Kerkorrel: poster child van die 'Alternatiewe Afrikaner', vegter van verkramptheid

Kerkorrel: poster child van die 'Alternatiewe Afrikaner', vegter van verkramptheid
 

Die amptelike poster vir Kerkorrel, ’n nuwe dokumentêre film deur Niel van Deventer

 

'n Nuwe dokumentêr 20 jaar ná sy dood

Kerkorrel is ’n nuwe dokumentêre film oor die lewe, werk en nalatenskap van Ralph Rabie, beter bekend as Johannes Kerkorrel: die front man van Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band; poster child van die “Alternatiewe Afrikaner”; vaandeldraer van die Voëlvry-beweging; vegter van verkramptheid.

Die verloop van Rabie/Kerkorrel se verhaal is redelik alombekend, selfs vir diegene wat nie noodwendig sy musiek ken nie: die rebelse jong Afrikanerman wat gewaag het om teen die verkramptheid van Afrikaner Calvinisme en apartheidsideologie op te staan en die jong volk op te hits om dieselfde te doen, van Eet Kreef!- en Hillbrow-faam, wie se lewe in 2002 tragies en skielik aan sy eie hande, na bewering, tot ’n einde gekom het.

Minder is egter vir die publiek bekend van Ralph Rabie, die mens agter die persona van Johannes Kerkorrel. En dit is hier waar Niel Van Deventer se dokumentêre film ’n besonderse bydrae maak om die man van die mite te skei.

Die dokumentêr begin deur vir ons te vertel dat Rabie twee dae ná sy dood opgegrawe is en op ’n ander stuk grond (her-)begrawe is, en dat dít die metaforiese siklus van sy lewe ná sy dood is: aanhangers begrawe hom en grawe hom elke paar jaar weer op om hom weer te begrawe, ensovoorts, sodat daar, ironies genoeg, waarskynlik meer oor hom geskryf en gesê is ná sy dood as toe hy gelewe het. Hierdie dokumentêr dra natuurlik by tot dié bitter ironie. Maar sekere stories oor Rabie/Kerkorrel is doelbewus uitgelaat, want Van Deventer voel dat sekere stories oor Rabie al genoeg vertel is. Ander stories is egter worth (re-)telling – selfs re-framing – en in hierdie geval behels die (her-)vertelling ’n poging om Rabie te vermenslik. Kerkorrel is, kortliks gestel, ’n roerende en eervolle huldeblyk.

Die dokumentêr is by Woordfees vanjaar bekendgestel ná slegs twee maande se produksie daaraan. Die kort produksietydperk is egter geen aanduiding van die gewig of gehalte van die inhoud van die dokkie nie. Inteendeel verdien Van Deventer (vervaardiger en regisseur), William Collinson (kinematograaf) en Christiaan Scheepers (redigeerder) ’n klop op die skouer, want in dié dokumentêr kry hulle dit reg om Rabie se verhaal met ’n intimiteit en deernis te vertel wat ’n mens met nuwe oë en waardering na Ralph Rabie – die mens, die pa, die vriend, die kunstenaar – laat kyk.

Die dokumentêr bevat bydraes van bekende musikante, musiekkenners en goeie vriende van Rabie, soos Amanda Strydom, Valiant Swart, Stef Bos, Willem Möller, Kerneels Breytenbach, Karen Meiring, Danie Marais en Riku Lätti. Persoonlike herinneringe en stories oor hulle tye saam met en ervarings van Rabie word gemaklik en openhartig met die kyker gedeel, op ’n manier wat intiem en respekvol is. Koos Kombuis verskyn nie in die dokumentêr nie, alhoewel Van Deventer hom genader het vir ’n onderhoud (hy verskyn wel in die fantastiese dokumentêr Voëlvry, waarin hy kortliks oor Rabie se dood en sy eie verlies en rou praat).

Maar heel besonders is die bydraes wat deur Rabie se seun, Reuben, gemaak word. Sover ek bewus is, is dit die eerste keer dat Reuben só op kamera en so candidly oor sy pa, sy pa se dood en sy eie herinneringe en ervarings van sy pa praat. Reuben het spesiaal Suid-Afrika toe gevlieg om met Van Deventer vir die dokkie te praat (hy woon in Dubai). Dit tref ’n mens nogal in die maag wanneer Reuben op die skerm verskyn, waar hy op ’n bank sit en praat oor sy legendariese pa, asof julle in dieselfde sitkamer sit en gesels. Hy lyk ook soos sy pa (dit laat die gut punch dalk harder tref); hy kies sy woorde versigtig en ’n mens kry die indruk dat hy dieselfde diepsinnige, stille geaardheid van sy pa het (altans só leer ons Rabie in die dokkie ken). Reuben het ook pas self ’n pa geword. Al hou Reuben ’n sterk front voor, kan ’n mens die leemte wat Rabie se dood in Reuben – en talle ander – se lewe gelaat het, nie ignoreer nie.

Die dokumentêre film bevat foto’s soos hierdie een wat Rabie (links) as lawwe skoolskeun uitbeeld. (Foto: Dr Wes Ingram)

Deur die stories en persoonlike besinnings oor en refleksies van hierdie mense wat Rabie intiem geken het en saam met hom gewerk en geleef het, kry ’n beeld van Rabie wat afsonderlik van dié van Johannes Kerkorrel bestaan (het), gestalte. Ou foto’s en video- en klankopnames van Rabie saam met skoolvriende, as family man saam met sy gesin, saam met jong Reuben, oorsee, backstage en op die verhoog word met hierdie onderhoude gejukstaponeer. Die effek is een van intimiteit en nostalgie, soos om deur iemand se ou fotoboeke te blaai terwyl ’n goeie vriend van hulle vir jou van dié persoon vertel.

Die beeldmateriaal bied verder fantastiese kontekstualisering vir die verhaal van Rabie se lewe as mens en as kunstenaar. Sy optredes as Kerkorrel – en Kerkorrel as ’n persona – kry byvoorbeeld selfs meer trefkrag wanneer ons leer dat Rabie self eintlik ’n stil, gereserveerde, nadenkende introvert was wat homself tussen vriende en familie gereeld eenkant gehou het – ’n sterk kontras teenoor die aggressiewe, uitgesproke en rebelse Johannes Kerkorrel wat hy op die verhoog was. Die aggressie en energie waarmee Rabie vir Kerkorrel beliggaam het, maak egter baie sin wanneer Reuben vertel dat sy pa “baie sensitief vir reg en geregtigheid” was; Kerkorrel was dus Rabie se verpersoonliking van ’n eerlike en baie geregverdigde woede vir die onreg in die land. Die foto’s van jong, pissed off en rebelliously joyous Afrikaners (ek neem aan) by konserte in die hoogtepunt van die Eet Kreef!- en Voëlvry-jare laat ’n mens opnuut besef hoe grensverskuiwend Rabie/Kerkorrel se musiek is vir die tyd waarin dit geskryf is. Hoe – dare I say it – fokken genius en noodsaaklik dit was.

Maar, soos Danie Marais in die dokumentêr dit stel, “dis ’n onregverdige ding, ’n albatros om jou nek, om die stem van ’n generasie te wees”. Ons leer dat Rabie as kunstenaar doelbewus te werk gegaan het; dat hy homself en sy kunstenaarskap konstant probeer aanpas en vernuwe het, maar dat Suid-Afrikaanse gehore nie in Rabie, die kunstenaar, belang gestel het nie. Stories van gehore wat destyds deur Rabie se vertonings gesels en geraas maak, laat ’n mens cringe. Oorsee, veral in Nederland, het Rabie veel meer sukses gehad as in Suid-Afrika – want die gehore het actually na sy musiek geluister, en nie verwagtinge van ’n persona gehad nie. Riku Lätti stel dit dat Rabie “cutting edge [was], maar [hy] was té skerp”. 

’n Mens loop natuurlik die gevaar om Rabie (die man) net so veel soos Kerkorrel (die mite) te romantiseer (en dus te myth-ify). Maar myns insiens bied die dokumentêr ’n eerlike blik op Rabie as mens en as kunstenaar. Ons leer hom ken as ’n teruggetrokke mens wat “moeilik” kon wees, een wat later in sy lewe mense weggestoot het, waarskynlik as gevolg van sy eie diep wroegings met sy identiteit en geestesgesondheid. Niemand het egter sy selfdood op 12 November 2002 verwag nie.

Rabie was ’n teruggetrokke, diepsinnige en sensitiewe kunstenaar; ’n sterk kontras teenoor die charismatiese Johannes Kerkorrel wat hy op die verhoog was. (Foto: onbekend)

By die vrae-en-antwoordsessie ná die vertoning van die dokumentêr stel Van Deventer dit dat Rabie eintlik al begin doodgaan het ná Voëlvry, “but not for a lack of trying”. En hier bied die dokumentêr ’n verfrissende nuwe bydrae tot die (oor-)vertel van Rabie se lewe as kunstenaar: die tragiese besef dat hy meer sukses en roem ná sy dood het as wat hy in sy kort lewe gehad het, en dat dít, met genoeg ondersteuning vir sy kuns en bewustheid van sy verswakkende geestesgesondheid, moontlik verhoed kon word. Van Deventer se hoop is dus dat die enkele takeaway van die dokumentêre film vir kykers moet wees “dat ons meer liefde aan mekaar moet wys”.

Tog bly die gevoel van diep verlies by ’n mens lank nadat die credits klaar oor die skerm gerol het.

Ek vind egter baie troos daarin om te dink aan Rabie se nalatenskap as kunstenaar vir (veral) ander kunstenaars. Christiaan Olwagen se Johnny is nie dood nie vang die gees van Voëlvry en die impak en nalatenskap daarvan op ’n generasie Afrikaners vas. Eet Kreef! het oor die jare ’n tipe kultusstatus onder aanhangers bereik; dis vandag ’n volwaardige collector’s item en ’n all-round ikoniese album. Dis selfs in 2020 deur (onder andere) Laudo Liebenberg en Frank Freeman opgeneem as Eet Kreef! Herleef. ’n Mens kan ook nie help om te wonder of ons ooit ’n Fokofpolisiekar sou hê as daar nie ’n Voëlvry-beweging of ’n Johannes Kerkorrel was nie. ‘Hillbrow’ word vandag steeds as een van die heel mooiste liedjies geag – speel ‘Hillbrow’ en die hele kamer/kar sal stil word en luister. ‘Gee, gee, gee’ is ’n mantra, ’n gebed, wat ons saam met Rabie/Kerkorrel prewel. En gee, gee, gee is wat Rabie met Kerkorrel gedoen het: kunstenaars en aanhangers skep steeds uit sy bron.

‘Gee, gee, gee’ is ’n mantra, ’n gebed, wat ons saam met Rabie/Kerkorrel prewel.
— Andréa Müller

Dalk is ek net té veel van ’n fan en daarom heeltemal biased, maar die dokumentêr het dit reggekry om selfs ’n die-hard fan te laat voel asof sy vir die eerste keer te make kry met Rabie. Dit het iets in my versadig, ’n need-to-know stilgemaak, ’n gevoel van nader staan aan die eintlike mens agter die mite – en te vind hy was net dít: ’n mens.

Soos Reuben dit stel: “Johannes Kerkorrel is vir elke persoon wie daardie persoon wil hê of nodig het hy moet wees.” Ralph Rabie was egter nie ’n mite nie, maar ’n pa, ’n vriend, ’n lover, ’n kunstenaar – en in die eerste plek ’n mens van vlees en bloed en passies en denke, wat veels te vroeg begrawe is.

Die dokumentêr word Sondag 13 November om 20:30 op kykNET uitgesaai – ’n dag ná die 20ste herdenking van Rabie se dood. Kyk die lokprent vir die film hieronder.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Kerkorrel: poster child van die 'Alternatiewe Afrikaner', vegter van verkramptheid gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand