Gered uit die skade van die skare

Gered uit die skade van die skare

Liefde tot vervelens toe in Danie du Toit se debuutdigbundel

Danie du Toit (of Reënwolf, soos wat sommige Spoegwolf fans hom ken) het sy debuutdigbundel Warmer voor die tuimeldroër vroeër hierdie jaar uitgegee. Die bundel het vlugtig deur die land versprei, danksy sy selfbemarking op Instagram, Facebook, en deur word-of-mouth en Drum-restaurant se Uber Eats account in Stellenbosch. Dit help om ’n groot following soos Spoegwolf s’n te hê.

Heelwat gedigte in die bundel het voorheen as liedjies op Spoegwolf-albums verskyn. Is dit dalk dat hierdie bundel as ’n liriekebundel, eerder as ’n digbundel, getakseer moet word? Hoe onderskei mens Danie se gedigte van Spoegwolf se lirieke? Ry Reënwolf op Spoegwolf se vlerke of vlieg hy op sý manier saam met Spoegwolf?

Mens kan Warmer voor die tuimeldroër met Leonard Cohen se digbundel The Book of Longing (2006) vergelyk. Danie is wel nog nie op Cohen se vlak nie, maar daar is strukturele ooreenkomste. Cohen, wat self ’n sanger was, het sy gedigte getoonset om liedjies daarvan te maak, soos Danie ook doen. Lirieke volg gewoonlik ’n sekere patroon: verse, bridge, chorus (repeat). Tog is daar ’n verskil wanneer mens kyk na Danie se digbundel: herhalende chorus-gedeeltes en verse kom nie voor in sy gedigte nie. Die charismatiese Spoegwolf-voorman se gedigte vertel ’n storie, eerder as om ’n spesifieke patroon te volg.

Mens kan na die bundel as ’n geheel kyk en vra hoekom Danie juis dié gedigte gekies het om te verskyn in die bundel. Hoekom die insluit van sekere bekende gedigte soos ‘Lenie Blou III’, maar nie ‘Lenie Blou II’ en ‘I’ nie? Dis moontlik ’n aanduiding dat daar nóg digbundels gaan wees (die digter het dít al bevestig). Daar is ook die klein nommer “1” wat in ’n waterdruppel op die boek se agterkant verskyn, wat die moontlikheid van ’n 2 en 3 laat, as mens nou fyn wil lees en toekomstige intertekstualiteit wil voorspel.

Warmer voor die tuimeldroër bestaan uit 97 gedigte, waarvan baie herkenbaar is van Spoegwolf se albums sedert Swaartekrag in 2012 verskyn het. Bekende gedigte soos ‘Kort Donner’, ‘Bittermaan’, ‘Storm’ en ‘Ohana Café’ verskyn in dié bundel, maar nes die res van die meer bekende gedigte, is dit gelukkig nie oorheersend nie. Daar is ’n verskeidenheid voorheen onbekende materiaal wat die bundel lyf gee en lewendig maak. Wat wel opmerklik is, is die herhaling van die temas van liefde en vriendskap in heelparty gedigte, wat die leeservaring soms saai kan maak. Ander onderwerpe soos Stellenbosch, geloof, verskillende kleure en Marguerite van Eeden, sy partner aan wie die bundel opgedra is, kom ook voor (sien as voorbeeld ‘man van Stellenbosch’).

Al is liefde ’n geykte tema, word dit in die bundel afgewissel in intensiteit en met deernis uiteengesit binne kontekste waarmee heelwat Stellenbosch-studente kan identifiseer. Dalk is Danie se woorde juis gewild omdat liefde ’n verfrissende onderwerp is, in teenstelling met ’n andersins erg politiese klimaat? Daar is ’n universele aanklank te vinde in die soms intieme liefdesgedigte, sowel as in die uitbeelding van die digter se vriendskap met sy mede-band members.

Die tema van vriendskap word in onder meer ‘Thunderstruck’ uitgebeeld, waarin al die lede van Spoegwolf saam in ’n kar ry: “Albert speel Thunderstruck / ses jaar terug het ons hierdie pad / met die droom van vandag gevat / dit reën, my oudste vriende, dit reën.” ’n Hegte vriendskapsband tussen die “broers” is opmerklik, en dis asof die leser saam met hulle wegry, in verwondering ná een groot show, op pad na die volgende. Die elektriese oomblik wanneer Danie op die verhoog is en hy die emosies van die gehoor aanvoel, word ook in die bundel beskryf. Die konneksie tussen hom en die skare is tasbaar, wat te verstane is vir dié wat al by ’n live show van Spoegwolf was. Hierdie broederlike vriendskap tussen hom, die band en die skare is iets spesiaals, maar waar Danie werklik poëties raak, is wanneer hy sy romantiese liefde ontbloot.

Oorweeg die gedig ‘18’. Hier word beskryf hoe iemand na die spreker toe stap “soos ’n leeu tussen narre / soos water tussen klippe / om alles van my wat uitgeblus was / te versomer in jou veldbrand.” Hierdie beelde van krag beskryf die amper bo-natuurlike element van die vrou wat in sy lewe instap en dan: “om bo-op my te beland / op daai tafel tot hierdie bed / om my te red van die skade van die skare.” Deur die intieme oomblik en die simboliek van die veldbrand word die digter getransfigureer en metafories gered van die skare. Die vuur wat binne haar brand, het hom ook (weer) aan die brand.

Wat in Warmer voor die tuimeldroër verken word, is dikwels herhalend en kan soms tot ’n mate vervelig raak. Bygesê, daar is ’n eerlikheid aan die bundel wat die leser herinner daaraan om op te let in die oomblik, want daar is tog magic in vlietende oomblikke. So is dit met liefde – ’n belangrike element in mense se alledaagse lewens. Is Danie se debuutbundel revolusionêr? Waarskynlik nie, maar dit gaan ongetwyfeld ’n impak maak op Spoegwolf se fans. Is ek opgewonde oor wat volgende uit die digter se pen gaan vloei? Ek dink tog so.


Thunderstruck

ons ry uit ’n vreemde dorp
Albert speel Thunderstruck
ses jaar terug het ons hierdie pad
met die droom van vandag gevat
dit reën, my oudste vriende, dit reën
en ek is nie meer heel nie
ek is vlees en bloed en die uitroep van die skare
my are is die drade en my hart pomp
by die luidsprekers uit
ons het gebid vir vandag
vir hierdie tyd
die reën teen die ruit, soos nog ’n gehoor
sit die wipers af, stop, laat ons hoor
vanaand as ons opstap, doen ons dit alles
van voor af maar beter
soos ’n man en ’n vrou wat lief is vir mekaar
en jaar na jaar bloeisels bloei tussen die merke
(blomme is net stilstaande vuurwerke)
this is it
this is what we hoped for
ons parkeer ons lewens hier
in die reën
langs die highway is die parkering verniet
maar ons tyd is nóg geleen

18

ek onthou jou aanstap
deur skemerdruis
’n goue liggie
tussen Java en die Wijnhuis
tussen karre
soos ’n leeu tussen narre
soos water tussen klippe
om alles van my wat uitgeblus was
te versomer in jou veldbrand
om bo-op my te beland
op daai tafel tot hierdie bed
om my te red van die skade van die skare
om uit te gryp aan die are van my hart
en droog te vee met jou hare
en warm te druk met jou borste
en bene in ’n liefdesvou
ek was toe al so lief vir jou

man van Stellenbosch

ek het baie keer, na die storm
in die middel van die nag gaan pizza kry
by ’n lonely plekkie wat daai tyd ook bier verkoop het
een aand het ’n man van die straat 
met ’n kombers oor sy lyf by my kom sit
ek het gedink hy soek seker net my kos
ek het nie geluister nie
ek het so vinnig moontlik elke laaste stukkie
in my lyf gekry onder sy oë
‘julle bliksems, julle hele Stellenbosch – 
bergies, studente, skinderbekke, miljoenêrs – 
ek is klaar met gee,’ het ek gedink
die man het lekker gelag vir iets wat ek gesê het
hy het opgestaan
hy het opgestaan
hy het opgestaan
en ’n klomp munte uit sy broeksak gehaal
hy het kom sit met twee biere – een vir hom
en een vir my
dis seker hoekom ek nog
in al my skaam nou
in hierdie skemerdorp bly

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Gered uit die skade van die skare gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand