Van klippe en berge: die poësie van Kobus Moolman

Van klippe en berge: die poësie van Kobus Moolman

Hierdie artikel is ’n vertaalde en aangepaste weergawe van Marike Beyers se ‘Of Stones and Mountains: Inner-Outer Worlds in the Poetry of Kobus Moolman’ wat oorspronklik in Engels by die Amazwi South African Museum of Literature se Literature, Heritage and Ecology Conference aangebied is. Luister hier na opnames van die aanbiedings. Vertaling deur Elodi Troskie. 


'n Ekokritiese bespreking oor die digter se innerlike-buitewêrelde deur Marike Beyers

Kobus Moolman is ’n bekende digter in die Suid-Afrikaanse literêre konteks en hy het sedert die jaar 2000 sewe digbundels en twee kortbundels (“chapbooks”) gepubliseer. Hoewel hy meestal as digter bekend is, het hy ook ’n versameling kortverhale en radiotoneelstukke agter sy naam. Sy toneelstuk, Full Circle, het in 2004 die PANSA-prys vir nuwe draaiboeke gewen en is later by die Nasionale Kunstefees opgevoer en in 2007 gepubliseer. Sy PhD-proefskrif by UKZN, ‘Autobiography of Bone’: An Original Cycle of Dramatic Poems Researching the Problematics of a Reconceptualisation of the Formal Boundaries between the Genres of Poetry and Drama, dui ook op sy belangstelling in die oorkruising van hierdie vorme van uitdrukking.

Foto: Verskaf deur Dryad Press

Moolman, gebore in 1964, het hom sedert sy jeug aan sy skryfwerk toegewy. Sy argiewe by Amazwi bevat gedigte, opstelle, boekresensies, draaiboeke en aantekeninge vir verhale sedert die laat 1970’s. Vanaf sy hoërskooljare, deur sy studentejare, en daarna. Die voorlegging van sy werk, nasionaal en internasionaal, getuig van sy fokus, asook sy betrokkenheid in die literêre wêreld, onder andere deur die reël van opvoerings en poësievoorlesings, die samestelling van bloemlesings, sy werk aan die Novel-Script Project van Twist Theatre Development Projects, en die redigering van die poësiejoernaal, Fidelities, tussen 1995 en 2007.

In ’n onderhoud met Chantelle Gray van Heerden wat in 2013 op SLiPnet gepubliseer is, het Moolman gesê: “I like the fact that drama is the words of a character in the flesh. It is words that exist on the tongue, in the moment, there and then. There is a full-fleshedness of drama that really appeals to me. But the communal aspect of theatre I find difficult. The fact that a play has to be staged, in front of an audience – with all the concomitant issues of production – for it to have its real life. This I find a trial. A poem, however, can live in private. In silence. Obscurely, without another soul in the world to help it have life. That I love. Really.”

Deur na Moolman se teenwoordigheid as digter in Suid-Afrika te kyk, blyk dit dat sy ontvangs van die 1998-Helen Martins Fellowship, geborg deur DALRO en Athol Fugard, betekenisvol was om sy poëtiese uitdrukking na ’n leserspubliek te bring. Dié toekenning het dit moontlik gemaak vir hom om in Nieu-Bethesda te woon en in 1999 het hy Stone Song self gepubliseer as resultaat van sy verblyf in dié Karoo-dorpie. In hierdie versameling wissel hy uittreksels af uit sy dagboek wat in daardie tyd geskryf is, met gedigte om die gevoel van ’n joernaal oor sy verblyf te skep. Hy dink hier veral na oor die fisiese landskap. 

Nieu-Bethesda-gedigte en langer uittreksels uit sy notaboek vorm ook deel van Moolman se digbundel, Time Like Stone, wat in 2000 deur die University of Natal Press gepubliseer is, en waarvoor hy die Ingrid Jonker-prys vir ’n debuutbundel gewen het. 

Three views of a Karoo veld

i.
Time runs like stone    
in these parts  
of bleached grass and bone.

ii.
Shards of thin sky  
bleed the veld  
desolate and dry.

iii.
Starched winds cart away  
scales of water   
from night and the day

(Uit Time Like Stone, bl.41)

Heelwat van die aspekte wat kenmerkend is van Moolman se poësie – yl taalgebruik, verbysterende gebruik van beeldspraak en ’n gevoel van skerp waarneming – kom in hierdie gedig voor. Klip, wind, water en lug is gereelde elemente in sy skryfwerk. In die English Academy Review (2010) redeneer Peter Anderson dat Moolman ten volle in staat is tot pragtige en sprekende beeldspraak, maar dat sy gedigte minder interessant word wanneer hy verduidelikings byvoeg wat op hulle betekenis dui. Nie dat hy dit in bostaande gedig doen nie. Moolman bied ’n landskap aan, maar op ’n manier wat natuurbeelde met die menslike ervaring kombineer. Deur klip as ’n herhalende beeld te gebruik, word ’n kommer oor skaal en permanensie geaktiveer; oor veranderlikheid en die mens se plek in die wêreld. Iets oor die skrywer se besorgdheid oor innerlike verteenwoordiging kan in die gedig ‘Sky’ opgemerk word: 

Sky

The sky sits still  
on an island  
of intangibility,

A blue word  
without any spelling.

(Uit Time Like Stone, bl.19)

Deur klip as ’n herhalende beeld te gebruik, word ’n kommer oor skaal en permanensie geaktiveer; oor veranderlikheid en die mens se plek in die wêreld.
— Marike Beyers

In die reaksies op Moolman se werk word die verstommende gebruik van beeldspraak en ’n droomagtige atmosfeer beklemtoon. Hoewel dit moontlik as elemente van surrealisme beskou kan word, vind ek dit slegs nuttig in hierdie opsig: indien surrealisme verstaan word as die gebruik van hoogs teenstrydige beelde om ’n gevoel van ’n droomagtige innerlike werklikheid te skep, kan dit gesê word dat Moolman eenvoudige beelde gebruik wat in drome kan verskyn om spesifieke landskappe (’n eksterne werklikheid) aan te bied wat byna van binne af herkenbaar is. Neem byvoorbeeld die volgende gedig, wat in ’n spesifieke dorp afspeel, as voorbeeld:

The wind of Bethesda

A man wakes up to the howl  
of the wind in his head  
in a place of sand and stone.

All day the doors on the street
are closed against the dust,  
the wooden window-shutters too.

Only the sun seems not to mind,   
and an old grey donkey   
that chews slowly an old rose bush.

The whole day the man is indoors.   
He sees the sky not at all,  
engrossed so in a blustery-blue.

(Uit Time Like Stone, bl.44)

Deur hierdie gedig te lees, kry ’n mens die idee van ’n reaksie op ’n bepaalde plek wat deel vorm van die waarneming, deel vorm van dit wat aangebied word. Tog hoef ’n mens nie die dorp te ken om ’n gevoel van herkenning te ervaar nie. In die gedig vra hy af hoe ons binne-in onsself binne ’n plek is. Dit spreek tot persepsie; die gevoel van innerlike ontwrigting word geskep deur die beelde van wind, ’n man se kop en plek/ruimte aanmekaar te verbind in die eerste strofe. Dan is daar die ongewone formulering van die frase: “[H]e sees the sky not at all” wat die handelinge van waarneming en opname — ’n binne en buite — jukstaponeer. “Blustery-blue” ruk aan die leser — die beskrywing leen hom tot wind en lug, maar gegewe die spreker se binnenshuise beheptheid, ook tot ’n bui of toestand.

In ’n onderhoud met Gaamangwe Mogami in Africa in Dialogue (2017) verduidelik Moolman dat hy die onderskeid tussen die innerlike en die uiterlike ongedaan probeer maak: “...to blend the distinction between the inside and the outside. Between the self and the outside world. So the things that happen out in the world do not happen out in the world, they happen at the same time inside, inside the person that is seeing and experiencing those things. It’s about seeing oneself in a greater connectivity, in a greater way of being part of instead of something that’s continually on the outside and separate. In that way, the wind, the forces, other human beings, other human being’s stories and struggles – those are stories that are happening at the same time inside as what is happening outside.”

Bostaande onderhoud is meer as ’n dekade ná die publikasie van Time Like Stone gepubliseer. In ’n onderhoud met Gary Cummiskey besin Moolman oor sy skryfwerk in die tydperk tussen die publikasie van hierdie bundel en die publikasie van Light and After (2010), en hy noem dat sy fokus dalk onveranderd gebly het: “The same small patch of earth I’ve walked round and round. The same dry bone I’ve come back to gnaw” (The Dye Hard Interviews, 2011). Hy praat nietemin oor ’n keerpunt in sy skryfpraktyk ná die publikasie van Light and After in ’n lang reflektiewe opstel ‘Whose Body is it, and What is it Doing on My Page?’, wat in 2018 deur English in Africa gepubliseer is. Hy meen dat sy vroeër skryfwerk oorheers is deur die liriese modus en hy beskou dit as beeld- en stemgebaseerde gedigte waar die subjektiewe self met die leser praat in kort, selfstandige, persoonlike uitinge. Dié gedigte is emosioneel gelaai, bevat digte beeldspraak, en is na binne gefokus.

Baie van hierdie kwaliteite is hoog aangeslaan, maar Moolman het gefrustreerd geraak met hierdie liriese stem. Hy wou ’n modus hê wat sy veranderende belangstelling in taal, identiteit, vorm en betekenis kon weerspieël en het gevoel dat hy ’n deurbraak gemaak het in sy reeks gedigte, ‘Anatomy’, wat in 2008 die DALRO-toekenning ontvang het vir die beste gedig wat in New Coin gepubliseer is. ‘Anatomy’ is ook as ’n kortbundel deur die Caversham Centre for Artists and Writers gepubliseer en is herpubliseer in Light and After. Sy nuwe werk oorkruis genres en is eksperimentele stukke wat die nie-normatiewe liggaam na vore bring. Hy maak veral gebruik van die derdepersoon as afstandsmiddel om terug te tree van persoonlike geskiedenis en hy probeer om die persoonlike te transmuteer. Hy stel belang in wat gebeur op daardie punt waar lesers gedwing word om hulle verwagting van die belydenisskrif en die eis om waarheid te laat vaar — só skryf hy vir English in Africa in 2018. 

Alhoewel ’n estetiese verskuiwing by die skrywer opgemerk kan word, is die fokus en selfs tegnieke wat later gedemonstreer word, nie afwesig in sy vroeër werk nie. Moolman het kommer uitgespreek oor die skep van kuns wat daarvan afhang dat die kunstenaar met die naelstring gekoppel is aan die betekenis van hulle werk. In ’n resensie van die Owl House, ‘Nieu-Bethesda Revisited’, wat in 1999 in De Arte gepubliseer is, oorweeg hy die posisie van die buitestanderkunstenaar en die obsessiewe innerlike fokus van Helen Martins se lewenswerk. Miskien is sy skepping van landskapsprotrette deel van sy belangstelling daarin om sy skeppings buite homself te plaas — ’n moontlike teëgaan van ’n impuls tot oorweldigende innerlikheid. Dit is ook waarop lesers deurgaans in sy werk reageer — wat Anderson in die English Academy Review (2010) beskryf as die “onwrikbare ontvanklikheid van sy oog en sy oor, sy getrouheid aan die wêreld”.

Moolman erken self ’n wegbeweeg van die eerstepersoon-enkelvoud in sy vroeër werke, en dit is veral opmerklik in sy aanbieding van landskap. Ek wil egter nie in ’n bespreking ingaan oor die inklusiwiteit of toeganklikheid van ’n eerstepersoon-sprekende stem in teenstelling met ander wyses van vertelling in poësie oor die algemeen of selfs in Moolman self se werk nie. Sy gebruik van die derdepersoon is opgemerk deur resensente reeds voor die werk wat hy as keerpunt geag het. Arja Salafranca, byvoorbeeld, het die beskrywing van sy werk as ’n belydenisskrif verwerp, met spesifieke verwysing na Separating the Seas (2007). Deur Moolman se gebruik van sprekers in sy verskeie versamelings te bestudeer, blyk dit vir my dat hy besonder bekwaam is om gedigte te skyf (veral oor landskap) sonder om enige voornaamwoorde te gebruik. 

Dit lyk asof een van die sterkpunte van Moolman se skryftalent sy vermoë is om lesers binne ’n landskap te plaas – soms van ’n bepaalde geografiese plek, maar meestal ’n klein naamlose toneel (’n agterplaas, ’n strand, naby ’n berg) – deur noukeurige waarneming te kombineer met aandag aan persepsie om ’n sterk tonale werk te skep wat weerspieël wat dit is om aandagtig te wees oor die mens se ervaring van die wêreld.

Dit lyk asof een van die sterkpunte van Moolman se skryftalent sy vermoë is om lesers binne ’n landskap te plaas [...] deur noukeurige waarneming te kombineer met aandag aan persepsie om ’n sterk tonale werk te skep wat weerspieël wat dit is om aandagtig te wees oor die mens se ervaring van die wêreld.
— Marike Beyers

In ’n onderhoud met Michelle McGrane wat in 2005 op LitNet verskyn, besin Moolman oor sy belangstelling in skryf oor die natuurlike wêreld: “I’m not a great or knowledgeable naturalist, but I do believe that the non-human world, the world without us, has been around long before us and will continue long after us. We are not that important at all. We have to come back to a proper sense of ourselves and our place in the scheme of things […] In that way the natural world is important to my work.”

Left Over (The Dye Hard Press, 2013) en A Book of Rooms (Deep South, 2014) is boeke van eksperimentele werk. Ironies genoeg is hierdie werke (en tot ’n mate Light and After) aansienlik meer as droomagtig en innerlik-gefokus geïnterpreteer as van sy vroeër werke. In ’n 2014-resensie van Left Over vir New Coin beskryf Kelwyn Sole Moolman as ’n meester van die liriek, maar ’n liriek waarin menslike subjekte reageer op die landskappe, voorwerpe en natuurlike wêreld waarmee hulle omring word — en soms lyk dit of hulle daardeur oorweldig word. In sy werk is Moolman bemoeid met die raakvlak tussen die binne- en die buitekant en met die nie-normatiewe liggaam, skryf hy verder. Daar is min begeerte om na ’n innerlike of subjektiewe wêreld te ontsnap, meen Sole, aangesien die digter die beperkings van so ’n wêreld ken.

Denis Hirson vind dat A Book of Rooms (2014) outobiografies blyk te wees, maar dat dit in die derdepersoon aangebied word om ’n noodsaaklike mate van hefboomwerking tussen die skrywer en sy onderwerp te skep. Die visuele element in die boek is baie sterk, skryf hy in 2015 vir New Coin, waar die kontoere van die buitenste wêreld in innerlike persepsie paradoksaal ingesuig word. Hirson kom tot die gevolgtrekking: “[Moolman] has made out of this book of rooms an open if tentative breathing space, one where the third person who might well stand for himself ‘may still be’.”

Die liriese stem, wat die persoonlike ervaring verteenwoordig op ’n wyse wat kan resoneer; die skakels of eenheid tussen innerlike en uiterlike wêrelde — dít bly kwessies in Moolman se werk. In sy meer onlangse werk is daar ’n baie direkte betrokkenheid by plek en besinning oor ons teenwoordigheid in die natuurlike wêreld. All and Everything: Scenes from a Winter Farmland (uHlanga, 2019) is ’n kortbundel — ’n reeks meditatiewe en minimalistiese gedigte. Die gedigte spruit voort uit sy verblyf op die plaas Ekuthuleni in die KwaZulu-Natalse Middellande.

Alhoewel hierdie gedigte amper as fragmente voorkom wat bymekaarkom deur die versameling as ’n geheel te lees, sal ek ’n paar aanhaal:

Cattle on a distant hill  
changing places, running ahead  
stopping to graze – 

***

How to put back together
the logs from an old oak tree?

How to replace  
the long cold days with sunlight?

(Uit All and Everything, bl.12—13)

In hierdie eenvoudige direkte beskrywings — elke toneel ’n beeld op sigself, nie eers deur die direkte gebruik van metafore nie — kan ons ’n skets van onsself sien waar ons deel vorm van die seisoene en die subtiele manier waarop ons behoeftes en wyse van bestaan in die natuurlike wêreld, bevraagteken word. 

There is no door to open,  
no window to look through.

There are walls tight around you  
even though they are not in sight.

(Uit All and Everything, bl.14)

Hierdie versameling sluit in sketse deur Shubnum Khan wat die minimalistiese benadering onderskraag. Daar is ’n beweging na ’n interne ervaring, huisbeelde word gebruik as bekende metafore vir die self, en ’n mate van selfbewustheid binne die landskap word opgewek. In 2020 skryf Tony Voss vir Stanzaz dat hierdie verbeeldingswerk deur liriek en denke aan temas raak wat die natuurlike wêreld, menslike nedersetting en transendentale viering insluit. In die werk word ’n beweging beskryf van donker na lig, van inperking tot vrylating en, soos Voss dit stel, is die punt dat daar deur die gedigte beide ’n ruimte van vrede geskep en ontdek word. 

Dry grass inside the light.  
Still light like birds  
suspended from the wind.
No sound out or inside of anything.
Only light is all.
All and everything.

(Uit All and Everything, bl.27)

Moolman se mees onlangse digbundel is The Mountain behind the House (Dryad Press, 2020). Stuart Payne (Stanzas, 2021) beskryf die gedigte in hierdie bundel as die aanbieding van lewenskragtige, eksterne en interne wêrelde. Die leser word geplaas in ’n wêreld wat streng georganiseer word deur konkrete beelde en die interne wêreld kan slegs benader word deur die rangskikking van die gedig – die interne en die eksterne is hiervolgens nie meer onderskeibaar nie: 

I Am That Stone

I am that stone.
Red mountain in the morning.
I am that stone that sits.
Sharp static of cicadas.
I am that stone that sits still.
Sky between wind and rock.
I am that stone that burns silently.

(Uit The Mountain behind the House, bl.9)

Hier is sekerlik geen verleentheid in die “ek” as spreker nie – die gedig bevat ’n inklusiewe kwaliteit, met beelde uit die elementêre wêreld en ’n versigtige opbou van herhalende frases wat by elke iterasie uitbrei, en afgewissel word met besonderhede van plek en tyd.

Die gedigte is in vyf afdelings verdeel, waarvan die meeste ’n sterk gevoel van plek aandui: 1) “Mountain” (’n enkele gedig ‘New House’ wat die spreker in ’n landskap posisioneer), 2) “Here” (klein narratiewe en tonele wat gelees kan word in verbintenis met ’n nuwe omgewing), 3) “There” (gedigte van verskeie plekke: Calgary, Nieu-Suid-Wallis, Canberra, die N1-hoofweg, ’n padreis en plekke in die Vrystaat en Oos-Kaap), 4) “Mother” (’n verkenning van oorsprong en eindes), en 5) “Everywhere; Bone & Nowhere” (gedigte wat handel oor behoort en artistieke integriteit; ons plek in die heelal).

Joan Metelerkamp lees hierdie bundel as ’n tuiskoms: “This book takes me home; it puts me back in touch with myself and that’s a hard and painful and utterly moving experience,” skryf sy vir New Coin in 2021. Moolman bou lys-agtige beelde wat hom karakteriseer as ’n digter wat dink/voel, wat met sy hele wese waarneem.

Ystervarkvallei – II

Makhanda
for R. B.

Brown mushrooms in the grass, and tiny yellow flowers, and dry cow pats, and clumps of dry grass, and small pieces of stone, and some broken bricks, and scuffed patches of bare black earth, and a dead branch, and a piece of rotting wood, and a lump of concrete, and a twisted roll of wire, and a rusted section of iron railing, and a broken fence post, and small purple flowers on long thin stalks, and flies, and cicadas, and the chirping of birds, and a cold wind across the back of your neck, and a cold wind across your lower back where your jersey and your trousers fail to meet, and low grey clouds over the face of the hill, and the hill still, still, moving slowly in the foreground, beneath the sun, in the close and distinct detail of tree and bush and grass, but still and uniform in the background of brown and grey and shades of anonymous green.

(Uit The Mountain behind the House, bl.26)

“The more pared down, the simpler the writing becomes, the listing of perfectly relevant perfectly observed detail (if also surreal – the familiar as surreal), the more the poet opens to us,” skryf Metelerkamp. “The wonderful thing about the book is how open and spacious it is although the poems might seem at first glance to be small. Their preoccupations are with loss and confusion as wide and hard as the mountain behind the house.”

Vir Payne, na wie ek vroeër in die artikel ook verwys, het Moolman se gedigte die suggestiewe kwaliteit van skilderye en bied dit vir ons getransfigureerde wêrelde waardeur ons, ons eie ervaring kan oorweeg. Dit stem ooreen met Moolman se siening, soos hy in 2018 vir English in Africa skryf, dat dit deel van die werk van digters en kunstenaars uitmaak om verby dit wat ons reeds ken te beweeg; om uitdrukkingvorme te vind wat nie soseer oorspronklik sal wees nie (“all language is recycled”), maar wat eerder ophelderend sal wees. Vir Moolman is dit belangrik dat kuns — dat letterkunde — deel is van ’n groter geheel:

Literature lets in. It lets the world in […] For me, my works don’t come from me, they come through me. What is on the other side of me, I don’t know. That is the place of origins […] It is from a place that is much bigger and deeper and darker and older than me […] It’s about my own personal relationship with things that are bigger than me. With the world that is bigger than me, which existed before me and will exist after me.                                                                                                 (Africa in Dialogue, 2017)


Marike Beyers is ’n skrywer en kurator by Amazwi. Sy het letterkunde en biblioteekwese gestudeer en is betrokke by die kreatiewe skryfprogram by Rhodes Universiteit. Haar gedigte het in New Coin, New Contrast, Loop, Ons Klyntji, Aerial, Tyhini, die Sol Plaatje EU Poetry Anthology, The Ground’s Ear en For Rhino in a Shrinking World verskyn. Sy is die skrywer van twee digbundels, On Another Page (Aerial Publishing, 2011) en How to Open the Door (Modjaji Books, 2016), en sy is die samesteller van The Only Magic We Know (Modjaji Books, 2020). 

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Van klippe en berge: die poësie van Kobus Moolman gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand