In gesprek met pa-en-dogter-duo, Ian en Cara Roberts

In gesprek met pa-en-dogter-duo, Ian en Cara Roberts

Sien Is dit jý? Avonture voor en agter die skerms en The king of broken things by die Toyota Stellenbosch Woordfees tussen 28 September – 2 Oktober 2024. Kaartjies en inligting onderaan die storie.


Oor sy boek Is dit jý? en haar toneelstuk The king of broken things

Lesers sal dalk vir Ian Roberts ken as Sloet Steenkamp in die 1989-televisiereeks Arende, of as die karakter Boet van die Castrol-olie-advertensies. Diegene wat nie vertroud is met hierdie karakters nie, weet sekerlik van Ian se musiekloopbaan as voorman van die Radio Kalahari Orkes. 

Vanjaar is Ian in ’n nuwe gewaad by die Toyota Stellenbosch Woordfees te sien – as skrywer van die outobiografie Is dit jý? Avonture voor en agter die skerms (Jonathan Ball), wat vanaf September 2024 op boekwinkels se rakke beskikbaar is. 

Sunday Times berig dat Ian ’n onkonvensionele kindertyd gehad het, “running wild on his family’s citrus farm in the Eastern Cape. There he grew a love of nature and first learnt the art of communicating through song and story.” In sy boek kan lesers “die mens agter die bekende gesig en stem leer ken,” luidens die omskrywing vir dié EasyEquities Skrywersfees-geleentheid. Ek lees op BookHub:

Ian se loopbaan strek van Langstraat in Kaapstad tot Los Angeles en van Shakespeare-produksies in die teater tot die Oscarwenner Tsotsi. In sy outobiografie verklap hierdie briljante storieverteller met ’n stoute sin vir humor meer oor wat alles agter die skerms op televisie- en rolprentstelle gebeur.

Hy beskryf ook die hoogbloei van Afrikaanse televisie- en rolprentvervaardiging toe hy saam met legendariese regisseurs soos Manie van Rensburg en Dirk de Villiers gewerk het. Sy lewensverhaal is ’n meesterklas in die kuns van toneelspel.

Is dit jý? is ook in Engels beskikbaar onder die titel Nomad heart: Adventures on and off the set

Asof hierdie boekgesprek nie genoeg van ’n bederf vir Ian se aanhangers is nie, is daar nóg ’n Roberts by die fees te sien – Ian se talentvolle dogter, Cara Roberts, in die kinderteaterproduksie The king of broken things

In The king of broken things word die kyker op ’n bittersoet reis meegeneem. Deur die onskuldige oë van ’n kind word temas rondom die herstel van gebrokenheid, die Japannese tradisie van Kintsugi, mitologie en drome verken. Cara Roberts vertolk meelewend die rol van ’n jong seun wat ’n verbeeldingryke wêreld skep om met die ervaring van verlies en hartseer saam te leef.

Regisseur Michael Taylor-Broderick meen

It is a timely reminder to us all to think about the world and the repercussions of our actions, thoughts and words. And how we would do well to dwell more on the magic words – imagine, believe and dream.

Dié produksie is in 2023 bekroon met die Woordtrofee vir beste prestasie in kinderteater, die Gold Ovation-toekenning en die Fleur du Cap-toekenning vir beste teaterproduksie vir kinders en jongmense.

Ek gesels met Ian en Cara om meer uit te vind oor Is dit jý? en The king of broken things, onderskeidelik.


ELZANNE: Ian, baie geluk met jou boek Is dit jý? Avonture voor en agter die skerms. Wat het jou genoop om hierdie boek te skryf en wat het aanleiding gegee daartoe om spesifiek ’n outobiografie te skryf?

IAN: Terwyl ek besig was met die skiet van The wild moes ons elke oggend ’n uur ry na Heidelberg buite Joburg na die wildreservaat, skiet die hele dag en dan ’n uur terugry in ’n taxi. Ek het ’n computer gehad en toe begin ek skryf oor my verlede. Ek het altyd geskryf, deur my hele lewe het ek dinge geskryf. Ek was op ’n kol ’n toneelstukskrywer, ek was ’n movieskrywer. Dit was voor ek besluit het om ’n bietjie van ’n anekdote – ek noem hulle anekdote, net stories oor die lewe – te skryf. En toe word daai computer en my kombi 1600 camper gesteel by Delta Park in Joburg deur een of ander doos. Toe gaan al my skrywery weg. En toe besluit ek oh well, dit is dit. Ek gaan dit los. Met die corona-debakel is ek vas in my huis in Leidenburg, toe begin ek skryf. 500 bladsye daarna, het ek vir Nico Moolman, die skrywer van The boer whore, gevra met wie moet ek praat as ’n uitgewer. Hy’t gesê Jonathan Ball, Annie Olivier, en toe bel ek haar en sy sê: Nee, hulle soek nie sulke goed nie. Toe gee hulle my ’n bladsy van hoe moet die ding lyk en toe begin ek weer skryf en ek stuur 70 bladsye vir hulle en hulle sê: Nee, hulle soek hom. En dit was die begin van ’n ongelooflike proses.

ELZANNE: Met ’n televisie- en filmloopbaan wat oor etlike jare strek, hoe het jy te werk gegaan om te kies watter stories om in te sluit in Is dit jý? en was dit nodig to kill your darlings? Met ander woorde, was daar ’n paar stories wat jy wens jy kon insluit, maar wat ongelukkig uitgelaat moes word?

IAN: Daar is ongelooflik baie goed wat nie in die boek is nie, rêrig. Maar met die nuwe tipe aanvang wat ek begin het toe ek nou weer geskryf het, het ek besef ek moet outobiografies werk in terme van die tydlyn. Jy moenie nou dinge jump en hier en daar gaan in die tyd nie. Jy moet een tydlyn slat. Dit het my geforseer om rêrig te kyk na my verlede op die plaas in die Oos-Kaap. So, daar is baie stories nie in die boek nie, maar met hierdie boek het ek met die redakteurs van Jonathan Ball baie lekker saamgewerk om die boek te kry soos hy nou is.

ELZANNE: ’n Mens hoor van min mense wat werklik vreesloos hulle passie in die lewe volg én boonop ’n sukses daarvan maak. Ek lees in die beskrywing van jou boek:

So outentiek, vreesloos en onkonvensioneel soos wat talle van sy karakters was, só is Ian ook in die regte lewe. Hy trap sy eie paadjie en was nog nooit ’n tropbok nie. 

Nogtans word jy omskryf as ’n “ikoon van die silwerskerm”. Hoe kry mens dit reg om jou hart te volg in die Afrikaanse televisie- en filmbedryf sonder om ’n struggling actor te bly?

IAN: Kyk, in die vroeër jare toe ons so woes in die teater betrokke was – ek was by Kruik en by The Space Theatre in Kaapstad – het ons nie omgegee rêrig vir geld nie. Ons het gewerk. Nou maar, struggling actor, dis ’n ding wat jy eintlik kan plak aan die meeste Suid-Afrikaanse akteurs, want ons strukture is so sleg in hierdie land in terme van tantiemes en so aan. ’n Ou soos Arnold Vosloo gaan oorsee en hy doen ’n paar goed daar in Amerika en hy hoef nie meer te werk nie. The mummy betaal hom so ’n goeie... Ag, ek weet nie. So, geld was nooit een van my bedrywighede nie. Ek het net die werk gevolg. Ek kan onthou ons het in die ou dae, voor agente en so aan, het ek met ’n producer gepraat en ek sê vir hom: Okay, jy wil hierdie ding Arende skiet, hoeveel is my karakter werd vir jou projek in terme van jou budget? So het ons gewerk, want die werk was die belangrike ding. Die karakter was die belangrike ding. Dis net een van daai dinge dat die geld nou nie altyd die besluite gevolg het nie. Maar terselfdertyd moet ek sê ek het ook op groot Amerikaanse movies gewerk, en baie goeie geld gemaak. As jy rêrig ernstig is oor acting en jy wil ’n Suid-Afrikaner bly, dan gaan jy sekerlik die struggling actor bly vir rukkies en dan nie. Hy verskil so van job na job. Dit is wat jy moet doen – maar jou hart volg en die ander moet in plek kom of nie. Dis maar hoe ek dit sien.

ELZANNE: Terloops, hoe voel jy oor die feit dat jy as ’n ikoon in die bedryf gesien word?

IAN: Om as ’n ikoon gesien te word, sit ’n bietjie van ’n druk op jou, want jy moenie soos ’n slegte rolmodel voorkom nie en jy moet alles doen wat jy kan om mense se... Jy weet, gister het twee mense na my toe gekom in Pretoria, hier waar ek ’n show gaan doen. Dis twee middeljarige vrouens en hulle is crazy oor die feit dat hulle my net kan ontmoet. Hulle wil ’n hug hê en hulle wil ’n foto hê met hulle selfoon, en hulle mans bly sit daar en kyk maar die ding aan. So, ikoon het ’n verantwoordelikheid aan gekoppel. Jy moet probeer op ’n vlak bly in jou werk waar jy ’n goeie gehalte bly uitsit; jy moet kies watter rol jy speel en nie net sommer vat omdat jy ponde nodig het nie. Dit is ’n bietjie van ’n sindroom met Suid-Afrikaanse akteurs dat hulle moet enige donnerse rol aanvaar, want hulle wil net die paaiemente vir die huis betaal of whatever. Dit is ’n catch-22. Dan sit jy met ’n slegte rol, met ’n slegte regisseur, met ’n teks wat nou nie so goed is nie, en hoe hou jy jou ikoongeit dan bo? Dis moeilik. Ek het nou net onlangs gesê vir ’n oudisie vir ’n movie van – een van die karakters is ’n Wit man van 65 jaar oud wat ’n rassis is, wie se vrou hom verlaat het, sy werk het hom ge-fire, sy hond blaf op hom as hy by sy huis aankom – ek sê vir die mense van die movie: Luister man, ek het die hele land deurgesoek, ek kry nie so ’n mens nie, so julle moet nou grootword as teksskrywers. Dit is die ding dat ons die kans gegee is as jong akteurs in Suid-Afrika met fantastiese teksskrywers soos Paul C Venter, Johan van Jaarsveld; hierdie mense kon skryf, man, en karakters skep. Jy as akteur was bevoorreg om hierdie karakters te ontlont en uit te werk met die basis van eksellente tekste. Nou se dae is ons bietjie deur die mis met karakters. Ek sal maklik nee sê vir ’n ding en liewer pap vreet vir ’n maand en pampoen. Om my gehalte te probeer behou, kan ek nie een of ander ou doos gaan speel nie, jy weet.

ELZANNE: Cara, die produksie waarin jy die solo-rol vertolk, The king of broken things, het al verskeie toekennings ingepalm. Kan jy kortliks vertel waaroor dié bekroonde produksie gaan?

CARA: The king of broken things is ’n storie oor ’n seuntjie wat êrens op die spektrum is. Ons ontmoet hom in sy pa se werkswinkel, maar die gehoor weet nie waar sy pa is nie. Hy neem die gehoor op ’n magiese reis en saam verken ons temas van abandonment, hoop, versoening, temas van Japannese mitologie en die idee dat gebreekte goed weer heelgemaak kan word: van ’n gebreekte sambreel tot ’n gebroke hart.

ELZANNE: Wat behels die mental voorbereiding wanneer jy die rol van ’n kind moet vertolk? Hoe het hierdie proses verander sedert The king of broken things in 2018 vir die eerste keer op die verhoog was?

CARA: Toe ons die eerste keer die produksie in 2018 gedoen het, was ek ’n senuweewrak! Sedertdien het ek al geleer om my senuwees op ’n goeie manier te gebruik. ’n Uur voor die produksie kort ek stilte en fokus en dan begin ek om te strek en my stem op te warm. Ek moet altyd water by my hê. Ons het almal ’n kind in ons; die magic is om die kind te vind.

ELZANNE: Hoekom is kinderteaterproduksies soos hierdie een belangrik? Is The king of broken things net vir kinders of sal grootmense ook aanklank vind daarby?

CARA: The king of broken things is nie net ’n kinderproduksie nie. Mense van 8 jaar oud tot 98 jaar oud sal aanklank vind en dit geniet. Op een of ander vlak kort ons almal genesing.

ELZANNE: Jy het al in die televisiereekse, Black sails (2017) en Dead places (2021), sowel as in die films, Musiek vir die agtergrond (2013) en Durban poison (2013), onder andere, gespeel. Was dit altyd die droom om ’n akteur te wees?

CARA: Toe ek jonk was, wou ek ’n veearts wees! Toe ek besef dat wiskunde ’n groot deel daarvan is, I had to run the other way. My wiskunde is fataal! Die liefde vir toneelspeel is definitief in my bloed. En ná my eerste klein rol op die verhoog, I was hooked!

ELZANNE: Ian en Cara, hoe ervaar julle dit om albei min of meer in dieselfde bedryf doenig te wees?

IAN: Cara was nog altyd vir my ’n baie besonderse mens. Sy’t ’n wonderlike sin vir humor. Sy het ’n groot werksetiek. Sy werk hard. Ek is soos sy in daai opsig. Ons love om ’n job te doen en ons love om hom goed te doen. So, dis ’n plesier om met haar te kan gesels oor aspekte van ons loopbane en die projekte waarmee ons besig is tans. As daar probleme is by my wat ek nie kan verstaan nie, sal ek vir Cara bel. As iets vir Cara pla, dan sal sy my bel. Dit is ’n groot wins in terme van in dieselfde bedryf wees. 

CARA: Dis amazing om in dieselfde industrie te wees. Ek kry raad by mense wat ek bewonder! Ek kon hulle sien en daar wees in die bedryf van kleins af. Die uitdaging is om my eie pad oop te speel. Ek wil erken word as Cara, nie Michelle Botes en Ian Roberts se dogter nie.

ELZANNE: Sal julle saam aan ’n projek wil werk in die toekoms? 

IAN: Ek sal baie graag saam met Cara wil werk. Ek dink dat die produsente in hierdie land haar heeltemal verbykyk, want hulle is dom! Maar ja, ek werk tans aan ’n projek en as die projek agtermekaar kom, as hy begin ’n werklikheid word, dan gaan Cara daarin speel. Dit is hoe ek voel oor haar talent en oor haar moontlikhede: Eendag het ’n vrou wat ’n regisseur is in die Kaap, vir my gesê sy het Cara lank ge-oudisie vir ’n rol, maar sy voel sy val net kort van die kwaliteit wat die rol sou aanknoop vir haar as aktrise. Toe luister ek vir die girl en ek dink: Hoeveel weet jy, baby? Hoeveel en hoe is jy ingelig oor spel en movies? Toe kyk ek die movie wat Cara nie gekry het nie en ek sien die ander aktrise en dis okay, dis nice, maar ek sien sy’t ’n fout gemaak met daai je ne sais quoi – daai kwaliteit wat jy nie name of woorde voor kan gee nie. Dit is wat ek glo Cara het, die je ne sais quoi. En die regisseuse het dit misgekyk. Too bad, so sad. 

CARA: Definitief! Ons het ’n advertensie (AFGRI) en ’n fliek (Malunde) saam gedoen. Ek en my broer, Daniel, het in sy teaterstuk The guards gespeel. There are definitely things in the pipeline for the future!

ELZANNE: Cara, is daar dinge wat jy by jou pa geleer het oor die industrie en jou werkswyse? En vice versa, Ian, wat leer jy by Cara of hoe inspireer sy jou?

IAN: Cara het my weer gewys van die werksetiek waar jy net werk en jy gee nie om nie of jy beroemd gaan word of wat ook al, jy strewe na die regte optredes. Dit het ek weer by haar geleer. Sy’s ’n mens wat vinnig kan aanpas en dit is baie belangrik in ons bedryf, en haar sin van humor, hy leer my om te bly lag, ja.

CARA: My pa het my geleer om hard te werk. Maak nie saak watter tipe werk nie. Of jy sypaadjies vee of op die verhoog is voor ’n vol gehoor, harde werk is belangrik. Toe ek my eerste filmteks gekry het, het ek hom gebel. Ek was oorweldig. Hy het vir my gesê: “Take one day at a time.” Dit het my geweldig gehelp om weer asem te haal. Ek het op die verhoog ’n paar keer oor ’n karakter getwyfel, en hy het my aangeraai: “Gaan terug na die teks, jy sal die antwoorde daar vind.” Ek gebruik nog steeds my pa se raad. Ek het baie respek vir my ouers; hulle wag tot ek vra, they’ve never been helicopter parents!


EasyEquities Skrywersfees (WOORDFEES 2024)

Is dit jý? Avonture voor en agter die skerms met Ian Roberts en Susanne Beyers

Waar: EasyEquities-boektent 

Wanneer: 3 Oktober 14:00

Kaartjies beskikbaar op Quicket.

Kinderfees (WOORDFEES 2024)

The king of broken things met Cara Roberts

Vervaardiger: Theatresmiths 
Regisseur en skrywer: Michael Taylor-Broderick 
Musiek: Darren Peens

Waar: HMS Bloemhof-skoolsaal 

Wanneer: 3 Oktober 10:00, 4 Oktober 16:00, 6 Oktober 10:00

Kaartjies beskikbaar by Quicket.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van In gesprek met pa-en-dogter-duo, Ian en Cara Roberts gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand