Antjie Krog se nature punk in Plunder

Antjie Krog se nature punk in Plunder

Illustrasie: Octavia Roodt

Heelword in broosheid deur die aanspraak van die aarde

“Go away from here, darling” sing Alynda Segarra in die openingsvers van Life on Earth – Hurray for the Riff Raff se 2022-album. “It’s not safe at home anymore.” Die res van die liedjie is ’n melankoliese en dringende beroep om jou uit die voete te maak: “Run, babe, you know how to run” – oor en oor. Dit is treurig, maar op ’n manier baie sexy en gerusstellend ook: “Run, babe, you know how to.” Segarra verduidelik in ’n gesprek met die Swart feministiese denker adrienne maree brown (die skrywer deur wie Segarra beïnvloed is; sy verkies haar naam in kleinletters) dat hulle die laaste paar jaar in New Orleans bly, ’n plek waar ’n mens konstant die vrees vir orkane in jou liggaam ervaar, ’n plek wat so sigbaar geraak is deur klimaatsverandering dat jy die gevoel in jou dra dat jy moet hardloop. “Feeling like an animal,” sê Segarra. 

Die musiekvideo vir ‘Pierced Arrows’ (dalk my gunstelingliedjie op die album) begin met Segarra – hare in ’n wolf cut, geklee in cargo pants en ’n gehekelde beige crop top – met ’n tent in die bos êrens wat lyk soos die einde van die wêreld. ’n Mens hoor die geruis van water en ’n paar stadige onegalige, lugtige note, soos windklokke. Dan word die beeld ’n helder suurgroen en ’n heilwens verskyn op die skerm: “Bless all beings running for their lives. Life on earth is long.” 

Life On Earth as ’n album is ’n teer synth-rock, alt-pop verklaring van verset teen die geweld van menswees, die ongelooflike skade wat ons die natuur en mekaar berokken; dis ’n meditasie oor oorlewing, herstel, die opdroom van ’n ander soort wêreld, ’n ander manier van wees. “Nature punk” noem Segarra dit. Die strukturerende beginsel van die album is “radical joy” vanuit die werk van adrienne maree brown: dit verg radikale vreugde om nuwe wêrelde te verbeel, drif en die durf. Life on Earth is ’n bepeinsing oor verlies (“everything I have is gone, I don’t know what it’ll take to carry on”), maar te midde van dit alles vind Segarra erotiek, plesier: “Wrap your limbs around me, this won’t be over soon.” 

“Geseënd is die bome” – Antjie Krog
Foto’s: Brenda Veldtman

Dit is die jaar 2022, Antjie Krog word 70 en publiseer ’n bundel met die titel Plunder en elke keer dat ek begin lees daaraan is dit die lang, brose, maar uitgelate eerste paar note van Life on Earth wat by my opkom. Is dit Segarra se verlangende stem wat ek verwag om te hoor? Die vergelyking is onwaarskynlik. Alynda Segarra is 34 jaar oud, hulle het grootgeword in die Bronx in New York, op 17 die huis verlaat en deur Amerika begin reis as onwettige passasier op vragtreine, om in straat-bands te speel. Antjie Krog is van ’n ander soort generasie in ’n ander soort plek: apartheid-Suid-Afrika waar sy grootgeword het op ’n plaas in die Vrystaat, vroeg getrou en baie kinders gekry het, skoolgegee het. Krog het nie vragtreine gery nie en daar was geen DIY busker scene om by aan te sluit nie, maar soos Segarra, het sy op 17 haar kuns begin aanwend in verset teen die reëls van die bestaande orde. 

Deur haar loopbaan skryf Krog verse teen apartheidgeweld, rasseongelykheid, Wit middelklas-heilsaligheid, die kerk, teen die patriargie. Haar opstandigheid is ook eroties van aard – sy skryf oor seks soos en wanneer byna geen ander Wit Afrikaanse vrouens dit doen nie. Ná 1994 is dit oor witheid. En dan, in die laaste paar jaar, ook oor die groot taboe: die postmenopousale vroulike liggaam.

'Nature punk'

As ’n mens bekend is met Krog se oeuvre, as jy klaar Mede-wete gelees het (waarvoor sy ’n tweede keer in 2017 die Hertzog-prys wen), dan vra jy jou af wat op aarde daar nog oor is vir haar om oor te skryf. En dis dan wanneer sy vir jou Plunder gee – ’n bundel so in voeling met die oomblik, so oud en nuut gelyk, dat jy niks anders kan doen as om dit “nature punk” te noem nie.

Dit is ’n werk oor baie dinge, maar veral oor die skade wat die mens aanrig, die geweld van hoe ons leef, “die graf van my stomme land wat so huil” (bl. 23). Dit is ’n boek gevul met lyste en lyste van name van plante en voëls en bokke. Daar is gevaar hierin – wanneer Wit mense begin skryf oor die natuur. Dit kan depolitiserend werk, dit bied ’n verskoning om in jouself in te keer, om weg te draai van ander. Dis immers die Wit Afrikaner se onwrikbare liefde vir die Suid-Afrikaanse landskap en die veld wat histories dien om die geweld van koloniale en apartheidonteiening te regverdig. Gevestigde stelsels van natuurbewaring en dierebeskerming werk dikwels rassisties, gebaseer op die paradoksale en diep problematiese aanname dat dit net westerlinge is wat gevorderd genoeg is om om te gee oor die aarde. Suid-Afrikaanse skrywer Mohale Mashigo tweet ’n paar maande gelede hoe sy nie meer met haar hond wil gaan stap nie, want sy word gereeld voorgekeer deur Wit vrouens wat aandring daarop om te kyk of die dier goed genoeg versorg is. Daar is niks erger as daardie Wit mense wat die ietermagô wil red nie, sê Antjie in my onderhoud met haar by die Woordfees hierdie jaar. In daardie selfde week is ek by ’n konferensie en wanneer daar ’n paneel is met ’n paar Wit vrouens wat praat oor “mourning the more-than-human” steek die digter Gabeba Baderoon haar hand op en vra op haar stil manier: “Mis ons nie ’n stap nie?”

Maar dis Antjie Krog van wie ek hier praat en as ’n mens bang was dat sy sag word op 70 met vertroostende botaniese poësie, dan het jy haar onderskat, want Krog weier deurentyd, oor en oor, om die verwoesting van die natuur apart te verstaan van lang geskiedenisse van koloniale ekstraksie, rassisme, kapitalisme, die mens se betreurenswaardige “onvermoë om te deel / om te gee / om om te gee” (bl. 122): “[H]oe kan ons die planeet versorg as ons nie mekaar versorg nie / hoe kan ons mekaar versorg as ons nie die planeet versorg nie?” (bl. 106). Wanneer sy skryf oor #FeesMustFall, skryf sy net soveel oor “ons land se weerwil en woede” as oor die dieptyd van die Kalahari, ’n gemsbok wat vlug uit ’n kraak. “As a species, as life on Earth, we’ve been dying for millennia,” hoor ’n mens Ocean Vuong se stem in ‘nightqueen’ op Segarra se Life on Earth. “[O]nsalig is die geplunderdes” (bl. 40). In ’n aangrypende gedig oor geweld teen vroue (bl. 46) bring die “veragte wond” van die vagina vir Krog by die geskiedenis van ons land uit – “ons is gestam in uitbuitende gebruike” – en die vraag van herstel: “[H]oe kom ons vry?” Waarop sy antwoord: “[O]ns word heel deur die aanspraak van die aarde / deur broosheid” (49). In Life on Earth is seksuele geweld ook deel van die trauma wat Segarra probeer oorleef.

Dis Antjie Krog van wie ek hier praat [...] as ’n mens bang was dat sy sag word op 70 met vertroostende botaniese poësie, dan het jy haar onderskat.
— Azille Coetzee

Die vraag in die hart van Plunder is ook die vraag van Life on Earth: hoe bly ons teenwoordig in die aangesig van al die verwoesting: “[H]oe leef mens te midde van die geweld, die korrupsie, die doodmaak / die verkragting, die oop- en uitsweer van haat in hierdie land / […] die armoede, die armoede, die verontmensliking daarvan” (bl. 122). Krog moet baklei teen ’n impuls om te onttrek: “[W]aarom vlug ek met my ouderdom soos ’n kroon voor my uitgehou / om nié te onderhandel met die woedende skarniere van die wêreld nie” (bl. 34). “Don’t turn your back on the mainland,” herhaal Segarra amper vrolik in ’n ode aan die bergroos, nagjasmyn en die dodelike dolkruid. 

Hoe bly ons staande te midde van dit als, hoe vind ons die oproerige vreugde wat nodig is vir standhoudende en radikale verset?

Vir Antjie en Alynda is die antwoord dieselfde – dit sit in die plante, in die klip en in die grond. “Geseënd is die bome” skryf Krog; en Segarra: “Monarchs in flight / dawn’s early light / life on earth is long.” Die natuur bied verademing nie omdat dit mooi en stil is nie, maar omdat alles verbonde is. Dit gaan oor die moontlikheid van ’n nuwe soort tuiskoms in die self: “[E]k ís die bedelaar / ek práát die leeu / ek sneeu / ek is die boom waarteen die saag skreeu” (bl. 125) .

Vir adrienne maree brown lê die oplossing (die moontlikheid van oorlewing en heling) in die kultivering van weerstandige gemeenskappe en dit verg ’n verstaan van die self as iets wat altyd en onvermydelik in verbintenis bestaan. “[M]y kop bars oop in voelspriete, knopspriete / in risoom, bywortels, suigwortels, / hegwortels, lug- en steltwortels” (bl. 41) skryf Krog. “I might not meet you there,” sing Segarra, “I’ll be lost in time, growing on a vine.” Plunder is ’n “oop-maak vir die groot- / en blinker-word in die wildevy” (bl. 87). “[M]oet ek myself ontskryf” (bl. 103), skryf Krog; dis ’n projek waarmee sy al dekades lank besig is, maar in Plunder voel dit meer as ooit asof sy dit regkry. “[M]y sekerhede moet skipbreuk ly ek / wil in ’n deurlatende vel stap, my oorgee / aan wat anderkant ‘ek is’ leef” (bl. 41).

Dis hier waar die radikale vreugde lê: “[D]aar’s ’n pels van lig op elke klip / heilgenot rafel in my rugsak” (bl. 21). “The sun in the west and the one you love best / life on Earth is long.”

Alhoewel ’n mens in die meeste opsigte kan vergeet van die 40 jaar wat tussen Krog en Segarra lê, is daar oomblikke waarin dit wel deurskemer. In soveel van die liedjies op Life on Earth is Segarra besig om te hardloop – “I keep on running for the blue / I duck my head and travel through” – iets wat ’n mens voel in die ritmes van die album, die herhalings, die stygende note. Maar dis hardloop sonder ’n bestemming, daar is geen heenkome nie: “You can’t hide from turpentine.” In Plunder hardloop Krog nie. Sy sit en sy kyk, stap deur die tuin. Sy ís al deur ’n rewolusie, aan die ander kant uit en sy weet hoe dit werk – “gotweet ons het hierdie land tot verwarde stuk geleef” (bl. 37). Krog weet sy gaan nêrens heen nie, sy is “vasgewoestyn” (bl. 87). En sy word ouer, daar ís geen distant shores nie. Die elders is in die hier: in die “klein, egte rituele van liefde en vreugde / op koelbloedige fondasies van verharding” (bl. 95). Dis iets wat Segarra reeds vermoed, maar nog nie kan doen nie: “I'm needing just to sit still / I know there's nowhere, nowhere to run.” 

“[M]ens leer leef met wat sterwende is” (bl. 21) sê Krog. 

Op bladsy 44 van Plunder is daar ’n afbeelding van Baubo, die argetipiese ou wyf/heks (crone) uit die Griekse mitologie. Die storie figureer regdeur die boek. Demeter se dogter word ontvoer deur Hades en na die onderwêreld geneem. Demeter is hartgebroke. Om haar te troos bied Baubo vir haar ’n glas wyn aan saam met ’n maaltyd, maar Demeter wil nie drink nie omdat sy rou. Baubo voel seergemaak hierdeur, dink ’n oomblik na en lig dan haar rok op, ontbloot haar vulva. Demeter kyk – en dan glimlag sy – tot in haar hart glimlag sy. Sy neem die glas en drink die wyn. “‘[D]ie vulva is soos bier’ lag Baubo / sy lig haar kop: […] ‘al wat oorbly is ons weerstandige gegier’” (bl. 21).

“[E]k ís die bedelaar / ek práát die leeu / ek sneeu / ek is die boom waarteen die saag skreeu” – Antjie Krog

Azille Coetzee is die skrywer van ‘In my Vel: ’n Reisverhaal’ wat later hierdie jaar deur Tafelberg Uitgewers uitgegee word, en ’n nadoktorale genoot by die South African Research Chair for Gender Politics by Stellenbosch Universiteit.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Antjie Krog se nature punk in Plunder gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand