Water wat ons saambind, maar ook verdeel

Water wat ons saambind, maar ook verdeel

Summer of Swimming

Adele van Heerden ondersoek Kaapstad se waterliggame in haar jongste uitstalling

Die Franse skrywer, Romain Rolland, het met die term “oseaniese gevoel” vorendag gekom — om ’n gevoel van een-wees met die eksterne wêreld as ’n geheel te beskryf. Dit verwys na ’n mistieke ervaring waartydens daar met die grense van die ego weggedoen word. Menigte denkers ag dit as ’n vreugdevolle, konnektiewe ervaring, terwyl die digter en skrywer, Jackie Wang, die oseaan beskryf as ’n “revelation, the illumination of an already existing communalism and the direct experience of our embeddedness in the world”.

Só skryf Adele van Heerden oor haar jongste solo-uitstalling, Oceanic, wat bestaan uit ’n reeks ink- en gouache-werke van verskeie waterliggame in Kaapstad. Adele woon en werk in Kaapstad. Sy volg ’n unieke reverse painting-tegniek wat sy self ontwikkel het, wat behels dat sy op die voor- en agterkant van deursigtige tekenfilm teken en skilder.

2022 was haar somer van swem — in die Kaapse seewaters sowel as openbare swemgeriewe soos die Long Street Baths en die Seepunt Pavilion-swembaddens. Haar teenwoordigheid in hierdie ruimtes het by die kunstenaar vrae van historiese en huidige toegang aangewakker. “Openbare strande en swembaddens was histories gesegregeer, en vandag het die nalatenskap van ruimtelike apartheid ’n blywende impak op toegang tot die kwaliteit en gerieflikheid van openbare geriewe,” sê sy.

Long Street Baths

Adele stel veral ook belang in die argitektuur van openbare geriewe en wat dit onthul oor ons gedeelde geskiedenisse. Die swembaddens by die Seepunt-promenade is in ’n art deco-styl gebou, terwyl die Long Street Baths ’n vermenging van art deco-, Victoriaans en Edwardiaanse style is. Nuweland se openbare swembad is ’n voorbeeld van mid-century modern.

Hierdie openbare ruimtes is slegs toeganklik op sekere tye van die dag en jaar, en klere en sosiale etiket word vereis. Die omstandighede word beheer en is voorspelbaar, so dit is nie nodig om vooraf na die getye, golwe of temperatuur te kyk nie. ’n Mens kan in ’n mediterende, trance-agtige toestand verkeer met die wete dat jy veilig in die swembad is.

In teenstryd hiermee is ’n mens in die oop waters uitgelewer aan die genade van die getye en golwe. Daar is ander lewensvorme in die water, sowel as skurwe rotse en ’n slymerige seebodem. Daar is ’n souterige smaak aan die water en die reuke van die oseaan. ’n Mens is meer bewus daarvan dat jy in en deel van die natuur is — en op die natuur se terme.

Adele wys daarop dat Kaapstad se getypoele ’n lang geskiedenis het, met party wat so vroeg as 1903 gebou is. Met die styg van seevlakke as ’n gevolg van klimaatsverandering, sal hierdie unieke erfenisstrukture miskien nie meer vir lank toeganklik wees nie.

Miller's Point

Ten spyte van die verskille tussen getypoele, munisipale swembaddens en strande, gaan sy voort, is al hierdie ruimtes plekke van samekoms. Dit is deel van die sosiale infrastruktuur wat bydra tot die gemeenskaplike lewe van die stad.

Deur haar werk wil sy ’n gevoel van kalmte en vrede inspireer in tye wat talle redes bied om onseker en angstig te voel. Met hierdie versameling werke van waterlandskappe wil sy ook ’n sin van waardering skep vir die ekologiese, sosiale en politiese rol wat water in ons lewens speel. In breër terme tree haar werk toenemend in gespek met ons connection/disconnection met die natuurlike landskap tydens die Antroposeen, ’n tydperk waarin mense ’n beduidende effek op die aarde se ekosisteme het, mees opvallend die klimaat en omgewing.

“Namate verstedeliking toeneem, neem ons behoefte aan natuurlike ruimtes en maniere om met die omgewing en mekaar te skakel ook toe,” sê sy. “Ek voel verplig om te skilder wat ek in my daaglikse lewe en reise sien. Ek verken met my kamera in die hand, veral mensgemaakte ruimtes en geboude omgewings wat in simbiose of in jukstaposisie met die natuurlike wêreld staan.”

Adele in haar studio in Soutrivier. Foto: Leah Rachel Hawker

Oceanic word tydens Februarie en Maart vanjaar by die 131 A Gallery in Woodstock vertoon. Adele vertrek in Februarie na Parys, Frankryk waar sy vir drie maande gaan woon as deel van ’n residensieprogram wat deur die Cité Internationale des Arts aangebied word.

Bathispheric Daydream

Newlands Municipal Swimming Pool

Waterfront Canals

Clifton Fourth

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Water wat ons saambind, maar ook verdeel gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand