Bittereinder: Sê tog die musiek beteken nog iets

Bittereinder: Sê tog die musiek beteken nog iets
Foto’s: Wikus de Wet

Foto’s: Wikus de Wet

Dis kuns, digkuns en 'n ware, ware verhaal

 

“Ek steel minute van die toekoms, steek hulle veilig in my sak / Ek oorweeg nog ’n ooreenkoms met die swart kruisies op my almanak / ’n Plakboek van môre en elke bladsy is vol geplak / Ek is tydloos en tydsaam, ’n silwerskoon almanak”

 

Jesus sit in Lucky Rodrigo’s op Alpine Way in Lynnwood, Pretoria, en drink wyn. 

’n Dissipel loop verby en stop om hom te bewonder. 

“Hoekom lyk jy so bekend?” 

Besef kom. Haar mond hang oop, asof sy ’n spook sien. 

“Jy is die digkuns self,” borrel sy.

 

Hy draai sy gesig my kant toe en sê: “Ná jou storie gepubliseer is, gaan ek een oor jou skryf.” 

Hy’s verbaas dat ek nie geweet het hy was gelowig nie. “Gaan luister weer die eerste album,” dring hy aan. Al die clues is daar. Toe hy jonger was, was hy deel van ’n radikale jeugkerk. Toe hy jonger was, sou hy nie aarsel om iemand by ’n kroeg voor te keer en saam met hulle te bid nie. Hy tik op die tafel met sy wysvinger. “Sommer hier, hier sou ek jou stop en saam met jou bid.” 

“Dis onmoontlik,” roep ek uit. Bittereinder was hopeloos te goed om ’n christen-band te wees. Nee, maar dit is nie onmoontlik nie, sê hy. Want hulle was. Hy’t tog daai tune saam met Bouwer Bosch gedoen.

Aan die begin het hy Afrikaans absoluut verpes. Die Volk. Die kultuur. Heeltemal gehaat. Anti-alles, maar veral die verkrampte fokkers van Pretoria. Sy stage name was Ajax, en hy het alles in Engels gedoen.

Louis en Peach vertel my later dat Jesus in sy jonger dae geweier het om sy tande te borsel, sy hare nooit gewas het nie, onpaar skoene gedra het, tot 25 dae lank sou vas. Hy het geglo sy liggaam is ’n vrot sak vleis en die regte lewe wag nog vir hom ná sy wedergeboorte.

Deesdae borsel hy sy tande. Jesus is effens skaam. Jesus is soms ’n deeltydse alkoholis. Hy’s maerder as wat ek hom onthou van die TV. Hy drink koffie met baie melk. Hy’s effens jaloers – ek dink hy voel hy verdien meer lofliedere vir sy werk. Jesus is dood – is nie dood nie, net uitgepass. 

Jesus is Jaco van der Merwe. Hy’s die voorsanger van Bittereinder. 

Hy’s binnehoek nommer een van die Driehoek.

Jaco

Jaco

***

By Sowaar Bar op Atterbury Boulevard, Lynnwood, Pretoria is die pink tonic teen 16:00 die middag al op en die kelners is maar nog onervare. Hulle skarrel om kaarte te swipe en klante te troos. Mense smag na daai pink gin. Dis Sowaar se grand opening en die skare is op die drumpel van Covid-regulasie-oortreding. Dit blyk dat Sowaar mik om die nuwe alt venue in Pretoria te word. Verg moed om so iets te loods te midde van ’n ekonomiese ineenstorting.

Van Pletzen speel 19:00 die aand, knus anderkant die sonsondergang terwyl niemand eintlik al dronk genoeg is om hulself te geniet nie. Die vroeë uur skyn ’n onwelkome lig op hoe dun en saai als is. As jy mooi kyk, sien jy die virus-korrels soos stof in die lug warrel. 

Ek waai by Sowaar voor Peach en sy mede-makker in Van Pletzen, opdaag. 

Peach van Pletzen, van Van Pletzen: Prins van die Moot, Yesterday’s Pupil, Oubaas van 7de Laan se seun. Een helfte van Oorlog Frankenstein, vlugtig Van Coke Kartel se drummer, ’n instelling van die SA musiekbedryf. Hy was by toe Francois van Coke daardie letsels op sy gesig by Aardklop opgedoen het, maar hy weier om my die ware verhaal te vertel. Hy’t destyds onder Mr Sakitumi geswot, sy notas geneem by Lark. 

Nou ook ’n social media-held. Alias: Groothond. Ek dink nie hy weet self meer watter persona sy egte een is nie.

Van Pletzen toer vanjaar Desember Nederland toe saam met Jack Parow en Early B. Hulle doen moer goed in die digital age. Peach doen meer as musiek; hy doen content. Van Pletzen se nuwe webshow heet Praating. In episode vier praat Peach met die christen-hoofseun Bouwer Bosch. Hulle chat oor Straatligkinders en Peach noem: “Dis weird as jy iets plug van ’n decade terug.” 

Bouwer klap terug met: “Soos Bittereinder!” 

Peach lyk verbouereerd, kyk vir die kamera, en gee toe: “Big facts, big facts.” Die video het duisende views. Sommige van Van Pletzen se treffers het tot miljoene. Jy kan dit op jou foon kyk terwyl jy ’n kak vang, of by die werk in plaas van spreadsheets opstel, of jy kan verby scroll op jou feed want alles op jou skerm is hiper-vinnig en kleurvol en elke stukkie content het net soveel sekondes om jou aandag te vang en te behou.

Peach van Pletzen skrop nes in hierdie wêreld, in hierdie content culture era. ’n Mens sou selfs kon sê hy’s onteenseglik ’n hoeksteen daarvan in ’n SA konteks. Hy floreer. Hy’s innemend. Sy oë skyn ysig blou en ek vermoed hy’s effens hoog op shrooms.

Peach is die tweede binnehoek in die Driehoek.

Peach

Peach

***

Peach en Jaco het in metal bands gespeel (en as ’n prototype rap group getiteld illastraight) by Zeplins in Pretoriusstraat, voor dit te onveilig geword het om met duur gear daar rond te loop.

Louis Minnaar se suster het op 13-jarige ouderdom vir die eerste keer ’n joint in sy hand gestop en van daar af het dinge suid gevaar. Toe hy Jaco en Peach ontmoet het, was dit om te probeer tjello speel in dié twee se jongste experimental act. Die ander twee noem hom LT, maar ek’t nie gevra waarom nie.

Louis se tweede kind is tydens die pandemie gebore. Hy is op soek na ’n huis te koop in Pretoria se spogbuurte. Hy’s meer bereid om te drink as wat Peach is. Hy skryf ook eintlik bitter baie van Bittereinder se musiek. Tydens lockdown het hy geskilder en ’n passie herontdek. Die beelde is strak en angswekkend – ’n bietjie soos Picasso met ’n iPad.

Louis se visuele styl is onlosmaaklik deel van die destydse MK89-drome. Toe Van Coke Kartel se derde album uitgereik is, was Louis daar om die vlam van Francois se nuwe, donkerder projek aan te blaas, te projekteer. Hy verwoord dit nie, maar ek kan aanvoel hy hou nie daarvan dat ek dit so stel nie. Asof ek hom vereenvoudig en in ’n boks plaas. Hy doen immers baie van die beats in Bittereinder – dalk meer as waarvoor hy erkenning ontvang.

Hy vat die minste kak van die drie.

Louis is die derde binnehoek in die Driehoek.

Louis

Louis

***

“Lek die zeitgeist se gesig met jou bek / Soen so liefdevol die slang se silwer nek / Dieper in jou keel, tot net voordat jy vrek / Sluk die saad van vermaaklikheidsgebrek”

 

Die Driehoek is Bittereinder. 

Die digter, die digital celeb, die designer. 

Soos Peach dit stel: “Ek’s ’n shaman, Jaco is ’n profeet, Louis is ’n masjien.”

Dis wie hulle was toe hulle bo-aan ’n wêreld se kranige aanhangers gestaan het. Wie is Bittereinder sewe jaar later aan die gatkant van 2021 te midde van ’n globale pandemie? Die fok alleen weet – minste van almal die Driehoek-lede self. Die onbeweeglikheid van die situasie is maar so uitmergelend soos die pandemie self. Die weg tot waar hulle nou is, is gebaan met ’n sarsie wysigings aan die reëls vir sukses in die musiekbedryf – en die dood van ’n letterlike God wat die lede gedeel het.

Ons gly deur Pretoria en grou in Bittereinder se siel, lol met hulle herinneringe, op die spoor van die stad wat Jaco in ‘Tale of Three Cities’ skets, op soek na die dooie God. Langs Blue Room, waar die ou Tings ’n Times was, is ’n spaza takeaway wat kota’s adverteer. Blue Room self is ’n hangout vir jong Black diamonds en die skhothane-generasie – VIP booths, Hennessy en laataand politikus-pappa se kaart swaai.

Wit rapper Jaco staan en grinnik by die ingang – hy grinnik byna altyd. Peach en Louis lyk effe huiwerig. Die vroeë oggendson bons van die woonstelblok agter die ou Tings se mure af, mure wat al gestaan het toe Ninja nog Waddy Jones en Chris Chameleon nog ’n crossdresser in BOO! was. Almal het hier gespeel. Die bestuurder kom roep ons en laat ons toe om in ’n VIP Box te sit vir die shoot, want die plek is leeg. Ingepak op ’n faux-leer booth-bank lyk ons soos ’n Amerikaanse rap music video. 

By Blue Room, die ou Tings ’n Times

By Blue Room, die ou Tings ’n Times

Als is anders, sê die Driehoek. Onherkenbaar. Die binneste struktuur van die plek is omvergegooi. Waar die stage was, is nou ’n booth, en waar die muur was, is nou ’n bar, en en en. Ons chat oor die electro-wave van die laat 2000’s – Haezer se dae, toe Wit jongmens alternative culture begin verander het.

Lank voor dit het Peach en Jaco drum ’n bass shows van duistere underground legends soos Jacob Israel hier kom kyk. Wilde shows soos net die laat 90’s kon oplewer, musikale sinergie tussen controller en drumset wat Jaco (wat toe nog gereeld sou vas) letterlik tot trane gedryf het. Net voor dit, of rondom daai tyd, het Jaco in ’n rap-rock outfit met die naam silt gespeel, en Peach in een met die naam SHU. Jaco herinner mens graag dat Bittereinder nie ’n oornagsukses was nie, dat hy ’n dekade lank met musiek en stages en digkuns gewroeg het, en dus geweet het hoe om Bittereinder te bewerkstellig, te verpak, te dissemineer.

In 2010 was die MK-generasie se jongste jonges in matriek. 

In 2010 het die musikale landskap ’n moerse bollemakiesie gemaak. In daai jaar is Bittereinder se eerste vollengte album, ’n Ware Verhaal, deur die uwe Albert du Plessis se Rhythm Records vrygestel – in die dae toe sulke inligting nog saak gemaak het. Dit was ’n samekoms van anti-kitaarmusiek, featuring Inge Beckmann, Tumi Molekane, Tim Beumers van Nederland, en meer. ’n Mosaïek van ernstige musikaliteit, kompleks en lywiger as MK89 se garage rock wannabes. Dit was track 9, ‘Die Slang en die Arend’, wat mens laat besef het daar is iets spesiaals aan’t brou. Die album het ’n SAMA gewen (Best Afrikaans Alternative) en die Driehoek het Nederland toe getoer – selfs by die alombekende Lowlands Festival opgetree.

Die Dinkdansmasjien was toe nog nie ontwerp nie, maar drie of vier van die tunes op ’n Ware Verhaal, tussendeur die digkuns-wandel, skugter stemme, sagte tikkies en ritselings en apokaliptiese lirieke, was hard en geniepsig. ‘Slechte Mensen’ veral. Dit was ’n natuurlike progressie vir die Fokof-boere-punk-en-alt-metal kids, wat vir die eerste keer kon Kaapstad toe ry en in die skurwe clubs daar gaan dwelms neem en dans op musiek met g’n enkele kitaar te hore nie – solank die musiek dieselfde gewelddadigheid kon ontlok. Deur Peach is daai eggo van tjirrs en sintetiese klankies op Van Coke Kartel se ‘Voor Ons Stof Word’ en ‘Ondier Kom’ vervolmaak en omskep in ’n nuwe dog bekende elektro-afstammeling van MK se gestalte.

Omtrent daardie tyd, sê Bittereinder, het mense by die shows begin bons, arms ’n golf in die lug wat op en af swiep, Hitler-handjies vir Eminem se Afrika-kinders. Van daar die kiem van Die Dinkdansmasjien en die tweede album; van wat Bittereinder sou word.

Tings is uiteindelik dood in laat 2011. Bittereinder het so ’n half-dekade langer voortgeduur voor die vlam laag begin brand het.

Omtrent daardie tyd, sê Bittereinder, het mense by die shows begin bons, arms ’n golf in die lug wat op en af swiep, Hitler-handjies vir Eminem se Afrika-kinders. Van daar die kiem van Die Dinkdansmasjien en die tweede album; van wat Bittereinder sou word.
— Karl Kemp
Bittereinder by Railways in Pretoria

Bittereinder by Railways in Pretoria

***

’n Paar strate bo Blue Room is die Van der Schyff broers se legendariese ou venue, Hotbox Studios. Dis nou die hoofkantoor van ’n staatsverwante bargaining council. Ons staan by die hek en lyk skuldig totdat ’n ouerige Swart man kom hoor wat ons daar soek op ’n Sondag. Ons verduidelik dat hierdie drie ouens eens op ’n tyd soos gode was, en hierdie plek hulle Olympus, en hy laat ons in met ’n verwarde grinnik.

In Hotbox se uitgeholde geraamte sien ’n mens die oorsprong van die Bittereinder-ervaring. Want dit is tog wat Bittereinder is: ’n Belewenis meer as ’n song of ’n band. Henno Kruger sowel as Annie Klopper het hulle as ’n “audio-visual projek” beskryf. By regstreekse vertonings smelt die drie binnehoeke van die Driehoek saam: Jaco se lirieke vertel van die sterre-wêreld, berge wat brand en die almanak wat jou dae aftel tot jy sterf en waarom jy moet dans om dit te vier. Peach en Louis se produksie dwing ’n mens tot beweging in daardie rigting; Louis se visuals en stage design verwesenlik die droom sodat jy daarin kan versuip sonder veel moeite.

By Hotbox vertel Jaco van sy oomblik van versoening met Afrikaans. 

25 Februarie 2011. Bittereinder se heel eerste show – Die Bitter Begin. Daai aand klim Ajax op die stage voor ’n skare van meer as 200 mense, ingepak, peul by die tuin uit. Hy lig sy vuis hemelwaarts en maak sy mond oop. Afrikaanse rap stroom uit. Weerlig klap teen die pikswart aand se newel en hy maak vrede met sy herkoms. Ajax het op die stage geklim – Jakkals klim af; herdoop in die warm gloed van Bittereinder se nuwe aanhangers se liefde.

Hy lig sy vuis hemelwaarts en maak sy mond oop. Afrikaanse rap stroom uit. Weerlig klap teen die pikswart aand se newel en hy maak vrede met sy herkoms. Ajax het op die stage geklim – Jakkals klim af; herdoop in die warm gloed van Bittereinder se nuwe aanhangers se liefde.
— Karl Kemp

Dit was doelbewus, vertel die Driehoek my. Afrikaans, God, Christenskap – hulle wou dit alles saamvleg en afskeid neem van Engels. Destyds het hulle voor shows hande gevat en gebid – en ná die tyd soos heidene tekere gegaan.

God begin kop uitsteek in Hotbox se tuin.

“It was never gospel.” Peach laat my baie mooi verstaan toe ons later daaroor praat. “It was just where we were at, personally,” sê Jaco. “Van matriek af was ek baie ernstig oor my geloof.” 

“Like a cult leader, actually,” sê Louis, en hy’s net halfpad grapperig.

“Peach was my dissipel, nou is hy die guru,” voeg Jaco by. 

“Was daar ’n aspek van ‘ons wil God se liefde versprei’?” vra ek. 

“Ja, ja, ja,” sê Jaco. “It was like ‘the holy spirit must be in me when I hit the mic.’ Dan vas ek heeldag voor elke show. Snaaks genoeg is daai konsep nou weer moerse popular, soos op die Kanye-album. Dit depend ook on wat jou God is. Obviously het Hunter ook sy gode gehad wat hy ge-channel het.”

“Kyk, so ons het nooit in die media daaroor gepraat nie. Ek dink ek het toe in een interview – dit was actually Bibi – toe neem sy ’n photoshoot met ek en Bouwer en een of ander ander girl wat soos in ’n christen-band was. En vra toe direk vrae oor my christenskap vir ’n interview. Toe lees Wynand mos daai ding en bel jou [Peach] en sê: ‘Julle klomp christene!’” 

“Gaan jy ’n bietjie vir ons kom bid, Peach?” aap Louis vir Wynand Myburgh in ’n skor stem na.

“Classic Wynand,” is al wat Peach te sê het. Ek dink nie hy is so gemaklik om hieroor te praat as wat Jaco en Louis is nie. “Dis eintlik onmoontlik om vas te vang how it was identified,” sê Peach. “Ek dink nie eens ons drie was ever on the same bladsy nie.”

“Peach het een keer na ’n kerk gekom waar ek was en toe was hy so uitgefreak,” vertel Jaco. “Hy’s glad nie gewoond aan kerke nie. Sy version of christianity was very different to mine. Ek en Louis het toe eventually ’n pad saam gestap in verskeie maniere.”

Louis begin uitbrei maar keer homself vinnig. “Dis ’n fokken lang storie. I’m not gonna delve into that. Hy het ’n baie groot invloed gehad op my in daai opsig. En op my vrou ook. Ek dink op baie ander mense. Dis waarvandaan dit gekom het, daai geloof deel van dit.”

In Hotbox se tuin wys Peach my eerder die ou foto’s van die goeie ou dae, van wat die Pretoria-scene was, van wat sy God was. Een bra, na bewering ’n ene Joubert, is in byna elke foto poedelnaak, trotse tril kamera-waarts gemik. Parow is in ’n klompie van die beelde. Almal wat te voorskyn kom, lyk baie dronk en oorstelp, sonder uitsondering. Die vreugde en heimwee straal voort uit die beelde. Vir die eerste keer daardie oggend is Peach opgewonde en hy begin praat sonder prompt, amper gretig om te vertel. 

“Everything here was like... semi illegal, dude.” 

Hotbox had nooit ’n dranklisensie nie, en ’n buitekamer se dak het gewoonlik as die upper level van die skare gedien. Shows was meer house party as konsert, ’n veilige hawe vir besetenes. Dis maklik om Bittereinder met sulke mense te vereenselwig.

Agtertuin van Hotbox, waar die stage was

Agtertuin van Hotbox, waar die stage was

“Eklekties” as byvoeglike naamwoord is lankal uitgeteer, maar g’n ander woord pas by Bittereinder nie. Tussen ‘Kwaad Naas’ of ‘Hartseer Gangster’ en ‘Die Woud’ of ‘Almanak’ lê ’n spektrum van musiek. Maar sonder uitsondering is als gemaak vir skouspel en lugkastele bou, vir enorme verhoë en kavalkades mense wat nader stroom, vir Jaco om ’n masker aan te plak en Jesus te speel. Agter hom staan Louis en Peach by die decks en trek die skare se siele uit, geklee in kraaghemde en dasse of kudu-koppe met varksnoete en flitsende oë – die Bewilderbeast.

Mens vergeet soms: Bittereinder was destyds wêreldklas. Grensverskuiwend. Eie klas, eie speelveld. Kyk weer vertonings soos ‘Die Woud’ by Oppikoppi Bewilderbeast in 2013. ’n Ander wêreld. Eerliker. Niks is tong-in-kies nie – dis kuns en dis digkuns en dis ’n ware, ware verhaal. 

Tussen 2011 en 2014 was Bittereinder die slimste, opwindendste Afrikaanse act in die wêreld. Bittereinder se lirieke was skerper as Fokof s’n - meer omvattend, kosmies, deurspek met die dood. Hunter se vinger was nader aan die pols. Jaco sou nie eens weet waar om te begin soek daarvoor nie, té verswelg in groter dinge soos die noodlot se genadeloosheid. Hy’s ewe lief vir Camus, Brasse Vannie Kaap en Koos Dup. Hunter was dalk ’n generasie se spreekbuis – Jaco se stem is tydloos. Sy lirieke is vervleg met die tema van sterflikheid en so geag is hy eerder ’n spreekbuis vir die mens se innige vrese, die oer-oue wete dat ons stof is en weer terug sal keer na die stof toe. G’n wonder christenskap omvou Bittereinder se vroeë jare nie; g’n wonder dat Fokof groter as Bittereinder was nie.

Toevallig dan ook in Afrikaans. Bittereinder is nie vasgeketting aan ’n tyd of plek nie, dus ook nie verbonde aan hulle aanhangers se omstandighede en ouderdom nie. Bittereinder is nie belangrik omdat hulle verteenwoordigend is van ’n bepaalde Afrikaner-wêreld of milieu nie, maar eerder ten spyte daarvan

Bittereinder is nie belangrik omdat hulle verteenwoordigend is van ’n bepaalde Afrikaner-wêreld of milieu nie, maar eerder ten spyte daarvan.
— Karl Kemp

Nes Hunter is Jaco se lirieke in skole as teks voorgeskryf en ontleed. Annie Klopper, die ewige-Fokof-fan, se doktorale tesis handel oor “identiteitskonfigurasies in wit Afrikaanse rap-musiek” en sy het Bittereinder (sowel as Die Antwoord en Jack Parow) as gevallestudie gebruik. Die tesis is baie slim geskryf en dit bevat groot woorde soos “problematiese geskiedenis”, dus weet mens dit is ernstig. Maar enige Bittereinder-fan sou sonder akademiese ontleding vir ’n mens kan vertel presies hoe belangrik die groep is, hoe die lirieke die diepste holtes van die hart kan deurdring en vul.

Peach, ná ’n lang hol-lekkery van my kant af, stel dit uiteindelik toe baie mooi: “As ek nou terugkyk na Oppikoppi-footage, en daar’s 20 000 mense wat almal die songs ken, almal bons, dink jy, ‘Wow. That is nogal ’n impact.’ And it wasn’t with a wave or a trend, it was with our own thing. We were in our own lane.”

“And when you look at it that way, you gotta give the blomme where it’s due. En ’n mens kan dit sê en nog steeds nederig wees, want dit was ’n machine that was part of something that was beyond just our individual selves.”

By Hotbox se verleë hekkie vat ons weer die pad, en ek voel asof God oor my skouer loer. Ons kom nader.

Hotbox, waar die kroeg was

Hotbox, waar die kroeg was

***

“Speel hierdie snit aan die begin van elke jaar / As jy rede het vir trane dan verstaan ons mos mekaar / As jou konstante dieet bestaan uit sweet eet / Dan kan jy konkreet weet ons skree saam soos ’n kreet / Ek ontleed maar net die eensaamheid van menswees alweer / Met my een oog op die dinamiek van nog-’n-keer probeer”

 

’n Mens mag jou vuurwapen dra by Padstal (die logo is ’n windpomp) ver in die ooste van Pretoria by Equestria. Daar is ’n groot bord wat dit verkondig. Die plek is massief, binne en buite.

In ’n ander lewe en tyd was dit die kroon-paleis van Pretoria se alternative scene – Arcade Empire. In die Kaap het die kids gedroom van shows kyk by Arcade, van Bittereinder kyk by Arcade.

Arcade se dood is op 22 Augustus 2019 per Facebook verklaar. ’n Strak grys agtergrond met die woord “CLOSED” op. Die comments spreek boekdele: “Kinda figured when I saw the entirety of Pretoria's boertjies pull in with their Hilux convoys,” lees een. “This is not new news. We all knew this day would come as Arcade stopped being a place for alternative people years ago and started turning into Madisons,” lees ’n ander.

Buffelsfontein Baardolie bedryf ’n pop-up shop binne-in, want dis dieselfde ouens wat nou die venue besit. Teen die mure is ’n nimmereindigende ry braaiplekke ingebou. Padstal het ook ’n karwas in die parkeerarea.

Die fotograaf dwing die drie verbouereerde Bittereinders op die enorme, leë verhoog. Hulle poseer vir spoke. Louis lyk die gemaklikste van almal en bestel die eerste bier van die dag. Buite sit en praat ons oor micro-dosing en angsaanvalle. Almal se hare het bietjie grys in, besef ek meteens. Myne ook. Padstal maak seker poes baie geld, besef ek net ná dit. 

Presies ’n maand gelede het Steve hier opgetree.

Padstal (voormalige Arcade Empire)

Padstal (voormalige Arcade Empire)

Bittereinder pas omtrent so goed in by Padstal soos die Koran in ’n christenkerk – onwillige raakpunte, maar gemakliker vir almal om dit nie te erken nie. Padstal doen goed en dit is gaaf vir sommiges. Daar is ’n plek onder die son vir almal, en vuurwapen-dra in Gauteng is deesdae byna essensieel. Maar waar laat Arcade en soortgelyke venues se ondergang die Afrikaners wat smag vir iets meer as pampoene en vrot skoene? Dit laat ons met die oeserige oorblyfsels van ’n eens betekenisvolle musikale landskap. Peach, as gevolg van Van Pletzen se sukses, gaan baie met hierdie onderwerp om. Toe ek ’n punt probeer maak oor Bittereinder se waarde teenoor, byvoorbeeld The Kiffness, toe ontlok ek dié gesprek.

“Hoe measure mens betekenisvolheid?” vra hy my. “Is dit iets wat min beteken vir moer baie mense of iets wat alles beteken vir min mense? Wat gee iets meaning? Dis moeilik om value te meet. Ek sê altyd, wat’s die value van ’n Coke? En iemand sal sê: ‘Hoeveel mense willing is om te betaal vir dit.’” 

“Per gram?” vra Louis. 

“Nee,” sê Peach. Hy’s uncharacteristically ernstig. “Kom ons sê R15. Right? So die value van daai is ongeveer R15. Maar hier’s ’n foto van hierdie blik Coke op Elton John se klavier during sy 1988 show. Same thing, suddenly different value.” 

“So ek dink, die kat-videos (van The Kiffness) is great because it brings people a form of relief and it makes you laugh and smile, veral during a time when there’s enough other kak constantly bombarding everyone.”

Bittereinder weet van daai lem wat ’n mens loop tussen toeganklikheid en kuns. Die Driehoek het hulle derde album Skerm einde 2014 vrygestel. Dave Cooley, ’n beroemde klankingenieur in Los Angeles wat die Searching for Sugarman doccie se klankbaan behartig het, het die finale master gedoen. 

“Dis meer ’n headphones album,” sê Jaco. “It’s an album built to slice through screens,” vertel hy vir SA Music Scene. Maar dit vertaal nie lekker na die stage nie. Dit het duidelik geblyk vanuit die staanspoor.

Op ’n tegniese vlak is Skerm Bittereinder se hoogwatermerk, hulle magnum opus. Die album verg moeite en deernis om ten volle waardeer te word. Daar is subtiele nuanses in die musiek, geheime in die lirieke, wat eers verklap word as jy die album die nodige tyd en liefde verleen. Hulle het nóg ’n SAMA vir hom ingepalm (dié keer bloot Best Alternative Album, meegeding met Jeremy Loops onder andere) maar nie ’n enkele track is deur radiostasies gekeur nie. Meer Engels, minder collabs. Meer moeite; ’n kunstenaar se prestasie, ’n album om op trots te wees. Maar uitgereik ten tye van ’n sonsondergang in alternative musiek. Wegbeweeg van die belewenis, nie gepas vir Tings en Hotbox en Arcade se verhoë nie. “Plenty of good press,” beskryf Jaco dit, “but somehow it was never a good live album, so op daai manier het die album nie longevity in die shows gehad nie.”

Die Bittereinder-boys het mekaar begin verby leef. Ná Skerm het die Driehoek eers weer in mid-2015 tyd gevind om musiek saam te maak. Hulle het ’n week lank op ’n plaas in Mpumalanga gaan sit om doelbewus weer ’n album te maak wat mense sal laat bons – wat live gespeel kan word. Die eindproduk was Dans tot die Dood. Slegs sewe snitte. ‘Hartseer Gangster’ is Bittereinder se laaste groot treffer. Snaaks genoeg is Jaco oortuig die kiem van Van Pletzen sit in daardie tune. 

Dit was 2015, en die wiel het gedraai. Soos Jaco my later per WhatsApp inlig: “In the months following this release is probably when we felt an increasingly huge wave of ‘nobody cares’.”

By Arcade se begraafplaas staan die stage groot en leeg. Daar’s genoeg plek om ’n hele generasie se drome, giere en begeertes te stoor. Die son het gesak op ’n groot deel van die SA alternative scene in die tweede helfte van die 2010’s, maar dit hoort nie Bittereinder te affekteer nie. Hulle is nie onlosmaaklik van daardie tyd en plek nie.

Tog het hulle ook nog nie weer ’n album uitgereik nie. Wat ook al hulle God was, het gesterf.

***

“Rondomtalie om en om, donker soos ’n donderwolk, alles is nog opgefok / Kots drip oor my trotse tong, verraai ek net my eie volk? Hoor ek nog die stem van God? / Skryf hierdie op Kersfees, dominee in die kerk preek, hoor jy hoe my hart breek? Kan jy dalk die vuur wees? / Medisyne vir die vrees, kan jy my ook aansteek?”

 

Êrens in die troebel tye van 2015/’16 glip Jakkals se greep op sy geloof. Daar is radiostilte op die Bittereinder-front ná Dans tot die Dood.

In laat 2017 verskyn ’n nuwe Bittereinder-enkelsnit ‘Donderwolk’, en ’n gepaardgaande music video. Die lirieke is pikswart, die video ’n subtiele existential nagmerrie. Jesus het sy heilige vader verwyt. 

Ek dink nie die waarheid agter daardie tune is in die hoofstroommedia ooit verklap of erken nie. “Dis seker ’n betreklik hartseer liedjie, maar tog is daar iets hoopvol daaraan. Hartseer en melankolie kan tog die beginpunt vir baie nuwe insigte oor dieper dinge wees,” vertel Jaco vir Netwerk24 in laat 2017. Vir enigiemand wat die lirieke noukeurig sit en lees het, was dit ooglopend dat daar iets meer van gesing word as blote wanhoop.

Ook teen 2017 is die YouTube-industrial complex ten volle op dreef. Fokofpolisiekar smous bier. Bittereinder se fans is klaar met universiteit. Die vagevuurwêreld (of die “liminale ruimte”, aldus Klopper) is ’n realiteit – vir die old guard is als louwarm en niksseggend. Die eerste generasie SoundCloud rappers en garage producers het al gekom en gegaan. Music streaming is hoofstroom – sowel as die debat rondom die besigheidsmodel van musikante en die weinige vergoeding wat die reuse van dié streaming-wêreld vir hulle kon bied.

Op ’n onlangse episode van Praating praat Peach met Danie du Toit van Spoegwolf en wens hom geluk met hulle ongelooflike prestasies: “Julle het baie sukses behaal en kry moerse views op YouTube, speel sold-out shows...” Dis hoe sukses in die musiekbedryf nóú gemeet word.

As Spoegwolf ’n sosiale verskynsel in die Afrikaner-wêreld is, die laaste asem van die MK-helde wat nog jong Afrikaners tot (’n tipe) rewolusie kan dryf, ingestel op die internet en business-savvy, is Bittereinder ’n skatkis van ontelbare waarde wat eers onlangs in die argiewe gestoor is. En as sukses in die moderne musiekbedryf in YouTube hits gemeet word, is Bittereinder baie, baie ver agter. 

In die half-dekade sedert Dans tot die Dood het daar slegs nog vier tunes buiten ‘Donderwolk’ (20 Nov 2017, 29,283 views) verskyn: ‘Asemrowers’ (20 Nov 2018, 21,112 views); ‘Recommended Playlist’ (19 Nov 2019, 7,667 views); ‘Karongeluk’ (3 Sept 2019 6,319 views); en uiteindelik die jongste, ‘Zero Illusions’ (9 Apr 2020 10,085 views). In teenstelling met die ander is ‘Zero Illusions’ se like/dislike ratio baie skeef: 100 like, 53 dislikes, “comments disabled”.

Dis immers die era van tong-in-kies-radiotreffers – toeganklik en beuselagtig, danspassies vir ’n aandag-afleibare generasie. Watter tunes kan saam met ’n video bemark word om die grootste digitale teenwoordigheid te skep? Wat jaag die meeste clicks deur die drukgang se mond? Die Afrikaner het gevolg en nageaap. Kyk maar net die klomp narre op Oos-Rand-TikTok. 

Dis immers die era van tong-in-kies-radiotreffers – toeganklik en beuselagtig, danspassies vir ’n aandag-afleibare generasie.
— Karl Kemp

Ten opsigte van musiek spesifiek: Biggy se ‘Dames’, garage producers soos Synth Peter en Jan Bloukaas, en nou Van Pletzen. Parow bly die toonaangewendste – miljoene op miljoene se views.

Bittereinder het nooit ’n kans gestaan nie. Die Driehoek is hopeloos te authentic. Hulle is nie heeltemal onbewus hiervan nie, inteendeel, hulle het al baie gesprekke daaroor gevoer, voer ’n lang een met my, het ’n hele single daaroor uitgebring – ‘Recommended Playlist’. Nostalgie en terugkyk. ’n Program wat bepaal waarna jy luister – ’n vooropgestelde formule vir genot – iets wat eenvoudig net nie strook met Bittereinder se wese nie.

 

“Bestaan Bittereinder nog?” vra ek die Driehoek.

Ons sit by Railways. Bittereinder het ’n full-on show hier ge-book gehad vir Meimaand, sold out, toe kom die derde golf. Peach het toe ons inloop vir Kurt Darren by ’n tafel raakgesien en gou gaan groet. Hulle het onlangs saam ’n sketch gedoen vir Comedy Central.

Nie een van hulle is liggeraak deur my vraag nie. Peach grinnik en sê onmiddellik: “Ja.” Die ander twee grinnik, kyk vir mekaar, kyk vir hulle bierbottels en koffiebekers. “That’s a good question,” sê Jesus. 

“Ons het nuwe musiek op pad. No-one is really playing shows,” sê Peach. “Maar jy kan vir lank ’n band wees, quiet wees... You can’t constantly...” 

“Tool. Tool does that,” onderbreek Jaco, met verwysing na Tool se lang pouses en stiltes tussen albums. “We not in that league,” sê Peach, laggend. Ek merk op: “Nee, in ’n SA konteks ís julle. Legacy status.” “Die Depeche Mode van Pretoria,” skerts hy.

“Ons het al hierdie gesprek gehad, oor hoe ’n mens se musiek deesdae verdwyn in ’n see van digital clutter,” verklaar Louis tussendeur Peach en Jaco se debat. “So dis moeilik om te weet waar ’n mens staan. Jy meet dit altyd met plays en views en ewe skielik is dit net soos: ‘Fok’it, hier stop dit.’ Dan begin jy wonder... Is dit ’n algorithm wat jou keer, of is dit nog relevant?”

Reeds in 2014 was Jaco bereid om ouderdom te pleit ter verdediging teen ’n vyand wat nie bestaan nie. Op ‘Jou Tyd Sal Kom’ rap hy: “Ons tref nou die 30's, man, ons word stokoud / Al die Bittereinder-boys ge-settle en getroud / Holding down the day jobs, dreaming of the stage / In a massive rap-denial of the facts of middle-age / Is ons sets by Oppikoppi die cat se whiskers / Of lyk ons soos daai toppies op reunion tours?” 

Destyds was Jaco maar in sy vroeë dertigs, Bittereinder ’n skamele half-dekade aan die gang. En op ‘Doodsberig’, ook op ‘Skerm’: “Don’t give a damn if any fan recall my legacy / Dis 2014 en ons almal is celebrities / Vra vir Talib Kweli, ’n voorbeeld van die issue: You think you’re popping? / Next year nobody will miss you / And if you do sing about me, wat sal jy dan sing? / Of is stilte beter hulde om te bring?”

Maar dit ten spyt het hulle aanhou musiek maak en nog ’n album uitgereik. Tussen 2016 en 2021 was daar egter iets anders aan die gang. Iets tasbaars het verander.

“Die laaste vyf jaar... It wasn’t fun. There were moments of fun, but the original creative energy... Een van die dinge was, ek wou meer in Engels rap.” Jaco klink nie skuldig soos hy dit sê nie. Tog voel dit ’n bietjie soos groepterapie. “Dit was waar ek was as ’n mens. Vir my is dit baie natural om Engels by te bring. Maar Louis het gevoel that really steals from what Bittereinder is. And in reflection, I think he was right. Ek wou die tale meng. I just didn’t think of a cool name like Mengels.”

“Ek’t honestly nie geweet dis net ek wat so gevoel het nie,” verklaar Louis.

“You were the one who voiced it and Peach did the diplomacy,” reageer Jaco. 

Bittereinder by Blue Room

Bittereinder by Blue Room

Louis probeer verduidelik: “Ek dink daar was daai gevoel van... As jy opsign vir iets, en jy glo daarin... Ons het daaroor ook gepraat. Evolve ’n mens oor tyd? My gevoel was maar, aan die begin – en in retrospek is dit dalk bietjie narrow minded – aan die begin toe Jaco met my gepraat het daaroor, hierdie vibe – en op daai stadium het ons ook ’n semi-christelike ondertoon gehad – en dis waarvoor ek opgesign het, dis waarvoor ons almal opgesign het, en nou verander dit. So is dit nou wat ek nog in glo, of voel dit nou net soos ‘go-along with the wave’? Ek dink ek het intussen in elk geval laat gaan daarvan, van daai idees.”

Jaco noem die olifant in die kamer: “En dit was vir die band moeilik toe ek hardop sê ek’s nie meer ’n christen nie.”

 

Die gesprek is feitlik en beskaafd, maar ek kry die gevoel daar is baie wat die Driehoek my nie vertel nie. Ongeag of ek reg is, dis hulle besigheid. Maar ek moes wel vra: “Is daar ’n kousale verband tussen die einde van Jaco se geloof en die einde van vollengte albums wat vrygestel is?”

“I don’t know,” sê Jaco. Daar is ’n stilte wat effens ongemaklik is. “It’s an interesting coincidence,” erken hy uiteindelik. 

“I think it has more to do with how people have started consuming music in the playlist era,” sê Peach. 

“Dis dalk ’n Venn diagram that maps onto each other,” voeg Jaco by. Die ander twee stem dermate saam, maar Louis neig meer na Peach se kant toe, en dis moeilik om te bepaal wie is die eerlikste: “Probably just a coincidence. Daar’s ’n ander deel ook. Ek en Peach doen al wat ons doen vir lank. Van die begin af min of meer.” 

“Jy kan maar sê poes lank,” voeg Peach by. 

“Maar Jaco se career het baie verander op ’n stadium. En hy’t baie besig begin word. And by no means sê ek dis jou skuld nie, maar dit het ’n groot invloed gehad op hoe vinnig ons content aanmekaar geslaan het. Ewe skielik word hy die besigste van ons al drie. En dit het nogal gevoel asof al drie wat besig is, het dit moeilik gemaak om ooit by mekaar uit te kom.”

“It might be the English thing,” sê Jaco, ontevrede met die verduideliking. Asof hy aan ’n wond wil karring. Of verbeel ek my? “Dit is asof ons nie meer geweet het wie ons is nie.”

“Ek wil stick by die punt wat ek vroeër gemaak het,” sê Louis. “Daar het ’n definitiewe tyd gekom wat dit gevoel het of die media verander het. En hoe mense dit actually... Op ’n stadium het dit gevoel asof as mense wou luister daarna, kon hulle. En toe op ’n stadium voel dit mense het nie ’n fokken clue gehad dat ons musiek gemaak het nie. Net ge-stonewall. Dis die gevoel wat ek gekry het. Want ek dink tog as mense access gehad het, sou dit beter gedoen het.”

Louis verwys na die vier singles. Peach noem later: “It was the sound of a band busy transforming in an uncomfortable metamorphosis.” 

Ek kan voel hoe hulle moeg word vir dié gesprek. Ek probeer dit dus ’n ander rigting indwing. 

“The fact that we sitting around a table talking, feels really nice,” sê Jaco ter afsluiting.

“Wel, met ’n naam soos Bittereinder...” sê Peach.

***

“Stilletjies bekruip ek hierdie onbekende grond / Met my woordeskat en ritme soos ’n geweer en ’n waghond / Julle almal donner rond in julle veilige kastele / Terwyl ek buite in die skadu’s in die strate van jul stede / Die verlede en die toekoms in die straatligte soek / Ek luister na die fluister van geheime in elke hoek” 

 

“Op die lem van die mes
Lê die einde van die storie
Hier’s die sedeles
Ek is nog nie dood nie”

 

As jy Bittereinder op Spotify speel, dan gooi die algorhythm later vir jou bands soos Glaskas en Die Melktert Kommissie. Straatligkinders en Beeskraal. Van Coke Kartel en Jack Parow. 

Dit pas nie. 

Bittereinder kan nie oor die MK-kam geskeer word nie. Daar’s sommige tunes van daai tyd en plek wat deesdae slegs 02:00 die oggend by ’n braai gespeel word onder ’n sekere ouderdomsgroep – die ‘Hemel op die Platteland’-playlist vir die 30-jarige, voormalige Avontoer-seerowers. ‘Kwaad Naas’ is al snit wat in daai kategorie val. Die res is uitsonderlik.

Bittereinder is eie aan Afrikaans, nie eie aan ’n beweging of era nie. Dít, ten spyte van die feit dat al die lede in Engelse hoërskole was. Dalk is dit juis daardie keuse wat die groep so besonders maak. Bittereinder is belangrik nie omdat hulle iets te sê het oor Afrikaans en Afrikaners nie, maar eerder omdat dit wat hulle doen, eenvoudig briljant is – en toevallig in Afrikaans. Dit noop mens om te besef dat Afrikaans meer kan wees as self-ontledend en dat Afrikaanse kuns kan styg bo masturbasie en/of flagellasie. Dis nie eerder-of nie. Soos die digkuns van destyds, kan iets bloot puik, belangrike kuns in Afrikaans wees. En vir dié wat absoluut nie daarsonder kan nie – Bittereinder het selfs ’n paar tunes waarin hulle wel daarmee omgaan. Dis net nie die begin en einde van die groep se hele oeuvre nie.

Wat bly oor van Bittereinder as jy die christenskap, die Afrikaans, die MK-era en die passie van jeug verwyder, uitvee, afbreek? Die wêreld wat Jaco in ‘Tale of Three Cities’ geskep het, is morsdood. Flenters. Die ou venues is ter ruste gelê. Albums is vervang deur viral sensasies. Digkuns is verruil vir digitaal. ’n Mens mag letterlik nie bons tans nie, en die jeug ag binnebly ewe opwindend as ’n house party by Hotbox. Die nuwe wêreld is nie noodwendig boos nie, bloot anders vir ’n sekere ouderdomsgroep.

Dus ontstaan die vraag of ’n splinternuwe album Bittereinder se tyd werd sal wees. Jaco rap juis in ‘Ampersand’ op Skerm: “As jy my kan hoor / Bou ons saam ’n brug tussen sterlig en woorde / Hierdie liedjie het jou nodig: Jou denke, jou ore / Sonder ’n leser is ’n skrywer onvolkome.”

Hulle het g’n eksterne skrywer nodig om die storie te ontbloot nie. Jaco rap baie duidelik in 2019 se ‘Karongeluk’: “Ons het tien jaar lank hierdie gat gegrou / Die ding raak diep, maar bittermin goud.” 

En in ’n volgende vers: “Ons music is timeless dit bly julle by / Of ten minste is dit wat ek sê vir myself / As die chaos die orde omhels in die hel / Arcade parking lot, drieuur in die oggend hier / Kinders word nog vrot, en niemand word jonger nie / Die stad is ’n dowe god / Ek skree soos ’n honger dier / Is dit ’n aanvaarbare lot? Is hierdie die donker uur?”

Toe ek dit vir Jaco probeer verduidelik, toe skryf hy terug: “Dis mos deel van die probleem – al die self-reflexive Bittereinder-songs wat gaan oor Bittereinder-wees is op die ou end net interessant vir myself.”

Met sy nuwe act, Placeholder, rap hy weer slegs in Engels. 

 

Jesus sit op ’n trap in ’n ou huis in Hatfield en kyk hoe rap Phomolo Sekamotho, ’n radikale jong Swart spoken word artist. Sy studente skiet die music vid – Jaco het hulle en Phomolo (oftewel Flex) connect, en hulle is oorstelp dat hy teenwoordig is. Maar hy’s spyt hy neem slegs waar en het geen insae op ’n konsepsuele vlak nie. Sy kreatiewe vlam brand bitter-fokken-laag, vertel hy my. Skakelbord eerder as profeet.

So hoe sal ’n Bittereinder-album in 2021 klink?

Die vyfde album sit op Peach se hard drive. “The fifth album is done basically. It just needs to be mixed more. And put together. It took essentially five years to make, but nie constantly nie.” Kort bietjie polish. Die album is klaar oud, die tunes jare gelede geskryf. 

Bittereinder se hele loopbaan is gatoorkop, agterstevoor om. Die heel eerste liriek in die heel eerste song op die heel eerste album is ’n fluister-versoek om hulp: “Sê tog die musiek beteken nog iets / As hierdie ding so erg gebreek is, sal ons dit ooit kan fix? / Ek soek al vir jare na die ware verhaal / Die ritmes in ons bloed wat ons lewens bepaal.”

Waarom nie Bittereinder begrawe nie? Want die musiek moet nog iets beteken, vir baie van ons. Die alternatief is te gruwelik om aan te dink. En dan is ek en my generasie ook skielik middeljarig sonder ordentlike musiek om die pyn te verdoof. Myns insiens onderskat Jaco die belangstelling wat nog bestaan, en hoe interessant Bittereinder vir iemand anders as homself is. Dat die old guard van SA alternative musiek kwyn, is algemene kennis, maar Bittereinder is dalk ál band wat die betekenis daarvan kan verwoord. Jaco kan nie nie oor so iets skryf nie, en hy kan nie ophou skryf oor die dood nie. Uiting moet daar kom – die verwarring is bloot te intens. Nes ons almal ons moet versoen met ons sterflikheid, dink ek Bittereinder gaan vrede maak met die feit dat hulle nooit ’n viral hit gaan skryf nie. 

En dis OK. Inteendeel, dis goeie nuus. En Peach bevestig dit later vir my – bevestig dat wie ook al die God is waaruit Bittereinder hulle musiek put, steeds bestaan, dalk net uitgezonk op bedaarmiddels vanweë die intensiteit van die internet en die pandemie.

“This is not a pop album. It’s a kind of art nouveau,” sê hy. “I don’t think your average 20-year-old is gonna think it’s a banger and show people.” 

“And you just have to aanvaar dit.”

 

“In die oop wond van ’n nuwe jaar / Soen ons oopmond want ons ken mekaar / En dis ’n smeerveldtog / ’n Tong-op-tong oorlog / But I write what I like / ’n Sinkende skip in die ink en die mic / En die standbeelde tuimel / Tale meng op die tong van die duiwel / En almal hardloop rond / Maar hierdie tipe hardloop maak mens vet en ongesond / En die trapmeul draai / En die bure braai / Dit ruik soos mensvlees daai / Lord of the Flies, daar’s muti in die slaai / Ons is die Walking Dead / Dis Animal Farm in die parlement”

 

“The moment I knew Bittereinder was gonna be a thing: When we released our first music video for Ware Verhaal,” sê Peach: “Our first ever comment on YouTube was by a user called Poeshond. And when I saw Poeshond commenting there – he said “lekker” or something – I thought ‘okes...’ 

Poeshond, if you’re out there, reach out. Hy’t vir my laat weet Bittereinder is gonna be a thing.”

Karl Kemp is 'n vryskut skrywer van Kaapstad. Sy skryfwerk het al in VICE, Rolling Stone en Ons Klyntji verskyn, onder andere.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Bittereinder: Sê tog die musiek beteken nog iets gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand