Carin Bester se proteskuns oor femicide
Sy het 'n naam gehad
November. Daai tyd van die jaar wat ons 16 dae van aktivisme vir geen geweld teen vroue en kinders waarneem (ek kan nie sê vier nie, want wat is daar om te celebrate?). 16 dae uit die 365 van die jaar uitgesit om bewusmaking van femicide te loods met die hoop om dit te verhoed. Ai. Maar dié is Suid-Afrika. Vroue in hierdie land lewe in ’n konstante toestand van vrees. Femicide steel die power wat ons as vroue het. Telkemale hoor ek my medevroue en myself sê: “I can’t, because I am a woman in South Africa.” Dis normaal om vir mekaar te sê: “Be safe’’ en “laat weet my as jy veilig is’’. Ons moes aanpas en systems vir onsself in plek stel, want die kanse dat iets met my of my suster – by die poskantoor, by die skool, op straat of in ons eie huis – kan gebeur, is te groot.
Volgens die SAPD se jaarlikse verslag word ’n gemiddeld van 11 vroue per dag vermoor in hierdie land. Dit is verregaande hoe groot dié statistieke is. ’n Mens kan nie byhou nie. En om die nare waarheid te praat: Min gee maar om. Syfers is onpersoonlik. Ons is desensitised: GBV het iets geword waarop ons nie meer reageer nie. Ons word moeg om daaroor te praat.
Darem is daar kuns.
Carin Bester is ’n multimedia performer, installasiekunstenaar en aktivis. Sy is die kreatiewe direkteur van die installasie She had a name 365 (a Yearlong durational performance piece highlighting femicide in South Africa). Hierdie installasie was in 2022 te sien by die Vrystaat Kunstefees, by 2023 se Suidoosterfees en vanjaar by die Kunstekaap tydens die Artscape Women’s Humanity Festival. She had a name 365 bestaan uit video-opnames waarin Carin elke 3 uur en 10 minute “She had a name” met die gevalnommer uitspreek. ’n Gekombineerde video van al die individuele video’s is weekliks op sosiale media ge-post met hulplyne na organisasies wat veg teen GBV se details. Dit is ’n performance wat op 1 April 2021 begin het en vir ’n jaar lank rekord gehou het, tot 31 Maart 2022. ’n Somtotaal van 2763 video’s is gemaak. Sedertdien het die getalle van vrouemoord uiteraard gestyg.
Bester se aaneenlopende kunsinstallasie is die produk van 365 dae se protes wat November se 16 dae van aktivisme ver oorskry. Die installasie is ’n vorm van rou; ’n manier om erkenning te gee aan elke vrou wat haar lewe verloor het as gevolg van moord. Dis ’n huldeblyk aan hierdie vroue se lewens en dien as herinnering daaraan dat hoë misdaadsyfers meer as blote getalle is. Elke syfer verteenwoordig ’n persoon, iemand wat ’n lewe, geliefdes en drome gehad het. Elke slagoffer is ’n mens, nie net ’n statistiek nie. Sy het ’n naam gehad.
Die stuk maak die stand van sake werklik en persoonlik. Dit tref ’n mens diep om te sien hoe die papier waarop Carin rekordhou – ook deel van die installasie – net nie ophou om uit ’n tikmasjien te loop nie. Dit is unsettling. Dit is depressing.
En dit is juis die punt: want hoe kan ons net blind wees en vergeet van vrou-nommer-hoeveel wat vermoor is? Bester se She had a name 365 is uitlokkend en vra en forseer die kyker om aktief aandag te skenk, te sien, te hoor en te voel hoeveel vroue in een jaar vermoor word. Hierdie werk is ’n manier om mense betrokke te maak by aktivisme deur middel van kuns. Dit maak ruimte vir die gesprek om aan te hou vir so lank as wat die syfers van vermoorde vroue van GBV in hierdie land aanhou styg.
Bester vertel self oor die performance: “Doing this performance is hard, it’s heart-breaking knowing that every time my alarm sounds for me to do another video, statistically a womxn is murdered. Another life is taken away, due to anger, envy, hate, jealousy, toxic masculinity or who knows why.” Volgens Bester gaan die stuk vir haar oor meer as net rou. Dit beoog om meer mense te motiveer om betrokke te raak en aksie te neem teen GBV. She had a name 365 daag ons uit om op te staan vir dié wat nie meer kan nie, en om te veg vir ’n beter toekoms waarin vroue se lewens nie tot statistiek verminder word nie.
Andréa Müller het met Carin gesels oor dié projek. Lees die onderhoud hier onder.
ANDRÉA: Kan jy asseblief meer vertel oor die proses om She had a name 365 te skep? Hoekom dié spesifieke formaat en materiaal?
CARIN: She had a name 365 het van 1 April 2021 tot 31 Maart 2022 geduur. Dit was ’n opvolg op die oorspronklike She had a name wat op 1 Augustus 2020 plaasgevind het. Dit is as ’n live stream opgetree as gevolg van Covid 19-beperkinge. Ek het die sin She had a name 2 695 keer getik; dit het 8 uur en 45 minute geneem en ek het amper 30 meter papier gebruik. Ek het gewerk met ’n ou Remmington-tikmasjien en ’n ekstra lang rol fakspapier. Die optrede is op sosiale media gedeel en ’n video daarvan is op YouTube. Die video is ook deel van die She had a name 365-installasie. Die doel van die optrede was om mense bewus te maak van die gruwelike werklikheid van vrouemoord in Suid-Afrika. 2 695 is die getal vroue wat die vorige jaar vermoor is – volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens se misdaadstatistieke van 2019–2020. Die sin She had a name is gebruik om mens te herinner dat dit ’n persoon is wat vermoor is. Dit is nie net ’n nommer op ’n statistieke verslag nie, maar ’n vrou met ’n naam. ’n Paar jaar voor die optrede wou ek ’n stuk doen met die name van die vroue wat vermoor is en dit is toe dat ek besef dat ons nie die name van die vroue ken of kan kry nie; hulle is net ’n nommer wat vrygestel word. ’n Naamlose nommer, en dit het nie vir my reg gevoel nie. Dit is toe dat ek geweet het ek moet iets daarmee doen.
Die optrede het ’n baie goeie reaksie gekry van mense. Mense wou meer weet oor die statistieke; mense het gepraat, maar soos met die meeste dinge was dit binne ’n week of twee iets van die verlede. Net ’n nagedagte, presies soos dit is met die moord van vroue. Ons praat daaroor as daar ’n saak is wat groot is in die nuus, ons praat daaroor op 16 dae van aktivisme teen geslaggeweld en dan ’n paar dae later vergeet ons en beweeg aan, maar die geweld hou nie op nie. Ek het besef daar is meer nodig. Ek self is een van die mense wat sê 16 dae van aktivisme is nie genoeg nie; ons kan nie net alleen 16 dae aandag gee aan dit nie. Ons regering doen nie genoeg nie. Hulle moet meer doen, 365 dae lank iets doen teen geslaggeweld. Ek het besef ek verwag ander moet 365 dae lank iets doen, maar hoekom doen ék nie iets vir 365 dae nie?
Dit het als baie vinnig gebeur, van die gedagte tot die begin was net ’n paar weke. Ek het besluit om dieper te kyk na die statistieke en het ’n gemiddeld gebruik oor ’n vyf jaar periode, 2015–2020. Ek was eers onseker oor wanneer om dit te begin en besluit toe om te begin saam met die statistiekejaar, wat 1 April tot 31 Maart is. Dit was, soos genoem, net ’n paar weke voor 1 April. Ek het oorweeg om te wag tot 1 Januarie, maar het ’n gevoel gehad van dit is nou of nooit. As gevolg van die tydsduur van die stuk, was online vir my die enigste manier om dit te maak werk en ook die meeste mense is op sosiale media en kry die meeste van hulle nuus en inligting daar. Ek het dus besluit om She had a name 365 op sosiale media te laat afspeel. Ek het 00:00 op 1 April 2021 die eerste video opgeneem en van daar elke 3 uur en 10 minute nagenoeg. In totaal het ek 2 763 video’s opgeneem oor die 365 dae. Elke video het begin met ’n nommer en dan die sin She had a name.
ANDRÉA: Wat beteken She had a name 365 vir jou, persoonlik?
CARIN: Dit was en is steeds vir my ’n baie belangrike stuk. Dit is so maklik om weg te raak in nommers, maar met She had a name 365 is die erns van die getal vroue wat vermoor word, ’n werklikheid wat op ’n manier tasbaar is. Gedurende die jaar waarin ek die stuk gedoen het, het baie vreemdelinge uitgereik na my. Vir verskeie redes. Dit het my laat besef hoe alleen mense voel wat deur geweld gaan of die families van slagoffers is. Ek het weekliks ’n langer video gemaak, waarin al die vorige week se video’s saamgesit is en dit is dan geplaas op my socials saam met inligting van verskeie organisasies in Suid-Afrika wat werk met vrouegeweld. En om daardie inligting te kon deel was vir my uiters belangrik. Ek kry steeds boodskappe van mense wat vra vir hulp. Wat vra vir name en nommers van organisasies wat kan help. En om te kan help op daardie manier beteken vir my die meeste. Want almal verdien ’n kans op hulp. Ek is ook natuurlik bly dat ek wel die 365 dae deurgemaak het. En daar was dae wat ek gedink het ek kan nie meer nie, ek wil nie meer nie, maar ek het.
ANDRÉA: Dis byna drie jaar sedert die aanvang van She had a name 365. Hoe voel dit om nou te reflekteer op dié projek?
CARIN: Dit is moeilik. Ek kan nie stilsit en net op dit fokus nie, want dit maak my kwaad. Ek wens ek hoef nie dit te gedoen het nie; ek wens dit kon werklik ’n verskil gemaak het. Alhoewel dit vir party mense ’n verskil gemaak het en ek weet dit het, glo ek al kan mens net een persoon help is dit belangrik, is daar geen verskil op ’n groter skaal nie. Die geweld gaan voort, die moorde is meer.
ANDRÉA: Wat merk jy op het in die afgelope drie-plus jaar verander rondom die gesprek oor GBV in Suid-Afrika? Is daar genoeg verandering?
CARIN: Daar is meer openlike gesprekke rondom GBV en dit is belangrik, want dit is waar dinge begin. As mens daaroor praat en nie net wegsteek en voorgee dit gebeur nie. Tog is daar nog glad nie genoeg verandering nie. Daar is nie genoeg wat gedoen word deur die regering nie. Daar is nie genoeg wat gedoen word in skole en die werkplek nie. Ek weet werklik nie wat dit gaan neem om ’n aansienlike verskil te maak nie. En dit voel gereeld soos ’n losing battle, tog sal ek nie ophou baklei nie.
ANDRÉA: Hoe skakel (of verskil) She had a name met van jou ander performance-werke? Ek dink byvoorbeeld aan jou onlangse Hunger Count, wat ook as ’n vorm van aktivisme deur bewusmaking beskou kan word.
CARIN: ’n Paar mense het my gevra waarom die skielike verandering van onderwerp. Van meestal fokus op GBV na honger, maar as mens dieper daarna kyk, is dit steeds deel van dieselfde gesprek. Daar is ’n baie duidelike skakel tussen die twee afgesien van die feit dat albei ’n vorm van aktivisme is. Ek dink dit is belangrik om te begin by die begin. My fokus as aktivis is meestal op vroue, kinders en die queer-gemeenskap. Diegene wat eerste en die meeste onderdruk word deur ’n patriargale samelewing. In dit was daar ’n sterk fokus op die moord van die vroulike liggaam vanwaar She had a name begin het. Maar die daaglikse gesukkel om genoeg voedsame kos te kry raak meer vroue en kinders aan as mans. En ek sê nie dit is net hulle nie, want daar is baie mense van alle geslagte, ouderdomme en rasse wat honger ly, maar daar is faktore wat die druk op vroue en kinders vererger. Byvoorbeeld, meer as 40% van Suid-Afrika se kinders woon slegs saam met hulle ma en groot gedeeltes van hulle het geen ondersteuning van die pa nie, wat dan alle verantwoordelikheid op die ma plaas om te sorg. Dit saam met die geslag-loongaping is net ’n paar van die redes waarom ek sê dat ek eintlik steeds onder dieselfde sambreeltema werk met Hunger Count en She had a name 365.
Albei is ook van ’n lang tydsduur, tog baie verskillend. Met Hunger Count het ek gewerk oor 10 dae, want dit het gepas binne die 11 dae van die fees en ek kon oor die 10 dae 10% van die getal huisgesinne wat honger ly, uitbeeld met die tel van die boontjies. Ek het elke dag 25 660 boontjies getel. Dit is 1% van die 2,566 miljoen huisgesinne wat honger ly in Suid-Afrika. Dit het ongeveer 8,5 uur per dag geneem om die net 1% te tel. Albei die stukke en baie van die werk voor dit is ’n vorm van aktivisme, ’n manier om mense meer bewus te maak van die realiteit van baie mense se stryd en om hopelik mense, al is dit net ’n paar, te kan help. Om dié wat nie in die stryd is nie, te motiveer om op te staan en iets te doen om te help.
ANDRÉA: Op die noot van jou ander projekte: Hoe kies jy die onderwerpe en/of materiale vir jou performance-installasies? En wat is die driving force agter jou kreatiewe proses van dié projekte?
CARIN: Ek sal sê my menswees, my empatie, is my driving force. Ek gaan soek nie na ’n onderwerp nie; dit kom na my toe. My heel eerste performance-stuk Verlies is ’n baie persoonlike stuk oor die verlies van iemand baie na aan my. Van daar het die meeste van die werk begin fokus op GBV as gevolg van ’n koerantvoorblad. Ek was by ’n vulstasie in die winkel en daar is altyd die rakke met al die koerante en die boonste koerant het ’n groot opskrif gehad van ’n 18 maand oue baba wat verkrag en vermoor is. Dit het my gevang. Ek het daar gestaan en staar na daardie woorde en toe begin agterkom hoe ander mense inloop, dit sien en jy kon dit nie miskyk nie. Dit was ’n groot hoofopskrif. Tog het mense net verbygeloop en aangegaan. They didn’t even bat an eyelid... Daardie realiteit dat dit nie eers mense skok nie, dat ons so desensitised geraak het, was vir my amper erger. Dit is toe dat ek begin oplees en navorsing doen oor GBV en waar ek met my aktivismewerk begin het en my werk daarop begin fokus het. Dit was in 2016, voor die groot optogte en media-bewusmakingsveldtogte van GBV regtig begin het.
In die proses van navorsing doen het die statistieke regtig by my gesit. Ek is nog altyd goed met nommers en wil gereeld ’n nommer opbreek en meer verstaanbaar maak en in dit het ek die realiteit van die statistieke makliker gemaak om te verteer en verstaan. In plaas van net die groot getal per jaar, het ek gaan kyk na hoeveel vroue en kinders ’n dag vermoor word. Hoeveel verkragtinge ’n dag aangemeld word en wat beteken dit in tyd. Dit het ’n sentrale proses geword in baie van my werk. Al is die onderwerp anders of die styl, is daar meestal ’n getal betrokke wat dan op een of ander manier uitgebeeld word. ’n Visuele voorstelling wat die omvang van die nommers konseptueel tasbaar maak. Die “hoe” om dan die nommers voor te stel kom na my toe meestal as ek gaan stap in die berg. ’n Bietjie kruiemedisyne help ook altyd om al die gedagtes en idees te formuleer.
Hunger Count is ook ’n onderwerp wat deur die nuus my getref het. ’n Ground Up-artikel oor ’n ouma wat haarself en ses kleinkinders voer met net ’n halwe koolkop ’n dag het my tot in my diepste wese getref. En ek het geweet dit was die volgende fokuspunt. En ek wil die stuk nog verder vat, maar by National Arts Festival gedurende die 10 dae van tel het natuur en tuin heeltyd na my toe gekom en ek het toe geweet ek het nodig om daarna te kyk. Ek is baie lief vir die natuur en tuinmaak. Dit is my plek van genesing vind, my troos, en ek het nou reeds een stuk gedoen en glo ek gaan vir ’n rukkie daaraan werk. Ek het besef hoe die jare van diep intense werk in baie moeilike onderwerpe my affekteer en dat dit weer tyd is om terug te draai na myself. Vir my is die tema van natuur een van genesing en ook van my plek vind, my belonging to this land.
ANDRÉA: Is daar planne om She had a name binnekort in die toekoms weer te installeer? En sal toekomstige installasies van She had a name altyd dieselfde wees, of sal jy enige verstellings of veranderinge aan die stuk maak na gelang van die huidige stand van statistieke (so te sê)?
CARIN: Ek het die jaar weer die installasie opgehad by Artscape vir hulle Women’s Humanities Festival. Dit was die 5de keer dat die installasie op was, en ek glo die laaste. Die installasie het altyd die 30 meter papier van die eerste She had a name wat uit die tikmasjien vloei, en dan van bo na onder drapeer paar meter vooruit. Ongelukkig het die papier en tikmasjien nou al die tol geëis deur mense wat nie respek het vir dit nie. Mense wat probeer tik op die papier en al was die inklint uit, het hulle steeds probeer en ek het net besluit dit is genoeg. Ek werk tans aan ’n video wat ek dan op YouTube sal plaas wat die stuk saamvat en die verskillende gedeeltes van dit wys. Ek sal saam met dit die inligting deel van hoe die statistieke verander het sedert ek met She had a name 365 begin het.
Hierdie storie is moontlik gemaak deur die Art Stories Incubator-program van Breinstorm Brand Architects, in samewerking met Klyntji en die KKNK. Dit is befonds deur ’n PESP-3-toekenning wat ondersteun word deur BASA en die Departement van Sport, Kuns en Kultuur.
Dié storie is ingevolge ’n Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivatives-lisensie gepubliseer. Dit mag dus herpubliseer word onder die lisensievoorwaardes, solank ’n skakel na die oorspronklike Klyntji-storie ingesluit is, saam met die erkenning hierbo.