Sensuur in die seventies: Welma Odendaal se bydrae tot die Afrikaanse letterkunde
Onderhoud deur Dianne Du Toit Albertze oor taal wat geoefen is in verset
Op die periferie van die Afrikaanse literêre scene hang daar ’n paar gems – cult classics – wat die binnewêreld van elke era ragfyn en skreiend rou weergee, en wat mostly in hulle blomtyd ge-silence is. Die meeste boeke in Welma Odendaal se oeuvre sal jy daar vind, in die skadubome rondom ons Afrikaanse taal- en kunslandskap.
Odendaal verwerf in 1973 ’n diploma in animasie aan die National Film Board of South Africa en begin in 1975 te werk as verslaggewer by verskeie nuusplatforms, naamlik Hoofstad in Pretoria en SABC Radionuus en The Star in Johannesburg. Sy is ’n stigterslid van die publikasie vir jong skrywers, Donga, wat in 1978 verban is. Later word sy hoofsub by die Cape Times in die woeste 1980’s, en redakteur van Sunday Times se streekskoerant in Kaapstad. Sy raak uiteindelik betrokke by ontwikkelingswerk in die joernalistiek by South, Die Suid-Afrikaan en in die Namaquanuus-opleidingsprogram. Sy publiseer vier kortverhaalbundels: Getuie vir die naaktes (1974), Keerkring (1977), Verlate plekke (1991) en Landskap met diere (2009). In 1977 word Keerkring deur die destydse Wet op Publikasies verban en is sedertdien nooit weer herdruk nie. ’n Keur uit haar werk (insluitend verhale uit die verbode Keerkring) word in 2011 uitgegee, onder die titel Vreemdeling. Vandag werk sy as vryskut- grafiese ontwerper vir verskeie opvoedkundige NGO’s.
Odendaal se verbysterende debuut Getuie vir die naaktes (1974, Perskor Uitgewers) is 51 jaar gelede ge-publish toe sy 23 was. En nes in daai tyd, is dit vandag steeds in ’n league van haar eie. Eiesoortig, eksperimenteel en fokken elektries.
Op die bundel se voorblad is ’n swart en wit skets deur Michael Heyns van twee halfmisvormde lywe wat mekaar vashou – ’n gepaste voorbereiding vir die woordreis waarop Odendaal die leser neem wat ’n mens totaal weerloos laat.
Odendaal span ’n hele spul karakters in wat skaars weer in die Afrikaanse letterkunde die lig gesien het, soos in die 12 kortverhale in Getuie. Dis swartskaap- anti-heroes fyner omlyn en meer pikswart ingekleur as van die opwindendste prosa van daai en hierdie tyd. Van ’n deadbeat sekswerker (‘Die pro van die Wes-einde’), “good guy”-verkragter (‘Vir Lisa’) tot ’n jazz diva-ouma (‘By die Lido’). Hier word met storie, karakter en taal gespeel en geskets met soveel opwinding en rou talent dat ’n leser nie anders kan as om dit vir jare later aan te hou herlees nie, en steeds in die pens geskop te word en hoendervel te kry met elke poetic, roerende line uit Welma se legendary debuutbundel.
Ter viering van die 51ste bestaansjaar van Getuie vir die naaktes het ek met dié merkwaardige en skugter skrywer gesels.
DIANNE: Welma, ek wil vir jou gelukwens met jou besonderse bydrae tot die Afrikaanse literatuur, maar ook aanmoedig om meer van jou te laat hoor. Deesdae is niks meer so benoud soos die 70’s was nie en het niemand meer so baie ballas soos jy nie. Ek lees dat dit Bartho Smit was wat jou aangemoedig het om te publiseer. Was dit so? Het daar ooit ’n vriendskap of mentorskap hieruit ontwikkel?
WELMA: Ek is nie mooi seker wat ’n mentor is nie. Ek weet ek het nooit een gesoek nie, maar invloede en beskermengele het wel oor my pad gekom, gewoonlik onverwags. In ons huis was nie juis boeke nie, maar altyd koerante, en só het ek leer lees. Van kleins af leef ek met stories in my kop. Teen die tyd dat Bartho Smit my “ontdek” het, het ek reeds enkele verhale in die tydskrif Sarie gepubliseer. Die verhaleredakteur, Petra Grutter, was ’n ondersteuner. My eerste storie in Sarie was ‘Alles om die belange van Piet Koort’ en is toe ek 20 was gepubliseer. Ek is R60 betaal – ’n massiewe som geld! Twee maande se huur. Maar die arme Petra kon nie byhou nie, en nadat ek haar begin bombardeer het met verhale wat buite Sarie-lesers se gemaksone geval het, het sy my verwys na Wilma Stockenström wat betrokke was by die avant garde tydskrif Izwi. Dis toe al omtrent 1972. Die tydskrif was nommerpas vir my. Sonder betaling, maar vry. In die geselskap van kunstenaars, digters van Mosambiek, andersdenkendes, Wopko Jensma, Phil du Plessis, Walter Battiss, sulke mense, kon ek my stem sonder voorskrifte slyp.
Veel later kry Bartho Smit van Perskor-uitgewery my adres by Wilma. Daar sit ek op ’n plaas naby Alice in afsondering, getroud en verlore, en in 1973 kom sy brief aan en vra of ek belangstel in ’n moontlike versameling. Met rigting van Bartho, het ek begin werk aan ’n bundel. Die meeste stories was reeds geskryf, maar ek het geskaaf, ‘Mamy Blue en ek onthou’ bygeskryf, en in 1974 met Getuie vir die naaktes gedebuteer.
DIANNE: Hoe voel jy daaroor dat daar na jou skryfwerk verwys word as alternatief?
WELMA: Ek wyk self af van labels – want die issue is, Afrikaanse letterkunde het hulleself so hoog en hoogdrawend geag dat daar bykans nie ruimte was vir iemand wat uit left field kom om alles te challenge nie.
DIANNE: ‘Mamy Blue’ is ongetwyfeld een van die gewildste/kenmerkendste queerverhale in Afrikaanse skryfkuns. Die gewildheid kan gemeet word aan die aantal versamelbundels waarin dit opgeneem is, asook die artikels waarin dit verskyn. Nie net is dit puik geskryf nie, wat empatie en verrassing wek met ’n aantal herlese daarvan, maar dit is ook van die eerste verhale wat lesbian club- en cruising-kultuur aan die Afrikaanse leser voorgestel het. Iets wat later meer deur Jeanne Goosen oopgeskryf is. Hoekom dink jy is die verhaal so tydloos?
WELMA: Ek dink nie ooit daaraan nie. Ek skryf wat ek skryf; die ontleding en interpretasie is ander mense se werk. Tog is ek dikwels verras as daar elemente in ’n verhaal uitgelig word wat ek nie noodwendig bedoel het nie, maar wat my dan self laat wonder! Ek weet nie van tydloos nie. Wys dit nie eerder op die huidige middelmatigheid in die standaard van die letterkunde nie?
Oraloor, smaak dit my, skryf mense op dieselfde manier oor dieselfde goed, word deur dieselfde uitgewers op dieselfde gegewe tye gepubliseer en deur dieselfde publikasies van dieselfde uitgewery geresenseer.
Ek wou nog nooit safe wees as ’n skrywer nie; ek wil dit wat “ongemaklik” is, aanspreek. Vir sy tyd was ‘Mamy Blue’ seker gevaarlik. Punt is, dit was nie noodwendig een persoon se storie nie; dis baie mense s’n. Verborge en ongemaklik vir sommige. Ten tye van die skrywe van ‘Mamy Blue’ was ek self nog nooit in ’n gay club nie en glo die verhaal het uit ’n dieper gewaarwording gekom wat ekself in 1974 nog onbewus van was.
DIANNE: In nog een van jou verhale uit Getuie, ‘Vir Lisa’, gebruik die fokaliseerder van die eerste sin af ’n vorm van Afrikaans wat afwyk van die standaardvorm, wat veral rigied in die 70’s voorgeskryf is. Ook, soos met ‘Charlie Kruis’ en ‘By die Lido’, span jy met jou verteltegniek ’n aweregse gebruik van sinskonstruksie en leestekens in. Asof jou skryfwerk die grense van prosa reeds getoets het, en asof dit deels meng met liriek en digkuns. Hambidge beskryf dit in ’n resensie van Vreemdeling as ’n “digterlike aanslag”. Sal jy hiermee saamstem? Vat ons asseblief deur jou skryfproses. En hoe sal jy kommentaar lewer op bogenoemde?
WELMA: Onthou ek was 20, 21 toe ek die meeste van daai stories geskryf het. My grammatika het sedertdien hopelik verbeter! In alle erns, dit was 50 jaar terug, en ek kan skaars onthou hoe ek by die verhale uitgekom het, maar ek vermoed ek was besig om te eksperimenteer, pret te hê, om te ontdek. Want nog altyd is dít die lekkerste ding op aarde: om ’n verhaal uit te pluis uit ’n blote opmerking; iets wat ek raaksien; om visueel te veronderstel; ’n gedagte kreatief te bou; en ’n verskuilde narratief te skep. Ek sê nie ek kry dit altyd reg nie, maar ek wou ’n wêreld met mense weergee wat daar buite bestaan, ’n blik op die ánder, as jy wil. Ek gaan nooit doelbewus uit om die taal of lesers te toets of nie. Ek wil uitdaag en uitgedaag word; ek wil die grense push.
Ek dink my mees afgeronde bundel is die laaste een, Landskap met diere. Toe het ek al beter geweet as om met dialekte te peuter. Maar ek het ’n goeie oor vir taal, vir dialoog, en dit was altyd ’n inherente deel van my werk. Om te skryf is om my in te leef in die ander se wêreld; om hardop deel te word van ’n spreektaal waarin ’n verhaal hom afspeel. Ek praat nie dikwels (ooit!) oor my skryfwerk nie... Môre sal ek dit seker berou!
DIANNE: Wat kry jou creative juices flowing? Wat inspireer jou? Of dryf jou tot pen en papier (of in die meeste van ons gevalle, ’n hakerige laptop met ’n hikkende Word-program)?
WELMA: Wens ek het geweet. Dis só donners prekêr. My tweede boek (Keerkring) is op ’n baie jeugdige ouderdom verbied. Dit is seker die ergste ding wat met enige kreatiewe jong mens kan gebeur, terwyl jy nog jou kuns en jouself ontdek. Skielik was ek as onwenslik beskou, my werk onttrek uit die samelewing, fisies actually verpulp en vernietig. Verbeel jou? Soos toe hulle nog boeke verbrand het in die Middeleeue! Dit het my jare gevat om my mojo terug te kry. Ek sukkel nou nog.
DIANNE: In jou tweede versameling, Keerkring, verskyn daar ’n verhaal met die naam ‘Houvrou’. Dit speel af tydens die oproerige 70’s, maar fokus op ’n partytjie, ’n intieme een, waar die protagonis ’n Wit vrou is wat probeer deurdring tot die Swart aktiviste, maar elke keer net ’n buitestander bly. Dit slaan ’n mens se wind uit. Sy word amper ’n speelding of nar uit desperate vereenselwing. Kan jy vir ons die motivering agter hierdie storie vertel? En hoekom dink jy is daar vandag, dekades na die skryf hiervan, steeds nog nie veel verandering nie?
WELMA: Dit was 1976 in die middel van die landswye opstande na Soweto in Junie, en ek het gevlug van die Joburg scene en die veiligheidspolisie en ’n gebroke huwelik, en met die rowwe manuskrip van ’n boek in my rugsak in die Wes-Kaap beland. Petra Grutter het haar weer oor my ontferm. Sy het my na haar plasie Waterval in Piketberg gelei en daar gelos. Vir ’n paar maande het ek in ’n ou herderskliphuis bo-op die berg gebly, terwyl die land woed en brand, en Keerkring op ’n Olympus-tikmasjientjie uitgeskryf. Uit verlies en uit woede. Elke oggend ver onder in die bosse het die geluide van houtkappers wat kap, kap, kap opgeklink. En in die vroegaande het ek die gedruis van helikopters se klakkende lemme gehoor; dan harder, dan dowwer. Paranoia het ingesluip, en ek het ‘Houvrou’ geskryf.
Maar om die tweede deel van jou vraag te beantwoord, daar ís verandering. Mens moes in die seventies en eighties geleef het, apartheid in al sy wreedheid beleef het, om te verstaan hóé baie dinge verander het. Die feit dat ons ons vryheid opgefok het, beteken nie dat dinge nie nou steeds beter is as tóé nie. Ten minste het meer mense nou agency; wat hulle daarmee maak, wel, dis die issue, is dit nie?
DIANNE: Ek weet mens moenie altyd die internet vertrou nie, daarom vra ek jou maar reguit: Kan jy meer vertel oor Keerkring se agt jaar op die verbodelys? Is dit waar dat alle copies verpulp is? Andersins waar kan ek ’n copy kry?
WELMA: Dit is werklik jammer dat mense op die internet moet vertrou om jou in te lig oor die misdade van die apartheidregering. Dit behoort deel te wees van elke leerplan. Voorheen is teenstanders van die staat in die tronk gegooi, van John Vorsterplein uit vensters uitgegooi, in die straat voor hul huise vermoor, in aanhouding aangerand; vryheid is ontsê en op elke moontlike manier is menings wat teenstrydig was met die staat se beleid van apartheid, stilgemaak. Soos om publikasies te verban. Die pers was nie altyd vry soos nou nie; boeke en koerante en tydskrifte is weekliks verbied, protes en teenstand is onderdruk. Daar is nie gediskrimineer nie: Pornografie, traktate, ligte leesstof en letterkunde is almal oor dieselfde boeg met die bybie uitgegooi. Elke week is daar ’n lys van nuut-verbode publikasies gepubliseer. Keerkring is in 1977 ’n paar maande ná publikasie deur die Publikasieraad (wat bestaan het uit ou Broederbonders en Wit tannies gewapen deur uitverkore dominees) op die weeklikse lys van verbode publikasies geplaas.
DIANNE: ’n Feministiese hoogtepunt vir my in jou oeuvre is sonder twyfel jou derde versameling, Verlate plekke, wat skaamteloos fokus op die stand van die vrou in Suid-Afrika. Van ’n psigiatriese pasiënt, huishoudster, skolier tot moord- en verkragtingslagoffer. En elke karakter word eiesoortig en sonder stereotiep geskets. Vroue met tricks, wits, bymotiewe en gravitas.
Is jy dalk ook van mening dat as ons literatore vroeër op femicide gefokus het, sou dit die GBV wat al erger geword het teenoor vroue en kinders kon keer? Of moet ons maar net aanvaar dat geweld teen vroue inherent deel is van die letsels van kolonialisme op Afrika?
WELMA: Ek dink nie enige misdade moet ooit sommer net aanvaar word nie. An injury to one, is an injury to all, was die leuse in die 1980’s. Dalk moet daar weer na strategie gekyk word met die klem daarop om die community te mobiliseer, civics op die been te bring, druk toe te pas op die owerhede; leer uit die versetbewegings van die verlede, saamstaan onder een vaandel met ’n gemeenskaplike doel voor oë. Mense praat te veel en doen te min – veral die government.
DIANNE: Is dit waarom jy die land verlaat het? Of kyk ek verkeerd, maar dit lyk of jy tans in die buiteland woon.
WELMA: Nee, ek bly nog altyd net hier. Ek skryf in my land en in ’n taal wat geoefen is in verset. Waar sal ek anders sóveel stof ter hande hê? Maar Italië is my happy place, veral Venesië, en ek gaan wanneer ek geld het.
DIANNE: Jy het ’n enorme bydrae gelewer tot die stand van moderne prosa, asook die denkwyse agter ons kunsindustrie. Is daar soms mooi memories wat by jou opkom oor jou dae by die SAUK of Donga? Deel asseblief!
WELMA: Twee mans in grys pakke het een oggend na my skof in die nuuskantoor van die SAUK voor my hekkie by my huis in Mayfair gewag. Hulle het ’n wit koevert met my salaristjek aan my oorhandig en my sonder seremonie afgedank. Net daar in die straat. Dit was my kollegas, mense met wie ek elke dag omgegaan het. En niemand het opgestaan om my te verdedig nie. Dit was na die verbannings van Keerkring en die staat se vervolging van Donga. So, nee, ek het nie mooi memories van die SABC nie, en dit lyk nie juis of die kultuur van vervolging daar veel verander het nie.
Donga was ’n tydskrif vir jong skrywers wat in 1976 (voor Junie) deur my en die digter Rosa Keet begin is. Ons wou nuwe skrywers oor alle grense heen ’n stem gee – bietjie soos Izwi, maar met attitude. Donga was ’n tydskrif van verset – met Swart skrywers as medewerkers; leesaande saam met Soweto-groepe in Diakonia House in Johannesburg en interaksies op baie vlakke. Alles teen die wette van apartheid-Suid-Afrika. Teen 1977 het Rosa uitgetree, en ek en Kelwyn Sole het ontmoet en dit verder gevat. Ons is nou nog vriende – Kelwyn het meer as enigiemand my politieke denkwyse verbreed. Donga is in 1978 vir alle toekomstige uitgawes verban (ja, hulle kon dit doen) en nog ’n beskermengel, Rykie van Reenen – daardie tyd waarnemende redakteur van Rapport – het my gehelp landuit kom. Ek is Israel toe en het vir sowat ses maande op ’n kibbutz in die Negev-woestyn gebly en gewerk. Verlate plekke het eers later gekom, maar het ten dele uit daardie landskap ontstaan.
DIANNE: Jy is bekend daarvoor dat jy nie hou van onderhoude afstaan of aandag gee aan die media nie. Tog het jy ingestem tot hierdie onderhoud nadat jy gehoor het ek is van Springbok. Waarom Springbok?
WELMA: O, ek gee daagliks aandag aan die media en het baie opinies. Social media, not so much. In die laat 1980’s was ek verbonde aan Die Suid-Afrikaan en ons is genader deur die Raad van Kerke en die Mynwerkersunie (NUM) in Namakwaland om ’n koerant in Afrikaans op die been te bring en terselfdertyd ’n groep jong mense op te lei in die joernalistiek. Ek en twee kollegas, Chris Gutuza en Rob Meintjes, was die opleidingspan. Tot 1993 is ek gereeld en ongereeld Springbok toe; in die laaste jaar van die projek het ek vir twee weke elke maand daar geplak en met die trainees saamgewerk om die koerant Namaquanuus een keer ’n maand uit te bring. Einde 1993 is die projek afgehandel en oorgegee, maar steeds gaan ek soms terug. Dis ’n landskap met mense na aan my hart, al is ek nie van daar nie.
Du Toit is 'n jong bekroonde skrywer, teatermaker en performer wat spesialiseer in die ontginning van queer narratiewe of net om Afrikanerskap op te fok.