Die vegetariër: Dafuq?

Foto’s deur Nardus Engelbrecht

Willem Anker se verhoogverwerking van Han Kang se The vegetarian

Dis 2016. Ek is in my honneursjaar. 22 jaar oud. As deel van die film en drama-module wat ek by Willem Anker neem, kom ons klas een aand bymekaar om ’n film te kyk waaroor die volgende dag se lesing handel. Die film is Didier Costet en Oliver Hermanus se Skoonheid (2011). Ek is totaal onbewus van en onvoorbereid op die diep-liggaamlike wyse waarop hierdie film my gaan affekteer. In die besonder die verkragtingstoneel tussen Deon Lotz en Charlie Keegan se karakters. Ek ry die aand huis toe. Praat skaars met my huismaats. Gaan stort, klim in die bed. Complete shutdown. Om te sê ek is fyngesnaar, is ’n understatement, vanselfsprekend.

Fast forward sewe jaar. Dis 11 Oktober 2023, halflyf in die week van vanjaar se Toyota US Woordfees. Ek sit heel voor in die middel van die netjies-gepakte ry stoele in die Ebenezer-saal by Rhenish-hoërskool, om Die vegetariër vir die eerste keer te kyk. (Ek het dit daarna nog ’n keer gaan sien.) Die stel is een groot vinielplastiekvertrek met wit vinielstroke wat die speelvlak omraam en waardeur die spelers in en uit kan beweeg, ’n staaltafel in die middel van die verhoog en rooi vinielstroke wat voor op die verhoog heen en weer geskuif kan word – geen deure, geen vensters sigbaar. Kompleet asof ’n mens ’n voyeur is in ’n slagkamer. Soos sewe jaar gelede, is ek glad nie gereed vir wat vir die volgende 100 minute voor my gaan afspeel nie – en niks sou my kon voorberei nie. Nie eens die aanvanklike skok en uiteindelike verwerking van genoemde Skoonheid-insident nie.  

Let me set the scene

Okay, eers ’n bietjie agtergrond: Die vegetariër is ’n vertaling en verhoogverwerking van die oorspronklike 2016-Man Booker International-pryswenner The vegetarian (2007) – ’n drie-delige roman, die eerste roman deur Han Kang wat in Engels vertaal is en ook die eerste Suid-Koreaanse roman wat die Booker-prys gewen het. Die vertaling is behartig deur Deborah Smith en is in 2015 gepubliseer. Kang en Smith het die prysgeld van hierdie toekenning 50/50 gedeel. 

In Die vegetariër, vir die verhoog verwerk en vertaal deur Willem Anker (’n projek wat reeds in 2017 begin het), word die verhaal vertel van ’n naamlose vrouekarakter (Sy, deur Melissa Myburgh vertolk) wat besluit om op te hou vleis eet en om afstand te doen van haar “menslike brutaliteit” nadat sy ’n droom daaroor gehad het. Sy word uiteindelik opgeneem in ’n psigiatriese kliniek, nadat haar man (Hy, vertolk deur Wilhelm van der Walt), haar ouers (vertolk deur Stian Bam en Tinarie van Wyk Loots) en haar swaer (Bam) elkeen aansprake maak op haar liggaam en by uitstek haar van seggenskap ontneem. Van die drie dele waaruit die toneelstuk bestaan, is Sy die verteller in die eerste deel en haar swaer en suster (Van Wyk Loots) die vertellers van dele twee en drie, onderskeidelik.

Ek is nie een wat maklik gril vir die abjekte wanneer dit vir die onthalwe van kuns benut word nie. Trouens, ek’s ’n groot aanhanger daarvan. Maar hierdie toneelstuk is next level. Dis nie soseer die feit dat die dialoog en spel reeds affektief en oortuigend is nie, maar die fisikaliteit van die stuk tref op ’n ander manier. ’n Mens is half dankbaar-verlig as jy kan sien dat iets soos die rooi vloeistof wat bloed voorstel, slegs ’n teatertruuk is, want ander tonele (onder meer die eerste verkragtingstoneel) is so skokkend en realisties dat ’n mens die herinnering nodig het. Dis net toneelspel – feast your eyes.

Vleiseetkultuur en die laatkapitalisme

Intussen is daar meer as ’n week verby en ek herkou steeds. Met die ergste van die skok oorgewaai, het ek begin wonder: Wat is die punt van hierdie stuk? Watter temas staan uit? Wat het my so aangegryp dat dit nou nog voel asof die stuk by my spook? Ek stippel my gedagtes hier aan.

Die vegetariër raak aan ’n wye verskeidenheid temas en kwessies in ons samelewing, waarvan die wanbalans in die verspreiding van mag, magsmisbruik en die vleiseet- en verbruikerskultuur van die (laat-) kapitalisme vir my uitstaan. Laatkapitalisme verwys na die laaste fase en onafwendbare inploffing van die sisteem van kapitalisme wat gegrond is in outoritêre, kontrolerende en uitbuitende verhoudings, veral tussen kapitaliste (lees fasciste) en werknemers, sowel as tussen die mens en die natuur en tussen die patriargale maghebbers en die gemarginaliseerdes. Die laatkapitalistiese staat het ’n bepaalde destruktiewe impak op nie net die omgewing nie, maar ook op enigeen wat nie direk daarby baat nie. 

The vegetarian is nie die enigste teks wat ’n kritiese perspektief op die laatkapitalisme bied nie. Ek leen hier uit Colin Jenkins se hoofstuk Late-Stage Capitalism and the Pedagogical Resurgence of Anti-Fascism (in Keywords in Radical Philosophy and Education, Ford (red.), 2019): 

Capitalism’s authoritative tendencies are far-reaching throughout a society’s development. Because of this, the system has relied upon and reproduced social inequities that fortify its economic woes. Friedrich Engels touched on its effects for the family unit in The Origin of the Family, Private Property and the State, Silvia Federici brilliantly illustrated its reliance on patriarchy in Caliban and the Witch: Women, the Body, and Primitive Accumulation, the emergence of social reproduction theory has provided insight on the layers of exploitation that affect women in the home, and many have written about the cozy relationship between capitalism and white supremacy, most importantly noting that the system’s birth in the Americas relied heavily upon the racialized chattel slave system (21).

Hier staan die verhouding tussen die kapitalisme en Wit heerskappy (“white supremacy”) op die voorgrond. In die laatkapitalisme word hierdie verhouding tot op die spits gedryf. Wit heerskappy kan eintlik hier verstaan word as enige patriargale hiërargie wat die status quo bepaal en onderhou, maar hoe dit ook al sy, dit gaan hier om ’n magsmisbruik deur die maghebbers ten koste van die gemarginaliseerdes. 

Hoekom hierdie lang gesanik oor patriargie en die laatkapitalisme? Myns insiens is Die vegetariër ’n versinnebeelding van hoe hierdie beklemmende wanbalans in die sisteme van ons samelewing ervaar word deur iemand wat in die posisie van die onderdrukte gemarginaliseerde staan, sowel as die emosionele trauma wat daarmee saamhang. Die hoofkarakter het ’n bloederige nagmerrie oor vleishake en ’n “verhemelte glad met karmosyn” wat haar laat besef dat sy aandadig is aan hierdie fascistiese sisteem, hierdie kultuur van vat wat jy kan kry en wanneer dit jou nie toekom nie, vat in elk geval. ’n Sisteem wat soos ’n swartkolk besig is om alles en almal te consume wat daarmee in kontak kom, een waaraan die ganse mensdom ’n hand het. Trouens, ons is chronies-afhanklik daarvan, verslaaf. 

’n Sisteem wat soos ’n swartkolk besig is om alles en almal te consume wat daarmee in kontak kom, een waaraan die ganse mensdom ’n hand het. Trouens, ons is chronies-afhanklik daarvan, verslaaf.
— Elzanne Coetzee

As ’n gevolg besluit Sy om nie meer vleis te eet nie (in ’n poging om genoegdoening dalk?), maar hierdie teësinnigheid om verder deel te neem aan die rituele van haar gesin, en by implikasie die breër samelewing, word nie verwelkom nie. Sy dien as ’n tabula rasa waarop die mense in haar lewe hulle eie besware projekteer (en dieselfde word eintlik van die gehoor verwag omdat daar min inligting oor haar beskikbaar is). Haar man beskryf haar reeds as iemand wat “nie lekker is nie” – hoewel dit hom nie keer om misbruik te maak van haar liggaam nie – en wanneer die psigiater impliseer dat Sy medikasie sal moet neem, moontlik vir die res van haar lewe, is haar man vreeslik besorgd oor hoe hierdie verwikkeling gaan inwerk op sy eie lewe. Hy raak toenemend ongeduldig en haatlik teenoor haar wanneer hy besef dat hy geen mag meer oor haar het nie – ’n toonbeeld van patriargale onderdrukking en die verwagting van gehoorsaamheid.

Ook haar ouers neem haar besluit persoonlik op en op hul beurt probeer haar pa haar force feed met groot hompe vleis (“Luister na jou pa en eet!”), en haar ma besoek haar in die hospitaal met ’n vleisafkooksel wat sy aanbied as “kruietee”. Sy drink die “tee” maar bring dit dadelik op wanneer haar ma die saal verlaat, waarna haar ma die tipiese Afrikaner-skuldgevoel-kaart speel – daai “ná alles wat ek vir jou gedoen het”-reaksie. Dis asof hierdie karakters, haar man, haar ouers, en later haar swaer en tot ’n mate ook haar suster, elkeen so heelhartig inkoop in die vleiseet- en verbruikerskultuur dat hulle eenvoudig nie haar verset kan verstaan of laat vaar nie. Hierdie karakters word gulsige karikature van die tyd waarin ons leef, hulle handelinge ’n verteenwoordiging van die verdrukkende aard van ons samelewingstrukture.

Jy mag dalk wonder wat presies het die eet van vleis te doen met verbruikerskultuur? Gaan kyk ’n bietjie hoeveel vegetariese of veganistiese opsies daar is op ’n app soos UberEats. Miskien is jy gelukkig as jy ’n vegetariese of veganistiese dieet volg en jy woon in ’n (stedelike) gebied waar daar wel ’n variasie van opsies is, maar oor die algemeen in ’n land soos Suid-Afrika waar braai al amper ’n geloofsoortuiging is, is vleis volop. Goeie, gebalanseerde vegetariese en veganistiese opsies, of minstens vullende opsies, is vir die meeste van ons ’n pypdroom – dis nou spesifiek met verwysing na restaurante/kosstalletjies/supermark-opsies en wegneemete-apps soos UberEats en Mr D. Vleis is very much die onderbou van die plaaslike verbruikerskultuur van vandag.

Hierdie algemene beskikbaarheid en verbruik van vleis is ’n probleem as gevolg van die massaproduksie daarvan, die haglike omstandighede waarin die diere op massaproduksieplase moet leef en die algehele impak wat die proses van geboorte tot verpakking en aflewering op die klimaat het. Die laatkapitalisme vind nie net neerslag in vleisproduksie nie, maar in die konteks van Die vegetariër word dit ’n simbool vir die groter, distopiese prentjie. Die een waarin die mens eiehandig die ondergang van die ekosfeer bewerkstellig, terwyl ons aanhou verkrag en verower. En diegene wat nie netjies inpas in die boksies van hierdie samelewing wat hardloop op die verwoesting van ons planeet en van onsself nie, dié wat nie mak genoeg is nie, moet leer verduur om te oorleef of word gemarginaliseer. Iets wat in die toneelstuk voorgestel word deur die hoofkarakter se bewuswording van haar dierlikheid (“My tande is steeds mak [...] Hoekom raak my rante skerper? Wat gaan ek deurboor?”) en haar uiteindelike opname in ’n psigiatriese kliniek, onder staatsbeheer, omdat haar gesin haar nie langer kan beheer nie.

[...] diegene wat nie netjies inpas in die boksies van hierdie samelewing wat hardloop op die verwoesting van ons planeet en van onsself nie, dié wat nie mak genoeg is nie, moet leer verduur om te oorleef of word gemarginaliseer.
— Elzanne Coetzee

Plantwording

Ek gesels onlangs met ’n vriend wat nou die boek lees nadat hy Die vegetariër gaan kyk het, en hy gee toe dat sekere dele in The vegetarian minder verstaanbaar sou wees sonder die visuele merkers van die toneelstuk. Wat Jaco Bouwer (regisseur, vervaardiger, stelontwerper en tegniese versorger) met die stel reggekry het, is niks minder nie as prysenswaardig. Saam met die musiek (Pierre-Henri Wicomb), beligting (Wolf Britz) en kostuums (Bridget Baker) word die stel tesame met die spelers een masjien waardeur die “donkerte” van die mens op beeldskone wyse uitgebeeld word. Die skerp kontras van die oorheersende kleure op die verhoog, rooi teenoor wit, is beide bevredigend en grotesk; die geleidelike bemorsing van die skoon, wit vinielvloer van die stel, met bloed, braaksel en grond, beide dare I say it versadigend en abject. Die maskers van die ma- en pa-karakters en die gehekelde geslagsdele – voortreflik-gruwelik. Met die kostuums, die gebruik van veral rooi lig en die musiek en ander klanke wat op die perfekte tydstip versnel en vertraag om die hartklop te beheer: die obsene kroon op hierdie mobscene. Elke aspek van hierdie toneelstuk is intensioneel. In die aangesig van dié spektakel is dit ongemaklik om te erken wat van ons geword het (en waar ons vandaan kom!) as ’n spesie wie se tweede natuur skynbaar predatoriese magsvergrype, uitbuiting en brutaliteit is.

Die hoofkarakter se oplossing vir haar bewuswording van haar eie brutaliteit is om op ’n “enigmatiese reis” te gaan deur “haar groeiende fantasieë wat toenemend plantaardige vorme aanneem” (uit Toyota US Woordfees-programbeskrywing). In ’n poging om seggenskap oor haar liggaam en haar lewe te neem, om haar outonomie terug te eis, sweer sy vleis af en wanneer dit nie werk nie sny sy haar gewrig oop – sy ontsê as’t ware haarself van die lyflike en die menslike – en poog om plant te word. Ironies, want ook plante kan brutaal, predatories, slinks en opportunisties wees as jy na hulle kyk deur ’n morele lens.

Haar swaer, ’n kunstenaar wat in sy werk kommentaar lewer oor die laatkapitalisme, dien as die katalisator vir hierdie plantwordingfantasieë wanneer hy haar naakte liggaam wil verf as deel van sy volgende projek – ’n mooi verbeelding van die teenstelling tussen die natuur en die kunsmatige. Hy is in vervoering oor haar liggaam wat oënskynlik “meer vegetatief as geslagtelik” is; “’n liggaam gestroop van begeertes”, waarvan “alle oortolligheid weggekerf [is]”. En hy is obsessief oor haar geboortemerk – ’n blouerige merk op haar boud – wat gelees kan word as ’n teken van sowel die gewelddadigheid en brutaliteit van die mens (omdat dit soos ’n kneusplek lyk) as die geweld van geslagtelike voortplanting en geboorte. Deur hierdie handeling word haar swaer net nog ’n opportunis wat haar uitbuit vir die potensiaal wat hy in haar sien. ’n Mens kan nie anders nie as om af te lei dat die werklikheid in hierdie toneelstuk op geweld en geleentheidsbenutting berus. Alles is geweld en geweld is in alles wat wil oorleef en voortplant. Hierdie gevolgtrekking word bevestig deur ’n toneel waarin haar swaer die professionele grense van hulle samewerking oorskry. ’n Teleurstelling wat met jou kop smokkel as die saadjie eers geplant is. Is daar dan werklik geen meer hoop nie?

In die kliniek waar die hoofkarakter uiteindelik opgeneem word, voer sy haar plantwording verder. Nadat sy vir ’n geruime tyd die woud in verdwyn, verval sy in ’n semi-katatoniese toestand waartydens sy vir lang tye aaneen op haar kop staan. Gedurende hierdie periode wil sy glad nie meer eet nie – haar liggaam het net water nodig, soos ’n boom. “Hulle sê al my binnegoed het weggeteer. Ek’s nie meer ’n dier nie, sus. Binnekort gaan woorde en gedagtes ook verdwyn,” verkondig sy opgewonde wanneer haar suster besoek aflê. Dit is die enigste oomblikke in die toneelstuk waar sy volkome in beheer is van haar liggaam, waar sy agentskap het, maar dit is van korte duur.

Gedurende hierdie periode wil sy glad nie meer eet nie – haar liggaam het net water nodig, soos ’n boom.
— Elzanne Coetzee

Wat is die punt? 

Om te sê daar is geen hoop vir die mensdom nie, is soos om te sê dat alle mans dieselfde is. Dis (gelukkig) nie so eenvoudig nie. Die feit dat tekste soos The vegetarian en verhoogverwerkings soos Die vegetariër bestaan, is die hoop. ’n Stuk soos hierdie een kan op verskeie maniere geïnterpreteer word. Miskien vind jy aanknopingspunte met die hoofkarakter se storie en trauma, miskien vind jy uitdrukking vir jou afgryse in die mensdom of jou ervaring van geestesongesteldheid deur hierdie stuk, miskien laat dit jou met meer vrae as antwoorde, of miskien sien jy dit as ’n lelike nagmerrie – die tipe wat jou onbewuste opkweek om jou bedag te maak op iets of te waarsku teen iets.

As ek luister na die hoorsê-resensies van Die vegetariër klink dit of die algemene indruk is dat dit nie veel sin maak nie. Anders gestel, dis fantasties en prikkelend om na te kyk, maar dit is vervreemdend vir die meeste kykers. Vervreemding kan funksioneel wees afhangend van die toepassing en redes daarvoor. ’n Kunstenaar soos Bertolt Brecht het van vervreemding gebruik gemaak vir politieke doeleindes: 

Die blote tekstuele en linguistiese en artistieke betekenis van vervreemding word vervang deur ’n politieke betekenis, wat impliseer dat literatuur en ander kunsvorme die politieke gemeenskap moet ‘vervreem’ deur die gemeenskap bewus te maak van die relatiwiteit en aanvegbaarheid van alles wat as algemeen aanvaarbaar beskou word in die gemeenskapsomstandighede (Eagleton in Literêre terme en teorieë).

As ek dink oor die funksie van ’n stuk soos Die vegetariër, maak dit vir my sin dat dit vervreemdend en by tye verwarrend is. Die punt is nie om seks en geweld te fetishise nie, dit is nie net om te wys wat van ons geword het nie. Die punt is om vrae te opper oor ons verhoudinge met mekaar en met die natuur, om te wys wat van ons gaan word as ons nie versigtig is en die remme aanslaan nie. A little mindfulness goes a long way.

Ek beaam graag ’n gehoorlid se woorde by die teatergesprek oor Die vegetariër: “Thank you for messing with my head.”

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Die vegetariër: Dafuq? gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand