Beste Fokofpolisiekar...
fokofpolisiekar_karl_kemp.jpg

Datum: dag voor album announcement

Beste Fokofpolisiekar…

Ons het lanklaas gepraat. Dit was seker rondom 2014, êrens by ’n Stellenbosch studentefees. Ek is nie heeltemal seker hoekom ek skryf nie. Iets wil uit maar ek’s nie seker wat nie. Ek weet ook nie vir wie ek skryf nie – vir jou, of vir myself, of vir my vriende. Miskien vir God, as hy wil luister, of enigiemand wat wil. 

Sorry, jy besef seker dat my Afrikaans verkrummel het. Tussen die Nederlands en Engels praat ek Afrikaans soos my pelle wat Kaap toe getrek het en gemaak het asof hulle meer Dirty Skirts as Fokof geluister het in 2008. 

Ek hoor nie veel van hulle nie. Ons woon in verskillende lande. Sommige het anorexia en ander bipolar. Sommige luister musiek wat klink soos Philip Glass wat gemartel word. Sommige se name kan ek nie eers meer onthou nie. Ek het vriende wat werkloos is en hulle dae deurbring in hulle ouers se granny flats. Daar is ouens met volslae dwelmprobleme. Jy sal nooit raai wie nie. Hulle braai ook Sondae by hulle ouers met rooi ogies. 

Bygesê, ek voel my meer Afrikaans oorsee as wat ek ooit tuis gevoel het, toe ek nog in Bellville gebly het. Toe júlle daar gebly het. Ek moet so voel, andersins sluk hierdie identiteit my in, hierdie land van werkende publieke vervoer en versmorende sosialisme. 

Dit was op ’n tyd eenvoudig, die wêreld, bloot vanweë die kompleksiteit daarvan. Nou wentel die wêreld om ander dinge; nostalgie, byvoorbeeld. Oftewel, met die regte filter op.

Maar nou ja, dis maklik om sinies te word so met die ouderdom. Ek’t nou uiteindelik ’n nuwe meisie. Sy’s van Cyprus af. My pa worry dat haar vel te donker is. Dis moeilik om haar nie te vergelyk met die Afrikaanse girls wat ek destyds gehad het nie. Die een was ’n moerse fan van jou. Ek meen, almal was. Maar dié een veral. Jirre, ek was lief vir haar. Lief vir daai tyd. 

Ek dink daai tye was… betekenisvol. Ek moet bieg, ek was nooit kerk toe nie, my ouers was taamlik liberaal in daai opsig. Dit laat mens wonder hoe ek kon aanklank vind by jou. Maar ek het so idee van hoe dit voel om in ’n kerk te wees. Ek kon in later jare sien hoe dit jou pla, om ’n kerkleier te wees. Dat jy moes sê jy’s nie heilig nie, dat jy aan niemand behoort nie. Dalk was alles te ingewikkeld vir jou ook.  

Woede is uitputbaar. Om ’n kerksleier te wees is uitputtend. 

Dit voel vir my mense is deesdae incapable om enigiets kosbaar te ag. Sosiale kwessies is ’n baadjie om aan te pas en te dra. As jy iets kosbaar ag, sit dit op ’n pedestal vir almal om te sien. Jou vrese is lofbaar, jou angs ’n manier van aandag trek. Alles oop en bloot vir die wêreld om te sien. Niemand en niks is heilig nie, jy ingesluit, ek ingesluit, ons jeug ingesluit.

Dit laat my dink aan die dinge wat ek kosbaar geag het. Is dit nogsteeds? Hoekom het ons destyds musiek gemaak? Want ons wou? Of moes ons? Sou mens kon musiek maak as jy nie moes nie, maar jy wou? Terloops, hoe sou daai musiek klink? Wanneer word iets ’n produk om aan mense afgesmeer te word, soos ’n jean of ’n craft bier? 

Dink eerder aan daai tyd. Ja, daai tyd.

DOasDuPXcAAnlkI.jpg

Daai tye wat jy middae om rook en glo dat jy in Monoloog in Stereo vas sit. Of wanneer jy ’n meisie se hart gebreek het en wakker word met Ek Skyn Heilig se lirieke in jou notaboekie uitgeskryf. 

Ek was in 2008 ’n brose 16-jarige toe hulle die polisie gebel het want die mosh het handuit geruk. Dit was daai gulde, goue oomblik wat julle afgesluit het met Fokofpolisiekar soos Kirstenbosch “poes off polisieman” sing, terwyl die menere met arms gevou laaities van die verhoog af bons. 

Mense het uiting gevind in elke noot van julle musiek. Ek was daar. Ek het dit gesien. Dit het elke gaping gevul. Dit was die ritme van Afrikaner-tienerwees. Dit was bevryding. Dit klop steeds onder, dit lê vlak in jou onderbewussyn, maar dit is ons nie meer nie. 

Fokofpolisiekar se musiek is geheg aan oomblikke – ’n produk van die tyd waarin die musiek gekweek is. Oomblikke wat nie meer kan plaasvind nie. Hoekom is die musiek gemaak? Waarskynlik nie om geld te maak nie. Net jy sal eintlik weet waarom. 

Untitled.png

Moderne rebelse musiek voel soos ’n plastieke plig, of ’n produk wat moet verkoop – nes Jenner se Pepsi ad – en ek kan nie besluit of ons naïef was in die 2000’s nie, of wat jy gedoen het ’n egte onbewustelike rewolusie was nie. Hoe meet mens dit? Met brandende karre? 

Ek onthou die awkward protests by Stellenbosch in laat 2015, met wit kinders wat om ’n enkele brandende trollie staan en sing, maak asof hulle Zulu ken. Dis nie iets wat ek ooit gedink het ek sou sien nie. Dit was nie die regte politiek nie. Van dan, die tienerjare, tot toe, die proteste, tot nou, die kwarteeu krisis – dit was als te vinnig. Niemand het ons tyd gegun om te besluit wat ons wou doen nie.

Ook seker maar goed julle rewolusie het plaasgevind voor hashtags en digital marketing campaigns. Kyk, mens kan slim wees, en dan kan mens arrogant wees. Hoeveel musikante/mense lees iets en voel verplig om musiek daaroor te maak? Hoekom voel destyds se Fokof-era soveel meer substantief? Want daar was nie ’n objektief nie en daar was niks om te baat daarby nie – dis hoekom. Dit was net. Organies. Unforced. ’n Natuursverskynsel. Die teenoorgesteld van ’n produk. 

Dit was so, so fokken spesiaal, en dit was tussen mense, nie beelde op ’n skerm nie.

Het jy al gesien wat ons deesdae gevoer word? Hoe ons gesê word om te stry? Geen meer feite nie. Daar word nou maklik verteerbare argumente vir jou uitgelê om teen die linkerkant of die regterkant te stry. Jou liefde lê nou onder jou duim se druk vasgepen. Jou sukses is afhanklik van clicks, jou self-waarde geheg aan ander. 

Die Afrikaner is weer ’n randfiguur, tersyde gestel saam met die reënboognasie om plek te maak vir nuwe dramas, nuwe maniere om eksistensiële verwarring te verplaas. Skakel in waar jy kan, maar nie meer by die mense om jou nie.

Nou maar sê my: waar pas ek en my makkers in by hierdie storie? Waar moet ons anker gooi en by wie? Wie sal ons Fokofpolisiekar wees? Kan daar nog ’n Fokofpolisiekar wees? En wat sal gebeur as Fokofpolisiekar nou iets probeer sê? 

Is dit iets waaraan jy dink? Sal jy ’n liedjie daaroor skryf? Sal daai liedjies ’n album kan vol maak?

Ek sien nie hoe dit ooit weer so besonders kan wees nie. Goddank julle het nie weer probeer nie. Fokof kon in 2017 ’n album gemaak het, maar dit sou nie ’n Fokof album wees nie. Dit sou ’n enkele, siniese skree in die donkerte in wees. Ek kan sien hoe ek en my vriende en hulle jonger broers en die hele Kaap sit met die plastieke omhulsel ongerep (of eerder, die track unclicked) want wat as… wat as… hierdie album kak is? Of nog erger – wat as dit fokken goed is?

Kyk, die punt is, om jou speelgoed weg te pak verg moed. Want jy weet, jy weet, dit sal ’n kak idee weet om dit weer uit te haal en daarmee te speel. As jy dit uitlos het jy darem ’n ongerepte herinnering. Netnou onthou jy iets wat jy nie wou nie. Netnou besef jy dat jy ’n musikant wou wees en nou nog werk in ’n kombuis, of dat jy op ’n tyd Afrikaans meer as Engels gepraat het, of dat jy die woord “kaffir” geweldig baie gebruik het, of dat jy ’n Christen was, of unironically by die KKNK was.

Ek is bly jy het nie nog ’n album vrygestel nie. Ek dink nie ek sou die verwarring kon hanteer nie. Jy kan mos sien ek wroeg reeds.

Dit maak seker nie saak nie. Jy weet seker dat niemand ’n nuwe album openlik sal kritiseer nie. Dis seker deel daarvan om ’n kerkleier wees. Dit verg eeue voor iemand braaf genoeg is om aan jou deur te kom klop.

Ek sing die ander aand hardop saam met Angs Aanval soos ek huis toe fiets ry. Ek is getrek. Ek is oud. Ek is nie dieselfde mens nie. Daar is kilos tussen my en die takhaar wat gebid het by Fokof se altaar. Daar is wêrelde tussen ons. Ek bly verveeld, en verwar, en moeg, en opgefok, maar ek is anders. My pelle ook. ’n Ander mens; iemand in wie Fokof en my goeie jare lê soos ’n berg in die opvoedingsiklus. En ek dink – jirre, wanneer laas het ek ’n angsaanval gehad? Ek besef meteens dat vyf Black Lables en ’n mosh by RAMfest dinge nie meer sal kan oplos nie.

Ek kry nogsteeds nie gesê wat ek wil nie. Dalk is dit genoeg vir vanaand. Ek voel my in ’n plastiekwêreld en partykeer help dit om aan daai tye te dink. 

Goddank daar is niks wat dit kan aanraak nie.

Stuur groete vir jou ouers.

Groetnis van,

Almal en niemand nie


Alle foto's deur Sean Brand

Karl Kemp is 'n vryskut skrywer van Kaapstad. Sy skryfwerk het al in VICE, Rolling Stone en Ons Klyntji verskyn, onder andere.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Beste Fokofpolisiekar... gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand