Saartjie Botha oor verruiming 'as jy jouself oopstel vir goeie kuns'

Saartjie Botha oor verruiming 'as jy jouself oopstel vir goeie kuns'

Sy vertel hoekom ons steeds kunstefeeste nodig het

In 2020 woon ek, in blissful ignorance, die laaste lewendige vertoning wat ek vir baie lank sou beleef by die Toyota US Woordfees by. In die middel van die opvoering gaan die krag af en almal word in donkerte gedompel. ’n Onstuimige gefluister begin deur die gehoor vloei en kort voor lank roep iemand uit: “Waar is Saartjie!” Nie lank ná hierdie noodkreet nie, het Saartjie wél op die verhoog gestaan, feesgangers gerusgestel en op een of ander manier ons almal lucky laat voel dat ons by hierdie spesifieke vertoning mag wees. Ná ’n rukkie het die vertoning voortgegaan, generator at the ready. Nes die ligte aangaan, fluister iemand langs my: “Ek’s nou bang. As mens drie keer Saartjie Botha se naam in die spieël tydens Woordfeestyd sê, sal sy voor jou verskyn.” Saartjie is, natuurlik, die direkteur van die Toyota US Woordfees wat elke jaar (pandemie jare not to be mentioned) in Stellenbosch plaasvind. Sy het 2015 oorgeneem by Dorothea van Zyl. 

As mens drie keer Saartjie Botha se naam in die spieël tydens Woordfeestyd sê, sal sy voor jou verskyn.

Nes Saartjie vir hierdie gehoorlid is die Woordfees oor die algemeen byna magies vir die mense wat dié fees in Stellenbosch bywoon. Oornag verskyn daar vlae regoor die dorp, en Erfurthuis in Ryneveldstraat raak ’n hub vir kunstenaars, feesgangers, die media en denkers van regoor die land wat stroom na Stellenbosch. Ek verbeel my mense in die noorde van die wêreld voel oor sneeu op Kersdag soos wat Woordfeesgangers voel wanneer hulle die feesgids vir die eerste keer in hulle hande vashou. Natuurlik weet ons dat die Woordfees (en enigiets in die lewe for that matter) nie ’n oornagsituasie is nie. Al te meer met Covid wat soveel meer uitdagings op die pad van die kunste geplaas het.

“Ons hele bedryf is op sy kop gekeer,” vertel Saartjie vir my. “Al die strukture wat daar was, het in duie gestort, behalwe vir ’n paar entiteite wat óf staatsondersteuning het, soos die staatsteaters, óf entiteite wat semi-staatsondersteunde organisasies is soos die Baxter. Maar ’n klomp ander organisasies het eenvoudig in duie gestort, omdat die artistieke strategie in ons land bedenklik is, en omdat daar baie swak bestuur is in ons omgewing. Daar was geld belowe en begroot, en dit is eenvoudig gesteel en vermors en het in die verkeerde hande beland.” 

Teen hierdie agtergrond moes die fees weer sy voete gevind het. Nie net was gehore nie feesfiks nie, maar kunstenaars moes ook deur baie werk om weer by feeste soos die Woordfees op te tree. “Ons het ’n klomp kunstenaars verloor, en ons het ook ’n klomp kunstenaars in ons bedryf wat nou ongelooflik onseker is van hulle vermoë en funksie, en hulle waarde as kunstenaars.” 

Nietemin dink Saartjie dat daar ’n ongelooflike honger is om werk te doen. “Ek dink die kwaliteit van die werk was besonder hoog.” Sy sien elke jaar dat daar ’n algemene tema in die inhoud en tematiek van die werk op die fees is, sonder dat dit aangekondig of bespreek word voor die tyd. “Hierdie jaar het dit gegaan oor verlies, en oor geesteswelstand,” sê sy. “Ek dink dit het te doen daarmee dat dit is waarmee ons sit. Afgesien van ekonomiese verliese en strukturele skade wat die pandemie aangerig het, sit ons nou met mense wat op ’n manier vol letsels is. Niemand is onaangeraak deur die pandemie nie. Daar was ook ’n konfrontasie met jou eie sterflikheid, jou eie weerloosheid, en wat hierdie vorm van afsondering aan mense emosioneel gedoen het.” Volgens Saartjie is ’n fees ’n baie goeie plek om hierdie afsondering op te hef en die interne monoloog ’n bietjie stil te maak. “Ons glo ons is ’n fees vir denkende mense en denkende mense kon nie anders as om in ’n vorm van selfgesprek in te tree tydens die pandemie nie. Soms is jou eie stem oorverdowend, en hier is daar skielik ander mense, ander stemme, ander asem – jy is nie alleen nie.”

Op hierdie manier is feeste en ander byeenkomste waar daar gepraat word oor die kwessies van die dag en kuns beleef kan word, broodnodig vir individue se algemene welstand. Dit is egter nie net belangrik op persoonlike vlak nie, maar ook vir sosiale kohesie. “’n Fees is ongelooflik belangrik, want dit skep ’n nuwe gemeenskap,” sê Saartjie. “Dit is ’n gemeenskap wat die tradisionele skeidslyne tussen groeperings ophef, en dit is ’n baie unieke gemeenskap wat hier beland. Hulle speel op mekaar in. Dis nie ’n gemeenskap sonder konflik nie, maar dit is wel ’n gemeenskap wat ontvanklik is vir ander se perspektiewe, wat een van die groot behoeftes in Suid-Afrika is.”

Op ’n manier is ’n byeenkoms soos die Woordfees ’n model van hoe gesprekvoering in Suid-Afrika kan lyk. “Mense is so vasgevang in hul eie perspektief dat dit baie moeilik is om ruimte te skep vir iemand anders wat dalk ’n ander agtergrond as jy het, en begrip is baie min. ’n Fees skep daardie begrip.” Volgens Saartjie is dit omdat die tradisionele standplase van oriëntering nie meer geldig is by die fees nie. “Almal kom op ’n manier as gelykes hier aan, en die kunste en kunstenaars lei hulle in ’n ontdekkingstog van nuwe moontlikhede en nuwe perspektiewe. Dit is ook ’n baie persoonlike en intieme konfrontasie.”

Grafika: Daniël Nortjé
Kunswerke ontwerp deur Fred Viljoen vir Woordfees 2022

In 2015, Saartjie se eerste jaar as direkteur van die Woordfees, gesels sy met LitNet oor haar visie vir die fees: “Dat dit ’n fees van uitnemendheid sal wees wat mense roer en raak. Dat dit vir feesgangers ’n verrykende en verruimende ervaring sal wees en aan kunstenaars ’n platform sal bied om te eksperimenteer en te waag. Dat dit die gemeenskap sal dien. ’n Liefde vir lees sal kweek, gesprek sal stimuleer en ook ’n lekker paartie sal wees. Dat die werksomstandighede vir die klein personeel so sal wees dat hulle passie nie sal kwyn nie. Dat dit vir borge die moeite werd sal wees om weer en weer en meer en meer te belê.” Sy sê dat dit interessant is om weer na haarself in 2015 te luister, en dat sy steeds saamstem – dit ís die funksie van ’n fees. “Ek dink wat ek nou met ’n paar jaar se ervaring weet, is dat dit nog baie meer as dit kan wees. Ons doen daai goed, maar ons kan dit in die oortreffende trap doen. Om dit te kan doen, het ons geld nodig. ’n Mens kan ’n fees net vir so lank volhou op kreatiewe en goeie idees.”

Sy sê dat die Woordfees elke jaar met ’n begroting van nul rand begin. “Ons weet ons moet die geld soek wat ons dan uitdeel. Ons het nie ’n begroting waarmee ons Krismis kan speel nie. Ons moet geld soek en strategiese oorwegings maak. Baiekeer is die vraag: Hoeveel kan ons bekostig om te verloor op ’n produksie? Dit sou wonderlik wees om te kon vra hoeveel ons kan wen, maar ons is nog nie daar nie.” Sy benadruk hoe dankbaar sy is teenoor borge wat die fees vir die afgelope 2 jaar lewendig gehou het. 

Hoe lyk die pad vorentoe dan? Vir haar is die bottom line dat kunstenaars gedien moet word en dat daar werksgeleenthede geskep moet word. “Ons is nou miskien met ’n bietjie meer voortvarendheid ongelooflik bewus van hoe afhanklik ons van borge is en hoe ons in die aanpak en aanbod van die fees ons verpligtinge teenoor borge moet nakom. Die kans is baie skraal dat ons binne die volgende 5 jaar geld van die provinsiale of nasionale regering gaan kry om iets aan hierdie fees te doen, so ons is regtig afhanklik van korporatiewe borge en ons lojale donateurs.”

Die gees van die Woordfees is, ten spyte van uitdagings, nie maklik om te blus nie. (Feesgees, if you will). “’n Fees is meer as die monitêre waarde, baie meer,” sê Saartjie. Iets soos die Woordfees skep ’n gemeenskap vir ’n week of twee terwyl dit aan die gang is, waar almal een doel voor oë het: Om goeie kuns te beleef, en om iets te leer oor die samelewing en hulleself met behulp van diegene wat iewers iets binne hulleself ge-access het om dit op ’n verhoog ten toon te kan stel. “Hierdie jaar het ons ’n klomp terugslae gehad en die energie van die fees het dit oorkom. Die kunstenaars se kwaliteit werk en die ontvanklikheid van gehore was net soveel anders as in die verlede,” sê sy. “Ons het ’n klomp mense by die fees gehad wat nog nooit hier was nie. Ons weet nie waar hulle vandaan gekom het nie. Miskien het hulle die fees op TV gesien. Of miskien was hulle so gekonfronteer met die uitdagings van die post-pandemiewêreld dat hulle gevoel het hulle êrens ’n vorm van vertroosting, stimulering nodig het – en dis hoe hulle by die fees beland het. Ons vat hulle almal, en ons is baie dankbaar vir almal wat hier was.” Dit eindig egter nie daar nie. “En dan gaan hulle terug na ander gemeenskappe toe, waar hulle oorspronklik vandaan kom, en hulle vat hopelik iets van wat hulle hier ervaar het, saam. ’n Groter vryheid, ’n verruiming van denke, ’n vorm van selfrefleksie wat net moontlik is as jy jouself oopstel vir goeie kuns.”

Ons het ’n klomp mense by die fees gehad wat nog nooit hier was nie. Ons weet nie waar hulle vandaan gekom het nie.
— Saartjie Botha oor Woordfees 2022
Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Saartjie Botha oor verruiming 'as jy jouself oopstel vir goeie kuns' gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand