Wat soek Afrika-kuns in Abu Dhabi?

Wat soek Afrika-kuns in Abu Dhabi?

Black Starliner, Zak Ové. Foto’s: Maryke Roberts (tensy anders vermeld)

Maryke Roberts doen verslag

Afrika se bydrae tot wêreldkuns is die fokus van ’n nuwe uitstalling – ’n eerste van sy soort wat net op Afrika-kuns fokus – wat by die Louvre Abu Dhabi op Saadiyat-eiland geopen het. Wat die uitstalling Kings and queens of Africa: forms and figures of power indrukwekkend maak, is die 359 kunswerke: 311 van Musée du quai Branly Jacques Chirac in Parys se bestaande versameling en die res van Suid-Afrika, Nigerië, die Ivoorkus en Senegal. 

Verskeie kurators uit Afrika is betrek om die uitstalling so divers en inklusief moontlik te maak. Hieronder is El Hadji Malick Ndiaye, mede-kurator, hoof van die museumafdeling en kurator van die Musée Théodore Monod d’Art Africain, Institut Fondamental d’Afrique in Dakar; Cindy Olohou, medekurator, hoof van versamelings by die streekversameling van kontemporêre kuns, Île-de-France, en onafhanklike kunskritikus; en Hélène Joubert, hoof van die Afrika-versamelings by die Musée du quai Branly – Jacques Chirac.

Die uitstalling: 'nuwe manier om na Afrika en sy majestueuse geskiedenis te kyk'

Die uitstalling dek van die 11de tot die 21ste eeu en begin reeds buite die museum met ’n werk van Zak Ové, getiteld Black Starliner.

Sy reusestandbeeld is geskep met verskeie elemente uit Afrika, Amerika, die Karibiese eilande en Engeland. Zak is van Trinidadese afkoms, maar het in Engeland grootgeword. 

Hy vertel my die boodskap is om ’n visie te gee “van hoe ’n estetika van ’n toekomstige wêreld se buitelyne kan lyk met ons eie onderskrywings, ons eie estetika; weg van die gevoel van moderniteit wat sekulêr vir die Weste is”. Hy verduidelik verder: “Ons betree nou ’n era waar geskiedenis ’n desperate behoefte aan hersiening vereis, en om ’n post-koloniale begrip van wat daardie geskiedenis was, te ontwikkel. Ek stel veral belang in die geskiedenis van ouwêreldse kultuur en die veerkragtigheid van hoe die Afrika-diaspora vir ’n lang tyd probeer vashou het aan ’n sterk gevoel van noodsaaklikheid en dringendheid, simbole en ’n Afrika-estetika en -kultuur – regdeur slawerny en kolonialisme – om met ’n gevoel van trots en hersiening na Afrika terug te kyk. Dis ’n soort simbiose, in terme van waar ons vandaan kom en ’n begrip daarvan. Met hierdie werk en met baie van my werke het my idee begin met die karnaval in Trinidad – ’n viering van wie ons was, en die noodsaaklikheid om hand aan hand te stap saam met ons voorouers die toekoms in. Dié idee is natuurlik anders as die Westerse siening van hoe ons opmars na moderniteit, soos wat ek in skole in Londen geleer is.”

Met hierdie werk en met baie van my werke het my idee begin met die karnaval in Trinidad – ’n viering van wie ons was, en die noodsaaklikheid om hand aan hand te stap saam met ons voorouers die toekoms in.
— Zak Ové

Zak by sy Black Starliner

Black Starliner in die aand

Zac het die standbeeld met verskeie ligte gemaak, wat saans ’n kleurvolle fokuspunt buite die museum lewer. Hy meen die ligte bring regtig ’n ander dimensie na die werk en is ’n ligpunt in die donkerte van die debatte rondom wie “hoort” waar.

“Ek probeer weer verstaan hoe ek as kind na dinge in die Britse museum of ander groot institute gekyk het. Daar was ’n gevoel van afstand tussen kunstenaars en kulture wat daar uitgestal is. Ek probeer verstaan hoe ’n mens kan help om daardie tradisies te laat herleef en aan die lewe te hou,” vertel hy. “Vir my was dit ’n openbaring om te ontdek dat daardie reis eintlik gaan oor die bevrugting van nuwe wêreldmateriaal, met ouwêreldse kultuur wat ouwêreldse tradisies herkontemporiseer.”

Die hele doel van die Afrika-kunsuitstalling is eerstens om Midde-Oosterlinge se perspektief oor Afrika en Afrika se kunserfenis te verander. Manuel Rabaté, direkteur van Louvre Abu Dhabi, sê die Emirate is die perfekte plek vir hierdie dialoog, omdat die lang geskiedenis van die VAE nie die gedeelde geskiedenis tussen Europa en Afrika is nie. “Ons is dus die plek waar ons met albei wêrelde kan praat. Ons bied ’n nuwe manier om na Afrika en sy majestueuse geskiedenis te kyk,” meen Manuel.

Die uitstalling bestaan uit drie afdelings: Wes-, Sentraal- en Suider- en Oos-Afrika. Die uitstalling loop volsirkel met ’n Afrika-popkunsafdeling, met kontemporêre strokiesprente en videospeletjies. Soos Manuel sê: “Hierdie uitstalling nooi besoekers uit op ’n reis deur Afrika-geskiedenis wat oor 2 000 jaar strek, van 680 voor hede tot vandag. Dit beklemtoon die rykdom en diversiteit van hierdie uitgestrekte en wonderlike kontinent met 30 Afrika-lande wat verteenwoordig word.”

Cindy vertel dat die kurators dit belangrik geag het dat jong mense besef ​​dat museums en historiese voorwerpe en erfenis nie net iets is vir volwassenes of ou mense nie. Dis regtig gekoppel aan die hedendaagse samelewing: “Dit is belangrik om te weet waar jy vandaan kom, om te weet waarheen jy wil gaan. Dis regtig belangrik om weer met die geskiedenis te verbind, om gemaklik te wees met jou eie geskiedenis.”

Die simposium: 'erfenis is nie staties nie' 

Saam met die uitstalling se opening is ’n simposium, Afrika-museums: vandag en môre, gehou, waar 32 sprekers van 30 instellings, soos museums en galerye uit Afrika, hulle stories kom deel het. Kurators van drie Kaapse instellings – die Desmond en Leah Tutu-stigting, Iziko Museums en die Norvalstigting – was ook deel van dié panele.

Manuel het die simposium geopen met die woorde van Édouard Glissant: “I imagine the museum as an archipelago. It is not a continent, but an archipelago.” Met hierdie idee dat die museum ’n samestelling van eilande is wat onder een dak verenig, het hy gesê hy is baie trots dat die simposium – net soos die uitstalling – ’n baie diverse en wye verteenwoordiging van Afrika byeenbring. Die doel van die simposium was om dialoog te skep en nuwe vennootskappe te smee.

Die simposium het oor drie hoofonderwerpe gehandel: Hoe museums relevant kan wees in die samelewing; watter impak museums op omliggende gemeenskappe het; en hoe Afrika-museums verband hou met globale kwessies. In een van die paneelbesprekings het Guilhem Andre, waarnemende direkteur vir wetenskaplike, kuratoriese en versamelingsbestuur van Louvre Abu Dhabi, gesê erfenis is nie staties nie: “Ons moet nooit vergeet dat museums die agente van verandering en magtige ruimtes is nie.”

Ons moet nooit vergeet dat museums die agente van verandering en magtige ruimtes is nie.
— Guilhem Andre

In ’n paneel wat gehandel het oor hoe om die narratiewe van die verlede te herskryf, het Valérie Sandoz, wetenskaplike koördineerder van die simposium, gesê dat museumkurators in gedagte moet hou dat in Afrika die meerderheid van die bevolking onder 25 jaar oud is. “Dit is ’n belangrike element. En dus kom baie museums uit die koloniale era te staan ​​voor kritiek of verwaarlosing van die jeug, aangesien hulle dikwels deur etnografiese lense na kulture kyk.”

Bongani Ndhlovu, uitvoerende direkteur van Iziko Museums Suid-Afrika, was deel van dié paneel. Hy het meer as twee dekades se ondervinding in Suid-Afrikaanse museums en is sedert 2011 by Iziko betrokke. Hy dien op verskeie internasionale rade en was ondervoorsitter van die International Committee for Museums of Archaeology and History (ICMAH). Hy het ’n doktorsgraad in geskiedenis. Hy het onder meer vertel dat Iziko Museums onder koloniale tye en gedurende apartheid tot stand gekom het en dat die SA Museum vanjaar 200 jaar oud is. “Ons gaan dit nie vier nie; dis ’n tyd vir terugkyk oor 200 jaar van navorsing, versameling en opvoeding.”

Hy vertel dat Iziko deur verskeie leerprosesse moes gaan om by hul huidige struktuur van galery- en museumtransformasie te kom. Hulle werkbare resep is nou ’n paneel wat bestaan uit plaaslike gemeenskapsleiers, kundiges van universiteite, organisasies, NRO en toerismespelers, wat kurators en museumpersoneel bystaan met uitstallingbeplanning.

Hy sê die simposium het ’n breë en ryk verteenwoordiging van kundigheid uit die museum- en erfenissektor gebied. “Die aanbiedings het ’n wye verskeidenheid gebiede gedek, insluitend die maak van uitstallings, openbare programmering, samewerking, nuwe projekte en transformasie van inhoud in ou museums en galerye. Dit is duidelik dat museums innoverend besig is met ’n verskeidenheid kwessies en in die proses ’n aantal belanghebbendes saambring. Die boodskap wat ek huis toe neem, is dat daar waarde is in samewerking en kennisuitruiling.” 

Die simposium het argitektoniese voorstellings van verskeie moderne museums regoor Afrika ingesluit, waaronder die Pan African Heritage Museum en die Museum of Black Civilizations in Dakar. Daar was ook voorleggings oor museums wat die afgelope paar jaar geopen het, waaronder die Nasionale Museum van die DRK en die National Museum of African American History & Culture, in Washington, DC. Al die museums het ’n groot uitstalruimte vir artefakte, maar fokus ook op tegnologie en interaktiewe ruimtes om die jeug te betrek.

Die laaste dag se voorleggings en paneelbesprekings het Tayla Hollamby, kurator en uitstallingsbestuurder van die Norvalstigting Kunsgalery, ingesluit. Tayla het ’n meestersgraad in tasbare erfenisbewaring en is die afgelope dekade by museums betrokke. Tayla het vertel dat die Norval-galery in 2018 geopen het en ’n kontemporêre museum is, wat in wese verskil van baie van haar kollegas se museums. Hulle fokus op die hede en op die jeug en betrek hulle baie by kunsaktiwiteite.

Sy vertel dat die simposium vir haar ’n uitsonderlike ervaring was: “Ek het die voorreg gehad om kontak te maak met ’n diverse groep professionele mense, wat aktief die museumbedryf regoor Afrika vorm. Die deelname aan gesprekke met hierdie individue het waardevolle insigte verskaf in die verskillende instellings wat hulle verteenwoordig, sowel as die unieke uitdagings wat hulle tans in die gesig staar.” 

Sy meen dat hierdie besprekings haar perspektief op museums in Afrika ingrypend verskuif het. “Ek verstaan ​​nou selfs meer hoe baie hierdie dinamiese ruimtes nie net gaan oor die bewaring van geskiedenis nie, maar ook oor die aktiewe herbesinning en hervorming van die manier waarop ons betrokke raak by kultuur, gemeenskappe en erfenis. Die pogings om ouer instellings te dekoloniseer, saam met die skepping van nuwe museums in lande soos Ghana, Benin en Marokko, het die belangrikheid beklemtoon om Afrika-geskiedenis en -erfenis te kontekstualiseer op ’n manier wat beide relevant en respekvol is vir plaaslike gemeenskappe. Ek het ’n dieper waardering gekry vir die kompleksiteite van die bestuur van beide tasbare en ontasbare kennis, en hoe hierdie besprekings die toekoms van Afrika-museums as plekke van transformasie en kulturele bemagtiging vorm.”

Ek verstaan ​​nou selfs meer hoe baie hierdie dinamiese ruimtes nie net gaan oor die bewaring van geskiedenis nie, maar ook oor die aktiewe herbesinning en hervorming van die manier waarop ons betrokke raak by kultuur, gemeenskappe en erfenis.
— Tayla Hollamby

My gedagtes: 'Maar ons moet na mekaar luister'

Die oorkoepelende gedagtes wat ek wegneem ná hierdie verrykende week in Abu Dhabi, kom uit die woorde van Olivia Anani, uitvoerende sekretaresse van die prefigurasiekomitee van die Museum van Kontemporêre Kuns in Benin, wat sê dat museumpraktisyns moet leer om na kunstenaars en die publiek wat hulle bedien, te luister. “Dit sal ons leer om ons eie vooroordele in die gesig te staar.” 

Ook dat om ’n museum te dekoloniseer nie oornag gaan gebeur nie. Dis ’n reis, in die woorde van Rapheal Chikukwa, direkteur van die Nasionale Galery Zimbabwe, wat ook sê dat nie alles wat met koloniale kuns te make het, verwyder moet word nie; dit vorm deel van soveel lande se geskiedenis en identiteit: “Dis deel van die herinneringe. Kom ons vertaal daardie herinneringe na die hede. Baie Afrika-kunstenaars se inspirasie kom uit die onderdrukking van kolonialisme en hul tegnieke is geïnspireer deur groot Europese kunstenaars. Dit moet ten toon gestel word.”

Maar ook: “Die meeste ouer museums in Afrika se uitstallings het nie sedert daardie lande se onafhanklikheidswording verander nie. Baie van daardie artefakte koloniseer nie net ons ruimtes nie, maar besoedel dit ook, omdat dit nie verteenwoordigend is van die land en kontinent wat ons huis noem nie.”

Ter afsluiting het Manuel gesê dat museums kan help met herbalansering, herstel en die skep van ’n nuwe narratief: “Maar ons moet na mekaar luister.”

Dit sluit aan by Kojo Yankah, stigter en voorsitter van Pan African Heritage Museum, Ghana, se woorde: “Ons moet eers van ons geskiedenis leer. Dit is hoe ons die narratief gaan herskryf.” 

Met die amptelike opening van die uitstalling was van Abu Dhabi se hoogste regeringsverteenwoordigers teenwoordig.

Bereniece Geoffrey, The Art Newspaper France en outeur van verskeie kunsboeke, en Abdouramane Gabidan, adjunk-generaal direkteur Museum Boubou Hama, Niger, een van die sprekers oor hoe museums relevant kan wees deur die jeug te betrek.

Die simposium het nie net kurators en museumpersoneel as sprekers gehad nie, maar ook verskeie professionele kunstenaars van regoor Afrika. Van links is El Hadji Malick Ndiaye, mede-kurator, hoof van die museumafdeling en kurator van die Musée Théodore Monod d’Art Africain, Institut Fondamental d’Afrique in Dakar, Senegal; Samuel Sidibé, algemene direkteur Mali Nasionale Park; Abdoulaye Konaté, kunstenaar van Mali; Josetta Shaje Tshiluila, professor in antropologie, Institut de Musées Nationaux DR Kongo; Hamady Bocoum, voormalige direkteur, Swartbeskawingsmuseum, Senegal; Mehdi Qptbi, president Nasionale Stigting van Museums, Marokko; en Barthelemy Toguo, visuele kunstenaar en stigter Bandjounstasie, Kameroen.

Die sprekers op die derde dag in die sessie oor kontemporêre kuns in museums: Awam Amkpa, dramaprofessor van die New York-Universiteit in Abu Dhabi; Tayla Hollamby, kurator en uitstallingsbestuurder van die Norvalstigting Kunsgalery; Raphael Chikukwa, direkteur van die Nasionale Galery, Zimbabwe; Barthelemy Toguo, visuele kunstenaar en stigter van Bandjounstasie, Kameroen; en Olivia Anani, uitvoerende sekretaresse van die prefigurasiekomitee van die Museum van Kontemporêre Kuns in Benin.

’n Geskiedkundige simposium: 32 sprekers van 30 instellings soos museums en galerye uit Afrika, in Abu Dhabi.

Louvre Abu Dhabi. Foto: Kopiereg Departement van Kultuur en Toerisme (Abu Dhabi)

Foto: Kopiereg Departement van Kultuur en Toerisme (Abu Dhabi)

Louvre Abu Dhabi van bo. Foto: Kopiereg Departement van Kultuur en Toerisme (Abu Dhabi)

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Wat soek Afrika-kuns in Abu Dhabi? gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand