Adele van Heerden praat met Elodi Troskie oor die omgewing
Wat ons by plante kan leer, en die bou van 'n biblioteek rondom 'n dennebos
Vir Adele van Heerden, kunstenaar en kurator van die Kaap, is die buitelewe ’n vorm van selfmedikasie. In haar nuwe versameling kunswerke en uitstalling, Inside/Outside, ondersoek sy die kontras tussen plantegroei en stedelike ruimtes, en sy vra af hoe mensgemaakte strukture in simbiose met die natuur kan saamwerk.
Inside/Outside is vroeg in 2020 vir die eerste keer in Frankryk vertoon, waar Van Heerden ’n kunsresidensie bygewoon het. Sy is egter vroeg terug Suid-Afrika toe as gevolg van die Covid-inperkings. Ek het met haar gesels oor die verhouding tussen mense en natuurlike ruimtes in stedelike landskappe, die effek van plantegroei op ons gemoedstoestand en gesondheid, en wat ons by bome kan leer.
ELODI: Hoe het hierdie uitstalling vorm aangeneem?
ADELE: Ek beskou my werk as outobiografies. Ek skep kunswerke wat relevant is tot my eie ervaringe, en ek gebruik teken en skilder as ’n middel tot betekenisgewing.
Ek begin met die verkenning en dokumentasie van fisiese ruimtes as deel van die interaksie met ’n nuwe omgewing. Met die terugkeer na die studio word hierdie beelde tot film vertaal deurdat ek teken en skilder op beide die voor- en agterkant van die deurskynende onderlaag.
ELODI: Wat is die verhouding tussen mense, plante en geboue? En hoe skakel die omgewing by kuns en argitektuur in?
ADELE: Baie argitekte en stadsbeplanners is besig om die voordele te besef — om saam met die natuur te werk, eerder as daarteen. Dit is belangrik om natuurlike habitatte soos vleilande, groen gordels en beboste gebiede te bewaar om te help om lugbesoedeling te bekamp en biodiversiteit te ondersteun. Op hierdie manier futureproof ons, ons stede om meer bewoonbaar en leefbaar te wees in die toekoms.
Ek is veral geïnspireer deur stedelike groen ruimtes in Parys, wat my dikwels onkant gevang het. Die sentrum van die nasionale biblioteek van Frankryk wat in Parys geleë is, is rondom ’n oeroue dennebos gebou, wat as toevlugsoord dien vir die voëllewe in die stad. Baie van die old-growth woude daar het behoue gebly. Deur al die jare van modernisering en ontwikkeling het die stad se mense baie bewustelik in en rondom hierdie groen ruimtes gewerk.
ELODI: Wat is jou verhouding met die omgewing, en watter rol speel natuurlike ruimtes in jou werk?
ADELE: Ek bring soveel tyd as wat ek kan in die natuur deur. Ek dink as ek nie ’n kunstenaar was nie, sou ek in die buitelug wou werk of ek sou ’n bergklimmer wou word.
Met ’n geskiedenis van depressie is aktiwiteite wat in die natuur plaasvind, vir my soos selfmedikasie — stap, kamp, trail running en rotsklim. Om ingeskakel te wees by die direkte ervaring daarvan om in die natuur te wees en om my liggaam te kan beweeg, voel baie goed vir my.
Ek dink ook dat om in ’n natuurlike omgewing soos ’n woud of ’n park te wees, jou toelaat om op ’n ander manier te kan wees; sonder die druk om geld uit te gee. Ek geniet dit om dit alleen te doen en saam met vriende. Jy ontmoet ook dikwels mense van ander walks of life in jou gemeenskap.
ELODI: Hoe word jou verhouding met die omgewing beïnvloed wanneer jy in stedelike ruimtes woon/werk — spesifiek in Kaapstad? Maak tegnologie en die stadslewe dit moeiliker om ’n betekenisvolle verbintenis met die natuur te hê?
ADELE: In Kaapstad is ons baie gelukkig om vinnige toegang tot die berg en see te hê. Dit is naby genoeg dat jy vinnig voor of na werk op ’n berguitstappie kan gaan as jy georganiseerd is!
Met baie aktiwiteite wat op die oomblik buite perke is, voel buite-aktiwiteite soos ’n veiliger en meer bevredigende opsie as om mall toe te gaan of te gaan fliek.
ELODI: Die idee vir Inside/Outside het in Frankryk ontstaan, en jou kunsresidentskap is kortgeknip as gevolg van lockdown (sien: Adele van Heerden se lockdown skilderye). Hoe is jou werk beïnvloed deur die terugkeer na Kaapstad? Hoe het jy onderskeidelik inspirasie gevind in Parys en in die Kaap?
ADELE: My ervaring in Parys was ongelooflik intens! Gedurende my tyd daar het ek die geleentheid gehad om baie kweekhuise en stedelike natuuroases te besoek. Ek het ’n tendens om groenigheid, bome en tuine by die stedelike landskap in te werk, opgelet. Ek het in die middel van die winter in Parys aangekom toe publieke vervoer en die meeste museums toe was as gevolg van proteste. Ek het die stad te voet verken met my kamera, en gedurende hierdie tyd het ek veral begin belangstel in mensgemaakte ruimtes en geboue wat in simbiose met groenigheid en plante werk.
Die Cite Internationale Des Arts is ’n baie sosiale omgewing met uitstallings, oop studios en konserte wat die meeste aande plaasvind. Om die ander kunstenaars daar te ontmoet, het ’n massiewe invloed op my innerlike proses gehad.
Ek het nie te veel druk op myself geplaas om enige werk te skep in die begin nie. Dit was eerder ’n innerlike proses van asemhaling. Ek het myself ruimte gegee om met nuwe skilder- en tekentegnieke te eksperimenteer sonder die druk van ’n dreigende sperdatum. Nader aan die einde van die residency het ek vir ’n uitstalling begin beplan, maar daardie skilderye het op die ou end in my tas huis toe beland toe ek besluit het om terug te keer na Suid-Afrika as gevolg van die pandemie.
Met die terugkeer na Kaapstad het my aandag van stedelik na huislik verskuif. Om by die huis te wees na ’n lang ruk weg en beperk te wees tot die binnenshuise ruimte as gevolg van die lockdown, het tot my herverbintenis met binnetonele gelei. Dit was effe van ’n comedown ná al die opwinding daarvan om so lank weg te wees, maar dit was ook goed om my lewe te vereenvoudig, om uit te pluis wat regtig belangrik is en om te reconnect met wat dit beteken om “by die huis” te wees ná so ’n groot avontuur.
ELODI: Watter plantegroei word in jou nuwe werk uitgebeeld en waarom?
ADELE: In my nuwe versameling werk word plante grotendeels verteenwoordig in verhouding tot beboude en mensgemaakte omgewings soos kwekerye en groot argitektoniese strukture, en ook in intieme, huislike ruimtes. Ek dink daar is ’n interessante spanning tussen die plante en mengemaakte strukture; die glas en turkoois patina van die ysterwerk in die kwekerye.
Die verhouding en die kontras, die push-and-pull tussen sement en argitektoniese ruimtes met groenigheid en ruigte ruimtes, is vir my esteties aangenaam. In die geval van binnetonele is daar iets tipies en intiem aan die verhouding tussen die potplant, die meubels en die res van die huis daarrondom.
ELODI: Biofilia — die fokus op die mens se inherente aantrekking tot die natuurlike wêreld — is ’n oorhoofse tema in hierdie uitstalling. Die effek van leef- en werkspasies wat ryk is aan natuurlike elemente soos plante, bome en water, het ’n bepalend positiewe uitwerking op die mense wat in hierdie ruimtes beweeg. Om deur grepe van die natuurlike buitewêreld omring te word, kan stres verlaag, kreatiwiteit en produktiwiteit aanhelp, en selfs die gesondheid en welstand ’n hupstoot gee. Dink jy kuns wat met die omgewing in gesprek tree, kan dieselfde effek op mense hê?
ADELE: Baie van ons stadsbewoners bring natuurlike elemente van buite af na binne; ons vind vertroosting daarin om ons eie huislike kwekerye in ons sitkamers te skep, om ons verhouding met die organiese wêreld te onderhou. Dit is trendy, en ek dink dit is ’n goeie ding.
Om meer tyd deur te bring om in aanraking te kom met die natuur of om daaroor na te dink, sal ons help om meer holistiese, voordelige besluite teenoor die omgewing te neem. As jy daaroor omgee, sal jy dit wil bewaar en daarmee saamwerk.
ELODI: Hoe kan mense in simbiose met plantegroei leef — veral in stedelike ruimtes? Kan jy meer vertel van die Inside/Outside-konsep wat in jou nuwe kunswerke ondersoek word?
ADELE: Daar is ’n ingebore estetiese, filosofiese en fisiese behoefte aan die natuur in ons. Ons het communion met die natuurlike wêreld nodig vir ons emosionele self, ons senuwees, ons psiges. Dít was bekend aan die antieke Grieke, en Aristoteles het voorgestel dat ons ’n evolusionêre voorbestemming het om die natuurlike omgewing te herken en om ons daarmee te vereenselwig. Om natuurlike elemente soos klip, hout en plante na binne te bring, het ’n natuurlik-kalmerende effek op ons.
Teen vandag se tyd ervaar ons intuïtief die voordele daarvan, en ek glo dat die wetenskap opvang met dit wat ons al lank weet. Sedert so vroeg as die 1790’s is daar geglo dat grond ’n helende effek op geestesongesteldheid het. Onlangse studies het bewys dat kontak met die grondmikrobes, Mycobacterium vaccae, die serotonien- en norepinefrien-vlakke in mense se sisteme verhoog, wat as natuurlike antidepressant dien om gemoed te verbeter, angs te verlig en leer aan te help.
My ouers baat op die oomblik, soos baie ander, by hulle eie groentetuin in grondhouers op hulle stoep. Ek geniet dit regtig om dit te sien. Hulle gee meer aandag aan waar hulle kos vandaan kom en is meer selfonderhoudend. Ek dink baie van ons wat met meer tyd op ons hande sit, keer terug na die grond om in ons basiese behoeftes te voorsien. Hopelik is daar iets vir die mensdom om te leer wat ná die pandemie sal voortleef.
ELODI: Wat lees jy op die oomblik? Of wat is die beste boek wat jy onlangs gelees het?
ADELE: Ek gaan op die oomblik deur ’n utopia/dystopia fantasy-fase. Ek is mal oor The Oval deur Elvia Wilke en Infinite Detail deur Tim Maughan. Ek is baie geïnteresseerd daarin om die besluite te oorweeg wat ons as samelewing tot nou geneem het, en om te dink oor waarheen dit ons oor ’n paar jaar sal lei. Om hierdie tipe boeke te lees laat mens dikwels baie nader aan die huis voel as wat jy aanvanklik verwag het. Ek is nou met NK Jemisin se The City We Became besig — dis groot pret!
ELODI: Is daar omgewingsaktiviste, films, boeke, podsendings of ander kunstenaars wat jy graag aanbeveel of na opkyk?
ADELE: Ek het baie aanklank gevind by Losing Eden: Why Our Minds Need The Wild deur Lucy Jones. Podcasts wat ek aanbeveel is Unframed: Art Conversations In South Africa, The Art Angle (Artnet News) en Nice Try! Utopian.
ELODI: Voel jy soms moedeloos oor die stand van omgewingsake en waarheen ons op pad is? Ervaar jy “eco-anxiety”? En is daar omgewing-sondebokke wat jou veral kwaad maak?
ADELE: Soos baie ander, het ek dikwels slapelose nagte en ek obsesseer oor wat in die toekoms met die mensdom kan gebeur. Verbruikerskultuur en kapitalisme spoor korttermyn finansiële wins aan, eerder as dit wat meer volhoubaar en voordelig sal wees in die langtermyn. Regerings moet meer na die tafel bring in terme van klimaatstrategie, en besluite begin neem op grond van wat beter is vir ons in die langtermyn. Biden wat pas aangekondig het dat die VSA by die Parysooreenkoms sal heraansluit, gee my hoop. Ek dink beleidmakers en leiers moet besef dit is belangrik om op langtermynstrategieë te fokus, en dat hulle daartoe toegewy moet wees. Dinge kan nie net teruggaan na hoe dit voorheen was elke keer wat ’n nuwe president verkies word nie.
ELODI: Wat doen jy om die angsgevoel oor die omgewingskrisis te verlig?
ADELE: ’n Groot deel daarvan keer vir my terug na die self, en om verantwoordelik vir my eie lewe en besluite te wees. Ek probeer fokus op dit waarvoor ek die kapasiteit het om te verander binne die raamwerk van my eie gewoontes en keuses. Deur aanpassings te maak hier en daar.
Ek probeer ’n lewe leef wat bewustelik is, en om myself met ’n leefstyl te vereenselwig wat meer bedagsaam teenoor die omgewing is. Ek is natuurlik mens en ek maak foute, so ek moet vriendelik met myself wees en nou en dan lesse leer.
ELODI: Wat kan ons by plante leer?
ADELE: ’n Woud is onderling verbind; daar is ’n wêreld van eindelose biologiese paaie onder die grond wat bome met mekaar verbind, wat hulle toelaat om met mekaar te kommunikeer en die woud toelaat om te funksioneer asof dit ’n enkele organisme is. Ons moet op dieselfde manier aan onsself dink — ons het ’n verantwoordelikheid as mense om na mekaar om te sien. Ons moet die natuur in ons stede koester, en in ruil daarvoor sal die voordele wat dit vir ons gesondheid inhou, enorm wees.