Hilda Smits en haar ongebore woorde

Foto verskaf deur die digter

Hoekom iemand doelbewus in die donker hou?

“All I can do is to place some fragments before you, myself among them, and as you are accustomed to digging things up and piecing them together, I trust you to do the rest.”
Romain Gary, The Roots of Heaven (1956)

“jy wat nog altyd beeldskoon was soos ongebore woorde”
Hilda Smits, mag die diep slaap jou dan (2021)

Ek moet bieg: ek het nog nie Hilda Smits se nuutste bundel mag die diep slaap jou dan (2021) klaargelees nie. Ja, ek het dit déúrgelees, van begin tot einde, hoek tot kant, gedig ná gedig, maar of die bundel, met sy ontwykende versreëls en vermiste woorde, en ek met mekaar afgereken het, is ’n ander saak. Want ek probeer nog uitpluis wie die “wafferse” vioolspeler in die bundel se tweede gedig is (bl.6):

viool gespeel in die aand soos wafferse
sodat die verkeer soos muise stil geword tot stilstand ge-

En wat maak die “kastele van water & vure” heelnag in die daaropvolgende gedig (bl.7)?

...oë neergeslaan soos hande wat weet die kamer-
a is ’n leuen wat ek van jou lomp & met liefde
in Český Krumlov is kastele van water & vure wat heelnag

En die woord “raak” wat wegraak hier aan die begin, of waaraan herinner die voëls se vriendelike, onpeilbare oë die digter aan die einde (bl.50):

sal jou vel dalk begin skubberig
& jou eensame dae minder
as jy ’n ligtoring soos ’n vis

het die voëls skielik asof uit die bloute
op ons afgepyl met die vriendelike oë van & net so onpeilbaar

Smits reageer op Joan Hambidge se vraag oor haar “onvoltooide” gedigte: “... wat beteken dit regtig vir iets om ‘onvoltooid’ te wees?” Maar ek sien my as ’n selfbehepte minnaar van voltooidheid, soos Marlene van Niekerk in haar roman Memorandum (2006) sê, en daar is te veel versreël-voorbeelde wat hierdie vraag van Hambidge regverdig: 

as jy opkyk sal die lug die blouste
mag die as in die urn in die kas saans (bl.27)

dat iemand jou met teer hande
ek hoop (bl.33)

jou stem wat my vind
toe die gesprek soos water op
toe ek in my ongemak (bl.35)

Hilda Smits se mag die diep slaap jou dan (2021, Protea)

Selfs die bundeltitel maak nie op die oog af, of oor, klaar nie. Mag die diep slaap jou dan wat? Wakker maak? Vervul? Vlerke gee? Genees? Die digbundel vra nie net vir ’n herbesoek nie, maar ook ’n heroorweeg: is die woord wat die leser inprop waar die digter dit doelbewus uitgelaat het, uiteindelik die gepaste woord? (En as die woord wat ek vanoggend met soveel toegeneentheid laat sit het teen vanmiddag net nie meer wil sit nie, gaan ek ooit met sekerheid kan sê dat ek Hilda Smits se mag die diep slaap jou dan klaargelees het?)

Met hierdie immer-onvergenoegdheid wat van kindsbeen af al soos ’n vermiste legkaartstuk by my spook, wend ek my eers hoopvol tot die artistieke genot van oop-eindes. Die onvoltooide (al reken Smits dat daar nie so iets bestaan nie). Die halfklaar. Die dubbelsinnige, onopgeloste wat by party ’n verantwoordelikheidsin kweek om al die kolletjies met mekaar te verbind terwyl dit by ander, soos die uwe, ’n gevoel van ontevredenheid wek.

Daar is byvoorbeeld Kafka se bekroonde The Castle (1926) wat in die middel van die roman se laaste sin doodloop:

She held out her trembling hand to K. and had him sit down beside her, she spoke with great difficulty, it is hard to understand her, but what she said…

Wat het sy gesê? Wat wou sy sê? Maande vóór sy afsterwe het Kafka wel aan sy vriend Max Brod gesê dat die roman sou eindig met die protagonis se afsterwe en dat die dorpie se owerhede hom nadoods as nuwe burger sou aanvaar. Tog maak baie van die roman se gegewens, soos waarom K na die kasteel gestuur is en deur wie, steeds staat op dit wat nooit gesê word nie. Ons leer ook nooit wat presies K daar moes bereik nie. 

’n Ander onvoltooide storie is Geoffrey Chaucer se The Canterbury Tales waaraan hy sedert 1387 vir meer as ’n dekade voor sy dood, geskryf het: die pelgrims kom nooit by die Kantelberg uit nie, die terugreis word nie beskryf nie, en nie al die pelgrims wat in die gedig se proloog voorkom, vertel uiteindelik ’n verhaal nie. Orson Welles se The Other Side of The Wind het hy teen 1976 nooit voltooi nie (alhoewel Netflix dit in 2018 voltooi en uitgereik het). In Screenplay: The Foundations of Screenwriting (1979) skryf Syd Field dat ’n goeie skryfstuk behels dat “everything is resolved dramatically, in terms of action and character: all questions raised are answered” (bl.63). In Viki King se How To Write A Screenplay In 21 Days (1988) is dit eweneens belangrik dat ’n draaiboekskrywer op bladsy 120 van die draaiboek ’n storiebelofte nakom wat op bladsy 10 al aan die gehoor gemaak is. 

Laat die oop-eindes van sommige versreëls in Smits se bundel my ontevrede? Miskien. Hou ek aan lees met die hoop dat ek daardie oop-eindes self sal kan knoop? Absoluut. 

Laat die oop-eindes van sommige versreëls in Smits se bundel my ontevrede? Miskien. Hou ek aan lees met die hoop dat ek daardie oop-eindes self sal kan knoop? Absoluut.
— Marcel Spaumer

In 2016 is daar ’n uitstalling by die Metropolitaanse Museum vir Kuns se Met Breuer-ruimte getiteld Unfinished: Thoughts Left Visible, met kunswerke wat óf onder omstandighede nooit voltooi is nie óf doelbewus nie voltooi is nie; die vraag oor wanneer ’n kunswerk as voltooid beskou kan word, was natuurlik sentraal tot die uitstalling. Daar is verskeie politiese, persoonlike en finansiële redes, lei ’n mens af, waarom ’n kunswerk nie voltooi sou word nie (byvoorbeeld Rosso Fiorentino wat uit Rome moes vlug ten tyde van die groot plundering in 1527, waar hy talle van sy kunswerke onvoltooid gelaat het). 

Maar dan is daar ook die non finito-styl, die doelbewuste skep van ’n onvoltooide kunswerk – ’n hunkering na die meer onopgeloste, oop estetika van kuns in plaas van die algemene, vaste idees rondom voltooidheid. Die werke van die Italiaanse beeldhouer Donatello, die kuns van Michelangelo, laatwerke van Rembrandt en Titiaan is ook voorbeelde hiervan.

Maar hoekom iemand doelbewus in die donker hou? Om insig tot ’n kunstenaar se denkproses en manier van doen te kry wanneer ’n halfklaar werk voor jou hang? Soos die Manchester Madonna (sien hieronder) wat in die laat 1490’s deur ’n jonge Michelangelo geskilder is, wat ’n idee gee van hoe die kunstenaar te werk gegaan het (Michelangelo, sien ons, het ’n groen pigment, of terre verte, as sy basistoon vir velkleur gebruik). Of om deel te neem aan ’n kunswerk? Soos Smits aan Hambidge verduidelik: “...’n proses van voltooiing wat elders plaasvind, iewers tussen die kop & hand... Die leser ’n aktiewe deelnemer, een wat nie onderskat moet word nie.”

Michelangelo se The Manchester Madonna (via The National Gallery)

Van aktiewe deelname gepraat, al ooit gehoor van die “exquisite corpse”-speletjie (oftewel cadavre exquis) wat die surrealiste in die 1920’s gespeel het? In die (moontlike) vierde afdeling in mag die diep slaap jou dan (selfs die indeling van afdelings ontbreek en word bloot gesuggereer deur ’n enkele leë bladsy) verwys Smits na heelwat surrealistiese kunswerke met behulp van gelyknamige gedigtitels, soosGoeie plek vir vis(se), Paul Klee’ (bl.50) en ‘Twee vroue omring deur voëls, Joan Miró’ (bl.51). Ander surrealiste soos De Kooning en André Kertész se name verskyn ook. 

Om die genot wat die surrealiste uit speletjies geput het, uit toeval en die onbeheerde wanneer dit by kunsskepping kom, te wys, is die exquisite corpse-speletjie gebore:

To produce the exquisite corpse, a sheet of paper is first folded as many times as there are participants. Then, each participant takes a side of the folded paper and draws from top-to-down the different parts of the piece. None of the participants see other’s contributions. Once the piece is complete, the last participant unfolds the sheet to reveal a composite piece made of previously unrelated forms that are now part of the same surrealistic creation... (José de la Fuente, 2020).

Cadavre Exquis with Yves Tanguy, Joan Miró, Max Morise, Man Ray (Emmanuel Radnitzky). Nude 1926–1927 (via MoMA)

Die gedigte in hierdie bundel speel ook, laat hulle oor aan toeval en kan allermins sintakties beheer word. Ek verbeel my hoe Smits ’n papier in versreëls vou en elke versreël dan ’n beurt kry om homself neer te skryf en oor te gee aan die volgende, totdat die gedig voor haar uiteindelik ’n groteske vorm aanneem. Miskien is dit nie die feit dat sommige versreëls, of gedagtes, nie klaarmaak nie wat my frustreer nie, maar die feit dat dit my keer op keer verras. Nes die eindproduk van ’n lekker potjie exquisite corpse.

Indien die bundel dan in wese ’n bundel oor kwasi-eindes is, moet ek nou regtig ophou iets daarvan verwag. Die gedig oor Bonnard se grafsoortige uitbeelding van sy vrou Marthe in die bad (bl.54) bevat ’n sleutelreël: “die liggaam in die roserige aand gereed soos ’n sprinkaan & net so lig”, wat myns insiens nie net as die klimaks van die bundel dien nie, maar ook as ’n rigtingaanwyser vir die bundel as geheel: mag die interpretasie daarvan gereed en lig wees, want niks is ooit vir seker of vas nie. 

So, mag die diep slaap jou dan lê steeds op my bedkassie waar ek soggens en saans soos ’n selfbehepte minnaar van voltooidheid dit probeer klaarmaak, maar ek weet: in poësie, nes kuns, nes die lewe, bestaan daar nie iets soos

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Hilda Smits en haar ongebore woorde gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand