Niko10Long spreek vermaakbedryf aan in nuwe album
Hy het iets te sê oor kykNET, Huisgenoot en die kunstefeeste
Om Niko10Long se werk in een woord op te som, is een godsonmoontlike taak. Dit sal te oppervlakkig wees om net daarna te verwys as underground hip-hop, want dit sluit populêre tendense ook in (verwysings na gewilde feeste en kunstenaars, soos die KKNK en David Kramer). Daar is ook ’n genre-mengelmoes soos grootliks in Amerikaanse werke te hoor, amper post-modern met ’n gehekel van hoofstroomkuns, en politiek rakende die stigmatisering en huigelaarskap van Afrikaans. Dis musiek wat jou op ’n reis vat, of dit nou maan toe is of net na die hartjie van Wesbank, terug in die verlede of in die harde en ongenaakbare hede.
Sy musiek is konstant besig om te evolve soos times change en tog beweeg hy terug na die roots van die kulturele bewusmaking rondom Rasta- en Khoi-herkoms. Fans vannie hip-hop heavyweight sal egter nie disappoint word en dink dat sy sound change nie; dit groei eerder. Invloede van neo-soul, jazz en electro deurvleg met sy kenmerkende hamerdigkuns, kapadien-energy en woorde skerp uit die messelaai.
Voor ek wegtrek, neem kennis dat sy nuwe project album, OOR (Original Oorlamz Refleksins) bestaan uit twee dele, naamlik Section A en Section B, wat hieronder bespreek word.
KykNET moet nie net kyk nie, hoor da 'n slag!
Section A: Vuisvoos, nog lank nie moedeloos
Kom ons start by die begin. Anders as die vorige albums wat grootliks oëverblindery was met ’n satiriese, gatvat-attitude waaragter vele wonde skuil, harde werk sonder vergoeding, verlange na ’n matriargale ouma wie se liefde nooit vervang sou word nie en politiese diskriminasie, is die nuwe werk sonder blink geskenkpapier toegedraai. Met die voorlaaste album was die intro ’n selfspot met ’n namaaksel van Niko10 se voicemail, asof die luisteraar hom try reach maar hy’s min gespin. Die nuutste intro is ’n gebed aan Selasi, ’n blessing wat oor die musiek en ons as luisteraars uitgespreek word. Die musikale rit wat volg, is alles behalwe easy listening, veral Section B, maar kom ons praat eers oor die eerste gedeelte.
Die aanhoudende stryd van stigmatised underground artists teenoor die mainstream. In ‘Rybewys’ kritiseer hy die Afrikaanse media en kunsplatforms soos kykNET, KKNK en Woordfees se uitsluiting van kunstenaars soos hy; polities-bewus en buite die boks.
die radio speel nie die nie
want my style is tempting
nog minder kykNET...
hulle weet nie Long is heavyweight
soos my tong navigate
hulle trek my onder ’n genre
maar die aiy is ver voor
ek’s te rough around die edges, te hard op die oor
want die company wat jy keep is te klein vir my gees
vir die Klein Kunste en die opkomende Woordfees
ons require egte kuns
dan eet julle mos lekker wins
sit my op die line-up en doen die culture ’n regte guns
Eie aan die Amerikaanse musikant Lauryn Hill se debuut The Miseducation of Lauryn Hill en later kunstenaars soos Frank Ocean en SZA word die liedjies onderbreek deur ’n buite-stem, ’n presence wat praat met die luisteraar. Dis kenmerkend aan sy styl, soos in ‘Politrix’ waar ons ’n stemopname hoor van Helen Zille wat proklameer dat Rastas “drug peddlers” is. Met ‘Rybewys’ is dit weer ’n radio-omroeper wat sy ongeloof uitspreek dat Niko10 enigsins deur die mainstream aanvaar sal word, grootliks omdat hy ’n waarheid deel wat luisteraars nie wil hoor nie. Meer as twee dekades ná die sensuur van musiek en ander kunsvorms afgeskaf is, sukkel Suid-Afrikaners duidelik nog met ’n mental sensorship en possibly ook militante hekwagters in die kunsindustrie. Waarom word Loit Sōls se werk ná al die jare se voetspore in letterkunde nou eers waaragtig die erkenning gegee wat dit verdien? Of waarom is Jethro Louw nog steeds nie opgeneem of gepubliseer nie? Nes Niko10 is hulle kunstenaarsbeeld nie die fyngepolitoerde Huisgenoot-gesiggies nie; hierdie artists voldoen nie aan die ‘Modified Sample’ (track 3) celebrity image en sound nie. Hierdie artists lyk te veel soos die elkeman, die ek-en-jy wat ons weier om in die spieël raak te sien. ’n Mens sou dink dat die onmiskenbare invloed van Bruin en Khoi artists in rymklets en digkuns êrens meer ruimte op die pay-roll sou maak.
Tog verwys Niko10 in ‘Lester Kiewiets’ juis na hierdie verskynsel: “Ons almal het gedink daai is ons plig / ’n Klein salaris van satan.” En erken ook: “Ek het daai skill waarvan die industry nie hou nie.”
Hier reken die luisteraar sekerlik dat die rymkletser tevrede is met sy lot, maar dis egter nie die geval nie, want steeds bly dit ’n onstabiele ekonomiese klimaat en is hy ’n enkelpa van dogters, asook ’n freelance artist. Ons almal moet eet en ons almal moet gehoor word. En hierdie woordwekker het ’n boodskap vir jonk en oud, soos in ‘Statuz’ waar hy rym dat in sy tuiste Wesbank is daar slegs twee opsies vir kinders: Om bendelede te word of om te gaan leer en iets van jouself te maak. Hy moedig sy luisteraars aan om te leer uit die verlede, te staan vir jou foute en om ’n verskil te maak. Niko10 bevestig net weer eens dat hy nie geassosieer word met die copy-en-paste-rymkletsers wat misogynistic en queerfobiese lirieke gebruik om luisteraars te wen nie. Hier is daar geen ‘Bid vir pouse’, ‘Cookie Thumper’ of ‘Cooler as ekke’ nie. Sy boodskap is die van styg uit jou omstandighede, wees trots op jou herkoms, staan in jou waarheid en gee om vir jou naaste. Dít nog steeds met “daai Wesbank attitude en taxi rank word play” (track 5: ‘Letterkundig’).
jagters en pagters, klank en narratief
SECTION B: Van childhood koorsdroom tot tweespraak
Die luisteraar sal beter begryp waarvan ek praat as hul die tweede gedeelte van die album te hore kom. Iets aan die lied ‘ICU’ voel vir my verder as net musiek, dit vat ’n mens terug na die rymkletser se verlede (“vier jaar oud met ’n asmabors in die asmabors”) met die recurring presence van Ouma as steunpilaar. Dit neem ’n mens nog verder as dit, eg en eie aan Afrika-orale tradisie waar jagters en pagters om vure en onder uurglasmane stories uitgeruil het, met klank en narratief. Die teerheid is weer eens ’n verfrissende skakering in die sissende poel van toksiese manlikheid in hip-hop. Hierdie styl dryf oor in ‘Di Polis’ wat weer snaakse beskrywings bevat soos “Ant Frida met die rooi hoed bly bad luck en dikbek” en “Uncle Brian is skaars begrawe en sy brag al oor di polis”. Dit kon maklik verwerk word tot ’n skitterende prosa of narratiewe gedig, selfs tot ’n monoloog waar Niko10 met graaf in hand die gehoor vertel van die heartbreakingly funny familiekaskenades. Daar is soveel moontlikhede vir die multimedium-uitbreiding van hierdie kunstenaar se aanslag, wat ek die producers, agent en kunstenaar self wil aanmoedig om te waag. Selfde met ‘Boeta Charlie’ wat so eg Camissa of Kaapstad is soos die Suidooster, Impepho en die gebede dralend uit moskees. Niko10 bied ’n gulhartige en bittersoet vertelling van die inwoners wie se families al jare aankom en hy lewer kritiek op gentrification sonder om ritme te verloor.
Wanneer die persoonlike polities raak, kan dit die luisteraar diep ontstem: die vuil wasgoed en ontbloting van die self en ander. Tog soos in ‘Terugdink’ kan die insluiting van ’n klomp persone se verhale en/of gevoelens en reaksies nogal vervreemdend voel en ’n mens ietwat tred laat verloor. Kyk, een ding is ek mee wys en dit is dat Niko10 sy gemeenskap en die mense naaste aan die aarde en plat op hulle voete op die strate ’n stem en naam gee, soms is dit net ’n ding van killing one or two darlings, ook soos die oortollige gebruik van “hartroerende” as beskrywing vir die verhaal wat volg. Die rymkletser wys ons reeds in die lied dat dit roerend is, hy hoef dit nie uit te spel nie. Dis egter fynkam aan ’n lied met die woorde “dis slegs ’n kwessie van tyd voor ek die koninkryk bereik” wat soos ’n bottermes aan my as luisteraar se hart gesny het.
As jy, soos ek, al hierdie rymkletser volg vanaf sy eerste enkelsnit, sal jy weet dat daar altyd ’n heartbreaking of, soos in die voorlaaste album, nogal ’n stoute tragic love song is, asook ’n tweespraak of dialoog of sorts. Luister gerus na ‘Die Inderhoud’ en ‘Bak en Teerie’ (saam met die ewe briljante en enigmatiese Engelstof). Hier is die twee saam ge-fuse in ‘Konfrontasie (Die Mission III)’ met ’n gedramatiseerde gesprek tussen twee lovers wat nie kan aanbeweeg ná ’n beweerde cheating nie. Dit is Niko10 se real-life girlfriend wat op hierdie track feature. Die kontras tussen die twee stemme is gepas, al voel die lirieke onklaar en nog in draft-vorm. Die lied sou groter sukses kon bereik deur gebruik te maak van ’n rymkletser wat op gelyke gronde kan staan met Niko10 se energie, maar tog uniek in eie reg en styl is. Hier kom Evesdrop, Dope Saint Jude, Lance Lightyear, of die onopgesmukte Rosey Die Rapper to mind. Een wat kon hand bysit met die skryfproses om die eiesoortige en oortuigende aard van die vorige songs in hierdie styl te behou.
Alles inaggenome, het ons hier te doen met ’n kunswerk wat herinner aan Lesego Rampolokeng se samewerking met die psigedeliese Kalahari Surfer of aan die hartroerende tog vreeslose aanklag teen familie en die Afrikaanse taal van Ronelda Kamfer in Chinatown. ’n Styl met literêre meriete wat vergelyk kan word met Vlaamse skrywer Tom Lanoye se Slagterseun met ’n brilletjie of die forever misunderstood Dambudzo Marechera se The Black Insider.
Dis nie feel-good music by ’n braai of iets opgeweks by ’n dancehall of dub nie. Ek kan ook nie sê dat dit musiek is waarna ’n mens maklik kan luister nie. Dis ontstemmend, ontroerend en intellektueel-uitdagend. Soms filosofies, ander kere weer tragies. Een ding is verseker, dat dit gotweet die moeite werd is om na te luister. Wat Niko10Long met sy nuutste album regkry, is verstommend. Sy woordspelings en beeldspraak is sterker as ooit. Hy tart en terg, knak en buig die Afrikaanse taal tot ’n poëtiese mengelmoes vir ’n taalfundi, sowel as een wat maar net musiek enjoy met ’n belangrike message of goeie storie. Niko10Long is ’n kunstenaar vir die mense van die mense. Maak jou kop oop en gaan saam met hom op ’n musikale reis like no other.
Du Toit is 'n jong bekroonde skrywer, teatermaker en performer wat spesialiseer in die ontginning van queer narratiewe of net om Afrikanerskap op te fok.