Van die hand tot die mond, val die pap op die grond

Van die hand tot die mond, val die pap op die grond

Die skrif is aan die muur – Rozanne Vos deel haar indrukke

 Kanya Viljoen in  Die Skrif Is Aan Die Muur , Arcade 2018. Foto deur Louise Bruwer.

Kanya Viljoen in Die Skrif Is Aan Die Muur, Arcade 2018. Foto deur Louise Bruwer.

Dis die dag voor Moedersdag en ek en my ma kyk die sonsondergang op die promenade in Seepunt. Ons drink die oomblik in, die branders is strelend en dit voel tog so goed om saam met 'n wisselende, wemelende groep mense stil-stil saam te stem dat dit 'n goeie idee is om 'n bietjie na die lang week die see se spieël dop te hou en te wag vir die water om in kwik te verander.

Ons gesels al om die rante van die inhoud van vanaand se gebeurtenis. Die onderwerp is immers een waaroor mens so maklik kan verskil en dit is dan nou so lieflik; mens sal mos nou die vrede wil versteur nie. Die oomblik wil ontsier nie.

Ons is op pad na 'n geleentheid geskep deur kurator, Gavin Krastin, met die naam Arcade. Arcade beoog om 'n ervaring te skep vir eksperimentele, proses-gedrewe, jong en opkomende kunstenaars, met 'n fokus op performance art.

Arcade het vertonings vanaf sewe kunstenaars ingesluit, uiteengesit oor twee aande. Die kunstenaars bied 'n verskeidenheid van ondervindings en kommentaar aan. Voorwaar 'n arkade van gebeurtenisse, hetsy dit siklies, voortdurend of reisend is. Alles begin gelyk en almal word aangemoedig om te kom en gaan soos die kyker sou verkies.

Ek het my ma gevra om saam te kom kyk na Kanya Viljoen se projek, Die Skrif Is Aan Die Muur.

"South Africa, I am writing you a letter. One that has been written before. One that is etched on a bathroom wall like a confession of love by a teenage girl. I am sorry. It might not be legible"

Ander kunstenaars wat opgetree het sluit Namisa Mdlalose en Lesego Chauke met Matthew 16:24, Julia de Rosenwerth met When we were older, Tazmé Pillay & The Death of Glitter met Dancing with Mary, Mark Azmodeus met Kali Ma, Tandile Melubakho Mbatsha met Junxure (Indibano) en Naledi Majola met Where is the black samurai? in.

Nes ons by die gewese kerk in Woodstock aankom waar die Theatre Arts Admin Collective hulself tans huisves, maak ons seker om die kar se deure te sluit en ek is haastig opsoek na 'n badkamer.

Ons is onkonvensioneel vroeg, byna 45 minute. Ek hoor bekende geselsies vanuit die dames kleedkamer en maak dringend die deur oop. Kanya groet my met 'n warm omhelsing in 'n wit, knie-lengte nagrokkie en ek kry sommer koud namens haar. Daar is 'n tasbare opgewondenheid, teerheid en spanning wat oor my spoel soos ek die badkamer in tree en onmiddellik oorweldig is deur 'n gloed van rooi lig.

My oë pas aan en ek lees grepe van Marlene van Niekerk se Brief aan my Vaderland en Fokofpolisiekar se Brand Suid-Afrika tussen die skriftelike chaos op die wit teël muur.
Ek sien honderde teetyd koekies en doilies hang van die plafon af in die eerste toilet-hokkie. Die tweede hokkie se toilet het 'n enorme hoop stywe, koue mieliepap op die deksel. Daar is rolle en rolle toiletpapier van hoek tot kant in die ander hokkie. Ek het 'n nood. Die badkamer is beset.

Ek vind verligting in die mansbadkamer en gaan rook 'n sigaret buite, terwyl ons wag vir die amptelike opening van die aand.

My gedagtes dwaal nie, maar hulle drentel alreeds deur gange met veronderstelde doodloopstrate namate die vinnige voorskou. Meer en meer mense daag op, dit voel asof almal mekaar ken in die Kaap.

Die gevoel is familiêr, veilig, liberaal, divers, geesdriftig, ywerig. Die groter deel van die gehoor is jonk. My ma sê onderlangs dis vir haar lekker om saam met die jongklomp tyd te spandeer. Ek is verlig.

Arcade word amptelik en informeel geopen deur Gavin Krastin en almal vaar hulle onderskeidelike rigtings in om hulle togte te begin. Ek stap weer in die badkamer in waar Viljoen se installasie is, hierdie keer sonder die biologiese nood, eerder met swart koki byderhand. Alle kykers is aangemoedig om aktiewe deelnemers en medeskrywers aan 'n ope brief aan Suid-Afrika te word.

Die badkamer is beknop: heelwat mense, twee fotograwe en die geroesemoes van 'n klankbaan vol krapmerke, klankgrepe van die toneelstuk Die kortstondige raklewe van Anastasia W (Marlene van Niekerk, 2011) en 'n wasige weergawe van Carike Keuzenkamp se treffer, Dis 'n Land (1987).

Kanya Viljoen sit en bibber op die vloer van die middelste hokkie. Sy lyk angsbevange, kwesbaar en kinderlik. Ek staan in die hoek van die kamer en kyk hoe mense die vertrek beloer deur hulle selfoonskerms: iets wat eintlik help met afstand vir estetiese perspektief in hierdie geval.

Die groep begin skryf en reageer op die skrif aan die muur. Soos die realiteit van anonimiteit inskop, raak die kyker en skrywer uitbundiger. Daar is 'n bloedstollende gil van buite, die nuuskierigheid lok byna almal na die performance van Junxure (Indibano) deur Tandile Bakho Melubakho Mbatsha. Ek bly agter en begin met blitsige oë die mure lees:

"Uit die perd se bek"

"Bloed en yster, bloed en grond
Bloed en olie, bloed en grond
Bang en lui en desperaat
Daars niks nuuts onder die son nie
En in die skaduwee brand Suid-Afrika"

"My depressie gaan poëties wees, poëties en polities, en ek gaan raas"

"Ag, kots"

"Jy lag kras vir my dagdroom."

"Jy kan mielies in sy ore plant'

"Die land is in sy moer! Die titanic se ligte was darem nog aan." 

"100% Boer"

"Speak Afrikaans or shut up"

"Kinders moet mos gesien word en nie gehoor word nie. Kyk nou." 

"So kô, lat ons sing"

"South Africa, you do not have a name"

"Is dit nie al wat ons kan doen nie?"

Elke persoon wat in kom voeg nog ietsie by. Die energie is die van angs, bevryding, ontlasting, nood, verligting. Dis privaat, dis publiek.

"Soek jy pap?" vra Kanya ewe skielik klokhelder agter my. Dit voel of ek wakker skrik net om dieper in 'n koorsdroom ingetrek te word. Sonder om te dink, steek ek my hand uit en vat 'n klont koue, stywe mieliepap en gril vir die gedagte om van die toilet se deksel af te eet. Soos ek wonder wat ek nou gaan maak met die pap, sit sy 'n handvol in haar mond en beweeg aan na die volgende kyker en bemoedig hulle aan om dit saam met haar te eet.

Baie van die kykers weier om dit te aanvaar ("No thanks, I’ve had enough growing up"), terwyl net so baie verward die pap in hulle hande aanvaar en 'n paar mense dit eet, langtand of selfs smeulend ("Thanks, dude! 'n Snack!"). Ek laat val myne in die wasbak soos 'n paar ander voorlopers en lees die geborduurde psalm bo die wasbak: "O GOD DIE DROEG ONS VOORGESLACHT IN NACHT EN STORM GEBRUIS BEWIJS OOK ONS UW
TROUWENMACHT WEES EEUWIG ONS TEHUIS". 'n Noodkreet wat oor die meerderheid se kop gaan.

Die mense begin weer in die badkamer in stroom, die fotograwe se flitse laat die installasie soos 'n moordtoneel uit 'n film voel. Ek gaan weer rook, my ore suis en my palms sweet. Daar is 'n knop in my keel. Dis moeilik om 'n brief te skryf vir Suid-Afrika. Ek het pap in die mond. Ek wonder of sy nou ál daardie pap gaan eet. Ek haal vlak asem en dink diep.
My ma het intussen die ander kunstenaars verken en beveel aan ek in loer by Junxure.

In die donker saal glinster en skoffel 'n byna naakte persoon met repies papier op die vloer om die mens. Hulle* is gesmeer vol botter en hou die repie met die woord "DECOLONISATION" op en wys dit vir die kykers wat in 'n sirkel op die vloer om hulle sit. Die meerderheid klap hande, knik hulle koppe in goedkeuring. Hulle smeer die papier oor hul liggaam en sit dit weer op die vloer. Ander repies sluit in: "GENDER BASED VIOLENCE" en "PATRIARCHY", onder andere.

Ek voel beter, ek wonder hoe lyk die skrif aan die muur. Ek wonder wat sê Suid-Afrika vir Suid-Afrika. Ek wonder hoeveel pap daar al geëet is.

Soos ek weer die brief binnetree, is die mure heelwat voller. Kanya vra verbouereerd vir 'n man of hy asseblief die 100% wat nou 80% geraak het, kan verander in 70%. Hy kyk na haar en sê: "I don’t speak Afrikaans."
Sy sê: "Maak dit asseblief 70?".
Hy sê: "I don’t speak Afrikaans. No. What?"
"Sewentig persent" sê sy en beduie na die skrif hoog teen die muur waarby sy nie kan by kom nie. Hy weier weereens en gaan voort om 'n diagram op die muur te teken, soortgelyk aan 'n familieboom. Hy maak 'n vraagteken langs die huidige "80% Boer".

Die skrif raak al hoe meer uiteenlopend, dringend, deurmekaar, deurdag, onleesbaar:

"Speak Afrikaans or shut up." 

"Why?"

"BUT THE LAND"

"tears in the cubicle next door"

"my volk gaan ten gronde as gevolg van 'n gebrek aan kennis"

"Ek praat met jou!"

"Ek praat Afrikaans, maar ek is nie 'n Afrikaner nie. Ons is almal bang."

"Ons almal kak die reëls uit waaraan ons almal verstik het."

"Black mental health matters"

"Handjies klap, koekies bak, bring die meel, nie te veel"

Iemand het vir Suid-Afrika 'n klomp hartjies geteken.

"Sterkte Suid-Afrika x"

"I warn you, you're a nationalistic narcissus"

"NB Give back the f-ing land"

"Ek versuip al in my eie spoeg van oor myself praat. God weet, ek het al myself verloor. Van hoe wit ek is, van hoe wit ek voel."

"Dis 'n fokop. Alles is 'n fokop om aan vas te klou"

Ek kan nie meer nie, my oë kan nie ophou lees nie, my hart kan nie ophou jaag nie. Daar is so baie harte van mense sonder gesigte op die muur en dit breek myne.

Buite die badkamer skaterlag die geselskap, bespreek hulle die res van die aand in die stad se planne. Binne die badkamer weerklink die lirieke spokerig:

"Daar's 'n land waar kerse brand en vele mense tale
en ek weet die land is net vir my en jou bedoel
Dis 'n land vol drome en toekoms ideale
Laat die mooi van môre oor jou spoel"

Kanya het al kommerwekkend baie van die pap geëet. Baie daarvan het tussen die hand en die mond op die vloer geval. Sy deel nogsteeds. Byna niemand wil meer hê nie. Daar is al ‘n uur en ‘n half verby. Ek gaan eers weer rook. My ma sit op ‘n bankie en wag vir my om klaar te kyk.

Die mense raak minder en die ander kunstenaars is klaar. Die kykers wat oor is gaan vir oulaas om te kyk na ons gemeenskaplike poespas van 'n brief aan Suid-Afrika en Kanya wat sukkel-sukkel nog koue pap afwurg. Die man vantevore kom terug, krap die vraagteken dood en verander die 80% in 'n ronde 0.

Ek let nog 'n paar strofes, sinsgrepe en krabbels op tussen my bekommernis vir Kanya en die toekoms van ons tuisland.

"Propaganda. Dis alles net propaganda"

"As ek gebreek voel maar almal sê vir my 'Jy's oraait' Jy dink so, maar jy is verkeerd. En so, my emosies word nul en void en die maak sin"

"En niks is dood nie, en alles dans. En reik na naamlose dinge uit- N.P. van Wyk Louw"

"Let us all take a moment to look at this thing of land. Locate yourself. How did you come to be here? A: 1) GIVE IT BACK 2) TAKE IT BACK. Epistemic disobedience is for the brave."

"I will not learn to love the bomb"

"Ek is nie Afrikaans nie. Ek is net so gebore"

Ek hoor hoe Kanya die deksel oplig en begin braak. Almal kyk hoe haar liggaam ruk. Almal weet hoekom, almal het gesien hoe sy eet en eet en eet en sommiges het saam geëet. Sy is onbedaarlik aan die kots en huil en die fotograaf neem haar af. Die reaksie wissel van strak tot vreeslik besorgd. Iemand bied vir haar water aan. Kanya antwoord in Engels: "I am just going to keep throwing up."

Ek trippel senuagtig in en uit die badkamer. Dit voel of ek 'n private oomblik versteur. Dit maak my angstig om te hoor hoe sy opgooi. Ek sien hoe sy teen die koue badkamermuur vol uitlatings rus en stelselmatig stabiliseer. Ek soen vir Kanya op die voorkop en loop in stilte saam met my ma na die kar onder die straatlig, onder die maanlig. Ek hoop regtig ons sal môre op die Sabbat bietjie kan gesels en ons onderskeidelike ervarings deel oor 'n koppie tee, met 'n koekie of twee. Al praat mens mos nie eintlik oor geloof, seks of politiek nie.

Alle foto's geneem deur Louise Bruwer

Naskrif:

Die algemene geestestoestand van die jeug is versteurd en verbouereerd, maar meer kognitief, opgevoed en geïntegreerd as ooit. Dit word nie makliker gemaak deur die dekking vanaf die drukpers of sogenaamde Afrikaanse nuusbronne nie.

Depressie en angs is aan die styg en die debat is aan die gang. Die Afrikaanse kunstenaars beleef nie tans "'n bestaanskrisis sonder enige gravitas of benul van hulle nodige rol" soos Barnard Beukman in sy berig verklaar nie. Hulle is inderdaad aktief en besig om te veg teen die media wat verseker dat die sienend en siedende jeug stom bly.

Maroela Media, Netwerk24, Die Beeld en so meer word 'n monopolie wat weier om verantwoordelikheid te aanvaar vir die verspreiding van skadelike, problematiese retoriek, vir ingeval hulle dalk hul agtergeblewe, ver- en alt-regs demografie van lesers mag verloor.

AfriForum eis 'n taal en kultuur en ons weier om daarmee te vereenselwig. Die "ongemaklike uitdagings" waarna Beukman soek gebeur in vervalle kerke, skool- en lesingsale, by feeste, op die groot en klein skerms, laat aande in kroeë, op Instagram stories en sosiale media – oral behalwe die koerante of Netwerk24.

Weens 'n gebrek aan ondersteuning, blootstelling, foutiewe verteenwoordiging en onvermydelike, geleidelike kulturele apostasie, skep ons kreatiewe geleenthede om na mekaar te luister en moontlike oplossings te vind.

Ek sal nie langer dat 'n middeljarige, onkundige witman namens my praat nie. Ek sal nie stil gemaak word in my oortuiging as gevolg van 'n gesagstruktuur wat bouvallig is nie. Om jou hande in onskuld te was en jou blind te staar aan die aard van Kallie Kriel se loutere onsinnige uitlatings, is medepligtig. Apatie is 'n pandemie geanker in 'n vals vrees wat aanhou versprei word. Hierdie 'swart en rooi gevaar' gedagtegang wat nogtans onderliggend en blatant gespu word is gif en belemmer die belangrike verwikkeling van die gesprek oor ons gemeenskaplike verbetering as Suid-Afrikaners. Die gulsigheid en gierigheid is om van naar te word.

Maak oop jou ore, luister. Maak oop jou hart, voel. Maak oop jou mond, gesels. Maak oop jou huis, deel.

Maak oop jou kop, dink.

Ek sou sê maak oop die koerant en lees, maar om Vadersnaam, eerder en asseblief nie.


*Gekose voornaamwoord.

Dié stuk verskyn ook in Ons Klyntji jaargang 122.

Sien ook: Taal, kultuur en identiteit as politiese daad: Kanya Viljoen se skryfwerk handel oor haar posisie as jong Afrikaanse vrou

Rozanne Vos (b. 1994) is 'n skeppende kunstenaar en nuuskierige agie met 'n eklektiese benadering tot die kuns en politieke land- en verwantskap waarmee sy in aanraking kom. Volg haar op Instagram of stuur 'n e-pos na rozanne@vos.co.za.