer, het my geïnspireer om bemagtigende werk te maak wat intimiteit, sowel as die warboel van menslike verhoudings vanuit die vroulike blik verken,” vertel Badenhorst.
Badenhorst het by die Universiteit van Kaapstad (UK) studeer, en het voorheen die eksperimentele kortfilm Unsex Me gemaak oor Kaapstad se ondergrondse kunssekspartytjies, as deel van die Death of Glitter-beweging. Dit is die kyk werd. Viljoen is ’n teater- en filmmaker en voltooi tans haar praktykgebaseerde meestersgraad aan die UK. In haar navorsing verken sy verskeie persepsies rondom taal, identiteit en opvoering in ’n hoogs-gefragmenteerde samelewing. Sien van haar vorige skryfwerk op Klyntji, sowel as Rozanne Vos se indrukstuk van haar opvoering Die skrif is aan die muur.
Ons het met Badenhorst en Viljoen oor Ekstasis gepraat.
Hoe het dit gebeur dat julle saamgekom het as twee regisseurs om die film te maak?
Ons altwee het in die Helderberg-area grootgeword en is saam op hoërskool gewees. Dit klink dalk cliché, maar ons het onmiddellik saam aan projekte, take en kreatiewe stukke gewerk en van ’n baie jong ouderdom af geweet dat ons goed saamwerk en in dieselfde goed belangstel. So dit voel asof ons al van toe af saamgekom en -gewerk het. Ons het beide teaterstudies aan die Universiteit van Kaapstad studeer en iets wat te midde staan in teater, is die idee van saamwerk en saam-skep. Ons het altwee gedink dat dit interessant sal wees om daardie werksetiek in film toe te pas.
Waar en wanneer is die draaiboek geskryf? Wat het tot die storie aanleiding gegee?
In ons studentejare het ons al hoe meer bewus geword van vriende wat spesiale verhoudings met mekaar ontwikkel en hoe organies en sensitief die verhoudings is. Dit was werklik die aanleiding tot die storie. Dit, sowel as ons eie ervarings met ons gesinne en in ander verhoudings. Die storie is tussen ons woonstelle geskryf en oor ’n periode van ’n paar jaar ontwikkel, maar die draaiboek is laat 2018 geskryf.
Van Breyten Breytenbach se digkuns kom in die film voor, hoekom?
Ons altwee het ’n groot liefde vir Breytenbach se skryfwerk, veral sy beelde en liefdesgedigte. Ons dra dit saam met ons. Emilie het op ’n punt “ekstasis” raakgelees – dit was die beginpunt van wat ons wou skep. ’n Paar maande later het Kanya sy digbundel oorblyfsel/voice over gelees en op die gedig afgekom wat in die film self gebruik word. Ons het onmiddellik besef dat dit die storie kon ondersteun en as interteks kon dien. Die Afrikaanse weergawe van die gedig op bl. 9:
en jy sê: as ek voor jou te sterwe kom
vertrou ek jou die onmoontlike toeek vra: is die nag nog ver?
jy antwoord: die volgende geslag
sal met die hand daaraan raak
om die blinde danseres se buik te aaien ek sê: en as ek voor jou sterwe?
jy sê: dan vertroos ek die heuwels van Galilea
soos dooie walvisse gebraak deur die maan
wanneer die blinde sanger hulle glimmende beweging
in boeke soek
en skryf: “die skoonheid is
om die voldoende te bereik”of: “vergeet dit nooit
dat as ek eerder moet sterwe
ek die onmoontlike aan jou toevertrou”
Oor die estetika van die film: hoe is daar besluit op die liggings, beelde en die algehele visuele gevoel?
Die estetika was nooit iets waarvoor ons moes gaan “soek” nie, maar het meer as ’n eerlike verteenwoordiging van ons wêrelde gevoel. Ons altwee het in Afrikaanse huise in ’n middelklas-area-langs-die-see grootgeword. Die estetika van ons oumas se huise, die lakens en kos en klanke wat in daardie strate saam met ons geloop het, die plekke, beelde, kleure en teksture, is alles goed wat ons intiem ken. Ons wou daardie gevoel van intimiteit oordra en deel.
Hoe het die keuses wat die klankbaan vorm, ontstaan?
Die klankbaan het van dieselfde plek gekom as die estetiese keuses. Dit is bekend en spesifiek, iets waarmee ons grootgeword het. Vir die klankbaan het ons met Jannous Aukema en Mariana del Carmen saamgewerk om dit te moderniseer en te skaaf vir ons konteks. Om dit beide bekend en vreemd te maak.
Daar is ’n paar van die liedjies spesifiek vir die film gekomponeer. Dit sluit ‘breytenbach’, ‘kaalvoet’ en ‘saltpan’ in. Dit was vir ons belangrik dat ons instrumente gebruik wat dikwels in tradisionele Afrikaanse musiek en kultuur gehoor word, soos klassieke kitaar en ’n klavier. Ons wou ook die akkoorde amper “volksliedjie-agtig” hou. ‘Susa Ninna’ wat deur die Lindenkoor gesing word, is toevallig op ’n CD wat in een van ons huise rondgelê het. Dit kom net so van die CD af met toestemming van die koor.
‘Ocean’ deur Alice Phoebe Lou en ‘Nqo Nqo Nqo’ deur The Unity Band is beide oorspronklike liedjies van die kunstenaars en musiek wat ons gereeld luister. Ons was oortuig dat dit goed saam met die storie sou werk – ‘Nqo Nqo Nqo’ omdat dit so ’n ongelooflike ritme en erns skep, en ‘Ocean’ omdat dit iets van beide die liefde en die verlatenheid van die see vasvang.
Deur watter proses is Mariana del Carmen en Inez Robertson tot die hoofrolle verkies? Wat het julle gesoek in die akteurs?
Mariana was van die begin af deel van die film se ontwikkeling. Ons het later ’n casting gehou. Dit was ’n ongelooflike proses; ons albei het verskillende akteurs verkies, maar toe ons vir Mariana vra wie sy die sterkste oor voel het sy onmiddellik gesê dat dit Inez moet wees. Ons het haar instink gevolg. Altwee akteurs was bereid om saam met ons te skep deur te speel, deur kanse te vat, te probeer, saam te dink en deur in die oomblik te wees. Dit was vir ons uiters belangrik dat die akteurs saam met ons moes werk in vertroue.
Die Velddrif-familie se aksente is eiesoortig en die uitbeelding van die werkersklas Afrikanergesin pertinent – wat lê opgesluit in die keuse van die film se milieu?
Ons altwee voel dat die werkersklas Afrikaner dikwels buite narratiewe en uitbeelding lê, dit is nie iets wat ons dikwels in Suid-Afrikaanse films sien sonder dat dit geromantiseer, of verkleineer word nie. Ons het naby die Strand en Gordonsbaai grootgeword, dus ’n ankering van ’n liefde vir die bestaan langs die see. Ons wil meer werk hieroor maak in die toekoms. Daar is soveel komplekse stories wat vertel moet word van gemeenskappe aan die buiterand van die samelewing.
Wat sê hierdie film oor houdings teenoor LGBTI+ mense in Suid-Afrika? Spesifiek binne die Afrikaner-gemeenskap?
Ons wou die gewelddadige reaksie teenoor LGBTI+ mense in Afrikaner-gemeenskappe en -families bevraagteken. Ons is bewus van hoe gewelddadig LGBTI+ mense hanteer word en dus was die film ’n poging tot die normalisering van LGBTI+ verhoudings, of die wense dat queerwees nie met geweld ontmoet word nie. Elke verhouding dra kompleksiteite daarmee saam, maar dikwels steek narratiewe van LGBTI+ verhoudings vas in ’n slaggat van nie-aanvaarding. Ons wou wegbreek van daardie perspektief en fokus op die skoonheid van die karakters se verhouding.
Ekstasis dra by om queer verhoudings op die skerm te normaliseer. Was daar ander soortgelyke films of stories waarna julle gekyk het vir inspirasie? Is dit so dat lesbiese verhale minder aandag geniet as dié van gay mans?
Ons het inspirasie geput uit Blue is the Warmest Colour, Call Me By Your Name en American Honey. Dié films se uitbeeldings van queer verhoudings oor mense wat verlief word en kwaad word en seerkry en saam groei, was wat ons aangetrek het. Verhoudings wat ontwikkel sonder om sigself te probeer kwalifiseer of tipeer.
Bygesê, ons altwee voel dat lesbiese verhoudings en non-binary verhoudings dikwels buite die kanon van queer films val. Dalk is dit omdat dit steeds makliker is om ’n man as ’n hoofkarakter te sien? Dalk omdat die verhouding tussen twee vrouens sonder noodsaak voel, omdat hulle nie noodwendig iets bedreig nie? Dalk omdat dit nog te vêr buite ons alledaagse gesprekke lê en nie eers in boeke of televisie-reekse werklik te sien is nie? Dalk omdat die sisteme rondom ons nogsteeds aan mans sal voorkeur gee eerder as vrouens of non-binary liggame?
Wat was van die uitdagings om hierdie film te maak?
Almal wat aan die film gewerk het, is jong, onafhanklike filmmakers en kunstenaars. Die grootste uitdaging was om filmproduksiemaatskappye en gepaardgaande ondersteuning in Suid-Afrika te vind. Ons was gelukkig genoeg om ’n Franse produksiemaatskappy te kry wat bereid was om ondersteuning te bied – daarmee kon ons die basiese uitgawes van die film dek. Maar dit bly ’n issue om die kapitaal op te bou om stories te vertel wat nie noodwendig in die hoofstroom val nie.
Waar en wanneer kan die film gekyk word?
Dit word tans nog vir filmfeeste ingeskryf en ons hoop dat dit by ’n paar te sien sal wees. Daarna is ons plan om die film vrylik toeganklik te maak, sodat almal dit kan sien. Ons gaan Klyntji beslis op hoogte hou en sal dit eerste op dié platform deel.