Prosa en poësie van Du Toit Albertze
tumblr_inline_oad3b86Rc11tz8ud8_500.jpg

Ek is ’n vrou. Onkonvensioneel gekonstruktureer. Uitgelewer aan die breinspoelers om te verskeur, die vlymskerp comments op my Facebook en kerkpamflette om my lyf gestrooi. Die duiwel sal my siel steel as jesus my nie vergewe nie.

Nkosi Sikelel’ iAfrika, ma maak alweer skoon/

agter die wolwe wat haar roostuin opfok/

die hopeloosheid sonder tande/

wat haar met suur inkleur dat sy minder is as kak

(skryf) die vrou is nie dood nie

Ek het altyd cheap Barbies by Achmat se tuckshop gaan koop. Agter my pa se rug. Om die plastiese nipplelose anatomie te bekyk. Gesoek vir ‘n ooreenkoms, maar net ’n niks tussen hul bene gevind. Toe sny ek dit oop met my knip-en-plak skêr en smeer al my swart pen se ink daaroor.

Ons, seuns is geskep volgens die beeld van pa en toe was ma gevorm met sy ribbebeen. 

Onse vader wat in Suid-Afrika is

Laat u roer geheilig word

Laat u nageslag kom

Laat u lus geskiet

(skryf) die vrou is nie dood nie 

Ma se hakke in die hand drentel ek kamers binne, kamers wat onbekend bly, en ek transformeer voor die gekraakte webcam. 

Ek word Marilyn.  

Ek word Lady Di. 

Ek word Eva. 

Ek word iets anders as drywende stof wat no-name labels dra,

(skryf) Die vrou is nie dood nie… Al is Frida in haar poes. 

Bertus het my afgeloer. Hy en Bart vang my toe soos ’n bok. Sleep my, want my liggaam was lam soos ’n vertraagde, tot by die altaar van pa se bed. 

Middagslapie in sy moer. Pa styg op soos een uit die dood en beveel vir ma om die kamer te verlaat. Sy doen dit soos ’n getroue dissipel en vermy my kykers. Pa staar toe vanaf die wolke van sy oogbanke en sê: “Hy wil mos ’n vrou wees, maak hom een”. Ma se spieëlkas het my laat dink aan ouma se swart en wit televisie ’n Pandoraboks. ’n Krismisgeskenk vol mooi mense. Maar die mens was net mooi agter onderlaag. Pa knik as goedkeuring en hul drappeer ma se trourok oor my kop. Bart mompel, “my bruid is skoner as tienduisend”. Ek verdwaal in ’n doolhof van wit. Weggesteek agter linne. Weg van woorde vol ink en tempels vol splinters. Wapenloos. Manloos. Klim ek op die altaar, my oë een met pa s’n. Sy lippe beweeg stadig… hy wil mos ’n vrou wees, maak hom een… 

Bart en Bertus druk my toe neer, soos toe ons kleintyd huis-huis gespeel het. Ek onthou nog die gekling van belt-buckles en ’n… oopbreuk, oopskeur. 

’n Kattekoor skreeu buite die venster. 

Ek het aanhou bid, maar net pa se woorde gehoor. Dit was later ’n rooi trourok. ’n Bloedkol op die werêldkaart. ’n Traan in jou bybel. Ek onthou ek het na myself gekyk in die spieëlkas maar net kak gesien. Ma kook die ketel. Bart en Bertus het gaan stort. En pa slaap verder. 

Uit die swart van onse hemel

Uit die diepte van ons swembad

Ons vir niemand, Suid-Afrika.

 

aan Pieter

ek soek nie tinder nie

ek soek nie grindr

nie mxit sexchats

met naai

innie hand

of as jou meisie

weg is nie

gooi die plastiek kombersie weg

en check me @suicidalseuntjie

met vetties wat wil

met weduwees wat wou

met pedos wat was

waar ons krenkend kan cuddle

 

ek staan voor jou met

                lemoenskil en koffiebeker

leeg

soosie dag toe ek ophou

lieg

      het

 

ek het nog altyd apart gevoel

tussen kop en gees

tussen proes en protes

tussen vel en vlees

so, don’t blame me for crimes I didn’t commit

putting passes on your people

“your people”

a word you use so often

maar wie’s my mense?

so, don’t blame me for poisoning your black garden

for I did not pull hector pieterson from his roots

with my “white rage”

my rage is raceless 

so, don’t blame me for building statues of men

we rarely know, ask the pigeons

for they know them better, shitting on their shoulders

flameless

blameless 

for I never took the “meid”

when the candle blew out

for I never stole your tongue

for I can hardly speak it

APARTHEID

het my apart gemaak- gebore in die as

van hulle foute

 

ma-pa-ek-boetie

sit aan tafel

hou handevas

soos gekoekde kabels

terwyl pa sy tafelgebed skaam-skaam

afjaag…jan soek geld

pa stop

ma sê voor

hy word R20 per week betaal

“ek soek my fokken geld!”

pa storm uit soos geen wind in springbok

maar al wat ons sien is

‘n drankbottel

wat opgetel en geskop

opgetel en geskop

word

ons lag

ma druk die deur toe

pa kom in

los die deur oop

en maak sy gebed klaar

die keer soos ’n baas

terwyl ons onderlangs giggel

 

behalwe ma

wat die bruinheid van haar hande wil afwas.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Prosa en poësie van Du Toit Albertze gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand