Agter die skerms van Bibi Slippers se fliek Matilda & Matthys

Agter die skerms van Bibi Slippers se fliek Matilda & Matthys

BTS-foto’s deur Nathan Smith

Onderhoud deur Andréa Müller

Bibi Slippers benodig geen introduction nie. Met die publikasie van elkeen van haar digbundels, is Bibi The Moment. In 2017, met die publikasie van Fotostaatmasjien, het Bibi die literêre scene betree in haar polkadotrok met haar geel bundel, skaap-tattoos en quirk, en sy is gou bestempel as die Queen van Afrikaanse Hipsters. Bibi het jonk en oud aan die lees en praat oor poësie gekry. Fotostaatmasjien is immers met die UJ Debuutprys, die Eugène Marais-prys, die Elisabeth Eybers-prys, asook die ATKV-Woordveertjie vir Poësie bekroon. Toe weer, in 2023, is in koerante en op Instagram alike gegons en gejuig oor ’n pienk boek wat in Oktober op die rakke verskyn en Bibi, The Poet, se return aankondig: Soekenjin. (Die bundel verwerf die meeste boekverkope by die Woordfees van dieselfde jaar.) 

Nou, in 2024, het Bibi met die skryf en regisseer van Matilda & Matthys haar debuut as writer-director van haar eerste vollengte (feature) film gemaak. Matilda & Matthys is egter nie Bibi se heel eerste rodeo nie. In 2022 kon sy reeds writer/director ná poet op haar CV sit toe sy vir Silwerskermfees die kortfilm Die horries geskryf en geregisseer het. En sy het ook die teksverwerking van Annie Klopper se roman Die tragiese saak van Pamina Vermaak vir die skerm behartig, wat in 2023 by die kykNET Silwerskermfees gedebuteer het.

Matilda & Matthys is wat ’n mens ’n “off-beat romcom” sal noem. Dit volg die verhaal van twee “rasionele” mense wat nie inkoop op Ware Liefde en Happily Ever After nie. Matilda (vernoem na Bibi se windhond; vertolk deur Emma van Heyn) is ’n aspiring jong (en baie ernstige) skrywer wat nie tyd het vir liefde en romanse nie. Daai shit is net afleiding wat haar van haar skryfwerk sal ontspoor. Matthys (Adrian Steyn) is ’n tech entrepreneur wat dink dat hy die formule (en app) om die perfekte pasmaat in minder tyd en met minder moeite en heartache te vind, uitgewerk het. (Sy strategie behels die vra van drie deurslaggewende vrae: 1. Is jy iemand wat die tandepastabuisie druk, of rol jy dit van die onderkant af op?; 2. Volg jy die reëls of is jy ’n reëlbreker?; 3. Glo jy in gelukkige eindes?)

Emma van Heyn as Matilda (spot die cheeky verwysing na Slippers se Fotostaatmasjien)

Adrian Steyn as die über-logical Matthys

Wanneer Matilda en Matthys by chance ontmoet, dink hulle dat hulle Die Liefde en al die baggage wat daarmee gepaard gaan, kan sidestep deur die belaglike mating rituals van die gepeupel op te voer as verskillende karakters, met verskillende name, in kostuum. Só het hulle die romance of a lifetime net vir een dag in die jaar (op Valentynsdag, nogal), en sonder die onnodige emosies (🤢) wat gewoonlik op sulke rendezvous’s volg. Matilda se skryfwerk word beter en Matthys dink hy raak die dating app-algoritme baas. Hulle gaan hulle separate ways, tot volgende jaar. No strings attached. Of so dink hulle.

Want as daar één ding is wat ’n romcom vir ’n mens oor Die Liefde leer, is dit dat daar áltyd strings attached is. Iemand se hart gáán gebreek word. En Matilda en Matthys se storie is g’n uitsondering nie, al dink hulle hulle is moerse slim en (juis daarom) above falling in love. Ek gaan nie verder oor die plot uitbrei nie, maar spoiler alert: Matlida en Matthys kan ook nie die Happily Ever After-ending vryspring nie (granted, ná ’n wille plot twist). En dis cute en wholesome AF. ❤️‍🩹

Al is Matilda & Matthys ’n romcom, bied dit meer as wat die sugary-sweet oppervlak van die genre belowe. Onderlangs vang dit ’n generasie se vrees vir commitment vas en bied dit oomblikke waarin kwesbaarheid en onsekerheid met rou eerlikheid uitgebeeld word. Tussendeur die quirkiness van die karakters, die ironie, die mooi estetika van die skote, die cool musiek en Matilda en Matthys se sporadiese verbreking van die vierde muur (think Fleabag) – alles elemente van die film wat dit ’n groot plesier maak om te kyk en boonop verfrissend maak – is daar oomblikke waarin die tenderness tussen Matilda en Matthys trane in my oë en ’n knop in my keël gelaat het. Dis baie moeilik om nié vir Matilda en Matthys te root nie. Veral wanneer hulle dinge kwytraak oor die hart van die heelal wat in die mensehart klop. (Be strong, my fragile heart! 😭) Bibi is ’n digter, after all.

Kyk die lokprent hier vir ’n verdere voorsmaak.

Al is Matilda & Matthys ’n romcom, bied dit meer as wat die sugary-sweet oppervlak van die genre belowe. Onderlangs vang dit ’n generasie se vrees vir commitment vas en bied dit oomblikke waarin kwesbaarheid en onsekerheid met rou eerlikheid uitgebeeld word.
— Andréa Müller

Bibi het ná die verfilming van Matilda & Matthys ’n hele paar wenke en insights in die gruelling (so blyk dit) proses om ’n vollengte film te skryf en te regisseer, op haar Instagram gedeel. Ons deel hier BTS-foto’s deur Nathan Smith vir ’n verdere peek into die proses, en ek peper Bibi met ’n paar vrae oor directing, writing en dating.

ANDRÉA: Wat is moeiliker: om ’n digbundel te skryf of om ’n film te direct?

BIBI: Alhoewel ek baie tyd nodig het om te skryf, dink ek nie dis moeilik om gedigte te skryf nie. Dis ’n uitdaging om die tyd te vind wat mens toelaat om op gereelde basis die headspace te cultivate wat nodig is om gedigte te kan skryf.  

Om ’n fliek te direct, was die grootste vreugde van my hele professionele loopbaan tot dusver. Maar om ’n fliek te skryf… Dit is die moeilikste ding wat ek nog vir werk gedoen het. (Die vorige goed wat naastenby so moeilik was, was die episode van Hotel wat ek moes skryf en om die eerste draft van die draaiboek vir my kortfilm Die horries te baar.)

ANDRÉA: Wat wens jy het jy geweet vóórdat jy begin direct het?

BIBI: Ek was baie lucky om voor Matilda & Matthys ’n Silwerskerm-kortfilm te kon maak en die vervaardiger van daardie eerste poging, Corné Koegelenberg, is self ’n regisseur en skrywer (ja, okay, hy is ook my boyfriend) en hy het my destyds so mooi ge-coach oor wat ’n regisseur moet doen en hoe om dit te benader. So ek’t hierdie keer mooi geweet hoe om dit te benader, maar die hoeveelheid vryheid en vertroue wat Matilda & Matthys se vervaardiger, Danie Bester, my as first-timer op ’n vollengte fliek gegee het, was incredible. Maar om jou meer reguit te antwoord: Ek wens ek het voor die tyd geweet als gaan okay wees! Ek sou myself baie agony en trane gespaar het.

ANDRÉA: Wat was die moeilikste tydens die skryf en directing van die film? En wat was die lekkerste?

BIBI: Die moeilikste was eerlikwaar om nie heeltemal mal te raak van fear of failure nie. Veral met die skryf, want dan het mens baie tyd om dinge te oordink en jy is baie lonely. Die lekkerste was die team effort op die stel. Dit was die span van drome!  

ANDRÉA: Hoe was die vibe op stel? Hoe het ’n tipiese dag van skiet gelyk?

BIBI: Ek dink die cool ding van fliekmaak is dat daar nie iets soos ’n tipiese dag bestaan nie – die dae is so verskillend en uiteenlopend. Maar mens begin vroeg en jy werk lang ure en dit raak partykeer bietjie crazy, maar flip, ek verlang nog gereeld terug na die hele vibe! Mens moet jouself elke nou en dan knyp en gaan “Hoe word ek betaal hiervoor!? Hoe is hierdie actually ’n werk? Dis dan so ’n jol!?” Die weirdste dag was seker die een in die bowling alley wat in so ’n decrepit mall se basement geskiet is, en ons het onsself byna vergas met ons generator se uitlaatgas. Die mees stresvolle dag was toe ons trok met al die gear in op pad stel toe op die highway gaan staan het – en natuurlik sal dit op ons mees tegnies-uitdagende dag gebeur. Maar als het mooi uitgewerk! Ons het ons dag gemaak en ons het besef ons is besig om carbon monoxide poisoning op te doen voor iemand uitgepass het!

ANDRÉA: Wat het die skryf en directing van ’n film vir jou geleer oor skryf?

BIBI: Ek het (weer) geleer dat niks heeltemal so kak is soos mens dink dit is nie en dat fliekskryf, soos enige vorm van skryf, so baie gaan oor oorskryf en verbeter. Ek het geleer ek moet vinniger daai eerste draft probeer uitkry, maak nie saak hoe swak dit is nie – want jy kan net oorskryf as jy iets geskryf het!

Directing leer mens om op jou span te vertrou. Fliekmaak is spanwerk en jy MOET ander mense toelaat om hulle werk te doen en oop wees vir insette. Jy kan nie op jou eie ’n fliek maak of mense te veel micro-manage nie. Jy moet mense vryheid gee en werklik glo in hulle vermoëns om hulle werk te doen.

ANDRÉA: Wat (of wie) was die grootste invloede en/of inspirasie vir jou director’s vision vir Matilda & Matthys?

BIBI: My ultimate favourite romantic movies is Eternal sunshine of the spotless mind, Punch drunk love en Amélie. Maar op die oomblik is my smaak en my eie ability nog baie ver uitmekaar as dit by movies kom – so alhoewel ek al daai movies weer gekyk het terwyl ek geskryf het en moerse inspired is deur die werk van die skrywers en directors, het ek ook net hope silly romcoms gekyk, en veral made for Netflix movies wat met kleiner budgets as moerse budget romcoms gemaak is. Ek wou net ’n kykbare movie maak wat technically nie te groot balls up is nie en leer wat ek moet leer, en hopelik goed genoeg doen dat ek weer die kans kry om ’n fliek te maak en volgende keer bietjie meer ambitious kan wees en hoër mik.

ANDRÉA: Wat het jy gelees, gekyk en geluister tydens die skryf en verfilming van Matilda & Matthys?

BIBI: Die meeste skrywery aan Matilda & Matthys het in 2022 gebeur, so ek’t nou na my Apple Music Replay 2022 playlist gaan kyk en die top-10 daai jaar was:

  1. Little freak – Harry Styles

  2. Scarlett – Holly Humberstone

  3. Free – Florence and the Machine

  4. Friendly fire – Holly Humberstone

  5. Bleach – Isaac Dunbar

  6. Fucking up what matters – Tegan and Sara

  7. Groter dan ik – Froukje

  8. Anti-hero – Taylor Swift

  9. The coast – Noah Gundersen

  10. King – Florence and the Machine

Sheesh, ek was baie sleg met dokumenteer watter boeke ek gelees het in 2022. Daar’s seker ’n lysie êrens in ’n notebook, maar ek is nie by die huis om te check nie. Een boek wat uitstaan uit 2022 is Lessons in chemistry van Bonnie Garmus. En ’n boek wat definitief van die dinkery oor Matilda & Matthys geïnspireer het, is Modern romance van Aziz Ansari en Eric Klinenberg. Ek het When Harry met Sally se draaiboek seker vyf keer gelees om te probeer verstaan hoe Nora Ephron doen wat sy doen, en baie teorie gelees oor screenwriting.

Ek het Mike Mills se flieks herkyk toe ek begin dink het oor hoe ons Matilda & Matthys gaan verfilm binne die beperkings wat ons begroting toelaat. Veral Beginners was vir my ’n mooi voorbeeld van iets wat nie vreeslik flashy is nie, maar steeds charming. Ek was ook baie enamoured deur Palm Springs (die millennial Groundhog Day met Andy Samberg) en het dit herhaaldelik gekyk en die draaiboek gelees om te probeer verstaan hoe so iets werk. Van die meer silly romcoms wat ek weer gekyk het, was 50 first dates, al die classic Richard Curtis movies, My best friend’s wedding, Eat pray love… O, en Fleabag!

ANDRÉA: Waar het jy die inspirasie gekry vir al Matilda en Matthys se karakters?

BIBI: Daar het ’n punt gekom waar die deadline die enigste inspirasie was. Ek’t letterlik ’n Google doc gemaak met die titel DATES BRAINSTORM en alles wat ek kon uitdink, gebruik. Die script was heeltemal te lank en ek moes baie daarvan sny.

ANDRÉA: Watter van Matilda en Matthys se rolspelkarakters is jou gunstelinge?

BIBI: Ek geniet die toneel waar hy ’n chef genaamd Gordon is en sy ’n honger supermodel genaamd Candeece. En die laaste date, waar hy ’n loodgieter is en sy ’n danser. En dan ook neef Henry aan die einde…

ANDRÉA: Wat het jy by Matilda en by Matthys geleer oor die liefde? Of dalk: Het jy enige lesse as regisseur tydens verfilming geleer wat oorgedra kan word tot life and love?

BIBI: Die hele proses was ’n massive exercise in vulnerability – en ek dink dis eintlik ook maar Matilda en Matthys se major les. Hulle wou op verskillende maniere vulnerability sidestep – en (spoiler!) dit werk nie so nie. Not in filmmaking and not in love.

ANDRÉA: Jou top drie kure vir ’n gebroke hart?

BIBI: Reis alleen oorsee. Swem gereeld in die see. Lees poësie.

ANDRÉA: Drie red flags op ’n first date?

BIBI: Ongeskik teenoor waiters. Taylor Swift-bashing. Te goed om waar te wees.

ANDRÉA: Drie green flags op ’n first date?

BIBI: Self-awareness. Die vermoë om vir hulleself te lag. Lights up around animals.

ANDRÉA: Jou idee van ’n perfekte first date is…?

BIBI: Ek hoop dat ek nooit ooit ooit weer op ’n eerste date hoef te gaan nie – maar as dit moet, hoop ek dis ’n totally onbeplande event wat uit iets anders voortspruit, en dan net sy eie gang gaan en nie wil ophou nie.

ANDRÉA: Volg jy die reëls of is jy ’n reëlbreker, Bibi?

BIBI: Is buig ’n opsie?

ANDRÉA: Glo jy in gelukkige eindes?

BIBI: Ja, ek glo absoluut in gelukkige eindes – maar ek het vir die langste tyd ’n wanindruk gehad oor wat ’n gelukkige einde behels en beslis ook nie geweet hoe om by een uit te kom nie! Ek wil wel bysê dat ek nog meer entoesiasties is oor gelukkige beginne… On a Wednesday, in a café, I watched it begin again… En so aan 🙂

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Agter die skerms van Bibi Slippers se fliek Matilda & Matthys gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand