Stef Bos is 'n soort dominee
Zanger en liedschrijver
Op Stef Bos se webwerf is sy (baie lywige én indrukwekkende) biografie in vier dele verdeel: “In die begin”; “In die 90’s”; “Na die millennium”; en “Sedert 2010”. Soos jy kan verwag, is die benoemings, toekennings, vererings en trofees legio. Wat wel vir my uitstaan, is dat hy op hoërskool saam met vriende die kabaretwêreld ontgin het en as onderwyser en teatermaker studeer het. Maar hier los hy kabaret agter en “die liedjieskrywer is gebore”. Hy speel toneel en skryf liedjies vir ander mense. Die sangeres Ingeborg, wat sy liedjie ‘Door de wind’ in Lausanne by Eurovision 1989 gesing het, laat sy pad kruis met die platevervaardiger Hans Kusters, wat gedink het hy moet self ’n CD opneem eerder as om net vir ander te skryf.
En soos hy dit op sy webwerf beskryf: “Zo vond hij het spoor dat het zijne was. Zanger en liedschrijver.” Sy eerste single ‘Is dit nu later’ verskyn in 1990 en daarna volg ‘Papa’ en ‘Breek de stilte’. Die toekennings begin instroom. En die res is – soos die sêding nou maar gaan – geskiedenis.
Sy nuutste werk Bloudruk, wat op CD en LP beskikbaar is, oortref alle verwagtinge. Die eerste druk van die plaatweergawe spog met ses poskaarte van verskillende bloudrukke deur Varenka. Die LP is op 180 gram blou viniel gedruk. Hy beskryf dit as ’n “bonte verzameling van songs” wat die afgelope jare geskryf is vir TV-programme waarby hy betrokke was of wat hy aangebied het.
My onderhoud met dié sanger, wat drie dekades gelede saam met oorlede Ralph Rabie (Johannes Kerkorrel) deur Suid-Afrika gereis het en sy hart hier kom verloor het, broei al sedert Maart vanjaar, waar ek in die gehoor van sy show Stef Bos: Bijna 30 jaar later by die KKNK gestaan het. Sowat vyf maande sou egter verloop voor ons uiteindelik by gesels uitkom.
Stef en sy gesin is met vakansie in Swede en dit sous in die Kaap vanwaar ek met hom gesels oor WhatsApp. Stef het pas sy 63ste verjaarsdag gevier en vier ook vanjaar sy 15de huweliksherdenking met die kunstenaar Varenka Paschke. Hulle woon in Tamboerskloof, Kaapstad, saam met hulle drie kinders – Kolya (14), Lorelei (12) en Vonkie (7) – maar bring ook jaarliks tyd in Nederland en België deur. Hoewel dié drie plekke almal vir hom huis is, sê Stef dit is vir hom ’n tuiskoms elke keer as die vliegtuig oor Tafelberg draai.
reise saam met Johannes Kerkorrel
Tydens sy KKNK-show gesels hy met die gehoor tussendeur songs. Sy woorde val fluweelsag op gretige ore op ’n snikhete Oudtshoorn-dag. Stef het sy lyf in die afgelope jare skaars gehou en die geleentheid om hom in lewende lywe te ervaar en hoor, is groot. By dié vertoning is dit net Stef en ’n vleuelklavier. Gestroop en eerlik.
Hy vertel dat sy kennismaking met Suid-Afrika eintlik jare gelede vooruitbepaal is. Sy ma het ’n penvriend in Potchefstroom gehad en as daar rusie tussen sy ouers was, het sy soms speels gedreig dat sy met die penvriend sal afhaak en die res van die gesin net daar in Nederland sal los. “Potchefstroom was my eerste verhouding met hierdie land – sonder dat ek dit geweet het.” Sy destydse reis deur Suid-Afrika saam met Ralph het hom egter toegelaat om die ware psige van Suid-Afrikaners te leer ken. Hy onthou hoe Ralph gesê het: “Julle oorsee is alte ge-organise.”
Ek lees ook in ’n 2011-onderhoud met Cape Town Magazine dat Stef se verhouding – en fassinasie – met Suid-Afrika in die vroeë 90’s in België posgevat het, toe hy lede van ’n anti-apartheidsbeweging ontmoet het:
[Johannes] Kerkorrel and I became friends and wrote the song ‘Awuwa’ together. We flew to Johannesburg to record it after which I went straight home again. But I soon returned to South Africa as I wanted to witness this overwhelmingly exciting episode of history in the cradle of democracy. I wrote predominantly about the past, the scars of violence, what had been and what would come and I attempted to express my personal ideas about how one can sincerely love a country without being nationalistic. As a foreigner I found myself on a symbolic crossroad – musically I collaborated with Black musicians from different cultures and whilst our backgrounds and cultures were hardly comparable I felt we tapped from the same source of passion.
Hy vertel verder van die KKNK-verhoog af dat hy in 1996 vir die eerste keer op hierdie einste verhoog gestaan het. Dis vir hom lekker om weer hier te wees en ook om ouer en wyser te wees: “Ouer word is lekker, want jy raak ontslae van jou kak.” Soos jy ouer word, sê hy, leer jy improvise; jy streef nie meer perfeksie na nie. “Ek was ’n romantikus toe ek jonger was, laatnagte en liedjieskryf,” vertel hy verder. “Nou is ek ouer en ek hou daarvan om mense in die oë te kyk as ek nog vars is, want as jy ander in die oë kyk, sien jy jouself.”
Tussen sy vertellings deur bespeur ek melancholie, vreugde en vrese. Hy sing ’n weergawe van ‘Suikerbossie’ ter ere van sy Suid-Afrikaanse vrou, met vier teaterligte wat soos silwer maanstrale oor hom en die pikswart klavier skyn. Ligte rook maak draaie op die verhoog en omhul hom in ’n laatnag-omlyning. Hy gaan voort en sê daar is baie goed wat jy net in Afrikaans kan skryf; nie in Nederlands nie.
Musiek kan nie die wêreld verander nie, meen Stef, maar dit kan ’n geweldige impak hê as dit op die regte tyd kom. Hy sing vir die Oudtshoorn-gehoor: “Gee jou hart vir Hillbrow [...] dit maak nie eintlik saak vir wat, gee net jou hart”, en die gehoor reageer met oorverdowende handeklap en wolwefluite. Hy vertel dat hul applous vir Ralph is – “die ou wat my hierheen gebring het en die rede is dat ek drie kinders in Suid-Afrika met ’n Bolandse nooi gehad het”. Maar dis Stef se voete-op-die-aarde-menswees wat daardie applous verdien, is my gevoel.
Met Ralph se dood het Stef een van sy beste vriende aan die dood afgestaan. Dit was ook toe die ideale waarvoor hulle in die donker jare gesing het, eintlik net leë beloftes geword het. Ralph Rabie was maar net een van die ontnugterdes.
Tydens ons gesprek sê Stef dat as hy een laaste whisky saam met Ralph kon drink, hy hom graag sou wou bedank dat hy die deur na hierdie land vir hom oopgemaak het.
die song is belangriker as die sanger
Ek val vas by die talle boodskappe in sy webwerf se gasteboek. Ná die heilige ervaring by die KKNK ’n paar maande gelede, kan ek heeltemal identifiseer met Richard Post se woorde in Mei 2024:
Jou musiek, lirieke is al die jare ’n soort metgesel in my lewe van erkenning, troos, groei in sagmoedigheid, liefde en die vermoë om dinge in perspektief te plaas. ’n Soort dominee :-) maar nie een wat vir jou voorskryf hoe om dinge te doen nie, eerder een wat self besig is om te leer en dit met eerlikheid deel.
Teen die tyd dat ek met Stef gesels, spog Suid-Afrika met ’n nuwe regering van nasionale eenheid. Ons gesprek maak daarom uiteraard ’n draai by die politiek. Of dit nou in Europa of Suid-Afrika is, daar is ’n gebrek aan visie en passie, meen hy. “Dis die probleem. Leiers is nie diensbaar aan die volk nie en solank dit nie in die kern verander nie, is elke regering ’n marionette-regering van multi-nationals en ander opportuniste.” Stef meen ons kort leiers in Suid-Afrika wat nie aan mag wil vasklou nie, maar wil dien vir ander mense. “Die konsep van verby jouself kyk, soos mense wat aan ’n katedraal begin bou met die wete dat hulle dit nooit voltooid sal sien nie; dat hulle net een skakel in die groter ketting is. Dis die leiers wat ons mis.” Hy voeg by dat sy pa hom geleer het dat mens nie praat van “ons en julle” nie, jy praat van “ek”. Jy skuil nie agter die kollektief nie. Dit het hom al verskeie male in die kookwater laat beland, maar hy staan by hierdie beginsel.
By sy show in Oudtshoorn grap hy met die gehoor en sê toe Koos Kombuis hom onlangs vra hoekom hy besluit het om sy kinders in Suid-Afrika groot te maak, het hy gesê: “Survivor skills. Julle is al 300 jaar gewoond aan chaos. Die kak spat nou eers in Europa.”
Met ouderdom kom daar gedeeltelik ook wysheid en hy sê hy leef sonder berou en skuldgevoel. “Wel met skuldbesef, en dít kan jy oplos deur jammer te sê – al is dit ook baie jare later.” Hy vertel dat hy ook geleer het dat die “song belangriker is as die sanger”. Hy dra dié wysheid van sy pa met hom saam: “Ons is blare aan ’n boom en die blare val, maar die boom bly.”
Is dit nu later
Hy sê hy raak nie moeg van optree nie, want selfs ’n song soos ‘Papa’ verander deur die jare en kry ’n andere diepte en betekenis. “’n Song is soos die spieël waarin jy jouself sien verander deur die tyd.” Hy hou ook daarvan om mense na sy vertonings te sien kom, om hulle die geleentheid te gee om die skoonheid van die wêreld weer te leer raaksien, ondanks al die gemors. Soos sy lewe in Kaapstad: Hy geniet die skoonheid van die Moederstad, sê hy – “én die bittere werklikheid van die land”.
Dis ’n ander inskrywing in Stef se website-gasteboek van Bob Heeren wat op 22 Junie skryf oor ’n onlangse konsert in Nederland, wat my nog lank na my en Stef se WhatsApp-gesprek bybly:
Vanaf [die opvoering van] ‘Is dit nu later’ […] was ons in ’n ander wêreld […] [w]at ons wêreld ’n eenvoudige oplossing vir wêreldvrede gee: Jou land is my land, my land is jou land, my God is jou God, jou God is my God. As ons (soos jy sê) dit waag om die grense van ons horison te strek, is daar geweldige ruimte waarin daar plek is vir almal, vir alle gedagtes. Dankie, Stef.
'n galery foto's van stef bos oor die jare, sommer net
Tussen al Stef se oorsese reise deur, is daar darem een aand vir Pretoria-gehore beplan: Woensdag 19 Februarie 2025 by die Atterbury-teater. Hou sy webtuiste dop vir meer inligting.