Bibi Slippers se nuwe bundel: deleted scenes en bonus tracks

Bibi Slippers se nuwe bundel: deleted scenes en bonus tracks

Grafika via bibislippers.com

Kry solank jou poetry fix voor Soekenjin een van die dae op die rakke is!

Bibi Slippers se langlanglangverwagte tweede boek verskyn hierdie maand. Soekenjin is ’n kontemporêre digbundel oor die Internet van Dinge en volg sewe jaar ná haar debuutbundel Fotostaatmasjien, wat met byna al die Groot Pryse bekroon is.

Bibi het ook onlangs haar website ge-launch! Bibi Slippers dot com is ’n experience to behold: Hier kry jy ’n glimpse tot dié enig-in-haar-soort Afrikaanse skrywer se gedagtes en al die boeke en bundels en songs wat deel gevorm het van die skryfproses van Soekenjin.

Hier is ’n paar OG Bibi Slippers-gedigte en micro fictions wat nêrens anders te vinde is nie, al google jy hóé.


VLAK WATER, LANGBAAI

ek vou my om jou soos ’n skuifspeld in die vlak water van langbaai ons is twee velle
papier wat bymekaar hoort, ’n stapeltjie kleindoodsertifikate. jy maak regmerkies op
my lyf ons skryf aan iets, maar dis nog ’n geheim. ek wil hê jy moet my oopslaan en
my omblaai, my dalk selfs recycle. ek wil terugkom as ’n koevert, ek wil hê jy moet
my vol stop en my lek, my toeplak en my pos. ek wil hê jy moet my … wag, wat maak
hierdie brief in hierdie bottel in die vlak water van langbaai? wat soek hierdie skryf-
behoeftes by die see? jy met jou buisie gom, jy’s ’n bietjie van ’n ponsmasjientjie, ne?
en ek, ek is ’n printer en ’n skêr. ek wens jy was my day job in die vlak water van lang-
baai, ek sal jou so goed doen dat ek bevorder word, tot bo. ontmoet my in die hoek-
kantoor, ek het ’n fles vol langbaai op my lessenaar. druk toe daai deur. ons skip kom in.

 

shazam

in die stilte van slaap is jy ’n wit skulp
die musiek is binne
ek shazam die naglug wat in jou weerklink  
want ek moet weet watter liedjie in jou speel
wil ’n naam maak van jou afdruk op my oordrom

LISTENING
Please don’t refresh or close this page

die verskuilde klankdata onder jou dop
golf op in die oorgee
ore gespits tot agter die onmiddellik hoorbare
waar die shhhhhhh van jou woordelose teenwoordigheid
sensitief en nuuskierig net bo die klankbodem sis

SEARCHING FOR A MATCH
Please wait

ek hoor ’n gons en ’n neurie in jou, pre-musiek
en eksentrieke klein klikkies soos bamboes of riet
krap krrts kliek kliek       
beheer in die sagte kraak voor die pedaal se sug
die ligte raak aan klawers wat nuwe akkoorde pars 
uit raaisels en sjarme

EXPANDING SEARCH
Hang tight

en dan die stem vars soos ’n fluit
hees van asem en helder van verdriet
wat die melodie laat huiwer in die grysblou
toonkleur van ou hartseer lewe op lewe lê laag
op laag in die mineur van verlies veraf registreer
die suiwer snot en trane van drie viole

THIS IS A TOUGH ONE
Last try

niks ween soos ’n eensame kitaar wat terugjaag
na gister nie temend op die spoor van als wat hy daar
verloor het
daar is ’n blaasinstrument wat troos bring soos warm
asem deur ’n handdoek en die dryfveer van digte harmonie
maar helaas al hoor ek soveel dinge

COULDN’T QUITE CATCH THAT
ek herken nie hierdie liedjie nie

 

DRIE SKAKERINGS PIENK

PINK BUBBLE

drie bath bombs diep in hierdie dinsdag maar ek kan steeds nie ontspan nie. die angs het al haar angels vir my in, die gegons hou nie op nie. die vormlose bekommernis is elektries en gevlerk, dit swerm voor die venster, ’n aandringende sis dryf ’n abstrakte krisis op die spits. ek tap nog water in die bad en omdat ek nie tegnies meer van gesonde verstand is nie, gooi ek nog ses bath bombs by: Think Pink, Butterbear, Sweet Pudding, Snow Fairy Lights, Sex Bomb en Marshmallow World, dis al die pienkes. en nou is ek in ’n veilige borrel wat geweef is uit die woorde van kopieskrywers wat te min vir hierdie werk betaal is. ek word omarm deur ’n bear hug in the tub, gevul met sweet candy courage. ek rus in comforting marshmallow clouds, die sensual jasmine bestseller kry my dadelik in die bui. jip, hierdie is inderdaad rose tinted hollywood bathing en in die pienk seepbel is daar nie een probleem nie. bye!

SUPER PINK

Die Wetenskaplike verklaring vir Superpienk se kragte is die battery-effek. Haar selle word volgetap met bonatuurlike energie, die bron is buite haar: die wonderblom, ook bekend as The Marvel of Peru of vieruurtjie. Haar krag is net teenwoordig as die vieruurtjie oopgaan en die aand soos aanmaakkoeldrank ruik. Een plant, soveel kleure. Een glas, soveel geure KoolAid. Dis tien voor agt. Daar is min tyd oor. Superpienk staan kontverstom, oorstelp van verwondering, aan die grond genael van verbasing voor die blombak van die veelal.

TINY PINK

Tiny Pink was ’n seeperdjie vir die eeue, ’n klein komeet wat deur die water geskeur het met ’n opvallende mengsel van krag en grasie. Mense het van regoor die wêreld gekom om Tiny Pink in aksie te sien. Dit was moed, meer as natuurlike talent wat hom van sy opponente onderskei het. Hy was onverskrokke wanneer die noodlot onvriendelik teenoor hom was, en ’n volbloed oppermag op ’n goeie dag. Teen die middel van sy loopbaan was Tiny Pink ’n legende in wording. Onvergeetlik, sy oorwinnings oor Colour Vision, Twice Over en Dream Ahead. Later in sy loopbaan het hy sy teenstanders getart. Teen die laaste wedloop kon niemand oor ’n ander perdjie praat nie. Alles het by Tiny Pink begin en geëindig. 88 seeperdjies is teen hom gery en nie een kon by hom bly nie. Agt jaar na sy aftrede jaag hy steeds snags deur my drome. Die skare juig en die see ruis in die verte. Tevrede. Of ontevrede.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Bibi Slippers se nuwe bundel: deleted scenes en bonus tracks gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand