Skilder om dop te hou: Anico Mostert
Haar werk is ongoddelik mooi
Anico Mostert se kunswerke word benoem volgens wat sy haar voorstel dit sou sê as dit kon praat: Bakoven Boy, Woensdag, I’m Hungry, Untitled Blompot, Done.klaar.over it, terwyl ander (soos die werke hieronder) emojis insluit. Sommiges is ongetiteld en is dalk nie lus om iets te sê nie. Haar skilderye word gereeld geïnspireer deur spontane foto’s van haar vriende, sowel as deur selfportrette. Alledaagse tonele word verhef deur ’n surrealistiese invloed. ’n Meisie se trane, hande en voete en tepels en ander liggaamsdele, of ’n stiltoneel met kers in blaker en blom is van die tonele wat met fyn waardering gekoester word. Die uitbeeldings is effens verwronge tog vertroostend.
Mostert het in 2017 aan die Michaelis School of Fine Art aan die Universiteit van Kaapstad afstudeer, waar sy in drukmakery gespesialiseer het. Ná haar studies het haar fokus van drukmakery na skilderkuns geskuif, en het sy haar vroeg in 2020 voltyds aan haar kuns begin toewy in haar Kaapse tuisstudio. Sy werk in keramiek, tekstielontwerp en animasie, maar dit is haar skilderkuns wat tans voorrang geniet.
Volgens die kunstenaar put sy haar grootste inspirasie uit haar vriende wat ook kunstenaars is of ander kreatiewe roepings volg. Sy noem van haar klasmaats: Adrian Ranger, Aimee Lindeque, Marolize Southwood, Duduza Mchunu en Christina Fortune. Intuïsie is ’n belangrike dryfkrag agter Mostert se skilderye, alhoewel sy haar deurlopend beywer om strategies met kleur om te gaan, vertel sy.
Sy het onlangs in groepuitstallings by onder andere Eclectica Contemporary, 99 Loop Gallery, EBONY/CURATED en RK Contemporary uitgestal, en sy werk op die oomblik aan ’n solo-uitstalling wat later vanjaar sal plaasvind.