Karl Kemp skryf as migrant in Nederland
Grensloos, bodemloos
In 1672 vaar Pieter Kemp van Vlaandere na die Kaap van Storms. Hy was waarskynlik ’n doodgewone arbeider. Sy nasate vermoed hy’t weggehol vanweë desperaatheid of skelmgeid, miskien ook ’n bietjie avontuurlustigheid.
In 2016 keer een van sy afstammelinge uit Suid-Afrika terug Europa toe. Toevallig tydens die grootste migrasiekrisis in die wêreld se geskiedenis en tegelykertyd die eerste tekens van rewolusie teen globalisering wat begin kop uitsteek. Teen einde 2018 woon die afstammeling in ’n immigrantkwartier in Den Haag, Nederland, en doen wat die bevoorregte Afrikaner ontwerp is om te doen – tob oor sy plek in die wêreld.
Ingevolge die universele wette van lot en serendipiteit heet die buurt waar ek toe tob Transvaalkwartier, en die tyd wat ek daar spandeer het het gesorg vir allerlei eksistensiële verwarring. Laat ek verduidelik.
Die Transvaalkwartier, oftewel net Transvaal, is vernoem na die Suid-Afrikaanse Republiek soos hy tydens die Tweede Vryheidsoorlog bestaan het. Die Nederlandse regering was in daardie stadium amptelik neutraal teenoor die Boere se vryheidstryd. Die Nederlandse burgers was wel beïndruk deur die heldhaftige Boere-nefies se stryd om self-beskikking.
In 1898 was dié residensiële area deur die Haagsche Bouwgrondmaatschappij Engelenburg gevestig, en die Boere se name is vereer op die nuwe beton en strate. Oom Paul Kruger besoek die gebied na sy ontsnapping uit Lorenco Marques in 1900, so ook generaals Botha, De La Rey en De Wet tussen die jare 1900 en 1903. Toe was Afrikaners nog welkom in liberale kringe.
Dis ’n kleinerige buurt, so een en ’n halwe kilometer by een kilometer wat ’n reghoek vorm. Dit is so tien minute se fietsry van die stadscentrum af. Die Westerse grens is deur De La Reyweg afgebaken. Die hoofstraat staan bekend as Paul Krugerlaan, en die buurt se dwarsstraatjies het name soos Jouberstraat, Smitstraat, Pretoriusstraat, Reitzstaat, Bothastraat, en dies meer. Kempstraat loop van oos tot wes deur die hart van die wijk tot dit ’n T-aansluiting word aan De la Reyweg. Dit neem jou twee sigarette om te stap van die polisiestasie op De Heemstraat tot by die trem-stop in Kempstraat, en ongeveer drie sigarette as jy die langpad deur Schalk Burger- of Bloemfonteinstraat wil neem.
Aanvanklik is die buurt as ’n lae-middelklas woonplek uitgemerk. Tydens die Eerste Wêreldoorlog word daar nog plek gemaak vir Belgiese vlugtelinge en plattelandse migrante. Die prototipiese Nederlandse Marxistiese party het kragtige steun daar geniet. Aan die einde van daardie oorlog is die berugte Afrikaner-politikus Jan Smuts voorbok by die stigting van die League of Nations, wat in die komende dekades deur sekere akademici uitgekryt is as ’n voortsetting van imperialisme, in teenstelling met die instelling se gestelde doelwitte. Dit is die eerste verskynsel van ’n internasionale owerheid. Aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog is Smuts toevertrou met die samestelling van die Verenigde Nasies se grondslaggewende dokument – die VN-Handves. Sodoende stel ’n Afrikaner die moderne internasionale orde aan die slag.
Teen die sestigs het die Transvaalse wyk reeds al ’n reputasie as die “slegte wyk” van Den Haag opgebou, en bekende Nederlandse dwelmhandelaars soos Jan Corsius het hul eerste guldens daar gemaak. Met die koms van die “gastarbeiders” uit Turkeie en Marokko het die buurt “sterk van karakter veranderd”, volgens die wyk se Wikipedia-blad. Heelwat geboue is gesloop en nuwe sosiale behuising is gebou. In 1994 word Suid-Afrika die reënboognasie gedoop, en die Boeregeneraals waarna die buurt vernoem is word deel van ’n geskiedenis wat Suid-Afrika se nuwe leiers ten sterkste afkeer. Tegelykertyd word Transvaal in Den Haag “de kleurrijkste wijk van Den Haag”, aldus een van die buurt se amptelike webtuistes. In hierdie tyd, met die ineenstorting van die USSR, verklaar Fukuyama dat geskiedenis nou verby is. Empiries-gesproke was dit waarskynlik nie heeltemal akkuraat nie. Maar wie sou nou eintlik kon voorspel dat die wêreld so vinnig so grensloos sou word?
In 2007 plaas die regering Transvaal op die ranglys van die land se 40 sogenaamde “krachtwijken”, of “aandachtwijken”. Die is wijke wat na bewering swak infrastruktuur het, sowel as lae inkomstevlakke onder die inwoners, en allerlei sosiale probleme, en dus bykomende aandag van die nasionale begroting nodig het. In 2008 bestaan die buurt, met sy 15 000 inwoners, uit noue straatjies, bokshuisies wat deur die regering geborg word, weinig groenigheid en baie beton. Die Laeveld is dit nie. Die wyk word deur sommige politici as die argetipiese voorbeeld van die migrasiekwessie gebruik, op dieselfde pylvlak as die berugte jihadi-gebied Molenbeek in Brussels.
Volgens regeringstatistieke is 90% van die wyk se inwoners mense met ’n migrasieagtergrond. Die drie hoof etniesegroepe in die mengelmoes is Marokkane, Turke en Suriname, en een Afrikaner, wat ’n minderheid was in sy eie land en nou ook in sy nuwe buurt.
In Junie 2018, toe ek daarheen verhuis, is die groot nuusstorie dat die Nederlandse-Siriese “haat-imam” Fawaz Jneid verbied is om in Den Haag te preek, maar dat hy dit elk geval aanhou doen by sy Moeslim-boekwinkel in Transvaal.
Die bevolkingstatistieke word lewensgroot op die strate gereflekteer. Paul Krugerplein is vol van Islamitiese slagterye, saam met Moeslim-modewinkels vir vrouens en Indiese kultuursentrums. Die buurt gaan gebuk onder uitdagings wat strek van kleinskaalse kriminaliteit tot wat die Nederlanders noem “taalachterstand” – kinders en ander inwoners wat nie Nederlands magtig is nie, en sodoende nie opleiding kan ontvang nie, wat werkloosheid as gevolg het. Tog het hulle burgerskap.
In 2012 het die Den Haagse gemeente aangekondig dat buurte soos Transvaal en Schilderswijk ’n ekstra elfmiljoen euro se hupstootjie sou ontvang oor die komende vyf jaar om sulke uitdagings aan te pak.
Die plek is dor, verdrietig, volop met Islamitiese ekstremiste en mense wat die Europese samelewing verwyt. Dit lyk nie op ’n Suid-Afrikaanse lokasie met ’n epidemie van gewelddadige misdaad en hartverskeurende armoede nie. Tot ’n mate het Suid-Afrika se armer wyke darem lewe, mense wie se wortels diep in die grond ingepen is met hoop vir beter tye. Mense wat nie die indruk gee dat hul tydelik en teen hulle wil as gaste in ’n vyandige land vertoef nie.
Wat ’n ironie. ’n Europese buurt vernoem na Europeërs wat Afrika ingedring het, hoort nou heeltemal aan indringers van Afrika. Maar so loop die koers van globalisering. Sommige sou sê so loop die koers van die mensdom.
Maar wat snaaks is, is dat ek die Transvaalse immigrante se behoefte aan eie-identiteit volkome verstaan. Europa is ’n koue, dooie plek sonder rigting. Dit word vir enige uitlander meteen duidelik dat ’n sin van identiteit soos ’n warm baadjie moet aangetrek word om te voorkom dat mens kens word.
Immigrante mag hul kultuur volhou, natuurlik ja, met liefde, maar onderhewig aan streng reëls en regulasies. Jy sal in jou eie afgebakende deel van die gasheerland moet bly as die kultuur nie aan die vereistes van “beskawing” voldoen nie, en so word elke staat ’n klein Verenigde Nasies waar niemand ooit regtig tevrede is nie.
Die Europeërs beoefen Apartheid op die manier wat die oorspronklike “separate but equal” voorbokke dit wou hê, en bewys dat die globalisering wat hulle so ywerig bevorder vir winsbejagting nie sonder bittermoeilike uitdagings kan seëvier nie. Vra maar enige van die familielede van die honderde Europese slagoffers van terrorisme die afgelope paar jaar. En vra dan ook vir die tienduisende slagoffers van Westerse globalisering in die Midde-Ooste.
Geesdrif vir die idee van ’n tuisland word al hoe skaarser. Die wêreld is mos die mensdom se tuisland. In Europa is die regering nie meer ’n uitdrukking van die bevolking se wil nie; dit is nou slegs gesiglose owerhede wat bepaal hoe jou geld bestee word, en dus volgens denkers soos John Locke geen morele grondslag het nie. Burgerskap is gereduseer tot bloot in dieselfde omgewing bly, in plaas van ’n volk wat gemeenskaplike waardes en sienings deel as gevolg van gedeelde ervarings en historiese uitdagings. En met sulke korporatiewe benaderings tot die mens se onverklaarbare, onherroeplike begeerte om met sy omgewing en medemens te kan vereenselwig, kan slegs vervreemding en woede die gevolge wees.
En dit is in hierdie konteks wat die Afrikaner sy identiteitskrisis die akuutste voel – nog Afrikaan, nog Europeër, maar word die idee verkoop dat dit nie meer saak maak nie, ongeag waar jy bly. Solank jy gehoorsaam is. Solank jy belasting betaal. In my naïewe drome is die Afrikaner nog ’n republikein, die Boere waarna die Transvaalse strate vernoem is. Dit is waarskynlik hoekom ek so swaar kry in Europa, want ek kry heeltyd die gevoel iemand lieg vir my oor hoe tevrede ek hier hoort te wees.
In Nederland is die Afrikaner darem nog ’n rare ding, ’n tipe uitheemsheid. Op ’n dag laai ’n Nederlandse-Marokkaan in ’n pikswart Mercedes-Benz my voor ons flatblok in Transvaal op. Hy is heel verras toe ek met hom ’n gesprek in my gebroke Nederlands kon voer. Oor die koers van die rit het ek hom verduidelik wat ’n Afrikaner is en hoekom ek “sy” taal kan praat; nie Arabies nie, die ander een wat hy hier moes leer. Ek was nie seker of die absurditeit van die verskynsel vir hom so duidelik was soos dit vir my was nie. Dalk traak dit hom minder – hy’s nie naastenby so bevoorreg soos ek nie en het dus nie die tyd of lus om daaroor te wonder nie.
Gee mense soos hierdie Uber-drywer en die ander Transvaalse inwoners ooit aandag aan die straatname van hul buurt? Sou hul enigiemand daaroor kon vra indien wel? Sou hul die moeite doen om die name op hul smartphones te soek? Sou Ben Ali van Marokko, wie homself in Nederland bevind, twee keer dink oor De la Rey of Paul Kruger? Wat sou sy mense maak van die stories, van die Boeregenerale, en die Boere-republieke? En weet hy ooit waarom sy ouers hierheen immigreer het? Was hulle ook desperaat of avontuurlustig soos Pieter Kemp? Wie was die eerste Boere, buite die kolonie en die Voortrekkers? Die twee immigrantgroepe het tegelykertyd byna niks en byna alles in gemeen. Die belangrikste gemene deler is dat beide groepe nog vrae kan vra rondom hul identiteit en die pad vorentoe. Daai opsie is nie meer vir die Europeërs beskikbaar nie.
Dus, moet ek nou hier staan, ’n gemene Afrikaanse swerweling, en jaloers wees dat Marokkaanse familielede van die Rifberge in Noord-Afrika hierheen kan kom en vir die staat geld vra, en ek as Afrikaner nie eens in my geboorteland welkom is nie en moet waai na ’n plek wat my nie as vlugteling of gastarbeider beskou nie? Dit is die sleutelkwessie. Dit is wat deurdring tot in die murg van die wêreld se identiteitskrisis; die valse idee dat die mens gelukkig en eksistentieel tevrede kan wees solank jy veilig is. Dit is iets wat die middelklas al lankal geleer het.
’n Afrikaner in Europa is niks anders as nog ’n immigrant van die donker kontinent nie, maar ons word nie so bestempel nie want ons lyk nes die Europeërs. Om sonder enige probleme te vestig in Europa sal ons moet bereid wees om onsself te ontbind en die afgelope 400 jaar van ons geskiedenis as ’n tipe wilde vakansie te beskou. Dan kan ons ook deel in die sosialisme wat die Europeërs soveel vordering, tevredenheid en geluk sedert die Tweede Wêreldoorlog gebring het, die sosialisme wat so volhoubaar en wenslik is, die sosialisme wat soveel rykdom skep en almal so gelukkig hou.
Maar die Afrikaner weet nie hoe om ’n immigrant te wees nie. Soos Carel Boshoff vir my as amateur-joernalis in 2013 vertel het toe ek in sy agterplaas sit en koffie drink: die Afrikaner weet nie meer hoe om ’n huis te bou nie. Hy kan slegs bevele uitdeel. En om te oorleef gaan hy dit weer moet aanleer. Deur Apartheid is ons net geleer om op die regering staat te maak, nes die kommuniste teen wie my pa se generasie gedwing is om te baklei. In Europa is dit juis wat mens doen. Mens lewe van ander se belasting, en niks noop jou om by te dra tot die gesamentlike boedel nie, nie regtig nie. Daar is geen sosiale druk of skaamte nie. Dis normaal. Om weelderig te lewe en geld te maak word nie aangemoedig nie - dit is Amerikaans en saai. Die Europeërs beskou hul sosialisme as moreel, want mens leef vir die mense om jou – niemand is bereid om te erken dat hulle eintlik bang is niemand gaan vir hulle sorg nie. Dis ’n selfsugtige siklus van vrees wat homself voorgee as barmhartigheid.
Waarskynlik is daar ’n tipe moderne Afrikaner wat mooi hier sou inpas. Dis dieselfde Afrikaner wat nog in die laat tagtigs vir die Nasionale Party gestem het, wat nie sal omgee om deel te maak van die grysheid wat moderne Europa is nie. Die Afrikaner wat in 1900 homself as Cape Dutch geag het en toe skielik wou baklei toe die Republieke begin lyk asof hulle kan wen. Hulle gee nie om om oorheers te word deur ’n staat nie, mits die samelewing “werk”. Mits, soos my pa so graag wil hê, mens veilig is. Kan mens hulle kwalik neem? Kan mens die man wie se familie voor hom vermoor is sê hy moet beginsel voor sekuriteit plaas? Of ’n immigrant desperaat of skelm is moet dus van geval-tot-geval bepaal word.
Europa is soos ’n lyk vol vlieë met aasvoëls wat om haar sirkel. Ek het rondgetoer terwyl ek hier gebly het, soms om te skryf, soms om te kuier. Later smelt al die hoofstede saam. Die jongmense praat almal Engels en is besig met hul tweede of derde meestersgrade. Almal het dieselfde verslawings. Almal het dieselfde eng verwysingsraamwerk – wat hulle dink progressief is. Die toeriste-attraksies mag net sowel in een pamflet saamgevat word, want die plek voel soos ’n vervallende pretpark op autopilot.
Douglas Murray het dit uitstekend opgesom in sy boek The Strange Death of Europe: “Freedom isn’t free”, skryf hy. Europa, ten spyte van hulle jongste geskiedenis (of miskien as gevolg daarvan?) het dit vergeet. Hulle meen dat die lewe oneindig is, dat die punt daarvan is, soos Murray dit stel, “om mooi dinge te koop en met vakansie te gaan”, inteenstelling met Oos- Europa, wat hulle “tragic sense of life” behou het as gevolg van kommunistiese heerskappy, en verstaan dat ’n hegte samelewing grootskaalse moeite verg.
Maar in Suid Afrika word daai “tragic sense of life” soos ’n geweerloop teen jou kop gehou. En dit maak mense desperaat.
In die Haagse Transvaal word daar deesdae opgemerk dat die Turke en Marokkane op pad uit is en plek maak vir Pole, Grieke en Bulgare. So kruis die strome, so hou die wêreld aan draai. Die enigstes wat stilstaan is die Wes- en Noord-Europeërs. Deesdae is die plek waar mens woon willekeurig, onbelangrik, verbygaande, tydelik. Die wêreld is ’n lugkasteel waar almal mag bly, en niemand mag jou vra waarom jy bestaan nie. Dis aanstootlike gedrag om te wil weet waarheen ons op pad is. Dis wat daar gepreek word.
Transvaal in Den Haag is dubbelsinnig simbolies. Dit is simbolies van wat Afrikaners was en wat Nederland en groot dele van Europa nou is. Nederland is nie meer Nederland nie. Groot dele van Noord en Wes-Europa val nou onder ’n tipe supra-nasionale regering en lewenssiening.
Hoort Afrikaners die mense te wees wat in Transvaal, Den Haag bly? Sou Pieter Kemp van 1672 wou terug keer? Om daai vraag te beantwoord moet jy eers vra wie die Afrikaner destyds was, en wie hy nou is, en wat Nederland en Europa was, en wat dit geword het. En dit kan ek nie vir jou doen nie. Nie op ’n objektiewe manier nie. Niemand kan nie. En dit is juis waarom globalisering so ’n uitmergelende proses is. Die probleem is, soms het mens nie ’n keuse nie. Vroeër die week spreek Ramaphosa die Parlement toe: “We will always seek to do things that are going to advance the interests of our people – we will make sure that our people have equitable access to land and security of tenure”. Dis onduidelik na wie hy verwys as hy praat van “our people”. Dis nog altyd onduidelik. Ons saai wat ons maai. Paar dae later word die kommittee se voorstelle rakende artikel 25, die sogenaamde eiendomsklousule van die Grondwet, ingedien. Ons het nie eens ’n gesiglose owerheid soos wat die Europeërs het nie. En steeds het ek nie ’n antwoord nie. Want Afrikaners, soos ek hulle verstaan, is nie uiteraard rondlopers nie. Ons swerf wanneer ons moet, maar altyd tydelik. En ons hou glad nie, maar glad nie, daarvan dat iemand ons vertel wat om te doen nie.
Ek is tans op ’n stoep in Protaras, in die Ooste van Ciprus, tuis in ’n huis wat aan my meisie se ouers behoort. Ek’t onlangs Den Haag en die Transvaal verlaat. Die verlange na die nooi was net te veel. Oorkant my lê die kus van Lebanon en Sirië. Die bloedigste stryd in moderne tye woed tans daar en Europa is vol van haar vlugtelinge. My nooi se ouma se huis is in 1973 onteien toe die Turke die eiland ingeval het. Tot vandag toe nog weier sy om die huis wat die regering vir haar as vlugteling geskenk het op te knap. Sy ag dit nie as haar eie nie – haar regte huis lê twee kilometers aan die oorkant, duskant die VN buffer-sone en ’n kruispunt met ’n Turkse vlag wat wapper.
Ek is hier, op hierdie vreemde eiland op die grens tussen Europa en die Midde-Ooste, nader aan my geboorteland as wat ek ooit was in Nederland, geografies en emosioneel gesproke. So klein bietjie desperaat. Nogsteeds aan’t tob. Nogsteeds ’n toeris. Nogsteeds ’n onbelangrike arbeider. Nogsteeds ’n Afrikaner. Ek dink Pieter Kemp sou verstaan.
Karl Kemp is 'n vryskut skrywer van Kaapstad. Sy skryfwerk het al in VICE, Rolling Stone en Ons Klyntji verskyn, onder andere.