Die dao van die Calvinis
Andries Buys se Die dao van Daan van der Walt
Daan van der Walt is op redelik gevorderde ouderdom in ’n komplekse ambivalente stryd met homself gewikkel, ’n stryd wat veral gekenmerk word deur die voortdurende spanning tussen balans en wanbalans in sy lewe. Wanneer hy ’n vertigo-aanval kry tydens ’n besoek aan sy seun, Jan-Willem, wat in China woon, laai laasgenoemde hom af by Die Tempel van Ewige Vrede waar meester Yang hom tai chi leer in ’n poging om sy balans te herstel. Dit is tydens sy verblyf by die monnike dat Daan begin om sin te probeer maak van sy lewe deur twee dagboeke (of “historias”) te skryf wat ook die struktuur van die roman vestig.
Die eerste historia, gerig aan Daan se gestorwe hond, Kaspaas, bestaan uit 22 hoofstukke wat elk opgevolg word deur ’n brief aan sy oorlede vrou, Magrieta. Die tweede historia bestaan uit agt dele wat elk vernoem is na een van die agt bewegings in die Bā Duàn Jīn oftewel die Agt stukke brokaat – ’n tai chi-beweging wat na bewering die ewige lewe kan gee wanneer dit elke dag beoefen word. Daan se bewussynstroom, soos dit in die onderskeie hoofstukke en briewe manifesteer, sleur die leser mee op ’n ontdekkingsreis wat insig in sy binnewêreld verskaf. Sy outobiografiese geskiedskrywing bied aan hom (sowel as die leser) welkome ontsnapping van ’n hede waarin hy ontuis voel: “Ons ou mense ontkom die hede wanneer ons terugtree in die verlede” (10).
Hierdie (en vele ander) verwysings na homself as ’n “ou mens” dui op ’n diepe bewustheid van sy veroudering en die gepaardgaande uitdagings (én bevrydings) wat dié proses inhou. Veroudering bring onvermydelik marginalisering mee en wanneer Daan se vloeibare seksualiteit later in die roman onthul word, vind ’n soort dubbele marginalisering plaas – nie noodwendig deur die samelewing en mense wat hom liefhet nie, maar deur homself. Sy worsteling met seksualiteit vind neerslag in verskeie uiteenlopende vorme soos die studente-ervaring met sy kamermaat en ’n teologiestudent op universiteit; sy huwelik met Magrieta; die teleurstellende, dog insiggewende, ontmoetings met Boerseun; ’n Viagra-insident tydens ’n besoek aan ’n ou vriendin; en die intergenerasionele verbintenis met ’n jong gong fu-instrukteur in China. Daan se oorbewustheid van sy ouerwordende liggaam lei tot pogings om sy verlore jeug en tyd te herwin deur ontmoetings met veral jonger mans wat herinner aan die gebruik van die Antieke Grieke waar “die volwasse erastes sy jong eromenos onderrig, nie net in die krygskuns en hoe om soos ’n held op die slagveld te sterf nie, maar ook in die kuns van die liefde tussen ’n jonger en ’n ouer man” (220).
Die verouderingsproses kan beskou word as die brug tussen lewe en dood wat die twee spilpunte is waarom die roman wentel: “Die mens is op reis, die dood net ’n verposing, ’n tussenwerpsel in die tog na die ewigheid. ’n Man moet rigting hê, en ’n bestemming, anders verloor hy die weg” (8). Hierdie “weg” is die “Dao” waarop meester Yang hom geduldig begelei, want in der waarheid is Daan ’n ontheemde Afrikanerman wat probeer om sy konflikterende denke en emosies met mekaar te versoen. Die leser moet egter deurentyd in gedagte hou dat Daan in beheer van die narratief is en dat hy sy herinneringe en ervarings soos ’n kurator noukeurig selekteer en op subjektiewe wyse aanbied want “’n [m]ens skryf in ’n bekentenis net soveel as waarmee jy dink jy kan wegkom” (281).
Daan se historias dien egter volgens hom ’n selfs groter doel as persoonlike narratiewe terapie, naamlik om die geskiedenis van sy mense te vertel “anders sterf ons geskiedenisse saam met ons en word dit dalk misgekyk of verdraai of eensydig in ander se littekenliteratuur neergeskryf” (233). Die intellektuele manier waarop Du Plessis Afrikanermites ontmitologiseer en beide die klassieke en meer eietydse plaasroman herskryf, is boeiend en verfrissend. Veral sy geloofstryd staan sentraal in argumente wat hy met homself voer en hy erken ook: “Ek is nie gereformeerd nie, ek is getransformeerd […]” (157). Die fyn ossilasie tussen religie en mite maak ’n belangrike deel uit van die roman en deurentyd word parallelle getrek tussen Christelike en Oosterse geloofsisteme. Vanuit Jungiaanse perspektief kan die roman beskou word as ’n uitbeelding van die individuasieproses waar die jin en die jang in ewewig met mekaar gebring word.
Die roman is voorts ’n inventaris van intertekstuele verwysings wat ’n breë spektrum onderwerpe in verskeie dissiplines dek, insluitend religie, politiek, letterkunde, beeldende kunste, musiek, filosofie, psigologie en sosiologie. Die aantal intertekstuele verwysings kan enersyds die leeservaring vir die ernstige leser verryk, maar andersyds oorweldigend en te uitgesponne wees vir die gewone leser. Desnieteenstaande word die roman ’n herinneringsdokument waarin heelwat kulturele artefakte (onder andere Latyn) aan die vergetelheid ontruk en in ’n nuwe vorm in die kollektiewe onderbewuste bewaar word in keurige, poëtiese en soms argaïese Afrikaans. In die nabetragting verduidelik die skrywer waar die stories en ander inligting vandaan kom en gee hy erkenning aan die hulp wat hy vanuit verskeie oorde ontvang het.
Lodewyk G du Plessis (pseudoniem) se debuutroman is met beide die UJ- en Eugène Marais-debuutpryse bekroon wat gelei het tot oudregter Andries Buys se onthulling dat hy die skrywer is. Die dao van Daan van der Walt, wat ook die WA Hofmeyr-prys verower het, beeld die vele fasette van die menslike ervaring en toestand op meevoerende wyse uit. Daan se aangrypende storie vul ’n gaping in die Afrikaanse letterkunde wat betref die uitbeelding van veroudering soos beleef deur hedendaagse nieheteronormatiewe Afrikanermans.
Dié resensie het oorspronklik in Tydskrif vir Letterkunde 57(1) 2020 verskyn. Dit is gepubliseer onder ’n CC BY-SA 4.0-lisensie. Klein stylwysigings is gemaak.