Dave Pepler: Ons beheptheid met bome kom van vêr
'n Besinning oor die kunsuitstalling Boom, Bomer, Boomste by die Breytenbachsentrum
Boom Bomer Boomste is die derde uitstalling in die Breytenbachsentrum se Grond-reeks, wat nou ’n jaarlikse instelling is. Anne-Ghrett Erasmus, bestuurder van die Breytenbach-galery, vertel dat die Grond-reeks deur Ampie Coetzee se boek, ’n Hele os vir ’n ou broodmes (2000), geïnspireer is. Hierin teken Coetzee die geskiedenis van grond in Suid-Afrika aan via die letterkunde, beginnende met die dagboeke van Jan van Riebeeck, plaasromans, en so meer.
In Boom Bomer Boomste is die fokus op bome en die ondergrondse kommunikasie tussen die bome en ander plante en swamme. Die kunstenaars wie se werk deel vorm van die uitstalling wend hulle almal tot die natuur — veral bome en die grond — vir inspirasie. Die kunstenaars is Estelle Marais, Susan Grundlingh, Gustav Bester, Nanette Ranger, Johan Swart, Varenka Paschke, Zonia Scheffer, Sharle Matthews, Jacques Dhont, Zach Mukwira, Kobus Coetzee, Heinz Mödler, Estelle Louw, Desireé Malan, Ros Koch, Hendré Retief en Susan Bloemhof. Die werke wissel van skilderkuns, keramiek en fotografie tot beeldhoukuns en funksionele kuns.
“Dis elke keer ’n verrassing as die werke by die galery afgelaai word,” sê Anne-Ghrett. “Dis asof daar ’n onsigbare bewustheid van mekaar se werke en skeppingsprosesse bestaan. Neem byvoorbeeld Gustav Bester se Bloekombas-reeks, sy houtsneebloekoms, asook sy KLANK VAN HOUT-beelde. Dit voer ’n duidelike gesprek met Johan Swart se wonderlike aardse keramiekwerk. Ook Kobus Coetzee se houtlampie skakel met Gustav se beelde. Jacques Dhont se groot boombasbeeld van ’n ‘helikoptersaad’ tree in gesprek met die bloekombasskilderye, sowel as Estelle Marais se landskapskildery. Susan Bloemhof (olieskildery), Susan Grundlingh (olieskildery) en Estelle Louw (mosaïek) se werke deel ’n rykheid en tekstuur van oorvloed, veral in hulle kleurgebruik en style. Daar is ook skakels tussen Heinz Mödler se gestroopte foto’s van bome in Namibië, Kobus Coetzee se sterk houtskoolwerke, Desireé Malan se cyanotypes en Hendré Retief se swart en wit foto’s. Dan weer tussen Ros Koch se skilderye en Nanette Ranger se beelde.” – Elodi Troskie
Dave Pepler was die spreker by die opening van Boom Bomer Boomste in Februarie. Lees sy praatjie hier onder.
Dave Pepler oor Boom, Bomer, Boomste
As kuns nie visceraal met jou omgaan nie, is dit nie kuns nie.
Wat gebeur met die aanskouer in die teenwoordigheid van kuns? Ek weet nie, maar ek het dit al telkemale beleef. In 1975 besoek ek die eerste keer die ou Tate in Londen. Ek was op pad na die sagte waterlelie-pap van Monet, toe ek onverwags, en onbeplan, my skielik vasloop teen Francis Bacon se Three studies for figures at the base of a crucifixion. My bene het padgegee. Later, met Mark Rothko, gebeur dit weer.
My soeke na ’n verklaring vir hierdie vreemde wisselwerking het op niks uitgeloop. En toe, een loom aand onder ’n prieel, het Lyn Smuts ’n Jean Welz-aanhaling gebied: “Kuns is kuns, en alles anders, is alles anders.” Maar dit was EM Forster wat my soeke finaal bevredig het met sy lieflike stelling dat die aanskouer van kuns van die werk se skeppingsenergie ontvang, miskien onderskep, en dan só omvorm word in ’n mindere kunstenaar. Dis só eenvoudig.
Ons beheptheid met bome kom van vêr. Gilgamesh en Enkidu verslaan Humbaba en kap seders uit die heilige woud, net om later gewaarsku te word dat niks gaan oorbly nie. Die boom van goed en kwaad, Peter Matthiessen se The tree where man was born, Thomas Mann se Boeddha onder die bodi-boom en die mangistan van Arundhati Roy in The god of small things.
Die krone van bome is die domein van voëls, kinders, malles en heiliges. Soos my groot-tante Ella, ’n oujongnooi van Robertson. Sy het langs Ouma Lilly gebly, saam met haar suster Susie in ’n donker huis. Ella het die orrel gespeel by die Heilsleer en Ouma tot raserny gedryf deur elke dag in haar kookpotte te kom loer. Een Sondagoggend het Ouma my gestuur om ’n ui by Tante Ella te gaan leen. Ek het deur die somber voorhuis gestap, deur die kombuis, maar Ella was nêrens te siene nie. Op die agterstoep het ek “kooweeeee” geroep en Tante Ella het uit die ruigtes van die tuin geantwoord “kooweeeee”. Dáár het ek haar gekry – in die hoogste takke van ’n nartjieboom, baba-mossie in die hand, op pad nes toe. Die blik op haar toebroek, onder die gebreide bruin rok, spook nou nog by my. Boomklim was Ella se forte.
Ek vermoed dat die mens eers klip geslyt het voordat hy geleer het om hout te klowe. Maar toe hy die eerste keer die verborge grein van die stomp blootgelê het, was dit seker van ons grootste intellektuele spronge en ’n instrument van ontdekking. Gaan lees weer Jacob Bronowski se liriese essays hieroor in The ascent of man. Bome neem ons terug na die begin van ménswees.
Omdat die denkende mens na die universele soek en iets daarvan vind in geometrie, is die boom ’n enigma. Want bome se ontwerp, hul argitektuur, is totaal chaoties. Gaan lê ’n slag op die naat van jou rug, dig teen ’n boomstam en kyk na bowe. Die enigste herkenbare vorm in die wilde ontwerp is die skadulyn wat gewoonlik rond is, maar die stam en takke groei woes. En tog, as jy jou oog toelaat om effe buite fokus te dwaal, kom daar geleidelik patrone en ontwerpe uit die verstrengeling.
Ons inheemse bome is van die mooiste op aarde. Die kremetart, die platkroon-acasias van die bosveld en die kokerbome van die Richtersveld leen hul uit vir stilering; mét of sónder blare bly hul hemelse ontwerpe, die klein katedrale van die veld.
My inventaris van gunstelingbome lyk só:
Die soetdoring, Acacia karroo, is na my mening die mees veelsydige boom in Afrika. Die blare is die geliefde peuselkos van wild, die bottergeel en roomkleurige blomme ruik soet en koppig, ’n horde vlinders is afhanklik van die boom, die soet gom…
En dan, die witgat Boscia albitrunca var albitrunca. Koedoes “snoei” hierdie beskermde boom regdeur sy lang lewe en laat ons met beeldwerke wat ’n ganse landskap bepaal. Die asbleek stam met die geronde koepel van blare daarbo vorm die perfekte rusplek. Wanneer ek in Namibië jag, eet ek ’n lemoen in die skadu van ’n witgat. Dít bevestig: Ek is hier.
Die namaqua-vy of klipbreker Ficus cordata moet seker een van ons mees onversetlike bome wees. Ry noord van Garies, en daar teen die kaal wang van ’n rotsplaat groei hy verbete. Die wortels kronkel soos slange oor en deur die klip en die enigste rooivlerk-spreeus in die landskap roep uit die lower.
Olienhout Olea europaea subspesie africana is my laaste keuse. Plant hierdie boom-ikoon in jou tuin en wag vir die herfs wanneer die pers vruggies begin val. Uit die niet verskyn die geelbekbosduif, daardie skimvoël van die ruigtes, meelogies en tiptolle. Dan het jy soet voëlgesang by jou venster, skadu teen die laatsomerson en ’n boom wat vir ewig sal staan.
Kan jy ’n kind stiller kry as om hom te laat boomklim, of tussen takke en blare te laat wegkruip? Kan jy sagter insluimer as onder die diep skadu van ’n wilg teen ’n lui stroom? Kan jy meer sensueel uitgelewer voel as om in die groen dieptes van ’n klam woud te stap? Plant ’n inheemse boom en klim daarin wanneer hy dit toelaat. Dan is jy geáárd en kan jy met David Abram saampraat van “die betowering van die sinnelike”.
Die beelde teen hierdie mure, die potte op staanders, is kodes na die lewende natuur daarbuite. Kom ons vier dit vandag.