Resensies en indrukke vanaf Woordfees 2024
Ons kyk, skryf en gee 'n punt uit 5
Hedda Gabler
5/5
Ek hou mos van ’n morsige verhoog. Daar is iets ongelooflik bevredigend aan ’n netjiese stel wat absoluut verinneweer word, dink ek soos ek by die teater uitstap ná die ontploffing van ’n toneelstuk Hedda Gabler.
Die beskrywing van hierdie toneelstuk, ’n vertaling van die oorspronklike Henrik Ibsen-teks, lees: “[Hedda Gabler] is aaklig, en sy weet dit.” Gabler (Rolanda Marais) is sinies, verveeld, selfsugtig en wraaksugtig. Kortom, sy’s ’n heks. Waar die woord heks dalk as skelwoord gebruik kan word om as sinoniem te dien vir feeks, kry dit in Hedda Gabler ’n bykomende laag: heks as toonaangewende woord wat dui op mag en seggenskap, iets wat ’n innerlike wildheid aanwakker.
Die tema van die wildheid van die mens is een wat nie te lank terug nie die aandag geniet het in die Afrikaanse letterkunde. ’n Mens sou dink dat nóg ’n verhaal wat oor dieselfde tema handel, geyk sal voel, maar Christiaan Olwagen se interpretasie en hantering van hierdie teks blaas nuwe asem in die wilde mens-troop.
Wat veral interessant is, is die teenoor mekaar opgestelde perspektiewe oor wie en wat Gabler is: Aan die een kant word ’n neutraliteit oor hierdie immorele karakter gehandhaaf, wat erkenning verdien, en aan die ander kant word sy uitgejou as “slet, hoer, teef”.
Elke persoon wat deel is van die Hedda Gabler-geselskap, kan uitgelig word. Rocco Pool sorg vir ’n stel wat ’n mens nie werklik meer sien in Afrikaanse teater nie; Mariechen Vosloo se kostuumkeuses pas die karakters soos die strepe op ’n tier; Charl-Johan Lingenfelder (musiek) laat nie ’n oomblik verbyglip waar hy met die gehoor se koppe kan smokkel nie; Wolf Britz se beligtingsontwerp (assistent: Kieran Mcgregor) en produksiebestuurder Marie Vogts sorg vir ’n dringende, dreigende atmosfeer; en die choreografie is ’n begogelende ervaring!
Marais, Albert Pretorius, Martelize Kolver, Ashley de Lange, Ludwig Binge en Stian Bam se ywer en vakmanskap as akteurs getuig van ’n liefde vir die spel. Elke speler werk saam met die stuk soos een groot masjien. Selfs ná ’n klein tegniese probleem tydens die vertoning wat ek bygewoon het, het elkeen van die spelers hulle fokus behou en geboei tot op die laaste sekonde.
Hedda Gabler is beslis nader aan die weirder kant van die feesaanbod. Dis presies die ervaring waarna ek op soek was tydens hierdie feesweek – om meegesleur te word en vir ’n oomblik in die tydelike storierealm van die teater te leef. — Elzanne Coetzee
Jy kan nog Hedda Gabler gaan kyk op 4 Oktober om 20:00; 5 Oktober 10:00 en 13:30; en 6 Oktober 10:00 in die Adam Small-ouditorium. Meer inligting hier.
Daar is ook ’n teatergesprek op 4 Oktober om 11:30 in die US Museum-anneks waarin die toneelstuk bespreek word.
The king of broken things
5/5
Die storie is eenvoudig: Alles wat gebreek word, kan weer heel word. Of dis basies waarvan die klein seuntjie op die verhoog jou – maar grotendeels homself – probeer oortuig.
Maar die lewe werk natuurlik nie so nie en herwin is nie noodwendig heel nie. Die krake en aangelaptheid wys. Dis soos Cara Roberts, wat die rol van die seuntjie vertolk, reeds aan Klyntji vertel het.
Die storie word uit die perspektief van ’n jong kind vertel. Hy dra aanvanklik ’n soort tuisgemaakte vlugpet en bril – asof hy pas iewers elders uit ’n sprokiesland geland het en nou met die gehoor kom gesels. As jy jou verbeelding vrye teuels gee, kan hy ’n lynskets uit ’n kinderboek wees en met sy senuweeagtige vertellinge wat verklap dat hy dalk op die spektrum kan wees, gaan jou hart van die eerste woorde uit sy mond uit na hom.
Hy gebruik ’n masjien waarmee hy woorde weeg: Dié wat te swaar is, moet agtergelaat word; dié wat lig is en ons ophef, kan saamgedra word. Woorde soos liefde en vrede tel onder laasgenoemde. Hy is besig om ’n soort Superman cape vir homself te maak uit hierdie ligte woorde, sodat hy eendag daarmee kan vlieg.
Soos die toneelstuk ontvou, hoor jy dat sy pa weg is; sy ma moedeloos en verlore voel; en dat hy dikwels onder in sy pa se werkswinkel slaap – daar waar hy omring is van hope gebreekte goed wat dan ’n tweede lewe kry. Sy voortdurende gebabbel dat sy pa gaan terugkom, dryf die dolk elke dag net dieper in sy ma se hart en die seuntjie lei eintlik ’n baie eensame lewe.
Op skool is sy andersheid die oorsaak dat hy gespot en geboelie word. Tog bly hy glo dat alles sal regkom. “My gunsteling- gebreekte goed is dié wat ander gebreekte goed benodig om weer heel te word: soos mense. En ek het op die radio gehoor die man sê ons land is gebreek, maar hoe breek jy ’n land? Dit kan ook reggemaak word, want die grond is nog steeds hier en die mense ook. Ons kan net al die gebreekte goed heelmaak, dan is niks meer stukkend nie.”
Maar tog besef jy dat die droomwêreld waarin hy leef, waarin sy pa sy Superman is, is aan flarde.
En al het sy pa hom destyds oortuig dat hulle die konings van gebreekte goed is, het hy eintlik voete van klei omdat hy hierdie klein seuntjie gebroke – en uitgelewer – agtergelaat het.
Deur sy onskuldige ogies sien hy hoop, maar die wêreld waarin hy woon en swaarkry is een van wanhoop.
Bitter min teaterstukke het my al só geraak soos hierdie een. Dit het al verskeie pryse ingepalm en is ook een werk wat jy weer en weer kan gaan kyk, omdat jy elke keer nog iets sal raakhoor. En die stel is ’n chaotiese warboel van afval en rommel, maar vir hom een van ontelbare moontlikhede.
Dis altyd lekker om ’n vertoning weer te sien – verskillende teaters, maande later – omdat jy soveel ander dinge oplet wat die eerste maal dalk by jou verbygegaan het. Maar die bekoring van hierdie storie het honderdvoudig toegeneem. Ek het destyds ná die speelvak in die Baxter vir almal gesê as jy net een toneelstuk kyk hierdie jaar, laat dit hierdie een wees. Ek sê dit weer.
Die feit dat hierdie toneelstuk as deel van die Kinderfees aangebied word, doen dit ’n onreg aan, want eintlik is hierdie storie vir almal – of jy agt of 88 is. Want op ’n manier is ons almal gebroke en het ons hoop en oortuiging nodig dat gebreek nie vernietig hoef te beteken nie. En daardie boodskap is nie net vir kinders nie. As jy regtig betower wil wees deur ’n teaterstuk, is hierdie stuk die een vir jou. — Maryke Roberts
The king of broken things speel op 4 Oktober om 16:00 en 6 Oktober om 10:00 by HMS Bloemhof Skoolsaal. Meer inligting hier.
Vier Panado's en 'n chardonnay
3/5
Toe die ligte uitdoof en die atmosfeer van die vele kandelabers met lang wit kerse tot sy volle reg kom, verskyn Elzabé Zietsman in ’n swart syagtige japon. Die pianis Tony Bentel sit agter die pikswart vleuelklavier in ’n rooi sequence-baadjie en swart sequence-sjoebroekie. Jy weet sommer hierdie vertoning is nie die gewone musiekfeesproduksie nie!
Sy val weg met ‘Wilkommen’ en ek maak reg vir kabaret wat my na die rokerige kroeë van Parys of Amsterdam of New York sal wegvoer. Iets wat ek lanklaas gesien het en – wat ek net daar in die donker teater besef – ook ongelooflik baie gemis het.
Dan val die japon en sy staan in ware Liza Minnelli-styl met haar blink rok, kortgeskeerde hare en lang oorbelle voor die gehoor. Sy sing dat ons die wêreld se sorge moet buite laat; hierbinne is dit mooi.
Die program het voorspel dat “in hierdie kabaret, ook bekend as Ek het al so baie my *** gesien, ek is bang vir ***** , vier Elzabé Zietsman haar en haar mede-Suid-Afrikaners se veerkragtigheid. As ons val, staan ons op. As die mat onder ons uitgeruk word, maak ons bollamakiesies en land op ons voete. As die wêreld om ons verander, pas ons aan. En as die wêreld om ons heeltemal uitmekaarval, drink Mamma vier Panado’s en ’n glas chardonnay, en Pappa steek die vuur aan. Môre probeer ons weer.”
En hoewel daar lekker lag tussenin is en hier en daar gesing word, is daar baie gesels en baie daarvan oor hoe sy op sosiale media verneder word, gevloek word en onmenslike goed toegeslinger word. Hoe sy die slagoffer van ’n slenter was en bykans kaal anderkant uitgestap het. Die lewe is ’n moeilike ding en die mens is nie goeie rolmodelle vir hul kinders nie. Daar is rassisme, klassisme, paternalisme en ander -ismes wat ons uitmekaardryf.
Daar is wel lekker storietjies van opstaan en aangaan, “maak nie saak wat gebeur nie, ek is nog hier”. En sy haal ook vir Dricus aan met: “‘Hulle weet nie wat ons weet nie.’ Ek weet nie ’n fok wat dit is nie, maar dit werk!” Daar is mooi stories uit haar woonbuurt Brixton in Johannesburg waar mense van regoor die wêreld in vrede saamwoon, vir mekaar omgee en dit ’n beter plek wil maak. Van elke toernooi, kampioenskap of goue medalje wat ons land wen en hoe dit ons trots maak.
Maar ek het nie daar gesit en gevoel dis mooi hierbinne nie. Ek is nie meegesleur deur die musiek en tydelik uitgelig uit die lewe se moeilikheid nie. Ek is eerder met ’n swaar hart daaruit. Om te weet dat daardie (meestal jonger) mans – wat sulke walglike opmerkings op sosiale media teenoor ’n vrou maak, waarin hulle hoop sy of haar dogters word verkrag – dalk net nou langs my in ’n wynkroeg gaan sit en liefies glimlag, laat my hare rys oor ons land se toekoms. — Maryke Roberts
Vier Panado’s en ’n chardonnay is op 4 Oktober om 16:00 en 5 Oktober om 10:00 by die Drostdy-teater te sien. Meer inligting hier.
Op die hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan
4/5
Mense wat onlangs die Netflix-reeks Kaos gekyk het, en diegene wat old skool is en die Griekse mitologie ken, sal vaagweg die verhaal herken van Orpheus en Eurydice in Op die hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan. Net soos wat Kaos ’n herverbeelding van dié mite is, blyk dit dat vir Op die hoek van Styx en River ook inspirasie geput is uit hierdie verhaal oor liefde en verlies.
In Op die hoek van Styx en River word Nora gekonfronteer met die eksistensiële vraag: Wat as die hiernamaals ’n teleurstelling is? Nora is ’n kelnerin wie se man 40 jaar gelede, kort nadat hulle getrou het, oorlog toe is, en sy het hom nie weer gesien nie. Wanneer sy die tydelike met die ewige verwissel, sien sy dit as die gulde geleentheid om hom terug te bring. ’n Verhaal oor verlies, teleurstelling en wat ek interpreteer as uiteindelike aanvaarding en afsluiting volg. (Die slot is natuurlik oop vir interpretasie.)
Soos wat Orpheus met die hulp van sy sangstem en musiek vir Hades moet oortuig om sy geliefde saam met hom na die land van die lewendes te mag neem, gebruik Nora haar stem om op die ou end nie te kry wat sy wou hê nie, maar eerder wat sy nodig het.
Sy gebruik wel nie haar stem om haar pad oop te sing nie; sy trap eerder dié wat ’n oordeel moet vel van ’n kant af uit – classic Afrikaanse Tannie-styl. Die feit dat dié uittrapsessie op die gehoor gerig word en ons as’t ware vir die oomblik deel vorm van die stuk, ’n hoogtepunt.
Op die hoek van Styx en River is ’n slim spel met mite, herkenbare dog vreemde ruimtes en ’n goeie skeut humor. Met Sandra Prinsloo (as Nora) se grounding energie op die verhoog, raak sy die spilpunt waarrondom elkeen van David Viviers se eksentrieke karakters wentel. Viviers bring weer ’n ligtheid na die spel wat die perfekte aanvulling is vir Nora se stuursheid.
Is die konsep van ’n persoon wat na die onderwêreld reis om ’n geliefde weer te sien, nuut? Nee. Maar die aanbod in Afrikaans en op ’n Suid-Afrikaanse verhoog is.
Enigeen wat nie ’n beklemming in die bors sal kry as hulle ’n vloekwoord of twee aanhoor nie, sal hierdie stuk geniet. Al is dit net oor die feit dat die onderwêreld darem net ’n bietjie te na aan die algemene staatsinstansie lyk. — Elzanne Coetzee
Daar is nog een vertoning van Op die hoek van Styx en River op 4 Oktober om 13:00 in die HMS Bloemhof-sentrum. Meer inligting hier.
Kruispad of die legende van die goue vis
5/5
In Kruispad of die legende van die goue vis is twee verliefdes, Laura (Carla Smith) en Roland (Edwin van der Walt), op pad na ’n partytjie wanneer hulle weens onvoorsiene omstandighede voor die deur van die kluisenaar Oswald (Eben Genis) beland.
Wat volg, is ’n fabelagtige vertelling van wat gebeur wanneer drie mense kompeteer om 4 biljoen dollar. ’n Blote deur na ’n klein kamertjie oënskynlik gevul met bokse vol harde kontant word die simbool vir ’n heerlike, psigologiese spel, met die geldgierigheid van die mens as tema. Wie van ons sou nie kon doen met ’n biljoen nie? En wat is jy bereid om op te offer vir die regte bedrag?
Wat hierdie toneelstuk interessant maak, is die universaliteit daarvan – inaggenome dis ’n vertaling van ’n teks deur Estlandse skrywer en akteur Jaan Tätte en die gemaklike ontvangs daarvan in ’n Stellenbosse gehoor. Wat van die stuk ’n moet-sien maak, is die wyse waarop akteurs Smith, Van der Walt, Genis en in die tweede bedryf, Beer Adriaanse, teenoor mekaar speel. Hier kry die gehoor ’n blik op hoe dit lyk wanneer akteurs waarlik spéél.
Ek moet ook hier spesifiek Smith se vertolking van die karakter Laura uitlig. In die proses om aan hierdie karakter lewe te gee deur ’n persoonlikheid en mannerismes wat byna herinner aan Orkney se eie Yollie van Tonder, verleen Smith ’n mate van komiese verligting aan ’n stuk wat andersins oor ’n donker onderwerp handel – ’n verdieping aan die stuk wat myns insiens die perfekte balans bewerkstellig tussen die absurde aan die een kant en die senutergende aan die ander kant.
Die energie waarmee hierdie geselskap die spel benader gryp die verbeelding aan en laat die gehoor toe om hulself te verloor in die magies-realistiese werklikheid van die 105 minute wat Kruispad beslaan. Selfs tydens die 10 minute breek, bly ek vasgevang in die wêreld van dié verdigsel.
Vir ’n goeie stuk om te werk, is dit natuurlik nodig dat elke komponent wat deel vorm van die geheel, seepglad verloop en soomloos inmekaarvloei. Met teaterlegende Marthinus Basson wat die regie en vertaling van Kruispad behartig; enkele vlymskerp kwinkslae in die dialoog; kostuums wat herinner aan ’n volwasse-sprokieswêreld; en ’n stel (deur Nicolaas de Jongh) wat die kyker onmiddellik verplaas na die binnekamer van Oswald se afgesonderde houthuis en enduit boei, is hierdie stuk vaartbelyn en oortuigend. — Elzanne Coetzee
Moenie die kans misloop om op 1 Oktober om 18:00; 3 Oktober 9:30 en 12:30; of 4 Oktober 10:00 ’n vertoning van Kruispad te sien nie. Meer inligting hier.
Eendagsvlieg en ander vlietende gedagtes
4/5
Rosa Keet – die legendariese digter AD Keet se dogter – verken in hierdie 45 minute vertoning verskeie temas wat wissel van die liefde, verlies, geboorte en die natuur. Die program is saamgestel uit haar digbundels en ook van haar nuutste werke onder die voorlopige titel Eendagsvlieg en ander vlietende gedagtes, wat ook die titel van die stuk is.
Anna-Mart van der Merwe en Henriëtta Gryffenberg is die voorlesers. Hulle swart klere smelt weg teen die swart gordyne en maak hulle amper onsigbare stemme wat salig oor jou spoel.
Michèle Nigrini se kleurvolle maar abstrakte beelde spoel oor die skerm agter hulle. Soms word jy net holderstebolder ingetrek deur die vorm en kleur wat dans met die woorde; soms vervaag die woorde en die beelde praat harder.
Die twee vroue staan kaalvoet agter ’n groot hoop boeke; aan die linkerkant van die verhoog staan ’n leë stoel. Daar flits woorde oor die skerm wat sê die vertoning is ’n huldeblyk en soms moet ’n stoel ook vir die lewendes neergesit word.
Henriëtta vra op ’n stadium vir Anna-Mart of hulle nie eers iets oor Rosa Keet moet sê, soos dat sy op Senekal gebore is of dat die stoel meer as net ’n stoel is nie, waarop Anna-Mart so half verleë sê: “Nee, die gehoor kan dit mos google!”
Daar is ’n paar goed waaroor ek lag kry, maar meer vir persoonlike redes en ook nie sigbaar vir die res van die gehoor nie. Die verduideliking van die homo erectus en sapiens as die aap wat kan dink, teenoor die homo sapiens sapiens, die tropdier wat ’n na-aper is, is een. Die ander is die verduideliking van ’n Joyce Facebook-dag van selfies, ’n gebrabbel en die latere onvermoë om ’n wag voor haar mond te sit en haarself dan te veronskuldig deur ’n grappie onderaan elke inskrywing te sit. Maar haar eintlike eensaamheid om vir iemand te kan ontbyt maak – hoe in die kol! Die derde is die stelling dat “akkoord nie oor feite gaan nie, maar oor beginsels”. Jy hoef net die kommentaar op sosiale media of aanlyn publikasies te lees om hierdie maar alte goed te verstaan.
Dis die stukkie wat Anna-Mart voorlees wat min of meer só lees: “Al word ek kalm wakker, is my kop nog vol van die gebrom van warm bye”, wat die meeste by my resoneer. Hoe goed ken ek nie daardie gevoel dat ’n nagrus soms nie genoeg is om jou brein te laat afskakel en met vrede wakker te word nie.
Drie los sinne oor sterwende visse of ontploffende sterre is só keurig en goed gekies dat ek prentjies in my kop vorm – vlietend, want die volgende mooi beskrywing is op pad.
Ek het die stuk baie geniet, omdat die Afrikaans vir my sag en bekend en gerusstellend op die oor val. Want soms voel dit my die taal wat ek by my ma geleer het, wat vir my skuiling bied teen die aanslae van die lewe, het ’n vloek geword. Dit moet bitter op my tong wees en as dit nie is nie, is ek op een of ander manier aandadig aan die seer van gisters. Maar dis die enigste taal wat ek ken en in die veilige kokon van ’n donker teater mag ek my vir ’n wyle oorgee aan die bekende.
Ag, hoe mooi val die tong! — Maryke Roberts
Eendagsvlieg en ander vlietende gedagtes speel 2 Oktober en 3 Oktober om 10:00 by die Drostdy-teater. Meer inligting hier.
Ateljee-besoekE: Ingrid Winterbach en andries gouws
4/5
Die twee kunstenaars Andries Gouws en Ingrid Winterbach se ateljees is weerskante van die kort gangetjie by die trappe op van hulle huis in Jamestown. Daar is reuseruite met uitsigte van die Helderberg aan die een kant en aan die ander lê die wingerde, heuwels en denneplantasies van die mooie vallei tot op die horison.
Dis toe sommer ’n dubbeldoor-besoek. Ons is net ’n handjievol Sondagmiddag en Ingrid vra of ons nie sommer eerste na Andries se ateljee wil gaan en na hom luister voor sy haar storie vertel nie.
Hy vertel hy het sy brood as filosoof verdien en het aanvanklik abstrak geskilder, maar “nadat ek koers gekry het, het ek kleiner begin werk en ook absoluut realisties begin verf”. Hy werk graag van foto’s af – veral van dinge wat goed soos veranderende landskappe en wolke bevat.
“Ek vermy onderwerpe wat holruggery is. Die ongewone trek my aan – daardie goed wat só onopvallend is dat niemand eintlik daarna kyk nie.” Hy voeg ook by dat daar nie een storie is wat hy met sy werk dek nie. Daar is groot stukke vleis op ’n yskasrak, dan ’n landskap en dan ’n man se voete met spina bifida – waaroor hy baie kritiek gekry het, maar die man het toestemming gegee dat hy sy voete skilder, verweer hy.
Hy staan terug en sê hy hou nie daarvan om dieselfde storie te vertel nie, maar eerder mense se reaksie tot sy werk te sien en dan – as hulle wil – daaroor te praat. Daar is lank stilte onder die kykers. Die onopvallende skielik baie opvallend.
Ons stap oor na Ingrid se ateljee.
Kom ek wees nou maar eerlik, dis vir enige woordsmid intimiderend om jou notaboekie uit te haal as die persoon wat die rondleiding doen, die ikoniese skrywer Ingrid Winterbach is. Veral in haar eie huis; in haar ateljee.
Sy stap van een skildery na die ander en verklaar dat daar ’n speelsheid in haar werk is. Daar is geen pryse of titels nie. ’n Man vra hoekom nie en sy lag en sê as iemand belangstel, maak sy sommer gou ’n titel op en sy het gewoonlik ’n goeie idee van die prys.
Sy werk gewoonlik in reekse en kyk krities na dit wat uitgestal is en verklaar, asof sy nou eers bewus word van dit wat sy op esels uitgepak het, “wat nie hier is nie, is die kontinuïteit van ’n reeks. En eintlik is dit onregverdig. Dis soos om net een woord van ’n gedig te wys.”
Daar is wel ’n paar onder die desolate ruimtes-tema – sinkhokke waarin mense sonder vensters woon, asook ’n paar oor die stryd om grond – wat sy “bevegte terrein” noem, omdat daar soveel bloed oor grond gegiet word.
Maar die kykers is gretig vir meer hoor en sy verduidelik dat sy in die meeste van haar werk altyd die naakte vrou het (soos wat dit deur Westerse kunstenaars voorgestel word: as objek); dan ook die kunstenaar; ’n soldaat as argetipiese figuur; en heel dikwels ’n hangman.
Sy hou van swart as agtergrond, maar word nie daardeur beperk nie. “My werk is opsetlik anti-esteties. Dis nie veronderstel om maklike kykstof te maak nie. Ek wil nie mooigoed maak nie. Dit moet grinterig en teendraad wees. Kleur is klaar ’n toegewing, want kleur het emosionele lading.”
Sy stap na drie kunswerke van blomme, iets tussen abstrak en realisties, en verklaar dis ook ’n toegewing op haar styl.
“My eie emosie en respons tot die werk skuif heeltemal op die agtergrond terwyl ek besig is met die formulering van my kunswerk.”
Sy vertel dat sy skaamteloos van ander skilders leen en hou daarvan om teks in haar kunswerke te verf – “dis aanvullend, maar word tog ’n formele element. Soms neem dit my langer om die woord te skryf as om die hele kunswerk te verf!”
Teen die mure sit ’n paar baie realistiese potlood- en inksketse. Sy erken dat sy graag in oorsese museums gaan sit en skets – uiters realisties, bloot ’n dokumentasie.
Die klein groepie staan nader, sy haal ’n sketsboek uit en blaai daardeur. Hou dit teen haar lyf en blaai.
My gevoel van intimidering en ontsag vir hierdie vrou maak plek vir vertedering. Dis soos om die binneste van jou hart en siel met vreemdelinge te deel hierdie en ons is daardie voorreg beskore.
Ek sit my notaboek weg en kyk hoe die lyne onder haar vingers deurgly. Ek kyk op na die berge waaroor die sonnetjie net hier en daar ’n straaltjie tussen die reëndruppels gooi.
Of jy van die kuns hou of nie, dis magies om daar in dié kunstenaars se binnekamer te kan staan en na hulle denkprosesse te luister. — Maryke Roberts
Die ateljeebesoeke is op 4 Oktober en 5 Oktober om 15:00 en 16:00 en duur 60 minute. Meer inligting oor Ingrid hier en oor Andries hier.
'n Begin
4/5
Die toneelstuk ’n Begin is ’n vertaling van David Eldridge se oorspronklike Beginning. Die stuk laat die gehoor toe om ’n voyeuristiese blik te kry op die eerste teer en dikwels ongemaklike oomblikke wanneer twee mense begin voelers uitsteek na mekaar teen die einde van ’n house warming-partytjie.
Laura (Cintaine Schutte), ’n 38-jarige besturende direkteur by haar maatskappy, het op die oog af alles waarna die moderne mens streef. Sy besit ’n paar eiendomme, haar vriende is “jaloers op haar” omdat sy skynbaar ’n greep op die lewe het, sy straal selfvertroue uit.
Daniel (Carel Nel), aan die ander kant, is ’n man wat op sy 42ste jaar spyt is oor van die besluite wat hy in sy lewe geneem het en hy is nie tevrede met waar hy in die lewe is nie. Hy’s huiwerig om te glo dat ’n karakter soos Laura in hom sal belangstel.
Wat het die twee gemeen?
Laura en Daniel het met die eerste opslag nie veel gemeen nie, maar die chemistry is daar! In die doodsnikke van die aand se vieringe ontbloot die karakters meer en meer van hulself en dis in hierdie gesprekke waar die magic lê – as mens verby die oppervlakkige kyk, sien jy hulle is albei net doodgewone mense. Hulle is eensaam. Hulle soek na ’n egte connection met ’n ander persoon. Iemand wat daar sal wees op ’n Sondag.
Die stuk is, in die woorde van Cintaine, “net ’n slice of life”: “Dis ’n baie naturalistiese play in die sin dat dit oor 80 minute in real time afspeel. Daar’s geen truuks of twists of plot turns nie.”
Met Cintaine in die vervaardigerstoel en Tinarie van Wyk Loots se ervare regisseurshand, gee hierdie stuk ’n outentieke kykie in die kompleksiteite van moderne verhoudings. Vertaal (deur Nico Scheepers) vir die hedendaagse Suid-Afrikaanse gehoor, is ’n Begin ’n slow burn, maar gee dit tyd; dis snaaks, eietyds en ek kan amper waarborg jy sal aanklank kan vind daarby. — Elzanne Coetzee
’n Begin speel 30 September 10:00 en 14:00; 3 Oktober 19:00; en 4 Oktober 10:00 by die Adam Small-ouditorium. Meer inligting hier.