Word die klimaatkrisis voldoende verteenwoordig deur landskapkuns?

Word die klimaatkrisis voldoende verteenwoordig deur landskapkuns?

Last Stop, Arabian Desert, United Arab Emirates, 2010
Skilderye: Leon Bellingan

Woestyne en waarskuwing in Leon Bellingan se skilderye

In haar verhandeling, Teken, landskap en kennis: ’n ondersoek na die rol van teken in Suid-Afrikaanse kuns, skryf Cornelia de Kock-Wiesener oor die verband tussen landskap, kennis en visuele beeld. Die Westerse konsep van die natuur as ’n onuitputbare hulpbron, skryf sy, is direk van toepassing op koloniale uitbeeldings van Suid-Afrikaanse landskappe. Die uitbeelding van landskappe het verskeie funksies. In hierdie storie is Leon Bellingan, skilder, tipograaf, illustreerder en habitat-ontwerper, se verstaan van landskapkuns, en daarmee saam omgewingskuns, die hooffokus.

Ons ken almal daardie geskilderde beelde van die berge en graslande met geen teken van menslike steurnis nie – behalwe vir die Kaaps-Hollandse herehuis wat in die verte deur kortgesnyde grasperke en gemanikuurde sipresbome omring word. Op die oog af is hierdie onbevolkte natuurtonele ’n deurlopende, herhalende tema in menigte (bekende) Suid-Afrikaanse landskapkunstenaars se werk. Vir die kunskyker wat nie noodwendig ’n kennis van die fyner, stilistiese en tegniese agtergrond van skilderkuns dra nie, smelt baie van die tonele in hierdie ruimte dalk selfs ineen. Liese van der Watt skryf dat Pierneef se fokus op die Kaaps-Hollandse homestead ’n simbool van vooruitgang en vrede is, terwyl Walter Meyer se latere (soortgelyke) panoramiese landskappe in die 90’s byvoorbeeld aan hierdie uitbeelding van welvaart ontbreek. Van der Watt verwys verder na die geneologie van die visuele geskiedenis van Suid-Afrika wat deur die ontliggaamde medium van landskap gekommunikeer word. Maar word die klimaatkrisis akkuraat en voldoende verteenwoordig deur landskapkuns? 

Solo Quiver Tree, 2011

As moontlike antwoord op bogenoemde vraag, kan Leon se skilderye bestudeer word. Leon word veral deur woestynlandskappe geïnspireer, en Kaapstad se waterkrisis te midde van die droogte in die Wes-Kaap word ook in van sy skilderye uitgebeeld met die alomteenwoordige bedreiging van klimaatverandering.

Leon is in Kempton Park gebore. In 1999 verwerf hy ’n diploma in algemene kunspraktyk en grafiese ontwerp en hy voltooi in 2001 ’n gespesialiseerde diploma in skilder- en beeldhouwerk aan die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie. 

Ek gesels met hom oor kremetartbome, woestyne en die rol van die kunstenaar om te waarsku teen die impak van mense op die nie-menslike wêreld.


ELODI: Hoe tree jou werk in gesprek met die natuur? Beskou jy jouself as ’n omgewing-/landskapkunstenaar? 

LEON: Ek beskou myself hoofsaaklik as ’n landskapkunstenaar, alhoewel ek soms, meestal met opdragwerk, ook iets anders sal doen. My werk neig ook in ’n mate na surrealisme, waar byvoorbeeld ’n voorwerp of gebou elders geskilder is en dat die kyker se gewone konvensie of gedagte gesteur is. Ek probeer ook dan om my onderwerp so realisties moontlik aan te pak, om die onmoontlike, moontlik te “maak”. My verloofde noem sekere van my skilderye meta-realisties omdat dit die kyker bewustelik oor die multi-dimensionele realiteit of persepsie van die onderwerp kan laat bespiegel, bepleit en begryp. Die mens se brein is ’n wonderlike gedaante met betrekking tot die bewuste en onbewuste.

ELODI: Ervaar jy angs oor die stand van klimaattoestande? Vind jy berusting daarvoor in die skep van jou kuns of gee jou werk bloot gestalte aan die dringendheid van die klimaatkrisis? 

LEON: Ek is redelik angstig oor klimaattoestande. Ons – die jeug en die wyse – sien en ervaar daagliks die effek van klimaatveranderinge, regoor die wêreld. Sommige van my werke dien as waarskuwing aan die mens, soos die vuurtoring, of die Uniegebou, vasgekeer in die woestyn. 

Die oorspronklike naam vir die vuurtoringskildery was juis “Day Zero”. Waar ek destyds toe ek in Pretoria gewoon het, het ek gewonder of die Noordenaars nie soseer regtig nadink oor die dringendheid van die Kaapse waterkrisis nie. Ek het toe gewonder of mense elders in die land die waterkrisis so swaar sou ervaar. Hulle ís tog 1 500 km weg van die dorre Theewaters-, Bergrivier-, Wemmershoekdamme… Tóg ervaar ons ’n wêreldwye waterkrisis van allerlei aard: gebrek aan water, lugkwaliteit en die reën wat neersak in opgaardamme, grondwatervlakke wat sak. 

University of Pretoria Law Faculty Building in 500 Years, 2010

Wyle prof Christof Heyns, toe direkteur van die menseregtesentrum aan die TUKS-regsfakulteit, het my opdrag gegee om die skildery van die regsgebou op kampus te maak om bewustheid van die toestand van ons tuiste, die aarde, te skep. Dit was nogal snaaks dat ek ses jaar ná die oprig van die nuwe regsgebou, waarin die Oliver Tambo-regsbiblioteek ook staan, dit in totale verwoesting moes skilder. Nuwe gebou, ou bestaande probleme. 

Dié menseregtesentrum spits hom steeds toe daarop om sosiale probleme met omgewingsprobleme te vereenselwig: die mens het die reg om in ’n gesonde, volhoubare omgewing te woon. 

ELODI: Kan jy my meer van jou werk as habitat-ontwerper vertel, en of/hoe dit jou skilderkuns beïnvloed? Of jou uitkyk op die omgewing verander het?

LEON: Ek het as kunsregisseur in 2003 in Durban aan ’n massiewe projek vir uShaka Marine World gewerk. Ek het sedert die begin van 2002 aan die projek vanuit Roodepoort gewerk. Ag, van die konsepuitleg van die interieur en buitekant van die oord; die “mood boards” en die kleurpalet vir elke deel van die skip en die akwarium met hulle vistenke gemaak; driedimensionele, digitale en opgerigte modelle vir die argitekte en die ontwerpspan gebou. Met die ontwerp van die vistenke het ons saam met SAAMBR (South African Association for Marine Biological Research) gewerk, om ’n kompromie te vind tussen wat besoekers aan die oord aantreklik sal vind, en wat die visse benodig om in die akwarium te oorleef en gelukkig te wees. 

Kort ná uShaka het ek vir Ben Breedlove begin werk. Hy is ’n habitat-ontwerper van Florida in die Verenigde State van Amerika, en hy spesialiseer in dieregedrag. Saam het ons vele “habitat-aanvullings” ontwerp vir diere; van wilde honde en steenbokke tot uile en allerhande fassinerende insekte. 

Ek het baie geleer oor wat diere in hulle habitat benodig om tot bloei te kom en gemaklik in die mensgemaakte habitat om te gaan, en dis gewoonlik nie waaraan die meeste besoekers dink of glo nie. Die idee dat mense nou habitat-aanvullings moes skep, ná ons die natuurlike habitat vernietig het, toon aan dat ’n handjievol mense probeer om die skade te herstel wat deur die mens aangerig is. My skilderye wys die uiteindelike vernietiging van alle habitat, selfs ons eie. Noem my dan nou ’n doemprofeet, maar ongelukkig gaan die noodaksies van dié handjievol mense nie genoeg wees om die onvermydelike te keer nie. Ons gaan mos nou byna Mars toe om te kyk of dit lekker daar vir ons sal wees, maar ek vind ons omliggende natuurlike, dor omgewing en terrein, soos die Namibiese duine, begeerlik.

Ons gaan mos nou byna Mars toe om te kyk of dit lekker daar vir ons sal wees, maar ek vind ons omliggende natuurlike, dor omgewing en terrein, soos die Namibiese duine, begeerlik.
— Leon Bellingan

The Last Quiver Tree, llKaras Region, Namibia, 2011

Lighthouse Navigation, 2017

ELODI: Glo jy dat kunstenaars ’n verantwoordelikheid het om deur hulle werk iets oor die verganklikheid van die lewende wêreld te kommunikeer? Om die menslike impak op ons verskeie omgewings te dokumenteer of te kritiseer? Dieselfde vraag kan ook natuurlik aan skrywers, digters en so meer gevra word. 

LEON: Ek sou nie sê kunstenaars het die direkte verantwoordelikheid om die verganklikheid van die wêreld, soos ons hom ken en geken het, uit te beeld nie. Kunstenaars, nes skrywers, digters en dramaturge, se belangstellingsonderwerp is eie aan hulself. Tog moet ek sê dat kunstenaars die lewende wêreld verskillend interpreteer en uitbeeld. Die kritiek op die menslike impak op ons psigiese en fisiese omgewings is vir my van belang, want die natuur en lewende wêreld is my sielskos en dinkwerk.

Ek dink nou, byvoorbeeld, aan The Long March to Freedom se bronsbeelde wat aan die einde van 2019 van die Maropeng-sentrum geskuif is en in Century City in Kaapstad opgerig is. Dié bronsbeelde kon min van ons besigtig, want toe tree nóg ’n krisis vroeg die volgende jaar in: Covid-19. Oorspronklik het die ikoniese figure uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis saam gestap. Later, ses weke ingeperk, het hulle net in die lang grasse marsjeer, niemand kon hulle besigtig nie, en eindelik het net Nelson se awethu-handgebaar bó die stil gras, verganklikheid vir my uitgebeeld. Nou ja, so sien kunstenaars dinge raak wat ’n ander nie traak nie, of nie wil aanspreek nie. Kunstenaars se onderwerpkeuses onderskei ons van mekaar, en ons aanhangers vestig hulle aandag op vereenselwigde denke.

Union Buildings, Pretoria, South Africa, 2008

ELODI: Op daardie noot, wat lees jy graag? Enige boeke (of selfs films) wat jou uitkyk op die omgewing verander het?

LEON: Ek lees baie, maar meer feite as fiksie, en ek kyk baie dokumentêre rolprente. Daardie feite maak my wel bang, soos gesien in die BBC se Planet Earth 2 en Blue Planet 2. In die eerste rondte van dié BBC-films het hulle vir ons al die mooi en ongelooflike dinge in die wêreld gewys. In die tweede rondte het hulle die oorblyfsels van verwoesting, uitsterwing en erosie van die wildernis gedokumenteer. Dit sluit aan by die vorige vraag — ons ontvang die krisisboodskappe, maar dis vir die mens om te besluit of dit hulle traak. 

As ons so aanhou, gaan my werke al hoe meer soos alledaagse tonele lyk. 

As ons so aanhou, gaan my werke al hoe meer soos alledaagse tonele lyk.
— Leon Bellingan

ELODI: Die woestyn, droogtes en ooptes is herhalende temas in jou werk. Die woestyn het ’n mooi van sy eie, maar roep nie noodwendig dieselfde betowering en vrede op wat in boomruigte tonele opgesluit is nie. (Ek is waarskynlik partydig hier as boombedonnerde Wes-Kapenaar wat nog nooit in Namibië was nie.) Wat leer jy by die woestyn? Waar is die bome?

Centenary Glass, Kolmanskop, Namibia, 2019

LEON: Die woestyn is vir my die mooiste van landskappe. Ek het ook nie so gedink tot ek self daar was nie. Op kunsskool aan die destydse Pretoria Techikon, het hulle elke jaar ’n bus vol studente gelaai, en Visrivier Canyon en Port Nolloth deurgery. 

Toe ons die woestyn inry, het ek eers gedink: “Wat maak ons híér? Hier’s dan niks vir ’n kunstenaar om huis toe te neem nie.” Dit het ’n paar dae geneem vir my oë om oop te gaan. Ek dink mens moet so elke nou en dan woestyn toe gaan. Dit klink dalk soos ’n cliché, maar ek dink ’n mens verloor jouself so nou en dan. Die woestyn is die beste plek om jouself weer te vind, daar’s dit net jy en die stilte. Daar’s ook vir my iets moois aan die vervallendheid van mensgemaakte strukture wat deur die natuur teruggeneem word. Kolmanskop in die Suide van Namibië is ’n goeie voorbeeld daarvan. 

’n Vriendin van Springbok, wat in die raasstraat in Seepunt woon, se ma se raad is om ’n plat klip in die woestyn te gaan soek – sommer die woestyn in vêrliggende areas om Kaapstad soos naby Aggeneys, Pella – en te dink en na antwoorde te soek. Ek vind stilte in dié landskappe. Ek hoop om binnekort weer op ’n plat klip te gaan sit en skilder.

Toe ons die woestyn inry, het ek eers gedink: ‘Wat maak ons híér? Hier’s dan niks vir ’n kunstenaar om huis toe te neem nie.’ Dit het ’n paar dae geneem vir my oë om oop te gaan. Ek dink mens moet so elke nou en dan woestyn toe gaan.
— Leon Bellingan

Kolmanskop II: Aged Opulence, 2021

ELODI: Is daar ander (omgewing-)kunstenaars uit wie se werk jy inspirasie put? Wat is die waarde van die werk van landskapkunstenaars soos Andries Bezuidenhout, Walter Meyer, Moses Tladi vir jou? Pierneef?

LEON: Ek is mal oor Andries Bezuidenhout en Walter Meyer se “alledaagse” tonele. Dit wys dat daar skoonheid reg rondom ons is, ’n vulstasie se aandgloed, ’n vervalle ou plaashuis, ’n stowwerige dorpspad. Dis tonele wat mense nie sommer eerste aan sal dink as hulle dink aan ’n kunswerk nie. Moses Tlabi se werk is uitstekend, miskien dink ek net so omdat baie daarvan lyk of dit geïnspireer is deur Pierneef. Pierneef is my gunstelingkunstenaar, ek bewonder sy werke al van kleins af. Mense het al genoem dat my werke soortgelyk is aan die Namibiese kunstenaar Keith Alexander se werk, maar dis heeltemal toevallig. Ek het al verskeie werke gemaak voor ek van hom te hore gekom het. Sy werke is wel fantasties, maar desteenstaande nie my inspirasie nie.

ELODI: Ek is nuuskierig oor hoekom Pierneef jou gunstelingkunstenaar is — is daar vir jou ’n groter waarde gekoppel aan sy werk bo en behalwe die mooi van die alledaagsheid waarna jy verwys? ’n Vorige woonstelmaat van my het Pierneef se Farm Jonkershoek with Twin Peaks Beyond met paint by numbers geverf, so ek het baie ure lank na daai boomtoppe teen die pienk sonsakberg (of sonopkomsberg?) sit en kyk. Die oorspronklike skildery het vir meer as R20m verkoop, en sy het die canvas met sy nommers en al die verfpotjies vir R300 op die internet gekoop. Lol. 

Elk geval. Pierneef se skilderye vang ’n tipe idealistiese bewondering vir Suid-Afrikaanse landskappe vas wat ’n swaar betekenis dra binne die konteks waarin dit geskep is. In kontras met hierdie byna onaangeraakte landskappe, spreek jy in jou werk tot klimaatverandering; die verwoesting van die natuur. Is dit belangriker vir omgewingkunstenaars om die mooi van die lewende wêreld te argiveer, of om te waarsku teen die agteruitgang daarvan? Moet hierdie kuns ons gerusstel of onrustig maak? 

Leon Bellingan se weergawe van Pierneef se Farm Jonkershoek with Twin Peaks Beyond

LEON: Jy sal nie glo nie, ek het ook my eie weergawe van Farm Jonkershoek with Twin Peaks Beyond. Ek het dit die eerste keer gesien toe dit so ’n paar jaar terug teen R20m by ’n veiling verkoop is. Ek het dadelik besluit dis my nuwe gunsteling-Pierneef, en dat dit fantasties sal lyk in my sitkamer. Ongelukkig het ek nie R20m nie, so toe maak ek my eie. Dit was nie die paint by numbers kit nie, maar goeie ou olieverf op doek. 

My ma was mal oor Pierneef, sy het ’n paar van haar eie muurkuns met sybokhaar geweef. Sy’t Akasia’s “Pierneefbome” genoem. Sy’t ook ’n boek oor hom gehad, wat ek duisende kere deurgeblaai het (dié boek is vandag sonder ’n omslag). Ek het hom bewonder: sy gebruik van die palet pastelkleure met olie op doek (én karton, kan jy glo), selfs méér hoe hy ’n landskap kan opbreek en vereenvoudig in geometriese vorms wat vir ons na “iets” sal lyk. Dis seker ’n vorm van kubisme, alhoewel hy dit toegepas het op landskappe, eerder as om byvoorbeeld ’n persoon se ore aan dieselfde kant van hulle kop te verf.

Ek dink dis belangrik dat die natuurlike, lewende wêreld geargiveer word, alhoewel dit minder nou gebeur as in die verlede vir byvoorbeeld landskappe, as vir skilderkuns. Met die aanwend van fotografie, en veral kleurfotografie, kon die wêreld baie maklik en duideliker gedokumenteer word. Skilders het juis in daardie tydperk begin om van realisme aan te beweeg. Hulle kon meer eksperimenteer, en meer dinge begin “sê”. Ek dink dat kunstenaars van daardie tyd het minder verplig gevoel of ’n mate van verantwoordelikheid gehad om die lewende wêreld op ’n realistiese manier vas te vang.

So het ons kunstenaars meer vryheid gekry om ’n boodskap oor te dra, wat ook al dit mag wees. (Ons is maar ’n bedrewe klomp mense op die aarde met ons eie opinies en sieninge, wat die kunstenaar moontlik oor kykers se interpretasie kan interesseer, opgewonde of ontstoke maak.) 

Ongetiteld, 2019

ELODI: Die toneel van die kremetart hierby is een van die min voorbeelde van jou werk waar ek menslike teenwoordigheid oplet. Hoekom die besluit om ’n mens in hierdie landskap langs die kremetartreus te plaas? En hoekom juis hierdie mens? 

LEON: Ek probeer om nie mense of diere in my werke in te sluit nie. Ek wil hê die kyker moet kan wegraak in ’n skildery. Mense en diere is geneig om te beweeg, en om hulle in te sluit is soos om ’n oomblik vas te vang, soos ’n foto. Ek het wel in hierdie werk die man ingesluit, om die toneel meer “desperaat” te maak. Ek wou dit laat lyk asof die boom AL die water opgesuig en verorber het. Die San-mense het ’n ongelooflike kennis van die land, en weet altyd, selfs in die droogste van tye, waar om water te kry. Hier wou ek wys dat klimaatverandering almal beïnvloed, ook dié wat nie daartoe bydra, of selfs daarvan bewus is nie. 

Hier wou ek wys dat klimaatverandering almal beïnvloed, ook dié wat nie daartoe bydra, of selfs daarvan bewus is nie.
— Leon Belingan

Springgrove Estate, Mpumalanga, 2015

Slow Train to Nowhere, 2014

1937 Hudson Terraplane, Aus, Namibia, 2019

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Word die klimaatkrisis voldoende verteenwoordig deur landskapkuns? gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand