Suid-Afrika se trans trailblazer, Elise Bishop

Suid-Afrika se trans trailblazer, Elise Bishop

Elise Bishop as jong vrou

Oor die rou menslikheid in haar outobiografie, Twee Lewens

Elise Bishop is 70 jaar gelede in die Oos-Kaap as Pierre van der Merwe gebore, maar leef al vir bykans vyf dekades as Elise. Haar begeerte om vrou te wees en rokke met bypassende handsakke en skoene te dra, het mense as’t ware verslae gehad, omdat sy dit vir soveel jare moes wegsteek. Sy vertel haar lewensverhaal nou in die boek Twee lewens, ’n outobiografie deur Elise Bishop wat onlangs by Hemel & See Boeke verskyn het.

My eerste kennismaking met die proses rondom geslagsbevestiging kom in die vorm van die hartverskeurende toneelstuk Rokkie by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in 2019. Dit het die vorige jaar by die Suidoosterfees gedebuteer. Dit vertel die verhaal van ’n 50-jarige transgender persoon van die Kaapse Vlaktes. Mercy Kannemeyer skryf ná afloop van die fees: “[Denver] Breda se teks laat jou nie toe om vir Rokkie jammer te kry nie, en hy sê dis opsetlik, want Rokkie is ’n survivor, sy vra nie enige bejammering nie. […] Breda is ’n belangrike stem vir ons bedryf en hy vertel stories van mense op die buitewyke van ons samelewing, en dis nodig vir ons landskap om daarvan te leer en met soortgelyke materiaal in gesprek te tree.”

Dit bring my terug by Elise. Want op ’n manier is sy een van die “mense op die buitewyke van ons samelewing” en geen vreemdeling vir ander se oordeel en afkeur nie. Pierre van der Merwe het van jongs af eerder trou-trou met sy ouma se tafeldoek gespeel as om saam met seuntjies karretjies te speel. Pouse by die skool was hel, omdat die gespot en geterg vir hierdie seuntjie net nie wou einde kry nie en hy toe nie kon verstaan wat dan met hom “verkeerd” was dat hy nie soos ander seuntjies was nie, skryf Elise in Twee Lewens. Hy was die enigste seun wat musiek geneem het; het in skoolopvoerings altyd vroulike rolle vertolk en met ’n hoë stemmetjie gepraat (bl.38–39).

Pierre as peuter

Pierre as klein seuntjie op Graaff-Reinet met sy geliefde rooi handsakkie

Elise skryf Christine Jorgensen het net ’n paar jaar tevore ’n geslagsbevestigingoperasie ondergaan en wye publisiteit ontlok, so die term “sex change” is los en vas rondgegooi, sonder ’n behoorlike begrip van presies wat geslagsbevestiging behels of beteken. Jorgensen (30 Mei 1926–3 Mei 1989) was ’n Amerikaanse trans vrou wat die eerste persoon was wat wyd bekend geword het in die Verenigde State vir die ondergaan van ’n geslagsbevestigingoperasie. Jorgensen is tydens die Tweede Wêreldoorlog in die Amerikaanse weermag opgeneem. Ná haar militêre diensplig hoor sy van geslagsveranderingchirurgie en begin in 1952 ’n reeks operasies ondergaan om die fisiese oorgang na vrou te maak. Sy het ’n loopbaan as suksesvolle aktrise, sangeres en opnamekunstenaar gehad.

Met haar terugkeer na haar geboorteland haal haar storie die New York Daily News-voorblad. Sy het oornag ’n glanspersoonlikheid geword, bekend vir haar direktheid en vermoë om die standpunt van transgender mense te bepleit. Jorgensen het gereeld lesings gegee oor die ervaring om transgender te wees en in 1967 ’n outobiografie gepubliseer.

Die ooreenkomste tussen Christine en Elise se genderreise is nogal opvallend: albei was introverte op skool; die teiken van boelies; albei het eers ná hul diensplig van geslagsbevestigingoperasies te hore gekom; albei se stories is op koerantvoorblaaie uitbasuin en albei se eerste verlowings is nie in huwelike voltrek nie. Elise se storie is ongelukkig sonder haar toestemming deur Rapport gepubliseer, nadat ’n uitgewer in 1982 haar manuskrip onwetend aan dié Sondagkoerant verskaf het en sy vir sewe weke haar lewensverhaal saam met duisende ander moes lees (bl.217).

Maar die belangrikste ooreenkoms is dat albei vol lewens gelei het as vroue; dat hul openhartige praat en skrywes oor hul persoonlike reise as lig vir baie ander in ’n donker tonnel dien.

In haar boek vertel Elise van die lang pad wat sy moes loop om van “Pierre” afskeid te neem en “Elise” te word. Haar geloof en haar familie was groot oorwegings in haar besluit. Sy “wou nie homoseksueel wees nie” maar kon nie verstaan wat eintlik met haar “verkeerd” was nie. Sy beskryf dit as: “[D]ie hele tyd ’n sielkundige worsteling” (bl.111; bl.122; bl.124).

Die lig gaan vir Pierre oop toe hy by ’n prof in Oxford beland, wat die hele verwarrende duisternis oor transseksualiteit opklaar. Die prof verduidelik dat heteroseksuele mense aangetrokke is tot die teenoorgestelde geslag en homoseksuele mense tot hulle eie geslag. “Hermafrodiete is dubbelslagtige mense wat manlike en vroulike geslagsorgane het. Transvestiete is mense wat graag die teenoorgestelde geslag se klere aantrek, vir die erotiese genot wat dit hulle verskaf. Dit het niks te doen met hulle aangetrokkenheid tot die teenoorgestelde geslag nie. Maar ’n transseksuele persoon is ’n baie meer ingewikkelde persoonlikheid. Dit is iemand wat biologies ’n honderd persent man – of vrou, na gelang van die geval – is, maar dié persoon is gebore met ’n honderd persent van die teenoorgestelde geslag se psige. Met ander woorde, iemand wat honderd persent biologies man is, dink en reageer totaal soos ’n vrou, en omgekeerd” (bl.121–122).

Pierre se verbasing met die woorde: “So ek is biologies ’n man, maar psigologies ’n vrou?” klaar sommer vir die leser ook baie vrae op (bl.122). Elise verduidelik die operasie in noukeurige detail en ook die lang, ingewikkelde herstelproses daarna. Daar is eerlike insigte in haar eensaamheid en afsondering in Windhoek, hoe sy voortdurend van werk verander het en hoe sy van sekere familielede vervreem is wat net nie kon vrede maak met haar identiteit nie.

Haar reis was beslis geen maanskyn en rose nie. Nadat sy uiteindelik gemaklik in haar Elise-vel is, raak sy verlief en trou met ’n vrou. Die sielkundige implikasies hiervan vang haar weer in ’n maalkolk vas, want nou is sy in ’n gay verhouding – presies wat sy nooit as Pierre wou wees nie. Geloof is een van dié worstelinge en soos sy dit stel: “Die kerklikes wat die gay gemeenskap wêreldwyd so veroordeel ‘omdat dit in die Bybel staan’, glo die Bybel is deur God self geskryf. Hulle dink nie altyd daaraan dat die Bybel deur die eeue deur talle doodgewone mense geskryf is en met hul eie vooroordele vertaal en herskryf is nie. Ek glo in menseregte; dat elkeen die reg het op oorlewing volgens sy eie keuse en gewete” (bl.187).

Pierre van der Merwe as korporaal in die SA Weermag en jong Elise

Elise in haar vroeë dertigs

Dis in ’n aanlyn onderhoud met Murray La Vita dat die volgende woorde van Robert Hamblin, kunstenaar en skrywer van Robert A queer and crooked memoir for the not so straight and narrow, uitstaan: “’n Transition gebeur nie oornag wanneer jy hospitaal toe gaan of hormoonbehandeling kry nie... En dan wanneer jy in jou fisieke manlikheid arrive het, is jy nog steeds nie ’n mán nie. Dit het nog baie meer jare gevat voordat ek gevoel het: Oukei, nou is ek ’n man. Wat bedoel ons daarmee?” Hy vertel voorts in die onderhoud dat ons in die samelewing “gender” gebruik as ’n manier om iemand se menslikheid te beskryf. Die samelewing glo “as jy nie iemand se gender ken nie, is hulle nie ’n mens nie,” en dis ’n baie pynvolle ding.

In haar boek bedank Elise vir Robert as “skrywer en kunstenaar wat ook ywerige voorspraak doen en aktivis is vir transgenderregte. ’n Gevoelvolle vriend wat my aangepor het om my outobiografie te voltooi” (bl.300). Haar én Robert se boeke is beslis ’n stap in die regte rigting om die onderwerp van transseksualisme en gender fluidity in die kollig te plaas. 

Robert sê vandeesweek vir my: “Hoekom is hierdie boeke belangrik? Ek voel elke mens het sy storie en jy beleef jou lewe soos wat jy jou lewe beleef en jy mag. En dat jy jou storie moet skryf soos jy dit moet skryf. Ek voel die wêreld waarin ons lewe en die progression wat ons maak in ons humanity, is soos ’n groot wa waarop ons almal saam is, met vier verskillende grootte wiele. Omdat die wa se wiele verskil, gaan ons nog baie gatstamp vorentoe, ons spring en ons hop en dis seer, en ons val partymaal af omdat die wa so jiggle, maar ons gaan vorentoe. En hier is die storie van Elise wat nie dieselfde is as myne nie; ons glo nie in dieselfde dinge as dit kom by transition nie, maar al wat eintlik belangrik is, is dat waar ek as kind invisible gevoel het – en al is haar storie nêrens dieselfde as myne nie – het ek skielik besef dat ek exist. Boeke soos hierdie is om die trans mense te laat besef – veral waar die wêreld ons probeer invisible maak – dat jy exist. En net om te weet dat jy bestaan, laat jou aangaan en gee jou die vermoë om jou bydrae tot die samelewing te maak. En dis hoekom ek dankbaar is vir die media-aandag wat ons boeke kry, maak nie saak of ons nie op dieselfde politieke bladsy is nie. Dis die tyd waarin ons lewe en ons deel ons stories met mekaar.” 

En net om te weet dat jy bestaan, laat jou aangaan en gee jou die vermoë om jou bydrae tot die samelewing te maak. En dis hoekom ek dankbaar is vir die media-aandag wat ons boeke kry, maak nie saak of ons nie op dieselfde politieke bladsy is nie. Dis die tyd waarin ons lewe en ons deel ons stories met mekaar.
— Robert Hamblin

By die onlangse US Toyota Woordfees op Stellenbosch gesels Elise twee maal oor haar boek en haar lewe. Dit is waar ek na haar mondelinge storie gaan luister het. Sy is klein en effe geboë en stap met ’n kort kierie as gevolg van osteoporose. Haar grys hare is netjies gekap en haar pêreloorbelletjies het dieselfde glinster as haar oë. Sy is belese en selfversekerd; trots op wie sy is, maar baie nederig oor die genade wat haar toegedeel is in ’n ryk en vol lewe. Sy weet wie sy is en hoe moeilik die pad tot hier was. 

Aan Elmari Rautenbach, hoof van die Woordfees se Skrywersprogram, vertel sy: “Ek identifiseer nie met transgender nie. Ek is ’n man gebore wat ’n vrou moes wees. Ek het bloot ’n sex change gehad. Dis die ou terme en benaming, maar ek is uit die oude doos – verskoon die pun!” 

Die waglys vir transseksuelegeslagsbevestigingoperasies in die twee Suid-Afrikaanse provinsiale staathospitale waar hierdie operasies gedoen word, is tans 25 jaar; in die Verenigde Koninkryk 30 jaar en in Australië 18 jaar. Dit word as plastiese chirurgie gesien en daarom skuif dit tot heelonder op die lys – dis nie lewensbedreigend, ’n noodgeval of noodsaaklik nie. Daar word plaaslik hoogstens sewe per jaar onderneem. Elise verduidelik ook dat finansiële onderskraging van die Departement Gesondheid oor die algemeen nie genoegsaam is om algemene gesondheid te dek nie. Elise sê: “Dink jou in: jy kan op 18 aansoek doen vir die operasie, maar dan wag jy 25 jaar en kan eers op 43 jou lewe begin. Ek sal wat wil gee om daardie lyste te help korter maak.”

Elise erken aan my dat sy wens sy het groter waardering aan haar ma beklemtoon vir haar onomwonde liefde en onderskraging met geen teken van renons, vertwyfeling of verstoting nie. Bloot net liefde en omgee. Sy is ook spyt dat sy nooit hormoonbehandeling gekry het behalwe vir ses maande voor die operasie nie. “As dit net aan my verduidelik kan word sou ek bly wees, want hierdie mistasting is waarskynlik die oorsaak van my osteoporose!”

As sy een stukkie raad vir ander transseksuele mense kon gee, sou dit wees: “Moet nooit ’n besluit neem voordat jy werklik introspeksie gedoen het met die begeleiding van ’n psigiater en ondersteun is deur ’n ouer nie. ’n Mens het ’n ondersteuningsnetwerk nodig.”

En haar raad aan die ouers/vriende/geliefdes van transseksuele mense: “Asseblief, transseksuele mense is nie mense wat daarvoor gesoek of gevra het nie. Moenie hulle verstoot nie. Hulle het ook gevoel en emosie en kry net so seer as enige iemand anders. Dis julle vlees en bloed! Transgender mense is ’n wye spektrum wat hulle plek in die samelewing kan volstaan nes enige ander persoon. Laat hulle toe om dit te doen. Asseblief! Sonder enige oordeel, diskriminasie, aggressie of skending van menseregte.”

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Suid-Afrika se trans trailblazer, Elise Bishop gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand