Oor Eben Venter se roman as 'neo-koloniale toeriste seksfantasie'
Azille Coetzee skryf oor 'n uitstalling wat vrae, kritiek ontlok
Ek is in Potchefstroom by February Lectures 2019. As deel van die akademiese konferensie, wat handel oor queerwees in die Globale Suide, stal skrywer Eben Venter die foto’s uit wat sy nuwe roman Green as the Sky is Blue vergesel. Die roman, wat ook in Afrikaans as Groen soos die hemel daarbo verskyn het, gaan oor Simon, ’n Suid-Afrikaanse skrywer wat in Australië bly. Hy reis na bestemminge soos Bali, Istanbul, Tokio en die Wildekus, waar hy dan op seksuele verkenningstogte gaan. Elke tweede hoofstuk bevat gesprekke tussen Simon en sy sielkundige, waardeur hulle probeer om sin te maak van wat hierdie seksuele ervaringe vir Simon se psige en verlede beteken.
Eben doen ’n voorlesing uit sy boek. Hy lyk presies soos ek my voorgestel het, fiks, seningrig, ongekunsteld maar goed versorg, daardie Afrikaanse boerseun-sjiek wat ’n mens ook in sommige van sy protagoniste sien.
Die gehoor vra ’n paar voorspelbare vrae oor Eben se skryfproses, oor vertaling, oor die skryf van die sekstonele.
Dan steek ’n Kanadese kunshistorikus haar hand op: hoe sal Eben reageer op die kritiek dat sy roman soos ’n klassieke voorbeeld van ’n neo-koloniale toeriste seksfantasie klink? ’n Paar gender scholars in die gehoor knik. Eben is onkant gevang. Hy glimlag, dink ’n oomblik na en skud dan sy kop. Nee, sê hy, die boek gaan oor begeerte, oor wat tussen twee mense gebeur wie se liggame bymekaar kom in seks. Die Kanadese professor vou haar arms. Mel Y. Chen, die wêreldbekende queer scholar, probeer die aantyging in meer detail aan Eben uitlê: die hoofkarakter is ’n wit man wat as toeris deur die wêreld beweeg, en al die “eksotiese” swart en bruin mans met wie hy slaap op sy reise is net hulpmiddele in sy journey van kreatiewe selfontdekking.
Die vertrek is doodstil. Eben huiwer ’n oomblik en skud weer sy kop. Nee, die boek is ’n verkenning van seks as iets wat juis politiek kan transendeer. ’n Gelykmaking, sê Eben.
Daar bestaan nie iets soos seks buite magsverhoudinge nie, merk een van die kunstenaars in die gehoor op.
Dan verander een van die organiseerders van die konferensie die onderwerp.
Die kritiek teen die soort wêreldreise wat Venter se hoofkarakter ondergaan, is nie nuut nie. Kultuurkritici soos Caren Kaplan en Janet Wolff wys hoe die wêreldreis as ontspannende of kreatiewe ontvlugting histories gereserveer is vir die middelklas wit man. Hy beweeg moeiteloos deur die wêreld, op die gevestigde roetes van koloniale verowering. Die Westerling kan die reis na die “eksotiese” bestemming gebruik om al die beperkinge van die Westerse samelewing af te skud en homself op seksuele, kreatiewe en persoonlike vlakke te vernuwe, voordat hy, wanneer dit hom weer pas, terug keer na die gemak van sy Westerse middelklas bestaan. Die Afrikaan of Oosterling moet bly waar hulle is.
Hierdie wêreldreise is reeds geseksualiseer in die Westerse verbeelding. Die kolonis leef al sy fantasieë uit onder die gekolonialiseerdes, wie in koloniale geskrifte en kuns as hiperseksueel aangebied word. Die swart man met die reuse penis, die Afrika vrou met die onblusbare seksdrange, die erotiese talente van die Oosterling.
Green as the Sky is Blue lyk dus heeltemal verdag.
Hierdie naweek lees ek die boek, soos Eben vra, voordat ek verdere oordele vel.
Simon is die banneling met heimwee, in ’n toestand van voortgaande verplasing (’n teken van ’n kreatiewe en nadenkende lewe in die Weste). Die “eksotiese” Ander bied ontvlugting van individuele en estetiese beperkinge wat Simon in sy eie konteks ervaar. Venter weier ons toegang tot die lewens en subjektiewe ervarings van Simon se lovers. Eers dink ek dis eenvoudig ’n uitwissing. Maar dan sê Simon oor vlugtelinge wat hy bystaan in Australië: “nothing can simply be assumed, you can’t project stuff onto them.” Skep Venter dus doelbewus karakters wat hulle teen die Westerse blik verset?
Soos wat ek verder lees, besef ek dat hier ook iets anders op die spel is. Simon probeer sin maak van sy kinderjare in apartheid Suid-Afrika, sin maak van die skreiende rasseongelykheid waarin hy grootgeword het, en wat steeds die wêreld waarin hy leef, kenmerk.
Simon spreek oor en oor die hoop uit dat hy deur seks die rasse- en klasverdeeldheid tussen hom en ander mense (veral Suid-Afrikaners), sal kan oorkom:
But now as I touched you, [...] now all that stuff no longer matters. Say yes, please say this. This thing we’re busy with, look around, what everybody else is doing, that’s the equaliser.
Daar is ’n oomblik waar dit lyk asof Simon (of Venter) besef dat ’n gedeelde ervaring van seksuele plesier glad nie genoeg is om ’n mens se aandadigheid in patrone van dominasie en onderdrukking te ontsnap nie. Dat witbevoorregting op strukturele politieke en materiële maniere afgebreek moet word voordat ras irrelevant word in seks. Hy sê vir sy sielkundige: “You know all that stuff about sex being an equaliser? Well, I’m not so sure about this any more.”
Maar dan val hy terug op die koloniale/moderne narratief van die individu wat buite historiese en politieke verhoudinge en kollektiewe verantwoordelikheid bestaan:
The guy opposite you remains the Other – whether he’s black or white, makes no difference. [...] Unless, unless [...] the other person is, as it were, no longer the Other, with the same being true for you. Then you share in one another, you do one another.
Hierdie skynbaar onskuldige hunkering na eenwording met ’n Ander word aangebied as ’n individualistiese opgaaf onafhanklik van historiese ongelykhede, en versteek so Simon se dominante sosio-politieke posisionering as wit man.
Venter trap dus in ’n paar slaggate.
Maar daar is ook ’n ander manier om hierdie boek te lees. Venter gee met onverskrokke eerlikheid uitdrukking aan ’n hunkering wat vir my as wit Afrikaner baie bekend is. Die hunkering om ten spyte van my witbevoorregting, ten spyte van ons vreeslike geskiedenis, op ’n betekenisvolle manier in verbinding te kan tree met ander Suid-Afrikaners. Om êrens common ground te vind.
Die boek kan geïnterpreteer word as ’n teks wat verken hoe ons herhaaldelik daarin faal om ons eie bevoorregting en aandadigheid te konfronteer, en die vervreemding wat daaruit vloei. En oor al die stories wat ons onsself vertel om beter te voel hieroor.
Ek lees dit dus nie as ’n toeriste seksfantasie nie, eerder as ’n opregte en kritiese verkenning van die soort kwytskeldingsfantasie wat die hedendaagse Afrikanerpsige kenmerk. ’n Fantasie om vrygespreek te word van die isolerende skuld wat aan ons wit velle kleef, al is dit net vir ’n oomblik, dalk in die vlietendheid van seks.
Azille Coetzee is die skrywer van ‘In my Vel: ’n Reisverhaal’ wat later hierdie jaar deur Tafelberg Uitgewers uitgegee word, en ’n nadoktorale genoot by die South African Research Chair for Gender Politics by Stellenbosch Universiteit.