Andries Buys oor Afrikaans, geloof, die reg en letterkunde
Foto’s: SQ He, geneem in China

Foto’s: SQ He, geneem in China

Skrywer van die alombekroonde Die dao van Daan van der Walt, nou ook in Engels vertaal deur Michiel Heyns

Andries Buys het sy eerste boek (2018, Tafelberg) onder die alias van Lodewyk G du Plessis gepubliseer.

 

FRANCOIS: Jou boek Die dao van Daan van der Walt handel deels oor die bymekaarkoms van calvinisme en daoïsme. Is jy calvinisties grootgemaak? Is calvinisme iets wat jy moes afleer of koester jy dit?

ANDRIES: Ek het, net soos Daan van der Walt in my roman, in die veertiger jare van die vorige eeu gedurende die Tweede Wêreldoorlog en sy nagevolge in ’n tipiese Afrikanerhuis grootgeword. Saans ná ete het my pa, waar ons gesin om die eetkamertafel byeen was, huisgodsdiens gehou. Sondae het ons kerk toe gegaan. Soos ’n mens van verantwoordelike mense verwag, was my ouers hardwerkend, hulle het nie gevloek nie, my nie geslaan of ander mense aangerand nie en hulle het net Sondae by middagete ’n glas soetwyn gedrink. Calvinisme is nie ’n onderwerp wat in my teenwoordigheid ooit in ons huis bespreek is nie.

Wat ek vandag van calvinisme weet, is dat Calvyn se hervormingsteologie die soewereiniteit van God op alle lewensterreine erken en dat die Bybel die onfeilbare Woord van God is wat alle sfere van die lewe rig met die oog op ’n hiernamaals in die hemel.  

As jy praat van ’n bymekaarkoms van calvinisme en daoïsme, moet jy verstaan dat daar ’n verskil is tussen daoïsme as filosofie en daoïsme as die godsdiens wat later daaruit ontstaan het. Iemand het opgemerk dat as Laozi, die sogenaamde vader van die daoïsme, vandag in China ’n daotempel sou besoek, hy nie enige van die beginsels van sy filosofie daar sou kry nie. Van die daoïsme as godsdiens weet ek niks.

In China maak Daan kennis met die daoïme as filosofie, ’n denkrigting wat hom besig hou met hoe om ’n sinvolle en gelukkige lewe hier op aarde te lei. ’n Denkrigting waarvan die belangrikste grondbeginsels ’n soeke na balans is en hoe om konfrontasie te vermy.

Om te verstaan waaroor dit in Die dao van Daan van der Walt gaan, moet ons oppas om nie appels en pere gelyk te stel nie.

Hoe Daan se storie uitgelê word, is die prerogatief van die leser. Ek is nie ’n daoïs nie en ek sou reken Daan ook nie. Daan se godsdiens en sy seksuele probleme is onafskeibaar van mekaar. Dié onafskeidbaarheid is ’n universele probleem. Talle christen-gelowe stoei daarmee, of het in die verlede daarmee gestoei, of behoort daarmee te stoei. Ek lees in die koerant dat daar sprake is van skeuring in die NG Kerk oor die vraag of hulle predikante die huwelik van mense van dieselfde geslag in die kerk mag bevestig. In wese is die vraag of seks tussen mense van dieselfde geslag volgens die Bybel sonde is. Dis nie net calvinistiese teoloë wat hulle koppe hieroor breek nie, Rooms Katolieke teoloë vind hulleself ook in hierdie vaarwater.

Soos Daan in sy eerste brief aan Magrieta skryf, glo ek ook, om ’n probleem op te los moet die agtergrond en die geskiedenis van die probleem ondersoek word. Daan doen dit en vind dat daar vanaf die vroegste tye, voor die eerste Bybelboeke geskryf is, homoerotiese verhoudings tussen mans was. Die verhouding tussen koning Gilgamesj en Enkidu is in die epiese gedig oor hulle doen en late so doodnatuurlik as dié tussen man en vrou. Jan-Willem, Daan se seun, wys daarop dat Dawid en Jonatan ’n homoerotiese verhouding gehad het. Die Griekse mitologie wemel van voorbeelde van homoerotiese verhoudings. En toe kom die groot kerkvader Augustinus met die idee van erfsonde wat seks, selfs tussen ’n man en sy getroude vrou, tot sonde verklaar. ’n Idee met wortels in Adam en Eva en die ou slang se gedoentes in die Paradys. Van toe af is dit, soos die digter sê; alewig die seks wat pla. Daar is vandag verskeie navorsers en teoloë wat beweer dat Augustinus se erfsonde onbybels is en nie deel is van die christelike leer nie. Hierdie kennis het ek aan Daan toegeskryf en dit is van die belangrikste faktore wat aanleiding gee daartoe dat hy vrede maak met sy seksuele oriëntasie, wat hom dan verder help om sy verlore balans te herwin.

En toe kom die groot kerkvader Augustinus met die idee van erfsonde wat seks, selfs tussen ’n man en sy getroude vrou, tot sonde verklaar. ’n Idee met wortels in Adam en Eva en die ou slang se gedoentes in die Paradys. Van toe af is dit, soos die digter sê; alewig die seks wat pla.
— Andries Buys

FRANCOIS: Wanneer is jy vir die eerste keer aan ander wêrelduitkyke soos daoïsme blootgestel? Hoe het dit jou beïnvloed?

ANDRIES: Wyd lees en oorsese reise maak ’n mens bewus van ander kulture, hulle geskiedenisse, hulle eetgewoontes en kos, hulle godsdiensbelewenisse, hulle politiek, ensovoorts. My oorsese reise het my lewensuitkyk verbreed.

Aan die einde van 1967 is ek vir die eerste keer oorsee. Ek onthou die datum want ek het een aand voor die operahuis in Parys gestaan en wag om na my eerste balletuitvoering te gaan kyk, toe ek op ’n koerantplakkaat lees dat Chris Barnard in Afrique du Sud die eerste hartoorplanting in die wêreld gedoen het. Oor die jare daarna het ek Engeland en Europa dikwels en Suid-Amerika eenkeer besoek.

Sedert my aftrede in 2003 het ek die Ooste ontdek en tot nege maande op ’n slag in Kuala Lumpur in Maleisië gewoon waar ek vir drie jaar ’n woonstel gehuur het as basis vir my reise. Ek was twee keer in Viëtnam en dikwels in Thailand. In 2016 het ek ses maande in Singapoer gebly. Daarbenewens het ek ook besoek afgelê in die Filippyne, Taiwan, Indonesië en Bali. Ek het tot drie maande op ’n slag in China deurgebring om tai tji te leer en deur die land te reis. Die Chinese geskiedenis het my begin interesseer en ek het heelwat daaroor opgelees en doen dit steeds. Laos se geskiedkundige en pragtige ou hoofstad, Luang Prabang, is ’n boeddhistiese setel met talle indrukwekkende tempels. Ek is dikwels daarheen. Vandaar is ek na Siem Reap in Kambodja om tussen die eeuoue tempels by Ankor te dwaal en van die Khmer-beskawing (9de–15de eeu) bewus geword. Ek het gehoor van Pol Pot en die skrikbewind wat hy gevoer het met sy Khmer Rouge-beweging om tussen 1975 en 1979 kommunisme daar te vestig. Gedurende dié volksmoord het Pol Pot se Khmer Rouge byna twee miljoen van hulle mede-Kambodjane uitgemoor. Natuurlik met militêre hulp en finansiële bystand van Ho Chi Ming in Noord-Korea en ons ou vriend waarmee Daan in Die dao van Daan van der Walt kennismaak, Mao Zedong, die Chinese se “Great Leader”, wat op sy beurt weer miljoene Chinese afgemaai het met die afdwinging van kommunisme in sy land. (Alweer die Rooi Gevaar! waarmee die ignorati steeds spottend omgaan.)

Gedurende die skryf van my roman het ek besluit om Daan China toe te laat gaan om tai tji daar te leer om sy balans letterlik en figuurlik te herstel. Dit volg dat hy blootgestel word aan die daoïsme. Ek het weinig van die daoïsme geweet en het toe heelwat daaroor opgelees en sekere verwysings daarna in my roman ingeskryf. 

FRANCOIS: Die dao van Daan van der Walt is bekroon, mees onlangs met die Helgaard Steyn-prys, die grootste kontantprys vir letterkunde in Suid-Afrika. Hoe voel jy hieroor?

ANDRIES: Die sesde prys is toe die Helgaard Steyn-prys, soos jy sê die grootste kontantprys vir letterkunde in Suid-Afrika, en dis boonop toegeken aan ’n debuutskrywer. Ek plaas klem op die woord debuut. Toe die boek uiteindelik ná omtrent ses jaar klaar was, was ek steeds nie tevrede nie en ek het besluit ek gaan nie probeer om die boek gepubliseer te kry nie. Twan het aanhou neul. Ek het aanhou weier en toe kom hy met die gedagte dat ons ’n “tweede opinie” kry. Ek het die manuskrip vir Frederik de Jager gestuur. Hy was opgewonde oor die boek en sy advies was dat dit gepubliseer móét word. Tafelberg het die boek aanvaar, dis net ná my tagtigste verjaardag deur Solette Swanepoel by my huis afgelewer. Een oggend op pad na my Pilatesklas toe, kry ek ’n SMS dat my roman die UJ-Debuutprys gewen het. Die aand met die prysuitdeling het ek in my antwoord op die commendatio gesê: “Ek staan hier in verwondering, onbegrip en onuitspreekbare dankbaarheid.” Daardie verwondering, onbegrip en dankbaarheid het gedurende 2019 met die ander prystoekennings al groter geword en sy hoogtepunt bereik met die toekenning van die Helgaard Steyn-prys. Daar bevind ek my, die buiteperd debuutskrywer, in die geselskap van Elsa Joubert, Dan Sleigh, Fanie Naudé en Johan Myburg, almal  gevestigde en bekroonde skywers. Om nie eers te praat van die statuur van vorige wenners van die prys nie. Hoe voel ek daaroor? Ek voel oorweldig. Ek voel klein, nederig. Ek staan verwonderd, met onbegrip vir die groot eer wat my as debuutskrywer te beurt geval het vir my omgang met my geliefde taal in ’n storie wat my na aan die hart lê. Ek is oneindig dankbaar.

Een oggend op pad na my Pilatesklas toe, kry ek ’n SMS dat my roman die UJ-Debuutprys gewen het.
— Andries Buys

FRANCOIS: Jy is ’n oudregter. Hoe het jou lewenspad tot in die regte geloop?

ANDRIES: Vyf jaar op PUK vir my BA LLB. Gedurende my studies het ek ’n staatsdiensbeurs gekry en ek moes gevolglik drie jaar vir die staat werk. Ek is twee weke ná ek begin aankla het in die landdroskantoor op Krugersdorp, na Durban verplaas en ’n paar maande later op die Prokureur-Generaal se personeel op Pietermaritzburg aangestel, waarna ek in die Hooggeregshof in Natal deel was van die vervolgingsgesag. In 1964, aan die einde van die drie jaar staatswerk, het ek in Durban by die balie aangesluit en begin praktiseer as advokaat. Willem Booysen, later aangestel as regter, was toe die enigste Afrikaanssprekende advokaat in Durban. Ek het ses weke in my kamers gesit voor die telefoon die eerste keer gelui het. Die prokureur was ’n gelyste kommunis. Hy het my opdrag gegee in ’n strafsaak wat om veiligheidsredes nie in Durban verhoor sou word nie, maar in die streekhof in Ladysmith. Daar het ek toe saam met twee ander advokate, Piet Thirion, ook later regter, en MD Naidoo vir weke gesit en ’n hele aantal beskuldigdes se verdediging waargeneem. Die beskuldigdes se verweer teen sommige van die aanklagte was dat die gewapende vleuel van die ANC, uMkhonto we Sizwe, ’n aparte, onafhanklike beweging was wat niks met die ANC te doen gehad het nie. Dit was 1964. Hulle is skuldig bevind. Oor die volgende twee jaar het Swart, Joodse en Indiër prokureurs my ondersteun en die Engelse firmas het stadig bygekom en aan die einde van 1967, kon ek bekostig om vir die eerste keer in my lewe oorsee te gaan, soos ek reeds vertel het.

Uiteindelik het ek ’n hoofsaaklik Engelse praktyk gehad. Afrikaans was in elk geval daardie jare maar skaars in Durban. Een van die regters, ’n dierbare ou man vir wie ek af en toe ge-crew het op sy seilboot, het glad nie Afrikaans gepraat nie. Oor die jare het my praktyk gegroei en in 1987, dertien jaar ná ek begin het, het ek aansoek gedoen vir senior status, dis toegestaan en ek kon SC, Senior Consultus, agter my naam skryf. Nie lank daarna nie is ek gevra om waar te neem as regter in Venda om ’n lang muti saak te verhoor. Ek het nie besonderlik van my maand of twee op die bank gehou nie en daarna alle waarnemingsaanstellings van die hand gewys. Uiteindelik het ek begin moeg raak vir die praktyk en vir my ’n plaas gekoop in die Waterberge waar Eugène Marais sy Burgers van die Berge geskryf het, en deeltyds met proteas en Switserse beeste begin boer.

Een Woensdagaand het ek op die kraalmuur by my beeste gesit en besluit om die balie te verlaat. Toe ek Donderdag by my huis in Durban terugkom, was daar ’n boodskap op my antwoordmasjien om die minister van justisie te bel, wat ek die Vrydagoggend gedoen het. Hy het my gevra om vir ses maande in die Noord-Kaap te gaan waarneem, setel Kimberley. Ek het geweier. Hy vra my toe om die aanbod ten minste te oorweeg en om hom vieruur daardie middag terug te bel. Ek gaan vertel vir regter Thirion van die aanbod, voor wie ek met ’n lang deelsverhoorde saak besig was. Sy advies was: gaan sit op die bank vir ses maande en oorweeg jou besluit om die balie te verlaat. Ek maak toe so. Ek was twee maande in Kimberley toe die regter-president my vra of ek ’n permanente aanstelling sal oorweeg. Ek het gesê ek sal hom ná vier maande ’n antwoord gee. Die antwoord was: ja. Ek is permanent aangestel en dit was die begin van my gelukkigste 16 jaar in die regsberoep. In die Noord-Kaap het ek weer die wonder van Afrikaans ontdek, ook die kleurvolle weergawe daarvan wat daar langs die Vaal- en Gariepriviere gepraat word. Die vriendelikheid en gasvryheid van die mense was nóg ’n verrassing. 

sq-he-4kt-XIxlZvw-unsplash.jpg

FRANCOIS: Daar is ’n plaasmoordtoneel in jou boek. Hoekom het jy dit ingesluit?

ANDRIES: Die dao van Daan van der Walt is fiksie, maar Daan word in sy lewe gekonfronteer met tersaaklike gebeure, omstandighede en heersende debatte in Suid-Afrika. ’n Idilliese bestaan op ’n plaas aan die beginjare van die 21ste eeu, sou ’n vals uitbeelding van die werklikheid gee. Die risiko om vermoor te word, staar elke boer en sy gesin in ons droewige land dag en nag in die gesig. Landsburgers is nie altyd bewus van die wreedheid en sadistiese marteling van die slagoffers wat hierdie moorde kenmerk nie. Strafsaak ná strafsaak moes ek as regter kyk na die grusame beelde op polisiefoto’s van die verminkte lyke van die oorledenes en beseerdes en die bloedbesmeerde vertrekke waarin die misdade gepleeg is. 

Die risiko om vermoor te word, staar elke boer en sy gesin in ons droewige land dag en nag in die gesig.
— Andries Buys

FRANCOIS: In jou boek word uitdagende verhoudings tussen pa en seun sowel as daddy en boerseun uitgebeeld. Hoe kan verskillende generasies met verskillende uitkyke by mekaar begin uitkom?

ANDRIES: ’n Baie belangrike vraag. Ek dink daar is ’n jammerlike gebrek aan kommunikasie tussen die jonger en die ouer geslag.

Terloops, ek weet nie of die jonger geslag dit weet nie, maar die gespanne vader/seun verhouding is so oud soos die berge. Omdat die vader/seun verhouding ’n belangrike tema in Die dao is, verwys ek reeds in hoofstuk drie daarna dat in die Griekse mitologiese skeppingsverhaal, die oervader Uranus deur sy seun Kronos met ’n klipsekel gekastreer en sy geslagsdele in die see gegooi is; hoe dieselfde Kronos weer deur sy seun Zeus na gitswart Tartarus verban is, die diepste deel van Hades, die doderyk. Dit was wat my betref ’n sleutel wat die leser voorberei vir twee temas in die roman: die stryd tussen vader en seun en die kastrasie van die man.

Om nou terug te keer tot jou vraag hoe die verslkillende generasies met verskillende uitkyke by mekaar kan uitkom en my kort antwoord daarop — deur beter kommunikasie. Ek wonder soms hoeveel begrip die jonger geslag van ouer mense het en van hulle behoeftes. Baie oumense is gewoon eensaam. Hulle het geen kinders en kleinkinders nie, of hulle kinders en kleinkinders woon al jare lank in die buiteland en veral die kleinkinders raak vervreemd. Ek het self geen kontak met die jonger geslag nie. In antwoord op ’n vorige vraag verwys ek na ons droewige land. Ek, as oumens, wonder dikwels hoe die jonger mense oor die land en sy toekoms voel en oor ons taal. 

’n Kelner het my vertel dat jongmense met mekaar Afrikaans om ’n tafel in die restaurant waar hy werk, praat. Hy praat dan ook Afrikaans met hulle. Hulle antwoord hom in Engels. Dit gee my die idee dat die jongklomp Afrikaans reeds gereduseer het tot kombuistaal. Is dit regtig die situasie? In België, hoor ek, gaan studente na ouetehuise en gesels met die oues van dae, help hulle met probleme, byvoorbeeld met hulle rekenaars en ander takies, en daar word dikwels hegte en betekenisvolle vriendskappe tussen hulle gesluit. Ek glo daar is ’n behoefte by sowel denkende jongmense as denkende oumense om met mekaar te kommunikeer. Hierdie gesprek van ons in Klyntji is vir my ’n voorbeeld van so ’n behoefte.

Dit gee my die idee dat die jongklomp Afrikaans reeds gereduseer het tot kombuistaal. Is dit regtig die situasie?
— Andries Buys

FRANCOIS: Afrikaans trek swaar as dit by regeringsprioriteite kom, maar word nog bevoordeel deur private kapitaal. Hoe belangrik is die beskerming en bevordering van Afrikaans op tersiêre vlak en elders?

ANDRIES: Uiters belangrik. ’n Universiteit in Suid-Afrika bestaan nie in limbo nie en hoort nie in ’n ivoortoring vol met fantasievolle idees nie. Dit het ’n verpligting om te voorsien in die behoeftes van die gemeenskap waar dit gesetel is. Ek volstaan met een voorbeeld. Die Bruin gemeenskap wat grootliks Afrikaanssprekend is, geheel en al op die Kaapse platteland, het nog altyd aan die agterspeen gesuig en word op akademiese vlak nog steeds soos ’n weggooikalf tot suig aan daardie ou, taai speen gedoem. Hoe is dit moontlik dat, in ’n land wat hom beroem op basiese menseregte, daar teen Bruin mense wat in hulle moedertaal wil studeer, gediskrimineer word? Veral as daar in ag geneem word dat hier in die Wes-Kaap ander universiteite is wat voorsien in die behoeftes van studente wat in Engels wil studeer en daar geen diskriminasie teen hulle is nie. 

Die besluit dat slegs Engels die sogenaamde language of record in ons howe is, is in alle waarskynlikheid ongrondwetlik. Die Hoogeregshof in die Wes-Kaap het heel onlangs beslis daar is, aldus die koerantberig, geen regsgrond vir die besluit nie.

FRANCOIS: Wat is jou siening rondom die her-standardisering van Afrikaans om ander variante soos Kaaps in te sluit? Is regstelling van Afrikaans nodig in ag genome hoe dit in die verlede gebruik is?

ANDRIES: Taal is ’n lewende organisme. Dit groei. ’n Taal kan ook kwyn en sterf. Dink maar aan die Khoi-tale, vir die voortbestaan waarvan daar gelukkig nou ’n paar stryders is. Variante soos die kleurvolle Kaaps en dialekte in die Noord-Kaap dra by tot die groei van Afrikaans. Die ontwikkeling van ’n taal kan nie voorgeskyf word nie, nog minder kan dit “reggestel” word. Al die sprekers van ’n taal dra by tot hoe die taal ontwikkel en hulle bepaal die lot daarvan – so ook die taalbeleid van die owerheid. Waar ’n taal vir sy voortbestaan met ’n sterker taal meeding en die owerheid die strydende taal sy amptelike status ontneem, is die taal tot uiteindelike ondergang gedoem. Eers word dit gereduseer tot kombuistaal en uiteindelik verdwyn dit en die sterker taal heers. Dink maar aan die status vandag van Ierse-Gaelies en die pragtig-klinkende Wallies wat met Engels moes en moet meeding. Word enige letterkunde nog vandag in hierdie tale gelewer?

Linguiste skat dat daar tans 7000 tale in die wêreld is. Een van hulle sterf gemiddeld elke 14 dae uit. Van die 7000 reken hulle sal net 3500 nog bestaan teen die begin van die volgende eeu. 

Ongelukkig word daar deur sommige twyfel uitgespreek oor die noodsaaklikheid van standaardafrikaans of selfs smalend daarna verwys. Dan vra ek hoe lê ’n hof die woorde in testamente, kontrakte en wette uit as daar nie ’n standaardvorm van ’n taal is nie? As daar ’n woordeboek soos die WAT was vir Zulu, sou daar waarskynlik vinnig vasgestel kon word wat regter Hlope se woorde beteken het in die onlangse aanklag teen hom waarvan ons in die nuus gelees het. ’n Deskundige moes getuig oor die betekenis van die woorde. Waarop vestig die deskundige sy mening? Algemene gebruik? Wissel dit van plek tot plek? In Afrikaans sal die deskundige sekerlik na woordeboeke verwys ter stawing van sy mening.

Hoeveel sou Afrikaans se taalerfenis armer gewees het sonder die gespierde standaardtaal van NP van Wyk Louw se Vier Gebede by Jaargetye in die Boland, of sonder die tinktinkie-taal van Totius? Wat sal die Britte se reaksie wees as Koningin Elizabeth II haar nuwejaarsboodskap lewer in die taal en tongval van Elizabeth Doolittle? Hoe arm sou Engels gewees het sonder die King James-vertaling van die Bybel en die sonnette van Shakespeare? Soos die Prediker ons tereg daarop wys, daar is ’n tyd en ’n plek vir alles.

FRANCOIS: Was daar rolmodelle of mentors wat ’n groot invloed op jou lewe gehad het?

ANDRIES: Ek het al in onderhoude gesê dat my Latyn-onderwyser toe ek in graad 10 was, vir ons ’n kwartaal lank Afrikaans gegee het en Die Grenslose van WA de Klerk met ons behandel het. Vir hierdie seun in ’n myndorp het hy ’n groter wêreld daar buite ontsluit: die Afrikaanse letterkunde en Latyn. Laasgenoemde het my blootgestel aan die antieke Romeinse letterkunde en kultuur, selfs al het ons, ons besig gehou met die vertaling uit Latyn van Caesar se Galliese oorloë in plaas van Catullus se skunnige liefdesgedigte. Die onderwys-owerhede was – en is! – darem ’n klomp pretbederwers. 

Toe ek begin praktiseer het as advokaat, was regter Milne die Regter-President. Hy was een van die moeilikste regters voor wie ek ooit opgetree het. Sy mees gebruikte woord gedurende die betoog was: “Why?”. En dan moes die advokaat verduidelik waarom. Maar ek het een baie belangrike les by hom geleer wat ek gedurende my tyd op die bank probeer toepas het: Ek moet met so ’n oop gemoed na die advokate se betoë luister, dat ek die prima facie opinie waarmee ek die hof ingekom het, kan verander. As advokaat het ek meer as een keer regter Milne oortuig van die meriete van my kliënt se saak, al was dit ’n opdraende stryd en al was hy aanvanklik ooglopend teen my betoog gekant. Ek het as regter hard probeer dat advokate dit ook van my kan sê, al vermoed ek dat hulle ook sou sê dat ek ’n moeilike kalant op die bank was.

FRANCOIS: Die dao van Daan van der Walt is al beskryf as ’n lewenswerk. Is daar nog ander boeke in jou?

ANDRIES: Dit wemel van stories in my kop, veral twee. Maar die jare stap aan met sy kwale en skete en vreet gulsig aan my energie. ’n Hardwerkende advokaat en ’n regter het weinig tyd om vir ontspanning of tot lering te lees. Sedert my aftrede lees ek soos Daan selfs saans in die bad. Niemand steur ’n man in sy bad nie en menige dag is dit my mees suksesvolle ononderbroke leesuur of twee. Daar staan honderde boeke op ons boekrakke wat uitroep om gelees te word en ek smag daarna om hulle te lees. Ek kom daagliks te staan voor die moeilike keuse: Sal ek vandag skryf of sal ek my oorgee aan die plesier van ’n interessante boek?

Daar staan honderde boeke op ons boekrakke wat uitroep om gelees te word en ek smag daarna om hulle te lees. Ek kom daagliks te staan voor die moeilike keuse: Sal ek vandag skryf of sal ek my oorgee aan die plesier van ’n interessante boek?
— Andries Buys

FRANCOIS: Hoe lyk ’n normale dag in jou lewe? Wat hou jy jouself mee besig?

ANDRIES: Na ’n mens se aftrede is jy so besig dat jy wonder hoe jy voor jou aftrede tyd gehad het vir werk. Vroeg soggens stap ek langs die see, daarna doen ek tai tji of qi gong of strekoefeninge. Twee keer per week gee ’n instrukteur vir my ’n Pilatesles in die oggend. Oefeninge lê glo die ouderdom se aftakelingsproses so ’n bietjie aan bande.

Vir ontbyt eet ons elke dag ’n verskeidenheid vrugte. Sondae maak ek ’n groot bak vrugteslaai vir oggendete. Ná die vrugte eet ek grootsemelhawermoutpap in die mikrogolf gaargemaak, met soveel melk dat dit soos ’n sop lyk met suiker en kaneel daaroor. Die pap, sonder die kaneel wat my byvoeging is, het ek in die Rasa Sayang hotel op die eiland Penang ontdek tussen die groot verskeidenheid ontbytkosse daar in die oggend: Maleisies, Chinees, Japanees, Indiese kerries, Engels, Amerikaans, Frans. Wat ’n fees! Wat ek hier in Kaapstad mis is die Chinese ryspap met sojasous, gebraaide uievlokkies, gebakte grondboontjies, stukkies vars gemmerwortel, sprietuie, gepiekelde kool en ’n knypie rissie daaroor. Ons hou jaarliks hierdie tyd daar vakansie en toe kom die virus. 

En toe kom die virus en ek sit in Kaapstad agter my rekenaar in my studeerkamer en dink antwoorde uit op Klyntji se baie vrae.  

Voor die virus gekom het, het ons Sondae hier in plaas van my hawermoutsop, ’n vars, warm croissant met marmelade ná die vrugte geëet. Ná ontbyt gaan ek studeerkamer toe en doen wat my hand vind om te doen. Sal ek verdwyn in een van David Hinton se boeke oor Chinese gedigte, of dalk sommer net Penelope Lively se lekker Life in the Garden klaar lees. Wel, dit was my keuse vanoggend. Nee, eintlik lê daar ’n groot stuk werk vir my en wag wat my gaan besig hou tot ná die Nuwejaar. Michiel Heyns is besig om Die dao van Daan van der Walt in Engels te vertaal. ’n Briljante vertaling. Ek is baie opgewonde daaroor. Michiel wag nou vir my kommentaar op dié vertaling.

Ná middagete is ek deesdae so moeg dat ek gaan rus. Die ouderdom maak inbreuk op my tyd. Vroegaand maak een van ons twee aandete. Daarna lees ek tot ek gaan slaap.

’n Man doen tai tji

’n Man doen tai tji

FRANCOIS: Watter tipe persoon is jou ideale leser van Die dao van Daan van der Walt?

ANDRIES: My ideale lesers is hulle wat my vertel dat hulle Die dao ’n tweede keer, ’n derde keer en in ’n paar gevalle selfs ’n vierde keer gelees het. Hulle sê vir my, elke keer vind hulle iets wat hulle nie die eerste keer raakgelees het nie en wat by die herlees bygedra het tot hulle interpretasie, verstaan en waardering van die teks. Dié lesers het ontdek wat ek in die boek probeer doen het, wat in woorde, name, sinne en die verwysings na ander tekste daarin opgesluit is. 

Gedurende die tagtigerjare het ek ’n BA Honneurs op Wits geloop. Een van die skrywers wat ons behandel het, was Koos Prinsloo. Ek het twee uiters belangrike goed by hom geleer. Een daarvan was om, in die woorde van my ideale leser, iets wat ter sake is in die verhaal met, byvoorbeeld, ’n naam of ’n beeld, in die teks te verdoesel, sodat daar iets is vir die nuuskierige leser om te ontdek.

As deel van my studie moes ek ’n opstel oor een van Prinsloo se kortverhale skryf. Ek het ’n kortverhaal gekies waarin ’n man na ’n deel van die sestiende eeuse komponis Carlo Gesualdo se Tenebrae Responsoria luister voor hy selfmoord pleeg. Ek het nóg die komponis nóg die musiek geken. Daardie dae was daar nog nie ’n rekenaar in my huis nie en ek het die CD gaan koop om na die musiek te luister. Die deel waarna Prinsloo in sy kortverhaal verwys, hou eenvoudig op sonder enige eindakkoorde. Sommer so, en daar is doodse stilte. Ek vind toe uit dat Gesualdo sy vrou en ’n man uit die aristokrasie in flagrante delicto betrap het, en altwee net daar vermoor en hulle liggame vermink het. Daardie dae kon jy jou vrou en haar minnaar strafloos doodmaak as jy hulle op heterdaad in owerspel betrap. Maar Gesualdo se gewete het hom daarna opgevreet en hy het homself kasty deur selfgeseling en deur tragiese, hartseer musiek te komponeer wat die musikante in sy diens uitgevoer het. Hy was die Prins van Venosa. Soos Allegri later, het Gesualdo hom tot koning Dawid se Boetepsalm gewend en dié getoonset. Prins Gesualdo en Allegri maak ’n klein buiging in Die dao van Daan van der Walt.

Die ander ding wat ek by Prinsloo geleer het, was dat dialoog in fiksie hemelsbreed verskil van hoe ons gewoonlik met mekaar praat.

FRANCOIS: Lewensveranderende boeke: watter vyf dink jy eerste aan?

ANDRIES: Ek kan nie onthou dat daar ’n enkele boek is wat my lewe verander het nie. Daar is wel boeke wat my bewus gemaak het van dinge waarvan ek nie geweet het nie. Boeke wat vir my nuwe wêrelde oopgemaak het en wat ek in my agterkop gehad het toe ek Die dao van Daan van der Walt geskryf het. 

So ’n boek is Memoirs of Hadrian van die Frans-Belgiese skrywer Marguerite Yourcenar. Sy is in 1987 op vyf-en-tagtigjarige leeftyd in die VSA oorlede. Sy het in Frans geskryf en ek het, sover ek weet, al haar werke wat in Engels vertaal is, gelees. By Yourcenar, soos by Prinsloo, het ek gesien hoe openbarend die onverklaarde skelm verwysing in ’n teks kan wees. Dalk sou sy my haar ideale leser kon noem, want ek lees en herlees haar werke, veral voormelde Memoirs of Hadrian. Ek kan nog by elke herlees van die boek ’n verwysing, ’n naam of ’n beeld daarin google en dadelik verdwyn in ’n wonderwêreld van ontdekking. Dis die soort boek wat ek graag lees. Ek glo ook dat skrywers die soort boek skryf wat hulle self graag lees. Ek sou wat wou gee om soos Yourcenar te kon skryf, maar gelukkig kon haar werke vir my as voorbeeld dien.

Ek noem ook nog Marilynne Robinson se Gilead waarna ek in my roman verwys. Die eerste paar bladsye van die eerste hoofstuk in hierdie boek is ’n voorbeeld vir enige skrywer – en aspirant skrywer – hoe om met die moeilike taak om ’n boek te begin, om te gaan. So ook die Ou Testamentiese eerste hoofstuk in To a God Unknown van John Steinbeck, ’n ander skrywer vir wie se romans ek groot waardering het.

Dit bring my dan ten slotte by die Die Bybel. Ek stem met die ontslape literêre kritikus professor Harold Bloom saam dat die King James-vertaling van die Bybel en Shakespeare se werke voorbeelde is van die mooiste Engels op aarde. Die taal in die 1933-vertaling van Die Bybel in Afrikaans waarmee ek as kind saans by huisgodsdiens kennisgemaak en grootgeword het, veral in die Ou Testament, is steeds vir my van die mooiste Afrikaans op aarde:

In die begin het God die hemel en die aarde geskape.
En die aarde was woes en leeg,
en duisternis was oor die wêreldvloed,
en die Gees van God het gesweef op die waters.

FRANCOIS: Het jy vreugde in jou lewe gevind? 

ANDRIES: Ja, groot vreugde.

sq-he-JJxy-vBi4UA-unsplash.jpg

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Andries Buys oor Afrikaans, geloof, die reg en letterkunde gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand