Die poësie van OppiKoppi
Foto's: Simon Sonnekus vir Klyntji

Foto's: Simon Sonnekus vir Klyntji

Andries Bezuidenhout oor die cool van uncool

Die 22ste Oppikoppi rockfees is pas verby. Elke jaar se fees het ’n tema – hierdie jaar s’n was For the lovely young taken to The Unsea – ’n digterlike tema. Heel toepaslik en in ware Oppikoppi-styl was poësie ’n prominente deel van die fees. So tussen deur die musiek is gedigte voorgelees, onder andere deur Danie Marais, Bibi Slippers, Ronel Nel, Martina Klopper, Toast Coetzer, Erns Grundling en dan Gert Vlok Nel wat sy lied Jonk (waarop vanjaar se feestema gebaseer is) by die laaste Poetry Session meesterlik opgevoer het. Oppikoppi laat my altyd aan ’n gedig van Breyten Breytenbach dink, die een oor die “babelaasoggende” toe hy en sy tjom “uit kon stap met ge-oliede koppe en lywe met nuwe krake in iedere sit en lit.” Hy skryf oor ’n “bliksemse son” wat “naaldskerp ’n wit doek aan die aarde probeer stik”: 

om met spesiale lippe ’n eerste

bewerige koppie koffie af te sluk –

destyds, tjom, toe ons nog jonk genoeg was

om ons dronk vás te kon vát!

Ek sukkel lank reeds om my dronk vas te vat. Ek kom Oppikoppi toe om myself vir drie dae heeltemal te verloor. Sommige (soos ek) verloor hulself (wel, meestal) in die musiek. Ander slaan hul tente op, haal die rooster uit, maak die koelboks oop, en verlaat nooit die kampeerplek nie. Die algemene kampeerplek staan bekend as Mordor (danksy Tolkien) en die mense wat daar kamp word “prawns” genoem (danksy die film District 9). Dis miskien ’n kant van Oppikoppi wat oningewydes sukkel om klein te kry: die amper maniese toewyding van die mense om hulself te geniet.

Met elke Oppikoppi is daar egter ’n tipe siniese joernalis wat een of ander verdoemende resensie in ’n koerant skryf. Hierdie tipe kom nie Oppikoppi toe om te probeer verstaan wat daar aangaan nie. Hulle vra nie vrae nie. Hulle sukkel gewoonlik om iets negatiefs te vind om oor die musiek te skryf, want dis van Suid-Afrika se beste musikante wat hier optree. Dan pik hulle maar op die gehore se bad- en drinkgewoontes. Of hul klere. Of dat die meeste van hulle wit is. Twee sielkundestudente het die fees al probeer psigoanaliseer en het bevind dat die mense daar rou oor die dood van apartheid.

Daar is dus iets wat sulke joernaliste en ander kommentators mis. Ek sukkel om dit te formuleer, juis omdat ’n mens dieper moet kyk, ’n paar vrae moet vra om dit te verstaan. Want Oppikoppi is nie net sommer nog ’n rockfees nie. Dis ’n fenomeen, ’n instelling, een wat nou al vir twintig jaar met ons is. In die tyd van die fads en fashions van populêre kultuur is dit ’n baie lang tyd. Ek het al na soveel feeste gery of gevlieg waarvoor die mense bloot nie opgedaag het nie. Daar is ’n hele paar organiseerders van sulke feeste wat my nog geld skuld. Dis dus nie maklik om ’n suksesvolle rockfestival te reël nie.

Hoe kry die organiseerders van Oppikoppi dit reg? En wat mis jy as jy nie ’n bietjie dieper as die oppervlak grawe nie? Vir my gaan Oppikoppi op ’n vreemde manier oor die cool van uncool. Om my punt te verduidelik gaan ek nou eers ’n wye draai moet gooi. Maar wees gewaarsku: Dis ’n saak waaroor ek nie objektief kan skryf nie.


Die wêreld is besig om een groot supermark te word. Maatskappye kan slegs oorleef as hulle groot word en markte heeltemal oorheers. Sommige maatskappye se omset is groter as die bruto binnelandse produk van die meerderheid van lande in die wêreld. Hierdie tendens geld nie net vir maatskappye wat yskaste, motorkarre en klere maak nie. Dit geld ook vir die musiekbedryf. Kolossale platemaatskappye toets hul produkte in die groot musiekmarkte van die wêreld uit en stort dit dan orals elders op ’n groot skaal uit. Miljoene dollars word in bemarking en verspreiding ingestoot. Alles gaan oor omset, oor trefkrag, oor “economies of scale.”

Die middelmoot kraai koning. Die dogter van ’n hotelmagnaat maak ’n plaatjie met ’n deuntjie en dit verkoop. Dit verkoop nie omdat sy innoveer nie. Sy breek nie nuwe grond nie. Sy vervaardig bloot ’n produk. Die marknavorsing het gewys die mense sal van hierdie en hierdie tipe klank hou. Ons gee vir die mense wat hulle wil hê en hulle gee vir ons hulle geld: “Ag, en sy is so glamorous, ons sal so graag soos sy wou wees, jy weet. Ag, die hondjie in die handsak. En siestog, sy het so oulik tronk toe gegaan.”

As ’n mens nou bemarkingskonsultante moes aanstel om ’n “brand” – ’n handelsmerk – vir ’n rockfees in Suid-Afrika te ontwerp, sou hulle beslis nie met die naam Oppikoppi vorendag gekom het nie. Om die waarheid te sê, dit sou waarskynlik onderaan die lys gewees het. Die naam Oppikoppi klink net nie cool nie. Dit klink soos een of ander oord iewers in die Bosveld waar mans met bierpense en two-tone kakieklere sit en brandewyn drink.

Ek dink dis dalk wat ons gedink het iewers in 1994 toe Dagga-Dirk Uys, die legendariese organiseerder van die Voëlvry-toer, begin het om die koms van ’n band naweek met Koos Kombuis en Valiant Swart iewers in die Bosveld naby Thabazimbi te adverteer. Hy het die naweek by gigs in Pretoria en omstreke afgekondig en Liela Groenewald, ons woonstelmaat daardie tyd, het plakkate orals in Hatfield opgeplak, soos ’n mens maar gemaak het as jy in daardie tyd gigs wou adverteer. As ek reg onthou, het die plakkaat juis genoem dat die gigs by die “Oppikoppi-oord” sou plaasvind. Ons woonstel se telefoonnommer is vir navrae opgegee. Daar was min navrae per telefoon, as ek reg onthou, maar verbasend baie mense het opgedaag.

’n Mens moet nou die konteks in ag neem. In daardie jare was daar nie so ’n lewendige Afrikaanse musiektoneel soos nou nie. Engelse rock bands het ook maar gesukkel, met mense wat sonder oortuiging beweer het dat local lekker is. Almal het geweet dit was nie. Dit was ’n slegte namaaksel van Amerika. Jy kon aan die gebrek aan kwaliteit sien as ’n musiekvideo in Suid-Afrika vervaardig is, al het van die bands hard probeer om Amerika na te aap. Daar was maar min bands, platemaatskappye het plaaslike musiek nie juis ernstig opgeneem nie, en daar was nie ’n kritiese massa van goeie klankingenieurs nie. Dalk het ons aan ’n kollektiewe minderwaardigheidkompleks gely.

In die jare na Voëlvry het Afrikaanse musiek egter ’n oplewing getoon. In 1990 het die eerste Houtstok rockfees plaasgevind. Sowat 20 000 mense het dit bygewoon. Die volgende jaar is ’n soortgelyke fees gehou, maar die bywoning was aansienlik minder. In 1993 is die laaste poging aangewend, maar dit was ’n reuse flop. Dit het gelyk of die energievlakke van Afrikaanse rockmusiek besig was om af te neem. Daar was ook nie juis ondersteuning van radiostasies vir enigiets wat nie heeltemal middelmoot was nie.

Saam met Koos Kombuis, wat reeds ’n kultusfiguur was, was Valiant Swart egter besig om vir homself as musikant te vestig. Hy het reeds ’n stewige aanhang in Stellenbosch gehad. In die vroeë 1990s het hy vir ’n tyd lank in exile in Pretoria kom woon om vir hom ’n gehoor in die noorde oop te speel. Sy strategie het soos ’n bom gewerk. Baie vinnig was daar ’n hele klomp groupies wat ander mense aan hulle krae, of enige ander plek waar hulle vatplek kon kry, na Valiant en Koos se gigs toe te gesleep het.

En dis basies wat gebeur het toe die gig in die Bosveld naby Thabazimbi geadverteer is. ’n Hele klomp van ons is sak en pak af Bosveld toe in ons VW Beatles en ander skedonke. Alhoewel ons arm studente was, is daar altyd planne gemaak. Daar was die praktyk om nuwe handboeke op rekening te koop by Van Schaiks (wat deur ouers betaal is – hoe kan ouers dan nie vir studente se handboeke betaal nie?) en om die boeke dan oorkant die straat aan Protea Boekhuis te verkoop. Sodoende is kontant verkry vir musiekekspedisies en –eskapades.

Hierdie naweek het dinge aan die rol gesit. Die Bormann familie, wat die plaas besit, en die netwerk mense wat daar ontmoet het, het groter begin dink. Aanvanklik het Oppikoppi bestaan uit hierdie plaas, ’n aantal rondawels, en ’n kroeg wat letterlik op die koppie is – een met ’n asemrowende uitsig oor die Bosveld. En ja, daar is soms mans met bierpense en two-tone kakieklere sit en brandewyn drink, maar hulle luister oor die algemeen na goeie musiek.

In Augustus 1995 het die Oppikoppi-span hul eerste rockfestival aangepak. Die naam was bloot “Festival of Rock”. ’n Verhoog is aan die onderkant van die koppie by die swembad gebou. Dagga-Dirk Uys het weer gehelp met die organiseerwerk. Van heinde en verre het mense met tente, roosters en koelbokse opgedaag. Daar was een groep mense wat hul kampeerplek die “Valiant Swart Gedenklaer” genoem het. Een het selfs die woord “Valiant” in die hare op sy agterkop laat uitskeer. Suid-Afrikaanse rock was besig om ’n ernstige fan base op te bou. Die line-up het baie Afrikaanse bands ingesluit. Behalwe vir Koos en Valiant, het Paul Riekert se Battery 9 byvoorbeeld opgetree.

Alhoewel Afrikaanse bands nogal prominent was, en die gehoor oorwegend Afrikaanssprekend was, was Oppikoppi nog nooit ’n Afrikaanse musiekfees nie. Dis deels hoekom dit so suksesvol is. Dit het Afrikaans uit ’n musikale laer gehaal en deel van Suid-Afrikaanse musiek gemaak. Enige vorm van kreatiwiteit wat afgesonder word in bedompige plekke word mettertyd ingat en steriel. In die Bosveld het kruisbestuiwing op verskillende maniere plaasgevind. Om die waarheid te sê, die mense van Oppikoppi moedig dit nogal aan. So byvoorbeeld het Koos Kombuis al saam met Gito Baloi opgetree, en Piet Botha saam met Vusi Mahlasela.

Dis ’n belangrike punt wat baie vlietende besoekers aan Oppikoppi mis. Alhoewel die gehore hoofsaaklik Afrikaanssprekend is, luister hulle na ’n breë spektrum van Suid-Afrikaanse musiek. By Oppikoppi hoor jy nie net rock nie, maar ook jazz, funk, hiphop en kwaito. Dis by Oppikoppi wat Vusi Mahlasela die kompleksie van sy gehoor in Suid-Afrika uitgebrei het.

Die eerste fees in 1995 was so suksesvol dat nog ’n fees die volgende jaar in Augustus gehou is. Die naam was “Festival of Rock 2”. Meer verhoë is gebou, meer bands is geboek, en meer mense het opgedaag. Maar wegholsukses bring ook probleme. Met soveel mense wat opdaag, was ’n deel van die intimiteit van die eerste fees besig om te verdwyn. ’n Nuwe tradisie het ontstaan om elke jaar ’n kleiner fees oor die Paasnaweek te organiseer. Praat maar met die geharde Oppikoppi-aanhangers, alhoewel daar iets besonders is aan sowat twintigduisend mense wat almal in Augustus in die stof ronddans op die maat van rockmusiek, sal almal sê dat die kleiner geleenthede in April hul gunsteling feeste was.

Daar was nou reeds 22 Oppikoppi feeste in Augustus en meer as tien oor die Paasnaweek. Op ’n stadium het die rockfeeste so groot geword dat daar besluit is om dit na Pretoria se Fonteinedal toe te skuif. Dit sou logistiek makliker maak (hoe organiseer jy storte en toilette vir tienduisend mense in die Bosveld?) asook ’n meer diverse gehoor lok (die ding van kamp is nou maar eenmaal nie so glamorous as landelike armoede nog te onlangs in jou verlede lê nie). Die logistiek was egter nie altyd so maklik nie (stede bring verkeersknope en regulasies) en selfs ’n sterk poging by Pretoria se skougronde het nie daarin geslaag om die land se verskillende gehore saam te laat dans nie. Op die ou end is besluit om die feeste weer plaas toe te skuif – in die skadu van die koppie. Soos Suid-Afrika se skole verander, word die gehore wat die fees bywoon ook meer divers.

Vanaf 1996 het ’n tradisie ontstaan om elke rockfees ’n ander identiteit te gee. Kunsstudente is betrek by die ontwerp van plakkate. Die jaarlikse kompetisie gee aan hulle die geleentheid om ’n portefeulje op te bou en om hul werk aan ’n breër gehoor bekend te stel. Die name wat gekies word is ook nie altyd maklik nie. Soms is dit baie obskuur, soos die Willie Smit festival. Die reklamemateriaal het byvoorbeeld ’n ster met snorre aan gehad. Die cool van uncool. Willie Smit was ’n karakter op Bernoldus Niemand se plaat Wie is Bernoldus Niemand? wat oor sy weermagdae gepraat het. Die beste deel van die weermag was die “ballasbak” (sic). My Afrikaanse spelprogram ken nie so ’n woord nie, maar almal wat in die weermag was, sal verstaan. Dan was daar die “Haat my want ek vreet my hasie” festival. Dit verwys na ’n liriek van Fokofpolisiekar – “haat my want ek vrees my nasie”. “Wired” kry ’n doringdraad, ’n meerkat word afgestof (lank voor Vodacom se walglike figuurtjie) vir “Dust on my meerkat”, en dan is daar die nimlike dassie in die mees onlangse The way of the Dassie festival, waarvoor Toast Coetzer spesiaal ’n boek met Dassie-ismes saamgestel het. Die boek se naam was Das Kapital. Die cool van uncool.

Deesdae is dit nie meer nodig om te sê local is lekker nie. Almal weet dit. Daar is nou ’n hele industrie wat rondom goeie Suid-Afrikaanse musiek ontwikkel het. Soos in die tyd van Voëlvry en selfs met die musiek en liriek-beweging is daar steeds ’n wisselwerking tussen musiek en poësie. Daar word ook interessante dokumentêre films op groot skerms tydens die fees vertoon en benewens poësie, is daar ’n toenemende fokus op beeldende kunste en fotografie. Wat musiek betref het ons deesdae ’n groter aantal goeie klankingenieurs, daar is mense wat uitstekende en uitdagende musiekvideo’s maak. Alhoewel van die groter radiostasies nog agter die klip is, is veral die kampusradiostasies op die voorpunt van goeie Suid-Afrikaanse musiek.

Oppikoppi is natuurlik nie die enigste fees nie, maar dis enig in sy soort. Die mense van Oppikoppi kon die ironiese manier waarmee die span van Voëlvry met Afrikaneridentiteit omgegaan het uithaal, afstof, en tuis maak in ’n nuwe land. Dit het Afrikaanse musiek deel van Suid-Afrikaanse musiek gemaak, en ons almal staan op sterker bene as gevolg daarvan. As ’n mens ’n woord soos Oppikoppi kan neem en dit in ’n handelsmerk (of “brand”) verander waarmee soveel mense met lang hare en swart klere so sterk identifiseer, verstaan jy die kuns van die cool van uncool. Dan maak dit nie meer saak as die groot platemaatskappye swak musiek aan die massas voer nie. Ons hoef nie meer daaroor bekommerd te wees nie, want ons het ons minderwaardigheidskompleks oorkom. Soos een van Oppikoppi se T-hemde gesê het: “Young, gifted, and staying.”


’n Vorige weergawe van hierdie aangepaste teks het sowat sewe jaar gelede in Pomp verskyn en is later weer op Versindaba gepubliseer.

gert vlok nel 1.jpg
Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Die poësie van OppiKoppi gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand