Hendriek Bleik se plattelandse post-punk

Foto’s: Verskaf
Afrikaans is ondood, skryf André van der Hoven
Die Afrikaanse musiekscene ken twee groot vertakkings. Daar is die alombekende, schlager-agtige, sogenaamde “populêre” Afrikaanse musiek wat gestaltenis vind in sequence-behepte, manne-dis-’n-voorregtelike Afrikaans is Groot-konserte, en dan word alles anders net in die “Alternatiewe™ Afrikaanse musiek”-doos gebliksem – ’n regte pandora’s box waar jy enigiets vanaf industriële Naaimasjiene tot 2012-indie-folk-nostalgie en heilige Synth Peter kan uitpluk. Daar was weer nuwe opwinding in die 2000’s met legende Karen Zoid en white suburban, tienerangstige Fokofpolisiekar en kompanjie (Heuwels Fantasties, Van Coke Kartel), maar die finale spyker in alternatiewe Afrikaanse musiek se doodskis is toe ’n Voëlvry-revival die lig gesien het. Terwyl Kurt en sy derms rond hop en voorwaarts mars, is die Genootskap van Alternatiewe Afrikaners nie net besig om bands uit die 80’s te resuscitate nie, maar ook om hulle te copy. Nee, julle. It’s giving lack of creativity. Let’s let sleeping dogs lê in die hondehok en move on from hierdie monokultuur van klank. Dis anyway sleg vir die omgewing.
Êrens in Noordwes loop gerugte egter rond van ’n nuwe soort kwekery. Hope grond kan deur die rookmis gewaar word wat die plattelandse horison versteur. Die pisgeel gras is vol vogtige grondklontjies wat die pad na ’n oop graf aandui. Daarbinne, ’n stukkende swart kis met rooi fluweel voering. Langs die opgrawing staan ’n onheilspellende figuur en gluur onderdeur sy emmerhoed. Hy gryns venynig agter sy glinsterende muilband.
Enter Drianco Fourie, alias Hendriek Bleik: die 24-jarige sanger en musikant (maar graphic designer by trade) van Lichtenburg wat nuwe lewe in Afrikaanse musiek blaas. En as die seun van begrafnisondernemers op sy tuisdorp, weet hy ’n ding of twee van kiste oopbreek en uit die dood herrys.
“Ek het my hele lewe lank 10 meter weggebly van lyke af, right. So, ek’t rondom kiste grootgeword,” vertel hy my. “Kiste was letterlik my klimrame. Ek het in kiste rondgespeel. So, ek het hierdie baie morbiede childhood gehad, maar vir my was dit heel normaal.”
Morbied is nie die woord wat by jou opkom as jy met Hendriek praat nie. Inteendeel, sy praatstem ontbloot ’n sekere helderheid wat deur die baritonriwwe in sy sang weggeskuur word. Oor ’n telefoonskerm skets hy vir my sy grootwordjare op die dorp van lig en hoe dit verstrengel is met sy musiek en identiteit. Vir hom was die keuse om in Afrikaans te sing nie vanselfsprekend nie. Dit was eerder ’n doelbewuste en volskaalse weerstandsbeweging teen die konserwatiewe mores wat hom in ’n boks probeer druk het. Wat meer kan jy verwag van generaal De la Rey se final resting place? Afrikanertrots is ongetwyfeld in hierdie aarde gesaai, maar so ook is die Afrikaner se sin vir rebellie – en Hendriek het genoeg tyd onder die grond deurgebring om daarvan in sy bloedstelsel op te neem. Sy musiek is dus ’n fyn uitgelegde taktiek om Afrikaans te infiltreer en uiteindelik sy moedertaal vir homself toe te eien: “Fok jou, Afrikaans! Ek gaan jou alles maak wat jy nie is nie,” sê hy rustig terwyl ons die menigte berge en dale van hierdie “toksiese verhouding” ontleed.
“Vir hom was die keuse om in Afrikaans te sing nie vanselfsprekend nie. Dit was eerder ’n doelbewuste en volskaalse weerstandsbeweging teen die konserwatiewe mores wat hom in ’n boks probeer druk het.”
Deur middel van sy musiek probeer hy die taal herbesin, anders te verbeel. In sy liedjie ‘Oh Maria’ spreek hy sy moedertaal direk aan en smeek eers om “[haar] übermensch” te word, maar daarna om “buite [haar] grens” geaborteer te word; om duskant sy taal en kultuur en afgedwonge identiteit te dink. Ten einde hierdie emansipasie te bewerkstellig, roep Hendriek as’t ware natuurkragte op in sy lirieke. In ‘Ek is son’ hoor jy van vonke wat warrel om sy vuiste soos wat hy homself in die grond wortel en die hemelryk oopkraak soos ’n boom. Hierdie amperse inkantasies word as middel aangewend om sy onderbewussyn te verken en na vore te bring. Temas van onderdompeling en skoonspoeling word aangetref in liedjies soos ‘Hola’ en ‘Dualiteit’ waar walvisse deur sonnestelsels vlieg en weerlig vanuit sy vingerpunte flits.
By eerste hooropslag van sy diskografie word jou ore met ’n post-punk-klank gevul, wat tot ’n ondergrondse nalatenskap van verskeie kunstenaars spreek. Sy liedjie ‘Tienerbrein’ se kontoerlose reverb herinner aan die eteriese landskap soos geskets in die openingsliedjie op Cocteau Twins se 1986-album Victorialand, terwyl Hendriek op ‘Plus minus’ die uittartende trant van ‘Never fight a man with a perm’ van Idles slyp om sy eie verveeldheid met digitale late capitalism teenoor onverbiddelike tromme uit te spoeg. Op ‘Sobia’ se bridge rasper kitare heen en weer deur die melodie, wat op sy beurt herinner aan Siouxsie and the Banshees se eksperimentele early days. Maar dis die bass in sy (on)dodelike danstreffer ‘Zombie Kwekery’ se She Wants Revenge x Shakira-kombinasie wat selfs Bela Lugosi in sy graf sal laat rondruk. Die hemel is dalk iewers op die platteland, maar dit sal soos ’n ondergrondse goth club klink.
“Die hemel is dalk iewers op die platteland, maar dit sal soos ’n ondergrondse goth club klink.”
Hoewel Hendriek hom as ’n one man music making machine in sy slaapkamer beywer, kry hy egter in 2023 die geleentheid om sy horisonne te verbreed. Nadat sy vriende hom oortuig het om aan Taalgenoot se Ruk & Rym-musiekkompetisie deel te neem, waar hy ook as naaswenner bekroon word, neem hy sy liedjie ‘Blits’ saam met alternatiewe Afrikaanse musiekghoeroe, Peach van Pletzen, by Planet Awesome op, waarheen hy nog af en toe gaan om bietjie met sy musiek rond te speel.
Alternatiewe Afrikaanse musiek is nie dood nie; dit is ondood. En Hendriek Bleik, in teenstelling met sy pseudoniem, staan fier as die kleurryke alternatief teenoor die mainstreamneigings wat die Afrikaanse musiekscene oorstroom. Hy bied aan ons ’n ander verbeelding van hoe Afrikaans klink en in die toekoms sal klink. Sy muilband glinster nie tevergeefs nie. Dit is eerder die son op die horison wat op sy gesig skyn en wat hy alreeds vir ’n lang tyd kan sien. Ons moet net saam met hom opstaan en die lig aanskou.
Luister hier na Hendriek Bleik.
Verhoogfoto’s: AJ Howard
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Hendriek Bleik se plattelandse post-punk gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.