'n Nuwe waardering vir Koos Doep as digter

Verken die musikant en reisiger se digbundels

Voordat ek die film En tog die deuntjie draal – Die Koos du Plessis verhaal in Oktober tydens die 2022-Toyota US Woordfees in Stellenbosch gesien het, was ek onbewus daarvan dat Koos du Plessis nie net ’n musikant was nie, maar ook ’n gerekende digter. Dit is duidelik wanneer ’n mens luister na sy lirieke, en dit is juis hierop wat medekunstenaars kommentaar lewer in die film. Anton Goosen, Andries Bezuidenhout, Jannie du Toit, Coenie de Villiers, Churchil Naudé, onder andere, besing Koos Doep as een van die grootste Afrikaanse skrywers en verwag dat sy invloed nog lank in Afrikaans nagespoor sal kan word. Soos ’n Vlaamse man glo een aand ná een van Koos se vertonings met groot bewondering verklaar het: “Dáái man het iets om te sê!”

Eers iets oor die film: En tog die deuntjie draal – Die Koos du Plessis verhaal (2021) is Niel van Deventer en Palama Produksies se dokumentêre film oor die musiek van Koos du Plessis. Gawie Myburgh en Christiaan Scheepers verdien lof vir die filmredigering op hierdie projek. Dit is interessant dat Van Deventer ook betrokke was by die film Kerkorrel (2022, Palama Produksies), waarvan ’n eerste weergawe ook te siene was by die Woordfees. 

Na aanleiding van Die Koos du Plessis verhaal besluit ek om ondersoek in te stel na Doep die digter. Ek kry drie van sy bundels in die hande: Kinders van die wind en ander lirieke wat verskyn in 1981 (Tafelberg) en ingelei is deur Hennie Aucamp. Aucamp se eerste reaksie ná hy Skadu’s teen die muur (die album, 1979, Incline House) in een sitting geluister het, is: “Waar, in ‘my land / my dor, verlate land’, kom so ’n seemanstem vandaan [...], [’n seestem so] silterig, gruiserig en rookdeurtrek[?]” Vir Aucamp dra Koos “’n eksistensiële nood oor; sy mededeling kom diep uit homself uit; vertel van die gekweldheid van mens […] wees”. Twee van Du Plessis se ander bundels Om jou verlaas te groet. Nagelate verse (1985, Human & Rousseau) en Skink nog ’n uur in my glas (1995, Queillerie) is postuum gepubliseer.

In my verkenning van Koos du Plessis se poësie fokus ek veral op die tema van reise en verlange. Eerstens, ’n noemenswaardige skakel tussen Du Plessis en Kerkorrel: myns insiens is dit juis ’n tematiese oorvleueling wat merkbaar is in hulle werk. Johannes Kerkorrel bring ’n album uit met die titel Sing Koos du Plessis in 1999 (Gallo Records) – ’n heel direkte verbandlegging tussen die twee se werk. Die breër verbande tussen hulle blyk uit ’n vergelyking.

Die openingslirieke van Johannes Kerkorrel se ‘My ewig ontwykende beminde’ op die album Hoe ek voel wat in 2012 uitgereik is deur Gallo Records:

Ek het jou gesoek in die nag, my engel.
Ek het jou gesoek op die trappe van huise, 
in bars, op pleine, in stede,
oor drie kontinente, in strate,
oor vyf oseane, oral,
op lughawens en treine,
in die boulevard van ope drome,
in die flits van neonlig,
in die nagklub van my drome.
Ek het jou gesoek en ek kon jou nooit vind nie,
my ewig ontwykende beminde. 

Vergelyk met Koos du Plessis se ‘Dwaalspoor’ uit Om jou verlaas te groet (bl.14):

Ek het so baie lande kruis en dwars deurreis,
in soveel vreemde hawestede rondgedwaal;
ek het so veel vermoed, geglo, so min bewys
en soveel laaste treine van die nag gehaal.

So baie, baie keer het ek jou vreemde naam
vergeefs vir kroegman, klerk en predikant gespel

[...]

ek het so dikwels en so ver alleen gereis
om telkens net te vind dat jy weer elders is. 

[...]

Nou weet ek net jy sal my steeds gevange hou. 
Want wie is jy? En waarom soek ek so na jou?

Dit is duidelik dat sowel Du Plessis as Kerkorrel hulleself as reisigers identifiseer maar boweal deel hulle ’n gees van genadelose soeke en verlange sonder bevrediging.

Die skakel tussen Kerkorrel en Du Plessis vir eers daar gelaat. Steeds op die tema van reise en verlange gee ek ‘Ek het al elke koers gevat’ uit Om jou verlaas te groet (bl.11) en ‘Grafskrif’ uit Skink nog ’n uur in my glas (bl.88).

Ek het al elke koers gevat 

Ek het al elke koers gevat
die hoofweg en die kronkelpad,
gedrink en eet wat ek kon kry,
van duiwelsdrek tot wildevy,
hier gery en daar geloop,
soms getwyfel, soms gehoop;
veel bemin en veel gehaat,
van albei ewe min gebaat.
Toe sien ek oos word eindelik wes
en elke pad is soos die res
en alle water kom van bo;
dat duiwelsdrek en wildevy
in net dieselfde grond gedy
en waar die wildevye vrek
daar kwyn maar ook die duiwelsdrek
en of jy loop en of jy ry
die koers sal net dieselfde bly. 

Grafskrif

Sy lewe lank was hy in transito:
op pad van iewers;
op reis na êrens. 

Op 15 Januarie 1984 het Koos du Plessis verongeluk naby Krugersdorp. Alhoewel hy nie in die rigting van sy huis op pad was nie, laat dit my dink aan sy gedig “Huis-toe-pad” uit Kinders van die wind en ander lirieke (bl.45). Die slotstrofe: 

Die huis-toe-pad is ’n hartseer pad,
dis ’n enkelpad, dis ’n smart-leer-pad;
dis ’n snags-alleen-deur-die-moot-loop-pad,
want die huis-toe-pad is ’n dood-loop-pad. 

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van 'n Nuwe waardering vir Koos Doep as digter gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand