Dianne Du Toit Albertze oor haar debuutroman bottelnek breek bek

Dianne Du Toit Albertze oor haar debuutroman bottelnek breek bek

Die vrot vreugde van tuiste vind in die gesig van geweld

In een van vele terugflitse, getiteld “Teenage Nightmares”, gaan haal Pa-goed en Ma-goed vir Boeta waar hy vermoedelik weer kak aanjaag terwyl klein Daantjie agterbly en late-night e.tv kyk. Die geel sjambok slat byna vir Boeta vrek oor hy so klou aan die bottel. Maar later lag Pa-goed vir Boeta wie se tong op die houtvloere sleep, terwyl ma foto’s daarvan neem. “Hulle maak ’n sirkus van hom. Die vrot vreugde van ouers wees,” (bl. 120) kom Dianne Du Toit Albertze se Daantjie-karakter tot die gevolgtrekking in haar debuutroman bottelnek breek bek (2022, Human & Rousseau). Dit is hierdie einste vrot vreugde wat soos ’n paar gebreekte hakke regdeur hierdie indrukwekkende debuut hinkepink. Die vrot vreugde van grootword; die vrot vreugde van euforie; die vrot vreugde van susterskap; die vrot vreugde van ek-word.

Boeta se pakslae is nie die eerste gewelddaad wat die karakters in die roman moet verteer nie. En ook nie die laaste nie. Die woorde “breek” en “bek” in die titel dui immers vanuit die staanspoor daarop: geweld word hier onder woorde gebring.

In die hede het ons vir Dora, voorheen Daantjie, waar sy ver van haar huis in Carolusberg ’n nuwe tuiste in die Kaap as transgender vrou soek. ’n Veilige hawe, hopelik, want transfobie, geweld, diskriminasie en viktimisasie deur die polisie en jan alleman (en sy vrou) vier nog altyd hoogty op eie bodem en elders. “Dié goed verdien nie ’n huis nie,” (bl. 70) sê een polisieman vir ’n ander ná nog ’n gewelddadige toneel in die boek. Tog vind Dora, en haar tjommie Whashiela, tydelike toevlug by Ma Helen (Main Road in Woodstock se Anna Madrigal), maar natuurlik eers nadat ’n sinnelose moord aan die begin van die boek hulle oor haar pad bring. Hier bid hulle mekaar tot bestaan toe en help blaas lewe in ola (oud) geraamtes (bl. 42). 

Daar is ooreenstemming met K Sello Duiker se The Quiet Violence of Dreams (2001) waaraan Dora in die hospitaal klou na ’n selfdoodpoging met ’n gebreekte bottel. Die eerste hoofstuk dra byvoorbeeld die paslike titel “Quiet Violence”. Op die oppervlak is daar dieselfde veelvuldige perspektiewe waaruit elke hoofstuk sien, van die jong aktrise-in-wording Washiela, tot die breekbare Ma-goed, vir wie die lewe en dood ewe seer is. Maar dit is die manier waarop Albertze geweld en die land se leë beloftes van gelykheid en demokrasie aan die pen laat ry wat die meeste herinner aan Duiker se seminale roman. (En net om dit te benadruk: dit is al 21 jaar sedert The Quiet Violence of Dreams gepubliseer is...)

Om huis te vind in die gesig van soveel geweld, in “’n [l]and wat nog net op papiere, in boeke, in movies, op reënboë ons beskerm het…” (bl. 82), is ’n vrotterig soort vreugde.

Maar Albertze “breek bek” ten spyte daarvan. Enersyds praat en deel karakters mee as verset teen geweld (byvoorbeeld Jamie, die spoken word poet, wat op bladsy 37 meen haar pen se ink is leeg, maar haar bek is nog lank nie stil nie en sy kom beslis nie in vrede nie), maar andersyds is dit ook ’n herberg. Dora vind vinniger huis by Ma Helen as Whasiela om verskeie redes, maar een daarvan is hulle gedeelde liefde vir Nama-woorde, soos xhoubroe (kuier) en xhorro (gesels). Ook wanneer Whashiela aanvanklik vir Dora bevriend, is taal een van die eerste paadjies na ’n moontlike tuiskoms vir Dora (36):

“Dis pragtig,” gayle Daantjie.

“You probably mean beulah,” correct ek haar.

Sy frons al weer.

“It’s moffietaal, my skat. You better start learning.”

“Moffietaal” verwys natuurlik na Gayle, ’n universele gaykodetaal of sosiolek met ’n eie versameling van woorde en metaforiese uitdrukkings wat Albertze in ’n woordelys aan die agterkant van die roman vaslê. In Ken Cage se destydse (en ietwat verouderde) taalondersoek na Gayle het hy byvoorbeeld bevind dat dit veral solidariteit en eenheid aan die sprekers bied, maar ook meesal humoristies aangewend word (die boek is by tye ook skreeusnaaks, byvoorbeeld die toneel waar Woeste Harriets uit Ma Helen se huis gesmyt word om plek te maak vir Dora en Whasiela, is goud). Carl Collison som dit op as “the language of laughter – and of safety.”

Dora se ronddrywe in hierdie onuithoudbare, dog kleurryke landskap en uiteindelike ontrafeling weens dwelmmisbruik het egter ’n onvergeetlike boetedoening teen die einde van die roman: die bottelnek wat deurgaans die totem van geweld is, lei tot Dora se geestelike ontwapening, asook haar gesin s’n. ’n Vindingryke slot wat die leser vir lank nog gaan bybly, en of Dora uiteindelik huis kry in die gesig van geweld, sal jy self moet besluit. 

Moenie verbaas wees as bottelnek breek bek mettertyd haar plek as ’n classic in die queer — en hopelik breër gemeenskap — inneem nie. ’n Belangrike, tersaaklike roman wat op ’n taalvlak, of dit nou wil of nie, bydra tot Afrikaans, maar ook op storievlak ’n leemte help vul. En die woord “help” is belangrik hier, want hierdie boek gaan hopelik nie die laaste boek wees wat deur ’n Afrikaanse transgender skrywer geskryf is, wat die lig gaan sien nie.

 
 

MARCEL: Eerstens, geluk met ’n fantastiese debuut... Rachelle Greeff sê so mooi in haar gesprek met jou dat met die eerste lees, het dit haar teruggevat na Johannes Kerkorrel se musiek, wat haar destyds laat lag en huil het. Ek is dit met haar eens. Hoe voel jy oor hierdie vergelyking met Kerkorrel? Hoe ervaar jy sover die ontvangs van die boek?

DIANNE: Behalwe virrie feit dat hy my literary dzaddy Koos Prinsloo gemoer het oor dié hom as ’n bedorwe popster raakgeskryf het of dat hy deel was van ’n seksistiese Voëlvry-piel-republic, is die vergelyking nie te onaangenaam nie. Kerkorrel se eensaamheid en kreatiewe hardkoppigheid kan ek mee relate. ‘Onder in my whiskey glas’ en ‘BMW’ het ek moertoe geluister in my studentedae nog onder die invloed van Stellenbosch. 

Dan oorie vraag van die reaksie oorie boek is ek baie dankbaar vir feeste wat belangstel om meer te hester/hoor vannie boek. Baie lesers vra advies oor hoe om hulle kinders te aanvaar wat trans/non-binary is. Ander, soos by Open Book Festival vanjaar, koop die boek maar verstaan nie eens Afrikaans nie. Hopelik kan die boek mense se harte EN tonge losmaak van vooropgestelde idees oor trans-identiteit, asook Afrikaans.

MARCEL: Die storie voel baie persoonlik, die gegewens voel baie presies en Dora se twee wêrelde (Namakwaland en Camissa – die Kaap) word in die fynste besonderheid weergegee. In die bedankings verwys jy daarna as “my bottelstorie”. Hoe baie navorsing moes jy doen, of hoeveel daarvan is gegrond op iemand wat jy ken/jou eie ervaringe? 

DIANNE: Ronelda S Kamfer het onlangs op ’n soortgelyke vraag by Suidoosterfees gesê dat manlike skrywers nie altyd hierdie vraag kry nie. En dat mense aanneem dat ’n vrou eers moet suffer om iets goeds te skryf.

MARCEL: Soos ek verstaan het die boek eers ontstaan as gedigte, en is van daar af in romanformaat herskryf. In die verlede het jy jou toegespits op teater en poësie, hoekom die besluit om die storie in boekvorm te vertel? Vind sekere stories beter huis in langer formaat?

DIANNE: Fokweet in watter formaat die boek eers was – ’n hoerkind van epiese vers en monoloog wat episodies geskryf is in ’n register wat gewissel het tussen praattaal en ’n ander taal wat ek slegs in button trips kon skryf. Dit was meestal substance induced writing wat deels suicide survival en deels poesharre werk was. My publisher het my stadig weer na sanity toe teruggeguide met die storie en toe ek nugter word, kon ons saam prosa beginne explore. Wat soos lyrical stage directions geraak het – vanuit my drama-writing-kop.

Ook ekke was moeg van my poephol pap skryf virrie verhoog en dan speel die play drie keer en goodbaai meraai of tekslesings wat lei na fokkol. Wou iets doen wat nie sou maklik klaarmaak nie. Iets meer permanent. En toe donner Dora in my hart neer!

MARCEL: Miskien word gedigte outomaties as outobiografies gelees (selfs wanneer dit nie is nie) terwyl ’n roman dalk makliker as fiksie geïnterpreteer word en daarom ’n ander tipe impak maak?

DIANNE: Much respect to non-fiction writers soos Herman Lategan en Elise Bishop, maar my boek is fiksie. Ek skryf al fiksie vannat ek ’n pen kon vashou en dis juis daai verbeelde, ryk binnewêreld van myself wat my nog hie hou. En waaruit bottelnek breek bek kom.

MARCEL: Hoe voel dit om ’n storie soos hierdie een in woorde om te sit, die verkragting, die mishandeling en dan om dit uiteindelik in die wêreld uit te stuur? (Veral in ’n landskap soos Suid-Afrika, wat ons weet, nog baie transfobies is?) 

DIANNE: Ek was skytbang om te skryf vanuit Dora se wegsteekplek: die plek in haa wat healing soek. Maar ek het geweet ek moet dit vir myself doen en allie trans en gender-diverse niggies en neefs.

MARCEL: Die bottelnek as wapen kom baie voor, dit is ook die objek wat Dora op ’n baie donker pad af stuur, maar hierdie “bottelstorie” het ook as’t ware jou as romansier se “bek” “oopgebreek”. Waarom die titel “bottelnek breek bek”?

DIANNE: Dis ’n waarskuwing en ’n dreigement nes ’n bottelnek vir Dora medisinaal is wanneer sy pille rook, maar ook ’n wapen wanneer sy haarself en haar susters beskerm.

MARCEL: Die eerste hoofstuk word voorafgegaan met ’n gedig, of ’n inleiding deur ’n onbekende “ek” – is daardie “ek” Dora? Of Jamie? Of Ma Helen? Dit is na my mening almal van hulle, maar waaroor ek meer wonder is die slotsin: “[E]k wil maar net weet waar om my bottelnek te bêre.” Letterlike bottelnek? Of waarna verwys daardie “bottelnek”? 

DIANNE: Ek like jou interpretasie dat dit allie karakters se stemme is wat uitkom innie eerste gedig. Was eintlik net gemik op Dora. Die bottelnek verwys na haarself, soos die sê-ding gaan, ’n plek om my kop neer te lê. Maar ook haar wapen, haar geheim, haar sorge.

MARCEL: Chase Rhys en Brian Fredericks het albei ’n ogie gegooi op die taal... Daar is Kaaps, Sabela (tronktaal), Gayle en Khoekhoegowab... ’n Eerste vir ’n Wit skrywer in Afrikaans, nè? Was dit ’n doelbewuste besluit? Of het elke karakter maar die pen gegryp en gesê: ek sal sing soos ek gebek is? En hoe groot was die uitdaging vir jou om in soveel verskillende stemme te praat? 

DIANNE: ’n Eerste nie net vir ’n Wit skrywer nie, maar net ’n eerste. Die Afrikaanse taal word al vir te lank opgehemel en bewaar soos een of anner heilige virgin. Is nie meer Genadendal s’n nie. En is ook al wyer as die besluit in Arabiese skrifte. 

Ek sou my karakters ’n onreg aandoen as ek hulle sou lat Gayle xhorro/praat soos wat die wêreld hulle wou hester/hoor. Met die storie wou ek mense skryf soos hulle klink. Ghoema-Afrikaans soos Loit Sôls en Jethro Louw s’n, asook die Gayle-variasies tussen Matjieskloof in Namakwaland en die Gayle onder Observatory se brug. Taal wat normaalweg nie voor plek gemaak word op papier nie. Wou graag die spoegmerke vannie tongvalle op die blaaie los. Linguisties was dit belangrik om elkeen se klank te onderskei en ooreenkomste in hul dialekte te vind.

’n Eerste nie net vir ’n Wit skrywer nie, maar net ’n eerste. Die Afrikaanse taal word al vir te lank opgehemel en bewaar soos een of anner heilige virgin.
— Dianne Du Toit Albertze

MARCEL: Ek het deurgaans gedink: om ’n huis in taal te vind; die Afrikaanse meisie met die kak Engels wat leer gayle, ’n taal wat later makliker vir haar sit as Afrikaans of Engels... Dit is vir my, as ’n closet poet en logofiel, een van die sterkpunte van die roman. Jy self is ’n digter en ek wonder of woorde, en hoe dit wat ons sê klink, vir jou nog altyd ’n eerste place of belonging was? Is dit steeds? 

DIANNE: Klomp gehoorlede by Open Book Festival 2022 het my gevra, maar waarom skryf ek in Afrikaans? Ek wil amper tjank as ek nou hie praat... Is dan daa’binne wat alles nog ietwat rein en hoopvol is; my taal kom uit my binneste binne wat net die waarheid kan praat. Elke variant is ’n ander earring wat my waarheid aansit. Soms classy en soms kommin. En ek wil glo dat ons wat die variasies embrace, ’n gesamentlike baadjie vaswerk met al Afrikaans se fasette. Hopelik kan ons almal daai baadjie dra. Want dis kak koud hie’buite. En ons almal kort ’n warm ding. Ons almal verdien om te behoort en ’n tuiste te hê.

 
 

MARCEL: Ek dink ook byvoorbeeld aan al die aanhalings wat die meeste van die hoofstukke voorafgaan; aanhalings as toevlug, daardie kort, kragtige gedagtes wat, nes memorable lirieke, mantras word. 

“We should not be ashamed of who we are. We have to show the world that we are numerous.” Sylvia Rivera

“My tongue wearies of speech. And is dumb, harsh. Entombed alive.” Dambudzo Marechera, Black Sunlight (1980).

“Don’t matter where you go, remember the road, that will lead you home.” Master KG, featuring Zanda Zakuza, ‘Skeleton Move’

Wat is die effek daarvan vir jou? 

DIANNE: Ek is deels ’n pop culture-jintoe. So wêreldse interteks en references wat ons remind van ons gedeelde gebrokenheid, soeke na aanvaarding, vuurdope, ensovoorts… Dalk even ’n playlist virrie leser met binne-teksverwysings ook na Fela Kuti, Sonja Heroldt, Whitney Houston en Miriam Makeba. Musiek, poësie en film dra baie by tot die lewe van papierkarakters vir my.

MARCEL: Ek gaan nou aan oor taal en woorde, maar twee treffende gedeeltes in die roman fokus juis op stilte: as Daantjie vertel hoe hy en Grootpa-goed en Grootma-goed in stilte eet, en alles anders wat in stilte gebeur (“Verskoon onsself in stilte... Grootma snork in stilte terwyl sy slaap. Ek houvas haar pêrels teen my bors en bid in stilte.” – bl. 49) Hy bid dat alles eendag sal raas. Totdat Dora later terug is by die huis in Carolusberg en daardie hartroerende woordelose toneel tussen haar en Ma-goed plaasvind:

“My hand vat sy in hare. Sy beginte vryf liggies oorie fyn haartjies daarop. Vinnig trek ek my hand weg. Woordeloos skel ek haar. Ek issie meer Daantjie nie.”

“Ek weet, sê haar oop palm.” (bl. 226)

Soms sê stiltes in die geselskap van liefde en aanvaarding soveel meer as woorde, of hoe?

DIANNE: Ook met Dora se ouers wat haar beskuldig van hulle ghost. Stilte of die afwesigheid van Gayle xhorro/praat is dubbelsinnigheid, want dis moeilik en maklik. Netso is stilte soms die mooiste musiek. Is peaceful. Is swanger met moontlikheid. In daai stilte vind ek my woorde. In die laaste stadium vannie inhoud se klaarskryf het ek baie staatgemaak op swyg en stilword. Ook innie koppies gaan stap, beplanning eers in my kop voor dit op papier eindig. So maybe het die karakters, veral Boeta, Ma-goed en Whashiela innie stilte waarlik vlees geword.

MARCEL: Dora klou aan The Quiet Violence of Dreams ná haar selfdoodpoging. Het K Sello Duiker se roman ’n groot impak gehad op bottelnek breek bek

DIANNE: Tekstueel het Dora en Whashiela met Tshepo begin gayle en Pastoor/James met Chris begin beita. Ek moes maarnet die gesprek fasiliteer. Eie aan Duiker glo ek ook aan ’n tipe fisieke navorsing of method writing. Om oral research te doen en ook te experience dit waaroor ek skryf. Of dit nou ou of nuwe experiences is. Die girls rondom Saltriver circle het my touwys gemaak met hoe mans te voet en per kar jou oplaai. Die 26s van Idas Valley het my weer geleer van trust en hoe om ’n pyp te pak. Party van hierrie goed kan mens verewig wond maar meestal kan dit mens se verstaan só verbreed, jou medemenslikheid. Wil glo dat Duiker ook so sy karakters kon eg weergee.

MARCEL: Maar die ander roman wat ook deurgaans opduik, is André P Brink se Bidsprinkaan (wat Whashiela noem “white gaze op Khoi myths”). Jy’t dit al in verhoogstukke ook geïnterteks... Wat is jou verhouding tot daardie roman? 

DIANNE: André het, nie net met Kupido se verhaal nie, maar ook met Philida en ook sy Kaapse vertaling van Shakespeare Kinkels innie kabel, vele kulturele deathdrops gedoen in Khoi stories of Lipsyncs daarmee oorgeskryf. Soos Oupa André skryf ek ook baie oor rasse wat nie my eie is nie, maar probeer ek ook skryf dat daai style van opeising ola/oud is. Tog kon ek raakpunte vind met Kakkerlak se misplasing en soeke na ’n plek om te hoort, en dit lat aansluit by Dora. Whashiela dink weer fokkol van die boek, dus snuif sy cocaine vanaf die boek en wens die teorieklasse op varsity om. Pastoor/James vind weer spirituele hoop met die Khoi God wat die boek aan hom openbaar. Ons kan nooit die verlede wegwens nie, maar eerder dit sinvol lat aansluit by ons hede, en ook mekaar remind aan die kak sodat ons nuwe sprinkane minder wonde los. Dalk ook dat ons dié keer kan saampraat en nie net oor mekaar praat nie. My suster Denver Torogo het onlangs sy eie weergawe geskryf van Kupido Kakkerlak wat die storie terugvat na die wortel. Ek voel ons moet altyd aanhou om in gesprek met dié voor ons te bly, to eventually kill our literary fathers.

MARCEL: Sien jy vir Dora ook as ’n soort tussengangersfiguur (vasgevang tussen die kultuur van haar eng, Afrikaanssprekende ouers en die kultuur van die queer gemeenskap waarmee sy eerder identifiseer) soos Brink se tussengangersfiguur, Kupido Kakkerlak? 

DIANNE: Kupido is vervreem van sy eie mense en komvandaan wanneer hy met die sendelinge begin werk. Ons as lesers word ook afgesny van sy waarheid wanneer James aanie woord kom in Bidsprinkaan. So ook word Dora vervreem wanneer sy weg is van die een huis na die ander. Anders as Kupido beteken haar geboorte egter fokkol vir haar, want sy wou nie gebore wees nie. “Dit het sonner my toestemming gebeur!”

MARCEL: Kulturele interseksionaliteit word in die algemeen versigtig oor getrap. Die vrees is altyd appropriasie. Die roman bevat verskillende perspektiewe, verskillende soorte mense en agtergronde is in verskillende hoofstukke aan die praat. Was dit ooit ’n kwelpunt vir jou, vir die uitgewers, vir jou lesers vooraf? 

DIANNE: Innie tyd toe ek dit skryf, was ek besig om deur ’n kulturele krisis te gan. Wat ek besef moerse easy is vir ’n Wit bitch om deur te gan. Maar ek het my racial identity gehad en was ingeneem deur Antie Ola van Botmanskopstraat en ek wou net deel wees van ’n familie wat my aanvaar soos ek is. 

Eers toe ek nie meer in daai space is nie en verder skryf, kon ek begin agterkom hoe arrogant ek omgegaan het met taal en karakter. My uitgewer het my gehelp om meer sensitief om te gaan, maar steeds eerlik te bly.

MARCEL: In Kai Cheng Thom se debuutroman Fierce Femmes and Notorious Liars (2016) (wat sy wou hê moes ’n soort anti-trans roman wees, om die ou stories te vermy “that makes us boring and dead and safe to read about”) sê een van die karakters: “Hunger is a story you get stuck in. Love’s the story that takes you somewhere new.”

Ek wil nie die einde weggee nie, maar bogenoemde stem vir my ooreen met Dora se reis in die roman. Byvoorbeeld die toneel waar Dora pas van Witkar en Pastoor afkom nadat hulle gerook het (bl. 135): “Ek wil [Pastoor] wegbid, maar ek besef ook lat die Jirre my nie daarmee kan helpie. Ek sluit my arms om myself, ek het jou lief, sê ek. Die oggend loer deurie venster. Ek het jou lief.” 

Wat hoop jy neem lesers weg van die boek wanneer hulle daardie laaste hoofstuk klaarlees? 

DIANNE: Dat ons almal liefde soek. En dat ons almal mens is. En ’n gelyke plek verdien.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Dianne Du Toit Albertze oor haar debuutroman bottelnek breek bek gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand