Mercy Kannemeyer loer in by Andries Bezuidenhout
Illustrasie: Paula Kruger

Illustrasie: Paula Kruger

Die digter, skilder, musikant en akademikus

Andries Roof Bezuidenhout is ’n akademikus, skilder, digter, musikant en Suid-Afrikaner wat hou van reis. Hy is die stigterslid van die rock band Die Brixton Moord en Roof Orkes. Sy PhD handel oor postkoloniale werksplekke in huishoudelike toestelfabrieke in Suid-Afrika, Zimbabwe en Swaziland (nou Eswatini) en hy is ’n professor in ontwikkelingstudie aan die Universiteit van Fort Hare.

Die afgelope winter het ek en Andries albei die Jakes Gerwel en Pen Afrikaans Skryfresidensie in Somerset-Oos bygewoon. Tydens die residensie het ons aan ’n plaat, Derde Golf, gewerk. Die plaat bevat 16 gedigte deur Salvia Ockhuis, Valda Jansen, Lydia Gittens, en deur my en Andries, waarvoor Andries ook die musiek gemaak het.

Andries is ’n jack of all trades, dalk ook ’n master of all. Hy is oorspronklik, belese en besonders snaaks. Hy kan oor enige iets praat en hoe meer ek hom leer ken het, hoe meer wou ek oor hom weet. Ek het met hom gesels oor sy uiteenlopende skryf-, musiek- en kunsloopbaan.

Andries die digter

Andries het sy digtersdebuut in 2017 gemaak met Retoer, ’n bundel wat handel oor die ontsnap uit Pretoria en Johannesburg waar hy die meeste van sy lewe gewoon het. Vir Andries dra die bundel swaar aan skuld. “[Dit is ’n bundel] wat deur historiese kwessies werk van wie ek is en waar ek is en waar ek vandaan kom en wat my aandeel is aan die plek,” vertel hy. Hy beskryf Retoer as ’n uitskryf oor sy ondervinding in die weermag, Witheid en hy meen dis ’n eerlike poging om uitdagende kwessies te verwerk.

Uit Retoer:

ALARM

As jy aanhou beweeg,
sal ek geraas maak.

Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle (2014), Andries se tweede bundel, spreek tot politiek in die breë sin van menswees, ons verhouding met die omgewing, sowel as vraagstukke oor die ekonomie. Die bundel het uit akademiese navorsing ontstaan wat Andries in Suid-Afrika, Zimbabwe en Eswatini gedoen het oor die impak van globalisering en vryehandel op fabrieke, vakbonde en werkers. Hy het ’n belangstelling in yskaste en vorme van kos-preservering ontwikkel. In die digbundel gebruik hy die intieme ruimte van die huis en kombuis as ’n manier om vrae oor die wêreld te vra. Na afloop van sy navorsing het hy besluit om ’n MA in kreatiewe skryfkunde aan die Universiteit Stellenbosch onder leiding van Marlene van Niekerk en Willem Anker te doen. 

Uit Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle:

KOELKAS

volgens die tweede wet van termodinamika
is verkoeling die meganika

van hitte verwyder, eerder as koue byvoeg:
ook bekend as kriogenie.

koue, my lief, is dus niks anders
as die afwesigheid van hitte nie

en ek wat op die klipvloer bewe
vandat jy nie meer hier is nie.

Tydens ons residensie in Somerset-Oos het Andries aan sy volgende bundel gewerk. In hierdie versameling gedigte ondersoek hy handel, speserye en die geskiedenis van slawerny in Suid-Afrika. ’n Vriend van Andries van Kenia, Gakere Wa Ndegwa, het hom aan die Swahili-kultuur voorgestel. Andries vind die Swahili interessant, veral die feit dat dit soos Afrikaans, ook ’n kreoolse taal is. Anders as Afrikaans, vind Andries, het Swahili ’n ander pad geloop, boonop word Swahili onbeskaamd as ’n Afrikataal gesien, terwyl Afrikaans ’n meer ambivalente rol het. “Wat ek probeer doen, is kyk na die Afrikaanse wêreld, maar as iemand wat daarna kyk vanaf die Swahili-kus. Dis die inspirasie vir die bundel, ek weet nie of dit is hoe die bundel gaan uitkom nie. Ek werk nog daaraan. Ek torring nog daaraan. Dis nog nie daar nie,” sê Andries.  

Die gedig hieronder verskyn op die Derde Golf-album:

DIE WARE LANDSKAP IS EEN VAN ROTS – ANDRIES BEZUIDENHOUT
(Oppikoppi, Augustus 2016)

I

Ons weet julle kan nie Voël praat nie, sê die voëls,
nie enige dialek van Tiptols, Hoogtortel of Hadidees nie.
Nee, al is julle in hoë takke hoor julle nie wat ons fluit-fluit nie
of ons storie nie, want dis nie ons wat uit is nie.
Kyk hoe dans hulle op drum beats. Onbewus van Nonnetjiesuile
wat oorhoofs luister. Dis ’n tweeter, dis ’n bass bin
wat skel na bo, stamp na onder en ons nie hoor nie
selfs al bly julle stil, want ons weet
julle kan nie ’n woord Voël verstaan nie.

II

Ons weet julle kan nie Boom praat nie, sê die bome,
nie Hardekools, Maroelees of Wes-Akasia nie.
Ons waai julle nader, trek ons skouers op
maar julle stel net in skaduwee belang.
Hoor hoe sing en snaar hulle. Daai is ’n houtkitaar
wat hy sy axe noem. Hy chop en riff, hy saag
maar waag nie om te luister na wat ons sê nie
selfs al bly hy stil, want ons weet
julle kan nie ’n enkele sin Boom verstaan nie.

III

Ons weet julle kan nie Klip praat nie, sê die klippe,
nie Oergneis, Rotsigs of Platskalie nie.
Ons voel die bass drum beats in ons riwwe.
Julle spring en polka en slaan soms op ons neer
maar ons is nie didaktiese klippe nie
ons praat nie preke nie, maar wou tog waarsku
want ons is die langste al hier en verstaan nou al Voël en Boom.
Voëls lewe die kortste en bome effe langer
met julle iewers tussenin. Gebruik miskien die tyd
om Voël en Boom se woordeskat te leer
want spesies gaan soos tale dood en mettertyd
is al wat aanhou klop maar net ’n klip en nog ’n klip
en nog ’n klip en nog ’n klip.


Andries die skilder

In sy skilderwerk ondersoek Andries die kwaliteit van Suid-Afrikaanse lig. “As jy na ’n skildery van ’n vertrek kyk, sal jy kan sê die vertrek is in Suid-Afrika eenvoudig oor hoe die lig lyk?” vra hy. Hy reken jy sal waarskynlik nie kan nie, maar op die ou einde is dit die groot vraag wat hy met sy landskappe en interieurs ondersoek. Wat Andries sover vind is dat Suid-Afrikaanse lig meer skel as Europese lig byvoorbeeld is, maar daar is nie net een Suid-Afrikaanse lig nie: “Daar’s lig in die Karoo, daar’s lig op die platteland, daar’s lig… Ek kan nie sê daar’s ’n essensiële kwaliteit aan Suid-Afrikaanse lig nie,” vertel hy. Hy meen dat skilder sy ware talent is; hy kan teken en skilder. “Al die ander goed fake ek.” Een van sy gunstelingskilders is Walter Meyer. “Ek vind ongelooflike inspirasie in sy landskappe. Sy landskappe vang iets vir my vas van Suid-Afrika — ’n essence van Suid-Afrika.” 

Early Birds (2020)

Early Birds (2020)

Fox Street (2017)

Fox Street (2017)

Katberg laatoggendlig (2020)

Katberg laatoggendlig (2020)

Bad met flaminkplant (2020)

Bad met flaminkplant (2020)

Eerste Nahoon nokturne (2020)

Eerste Nahoon nokturne (2020)

Stillewe met Breytenbach se ‘Die na-dood’, ‘Die singende hand’ en ’n bottle Suid-Afrikaans vervaardigde terpentyn (2017)

Stillewe met Breytenbach se ‘Die na-dood’, ‘Die singende hand’ en ’n bottle Suid-Afrikaans vervaardigde terpentyn (2017)

Die bouinspekteur (2017)

Die bouinspekteur (2017)


Andries die musikant

Andries het tot dusver vier soloalbums uitgegee. Sy eerste soloalbum Insomniak se droomalmanak verskyn in 2003. Bleek berus verskyn in 2009. Onplaats in 2020 en Spoorlangs in 2021. In die laat 1990’s het Andries en sy vrou, Irma du Plessis, in Brixton gewoon. Op ’n hoek van hulle woonbuurt was daar ’n kroeg genaamd Abelarde Sanction. In daai tyd het Andries liedjies geskryf en kitaar gespeel. Abelarde Sanction het open mic-sessies gehad en Andries het begin optree. Hy sê hy was so senuweeagtig om voor mense op te tree dat hy begin bewe het. Om met sy senuwees te help en om homself sielkundig te versterk het hy ’n denkbeeldige rock band opgemaak. “Ek het gesê ek is vanaand hier, ek is ’n lid van die Brixton Moord en Roof Orkes.” Hy vertel dat daar in die laat 1990’s ’n berugte polisie-eenheid – Die Brixton Moord en Roof Eenheid – was. Wanneer hy opgetree het, het hy vir die mense in Brixton vertel hy’s in ’n band, maar die res van sy band members is nie vanaand lus om te kom nie, hulle kyk TV. Andries was nie vir lank die sololid van Die Brixton Moord en Roof Orkes nie. 

Op ’n vreemde manier het die lede van die Brixton Moord en Roof Orkes daarna begin aanmeld, verduidelik hy. Een vir een. Eers Ockert “Moord” Greeff met ’n jembe trom. “Dit was ’n acoustic band en dit was nogals snaaks omdat ons glad nie soos die naam geklink het nie. Folk musiek met ’n jembe,” sê Andries. Daarna het Steve “Brixton” Savage op baskitaar bygekom. Ockert het ’n drumkit gekry en hulle het stadigaan begin om ’n rock band te word. Drikus Barnard, wat in ’n punk band gespeel het met die naam Plank, het ook bygekom. Hy het Brixton Barnard geword. Sy broer Gerhard Barnard wat saam met hom in Plank was, het op kitaar bygekom en die vier van hulle was toe baie lank die band. Andries meen hulle het namate meer geword wat die naam sê – ’n rock & roll band. Die Brixton Moord en Roof Orkes se diskografie sluit een EP en drie albums in. Spergebied verskyn in 2002, Terug in Skubbe in 2005 en Slaaptyd in die Suburbs wat onlangs op die web vrygestel is. 

Ockert het intussen Kanada toe getrek. Vyf jaar gelede is Drikus dood aan breinkanker. Vir ’n tyd lank het die band vir Louis Graham op dromme gehad, maar hy is in 2020 aan Covid oorlede. Nou werk die band aan ’n nuwe en laaste album. Andries se alternatiewe en rock & roll-gees kom sterk deur toe hy vir my sê: “Dis eintlik maar ’n storie met geen hoogtepunte nie, mild sukses maar ook baie laagtepunte.” Ek sê toe vir hom ek weet nie wat om daarop te antwoord nie. “Sê dit,” sê hy vir my kort en kragtig. 

Voor Drikus dood is, het die band aan ’n volgende album begin werk. Die nuwe album gaan oor Krugersdorp, of Mogale City soos dit nou bekendstaan. Dis waar Drikus en Gerhard grootgeword het. Drikus het rowwe tracks opgeneem, waarvoor hy ook die musiek geskryf het. Net stem en ’n akoestiese kitaar wat Drikus soos ’n baskitaar speel. Toe hy dood is, het die tracks op ’n hardeskyf bly lê en nie een van die lede wou terugkeer soontoe nie. Ockert het Suid-Afrika kom besoek en die band is gevra om ’n reunion gig te doen. Andries, Ockert, Gerhard en Louis het perform en Simon Kruger wat vir Nul gespeel het, het vir Drikus ingestaan. Andries meen die reunion gig het die lede tot ’n mate gehelp om Drikus se dood te verwerk, en daarna het hulle besluit om aan ’n volgende album te begin werk. “Ons skuld dit vir Drikus op ’n manier,” sê hy. 

Op die oomblik neem Ockert dromme in Montreal op, Gerhard neem kitaar in Pretoria op, en Andries neem stem en kitaar in Alice op. “Ons is besig, stadig-stadig, om aan wat die heel laaste Brixton Moord en Roof Orkes-album sal wees, te werk. Ons het nog nie ’n release datum nie. Ons gaan daaraan werk. Ons gaan die tyd neem wat ons nodig het om ’n uitstekende produk wat Drikus se lewe waardig is, daar te stel. Plaat oor Krugersdorp, Mogale City, deur die Brixton Moord en Roof Orkes, met ’n dooie man op lead vocals.” 


Andries se gunstelinge

Visuele kunstenaar(s): Vilhelm Hammershøi en Walter Meyer.

Band: The National (op die oomblik).

Musikant(e): James Phillips, Nakhane, Matthew van der Want. 

TV-program: Leser, Andries het byna vyf minute gevat om hierdie vraag te beantwoord. Toe skip ek dit maar. 

Akademikus: David Harvey. “Hy is iemand wat ’n groot invloed gehad het op hoe ek dink, nie net akademies nie, maar ook oor hoe ek landskappe en interieurs benader, en hoe ek landskappe beskryf,” sê Andries. “Hy is ’n radikale geograaf, hy’s ’n Marxist, hy skryf oor landskappe en stede en hoe ’n mens landskappe en stede beleef. En hy kyk na ruimte op ’n manier wat ruimte nie net een ding is nie. Ruimte dra swaar aan betekenis. As jy dink aan ruimte en wat jy sien, is die wêreld ’n ongelooflik interessante plek. David gee vir my ’n taal om te dink oor ruimte, oor travel, oor belonging, oor identiteit, en wat plekke betekenis bied”.

Ek vra vir Andries of hy worstel en wroeg oor sy identiteit, want hy kom nie so voor nie. Hy antwoord: “Nee, ek worstel beslis. Ek voel net ek hoef dit nie uit te saai nie. En ander mense hoef nie met my worsteling te worstel nie. Ek hou regtig nie van Wit mense wat hulle eie Witheid paradeer as ’n tipe van ’n self-kastyding in die openbare domein nie. Ek vind daardie openbare opvoer van skuld en bevoorregting ongelooflik vervelig. Dis vir my baie meer interessant as mense op ’n manier probeer verantwoordelikheid vat. Ek dink skuld is nie ’n produktiewe manier van omgaan met die wêreld nie. Alhoewel dit belangrik is dat mense ’n besef daarvan het, maar om dit op te voer, om dit te paradeer, vind ek net nie interessant nie.” 

“Laaste vraag, as jy ge-reincarnate kon word, as wie of wat sou jy wou terugkom?” Andries dink vir ’n oomblik en antwoord toe: “Ek wil nie terugkom nie. Ek wil asseblief nie terugkom nie. As ek dan moet kies, sal ek een van my vriendin Hanné Koster se honde wil wees. Sy kyk rerig mooi na haar honde en al haar honde is rescue dogs.” 

Ek sê vir Andries dat ek dink ek terug sal wil kom as gras, want gras maak my gelukkig. Andries: “By the way, daar’s ’n boek oor die geskiedenis van grasperke in Suid-Afrika geskryf. Dit gaan oor die koloniale, netjiese grasperke.” The more you know…

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Mercy Kannemeyer loer in by Andries Bezuidenhout gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand