'n Acid trip en die vrystelling van die Turksvy-zine

'n Acid trip en die vrystelling van die Turksvy-zine
 

Ontwerp: Olivia Loots

 

Afrikaanse feminisme aan die einde van die wêreld

As ’n manier om die Turksvy-argief maklik en gratis toeganklik te hou vir enige iemand wat dit wil lees in die toekoms, het die redakteurs Bibi Burger en Azille Coetzee al die brief-uitgawes in ’n digitale zine bymekaargesit. Olivia Loots het die ontwerp gedoen.

Kry die PDF hier: klyntji.com/turksvy


Bibi Burger en Azille Coetzee in gesprek oor Turksvy

AZILLE: Meer as ’n jaar is verby sedert ons Turksvy begin het en ek voel soos ’n ander mens en ’n heel ander soort feminis!

BIBI: Ja, nè, dit is moeilik om te glo dat dit net ’n jaar is. Kan jy verwoord hoe of hoekom jy voel dat jy ’n ander mens is? Ek vra, omdat ek dieselfde voel en dit moeilik vind om dit te verwoord. Op ’n basiese vlak, dink ek, dat ek oper voel – asof nuwe avonture moontlik is en ek nog in enige rigting in kan verander. Vir die jare voor dit (bt, before Turksvy) het ek baie stabiel en ge-settle gevoel. Om nie meer so te voel nie is onthutsend, maar ook opwindend.

AZILLE: Hahaha bt! Wat is dit wat jou unsettle het hierdie jaar?

BIBI: Miskien dat ek Kaap toe getrek het? En dit het ook te doen met die feit dat ek en jy nou in dieselfde stad woon – dit het my unsettle, maar darem op ’n goeie manier, hoor! Alhoewel ons al vir lank baie nabye vriende is, is dit ook anders as ons saam ervarings kan hê eerder as om dit tweedehands met mekaar te deel. Dis ook jou verjaardag wat dinge in my ’n bietjie verskuif het in die laaste paar maande.

AZILLE: O, vir my ook. Dit is min dat iets so ’n effek op my het, maar daardie acid trip het my verhouding tot die werklikheid werklik beïnvloed.

BIBI: Terwyl dit aan die gang was, was dit vir my minder intens as vir jou – ek het nie gehallusineer nie, alles was net vir my vreeslik mooi. Julle woonstel en sy uitsig oor Kaapstad se liggies is altyd mooi, maar nou was dit omhul met so ’n warm, pienkerige gloed. Ons en die hartseer musiek wat ons geluister het, was ook deel van hierdie gloed en daarom het ek baie na aan jou en ons ander vriende gevoel, asof ons deel is van een entiteit. 

AZILLE: So interessant dat jy so ’n verbintenis met ons almal gevoel het. Vir my was dit als eintlik eksistensieel-isolerend. Ek het gevoel julle is almal daar saam met my en ek weet hoe close ons is en hoe baie ons vir mekaar omgee, maar die ervaring het my so intens-bewus gemaak van hoe maklik die werklikheid waaraan ’n mens so verbonde voel, kan verander of disintegreer, hoe tydelik dinge is, en hoe fragiel, dat ek baie alleen in die trip gevoel het. Maar nie op ’n slegte manier nie, meer op ’n gewone of vanselfsprekende of onafwendbare manier. Ek dink dit het my maande geneem om weer op dieselfde manier om te gee oor dinge en invested te wees in dinge as wat ek gewoonlik is. Dalk voel ek dit nog steeds – ’n effense afstand tussen my en die wêreld wat my eintlik goed doen. Ek het hierdie jaar my lewe baie vereenvoudig en gestroop van dinge wat minder belangrik voel, en ek probeer regtig my tyd bestee aan dit wat vir my baie waarde en betekenis het.

BIBI: So hartseer, die isolasie! Maar ook goed as ’n mens jou menslikheid en hoe vlietend alles is, kan besef op ’n manier wat nie sleg of oorweldigend is nie. Ek dink dat, al het ons ervarings van die trip self verskil, was die effek op my ná die tyd baie dieselfde. Ek het ook heel verwyderd van my lewe gevoel, met ’n nuwe perspektief op hoe ge-maak alles is, hoe alles anders kon wees. En gedink oor hoe leef ’n mens jou (feministiese) oortuigings, en hoekom ons Turksvy doen. Ek dink vir my was dit veral betekenisvol dat Turksvy (op ’n manier, vir party mense) as ’n skakel gedien het tussen die private en die gemeenskaplike. The personal is political is al ’n cliché en dit is definitief so dat dit ’n gevaar loop om Wit feministe te onderskraag in hulle/ons individualisme: Wit vroue wat dink alles wat hulle doen of sê of op sosiale media post, is per definisie aktivisties en hulle hoef nie meer as dit te doen om solidariteit te bou en die wêreld te probeer verander nie. Maar tóg, tóg dink ek dat Turksvy tog iets aan die gang gesit het.

AZILLE: ’n Gesprek?

BIBI: Ja, Turksvy was nie heeltemal ’n gesprek nie, maar tóg was dit. Die verskillende skrywers se briewe het (in slow motion) in gesprek getree met mekaar. In ons Lauren Berlant book club het ons almal die ander aand gesels oor Berlant se beskrywing van gesprekke. Waar Berlant sê: “Conversation is a space of time that makes its own rules and boundaries, its own terms of being contemporary and of taking over what would otherwise seem the arrhythmic rule of crisis.” Hoe ek dit (heel moontlik verkeerdelik) verstaan is dat ons in gesprekke met vriende, terwyl die gesprek aan die gang is ten minste, sáám nuwe moontlikhede kan raaksien en die wêreld kan herbedink en dit alles latente potensiaal het. Ná die gesprek verby is, is dit net nog ’n voorwerp wat ingepas kan word in ander diskoerse, maar terwyl die gesprek aan die gang is, kan dit enige rigting inslaan, is dit vol bruisende moontlikhede.

AZILLE: Jy sê dit so mooi. En ek dink wat Turksvy ook gedoen het, is om bestaande gesprekke wat aan die gang is in ons konteks, eksplisiet te maak en sigbaar te maak vir ’n bietjie groter publiek. Ek bedoel, ná ’n jaar van Turksvy verstaan ek op ’n manier wat ek nie voorheen het nie, hoe lewendig feminisme in ons konteks is.

BIBI: Ja, ek dink nie ek sou enigsins kon voorspel hoeveel diverse briewe mense sou skryf nie – my visie en verbeelding was eintlik so beperk. Hoe voel jy oor ons aanvanklike visie? Het Turksvy jou maniere van dink beïnvloed? Dink jy die (fragiele, tydelike) gemeenskap wat Turksvy moontlik gemaak het, kan polities betekenisvol wees, of dink ek te funksionalisties? Is Turksvy eerder ’n end unto itself?

AZILLE: Ek dink Turksvy het my ’n bietjie geradikaliseer! Ek dink omdat mense die briewe werklik vanuit hul eie lewens en liggame geskryf het, het dit vir my oor en oor beklemtoon hoe feminisme gaan oor watter soort lewens ons leef. Sara Ahmed argumenteer dat feminisme van ons verg om bereid te wees om ongerief te ervaar, maar ook ongerief te veroorsaak. As Wit Afrikaanse vrou is ek gesosialiseer om nie ongerief of ongeluk of ongemak te veroorsaak nie, inteendeel is dit ons rol om gerief en geluk en gemak vir die mense rondom ons (ons kinders, mans, vriende) te skep. En dan in ruil daarvoor word ’n mens ingevou in die Wit Afrikaanse middelklas enclave en dit beteken gerief, veral in materiële terme. Ahmed argumenteer dat wanneer ’n mens bereid word om ongerief te omarm, begin dit ’n “ons” of ’n oomblik van feministiese solidariteit moontlik maak. Ek dink die mate waartoe Turksvy ’n ruimte geskep het vir gesprek en die mate waartoe dit ongerief veroorsaak het en dus vir ’n kort tydjie ’n plek geskep het waaruit klomp van ons saam kon praat (’n fragiele soort gemeenskaplikheid of solidariteit), was dit ’n aktivistiese gebaar op sigself, ’n feministiese “dwelling,” soos Ahmed sal sê (waar “dwelling” “beweging” en “tydelikheid” impliseer eerder as die stasis in die Afrikaanse “woning”). 

BIBI: Dit maak so baie sin. Ek hou van die idee van Turksvy as ’n tipe dwelling wat nie berus op noodwendige gemeenskaplikheid of selfs gemeensaamheid nie, maar eerder op die bereidwilligheid om ongerieflik te wees (selfs wanneer hierdie ongerieflikheid saamgaan met ’n tipe plesier, die briewe is mooi, roerend of snaaks, selfs eroties). Dit laat my dink aan hoe Valda Jansen se brief my verontrief het op produktiewe maniere. Haar hartseer brief oor hoe sy nie op vroue kan staatmaak nie en daarom humanisme bo feminisme verkies, vervul die rol van die “killjoy” soos wat Ahmed dit beskryf – dit doen die nodige werk om te wys hoe tevredenheid en gemak wreedheid en ongeregtigheid kan verhul. “Fok julle happy mense,” soos Mia Arderne sê. En ek dink Ahmed is reg, dat ’n mens die ongerief moet volg en sien waar dit jou uitbring. 

Ek hou van die idee van Turksvy as ’n tipe dwelling wat nie berus op noodwendige gemeenskaplikheid of selfs gemeensaamheid nie, maar eerder op die bereidwilligheid om ongerieflik te wees (selfs wanneer hierdie ongerieflikheid saamgaan met ’n tipe plesier, die briewe is mooi, roerend of snaaks, selfs eroties).
— Bibi Burger

AZILLE: Maar ek wonder ook of dit iets is wat ’n mens verder moet neem op een of ander manier. Miskien ’n soort feministiese/queerkollektief? Ek weet nie, ek is so sleg met aktivistiese organisering, maar dis dalk weer presies omdat ek wegskram van ongerief. Wat dink jy?

BIBI: Ek is ook sleg en onervare met aktivistiese organisering (en bang vir die ongerief daarvan, ek voel so out of my depth), maar vermoed ek dit, is die rigting waarin ons moet dink. Dit is vir my moeilik om te verbeel hoe so iets sal lyk. Het jy enige idees? Of idees oor waar ’n mens kan aanklop vir idees? 

AZILLE: Ek dink so half in die rigting van ’n soort feministiese/queerkunstenaars- en -skrywerskollektief waar ’n mens befondsing kry om saam dinge te maak en saam gesprekke te hê waardeur ’n mens nuwe toekomste en nuwe maniere van wees probeer verbeel. Of so iets?

BIBI: Dis vir my so moeilik om enigsins in die toekoms te glo in enige konkrete sin. Ek sukkel om te dink in terme daarvan. 

AZILLE: Ja, ek ook. Ek sukkel om enigsins te belê in die toekoms, want teen die tempo wat alles gaan, kan ek nie dink daar gaan veel van enige iets oor wees oor ’n paar dekades nie.

BIBI: Of ten minste nie veel van die wêreld soos ons dit ken nie.

AZILLE: Dit is baie depressing. 

BIBI: Maar ook op ’n manier bevrydend op ’n kreatiewe vlak, dink ek – relativerend. Dit plaas dinge in perspektief. As die wêreld in elk geval gaan eindig, kan ons net sowel dinge anders doen en dit beter probeer maak terwyl ons nog hier is. Afrikaanse feminisme is klein en onbelangrik in die groter scheme of things, maar intussen lewe mense voort en ervaar ongeregtigheid en pyn en is dit ook nodig vir goed soos feminisme om iets daaraan te probeer doen.

AZILLE: Ja, ek weet presies wat jy bedoel. Hierdie oomblik is een waarin ons werklik sien hoe die terme waarop ons wêreld gebou is nie werk nie, hoe ons ander reëls, ander maniere van wees nodig het.

BIBI: Dis waar kuns soveel waarde het. En kollektiewe maniere van dink en werk.

AZILLE: ’n Mens kan lekker anargisties te werk gaan daarmee. Met so ’n kollektief. Befondsing kry vir projekte in Afrikaans wat gewoonlik nie befonds sal word nie. Kunstenaars en skrywers aanmoedig om werklik verby die bestaande reëls/norme/orde te dink. 

BIBI: Afrikaanse feminisme aan die einde van die wêreld.

AZILLE: Daar is dit!

BIBI: Ek sien ’n turksvybos wat staan in so ’n uitgestrekte dorre landskap. 

AZILLE: Oh my word Bibi

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van 'n Acid trip en die vrystelling van die Turksvy-zine gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand