Annie Klopper se boek oor eerlik wees

Annie Klopper se boek oor eerlik wees

Die tragiese saak van Pamina Vermaak

“Toe sy inklim, vasgordel en die ruit afdraai, buk Eleni af. ‘Onthou, Pamina,’ sê sy, ‘niks sal ooit verander voordat jy eerlik is met jouself nie.’”

die tragiese saak van pamina vermaak annie klopper.jpg

Toe ek dié woorde vir die eerste keer raak gelees het, sommer vroeg in die boek op bladsy 31, het ek dit dadelik onderstreep, ’n groot ster langs die kant geteken, en die bladsynommer agterin die boek gaan skryf. Ek het gedink hierdie is die tipe shit wat elke mens eintlik maar met ’n groot vet khoki op hulle voorkop behoort te skryf en nooit weer af te was nie. Maar dis probably meer soortgelyk aan een van daardie gevalle waar jou idol aan jou raak en jy cliché-agtig claim dat jy nooit weer jou hand of arm gaan was nie. Maar nee. Hierdie woorde het selfs my derde oog laat oopgaan en toe begin ek bietjie anders na die boek kyk, en lees.

Die tragiese saak van Pamina Vermaak is Annie Klopper (die girl wat die biografie oor Fokofpolisiekar destyds geskryf het) se eerste roman. Dit is nie ’n grensverskuiwende letterkundige oeuvre nie, maar poog ook hoegenaamd nie om een te wees nie. Dit is eerder ’n unieke en kontemporêre verhaal in eie reg en eie klas. Niks meer nie – en dit is 100% perfek net só. Dit is ’n roman wat sy teikenmark baie goed verstaan en goed mee kon click. So, indien jy Fokof-lager drink vir die nostalgie van die ou-Fokof milieu, ’n sê-dankie-vir-die-tannie wit T-hemp besit en ’n foto daarvan op Instagram gelaai het, en dink Karen Zoid is die Afrikaanse Beyoncé, dan is Pamina die boek vir jou!

So, indien jy Fokof-lager drink vir die nostalgie van die ou-Fokof milieu, ’n sê-dankie-vir-die-tannie wit T-hemp besit en ’n foto daarvan op Instagram gelaai het, en dink Karen Zoid is die Afrikaanse Beyoncé, dan is Pamina die boek vir jou!

As ek eerlik mag wees, het ek die boek op sy baadjie takseer toe ek dit gekoop het. Die Lichtenstein-esque voorblad met die blou/pienk versus pikswart kleurspeling kan nie anders as om jou aandag te trek nie. Dit het my sommer once teruggeneem na my matriek-eindeksamen Ontwerp-prakties. En toe ek sien die skrywer is Annie Klopper, toe word ek sommer opgewonde vir ’n paar lekker vloekwoorde wat definitief my tannie tot gebed sou dryf.

Die eerste hoofstuk hou klaar nie terug nie. Getiteld “Die P-klap”, kry die leser sommer dadelik ’n idee van die uiterstes waarna hierdie roman bereid is om te streef. Afgesien van die kragwoordjies, is die algehele taalgebruik, soos my vriendin dit vasgevang het, “justified”.  Die boek laat toe vir ’n unieke lees-ervaring, danksy die mengelmoes van Engels en slang met deurlopende en goedversorgde Afrikaanse grammatika en woordeskat. Nóg ek nóg sy het al ’n soortgelyke boek in Afrikaans gelees. Dit het my actually laat wonder of dit nie ’n cool voorgeskrewe boek vir hoërskoolleerders sal maak nie, maar ek weet nie of die onderwyssisteem al reg is vir ’n sex scene, of die pertinente gebruik van die woorde “klipharde penis” nie.

Hoewel die roman sorg vir skrefies oppervlakkige, maar nodige, humor, pak dit ook temas aan wat belangrik is in vandag se tyd. Hierdie temas word deur middel van die karakters aan die leser oorgedra. In kontras met Pamina se stormagtige persoonlike lewe, bring die ondersteunende karakters ’n bekende/familiêre, amper veilige, gevoel by die leser tuis. Dit word selfs nog meer beklemtoon deur die feit dat Pamina se familie enigiets behalwe normaal of alom-familiêr is: haar ma’s se ambivalente queer-verhouding, haar boetie wat gay is en die feit dat Ma Diedie en Ma Kotie nie van dieselfde ras is nie. Tog kom hierdie familie voor as die lighuis in Pamina se storm. Dit laat die leser ten minste die normaliteit van Pamina se gesinsomstandighede teenoor hul eie bepeins. Soos Wolf dit vasvang: “‘Ek het gesien hoeveel liefde hulle vir julle en vir mekaar het. Hoe befok is dit dat jy in ’n gesin grootgeword het waar die sogenaamde norme uitgedaag word? Fok normaal of whatever. My ouers is middelklas en van Bellville, jou average middelklas-gesinnetjie, die een wat van buite af perfek lyk.’” (#inspiring)

‘Ek het gesien hoeveel liefde hulle vir julle en vir mekaar het. Hoe befok is dit dat jy in ’n gesin grootgeword het waar die sogenaamde norme uitgedaag word? Fok normaal of whatever. My ouers is middelklas en van Bellville, jou average middelklas-gesinnetjie, die een wat van buite af perfek lyk.’

’n Ander tema wat van uiterse belang is, is eerlikheid. Dit is juis hieroor dat die roman so ’n groot indruk op my gemaak het. Die bostaande aanhaling sluit aan by ’n latere gesprek tussen Eleni en Pamina nadat Pamina terugkeer Kaapstad toe om haar nuwe lewensfase te betree. Eleni verduidelik dat sy haar woonstel ook moet vernieu en oorverf: “‘om dit simbolies ook nuut te maak – maar jy sal altyd bewus wees van die verlede, maak nie saak hoeveel lae verf jy daarop sit nie. Daarom moet jy dit eer, en leer om in vrede met die verlede saam te leef’”; en later: “En toe Pamina uitstap, voeg sy met ’n hand op haar rug by: ‘Eer jou krake, Pamina.’”.

Hierdie twee aanhalings het my onmiddellik herinner aan Florence + The Machine se liedjie “Third Eye”. Die liedjie vang presies hierdie tematiek vas en sit dit om in ’n opbouende en energieke lofsang van self love en self care (#woke). Die lirieke lui as volg: Cause your pain is a tribute / The only thing you let hold you / Wear it now like a mantle / Always there to remind you! Florence probeer hier verduidelik dat ’n mens nie moet skaamkry vir jou foute en jou kak nie, maar eerder vrede daarmee moet maak, dit aanvaar, en dit eer, omdat dit eintlik die kak is wat jy oorgekom het wat jou op die ou end ’n sterker mens maak, en dít is beautiful (#cliché). En ’n mens kan slegs hierdie punt bereik deur eerlik te wees – met almal om jou, en veral met jouself.

Dis eintlik die rede hoekom ek dink Pamina ’n goeie voorgeskrewe boek vir hoërskoolleerders sal maak, omdat baie volwassenes nog sukkel om hierdie belangrike les van eerlikheid te verstaan en toe te pas, and it shows. Deur op ’n speelse en relatable manier hierdie les oor te dra, word die leser gedwing om ten minste self-refleksie te oorweeg, wat alreeds ’n groot stap vir mankind is. En wie weet? Dalk kan die leser hom- of haarself weer vind in die refrein.


Die boek se beskrywing

Toe Pamina Vermaak by die werk uitfreak, sit sy skielik sonder inkomste. Boonop verloor sy haar kêrel, haar woonstel in Tamboerskloof, asook die laaste flenters toekomsideale wat sy naarstig aan’t vasklou was – alles in een dag. Sy is gedwing om druipstert terug te keer na haar ouerhuis op die klein Weskusdorp Witwaterbaai. ’n Plek wat sy gesweer het haar nooit weer sal sien nie. Intussen basuin die voorblaaie van poniekoerante dit uit dat rockster Wolf de Jager se verlowing met aktrise Daniella du Toit verbreek is en krioel dit op sosiale media van steelfoto’s waar sy hom verneuk. Hy moet weg uit die Kaap en ’n lukrake seleksie op Google Maps bring hom tot op Witwaterbaai, waar sy swart leerbaadjie harder as sy Fender Stratocaster skreeu teen die gehekelde doilies in Ant Leentjie se gastehuis. Sal Pamina en Wolf op hierdie slakkepas-dorp van bokkoms droog en stoepsit hul probleme kan ontduik? Of lê daar net nog meer komplikasies voor?

Die songtrack

Te danke aan Hunter Kennedy (Fokofpolisiekar, Die Heuwels Fantasties), Frederick den Hartog (Die Heuwels Fantasties) en Laudo Liebenberg (aKING), is dit moontlik gemaak deur die opname van “Tyd om eerlik te wees” namens die (fiktiewe) kunstenaar Wolf de Jager. Wolf de Jager is die breinkind van skrywer Annie Klopper, wie se roman Die tragiese saak van Pamina Vermaak (Kwela Boeke, 2018) nou landswyd beskikbaar is. Wolf is die manlike hoofkarakter in hierdie romantiese komedie. Nadat steelfoto’s op sosiale media uitlek waar sy verloofde, ’n aktrise, hom met ’n Hollywood-ster verkul, tuimel Wolf se wêreld – en suksesvolle loopbaan – al hoe verder ineen. Hy gaan kruip weg vir die paparazzi op ’n klein Weskusdorpie waar hy sukkel om nuwe liedjies te skryf. Hier kruis sy paaie met Pamina Vermaak, ’n sonderlinge meisie wat haar eie deuntjie volg.

Die skrywer

“Ek wou graag aan lesers die geleentheid gee om die karakters buite die beperking van slegs woorde op papier te ervaar. Jy kan die song luister terwyl jy lees, en só kry die verhaal ’n nuwe dimensie.” – Annie Klopper

Annie Klopper is ʼn dosent, taalpraktisyn en oud-musiekjoernalis. In 2011 het sy Biografie van ʼn Bende oor die rockgroep Fokofpolisiekar vrygestel. Daarna het sy ʼn doktorale studie oor Afrikaanse rap-musiek voltooi. Haar gedigte verskyn in verskeie publikasies. Die tragiese saak van Pamina Vermaak is haar eerste fiksie-werk.

Stream die track

André het pas sy BA LLB-graad verwerf en is tans 'n honneursstudent in Frans aan die Universiteit Stellenbosch. Hy drink graag sparkling water en het 'n obsessie met Florence + The Machine.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Annie Klopper se boek oor eerlik wees gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand