Turksvy se begrafnis van Tradisionele Vroulikheid

Turksvy se begrafnis van Tradisionele Vroulikheid

Foto’s deur Rosca van Rooyen, tensy anders vermeld

'Sy was mooi, maar wreed': om afskeid te neem

Ons almal – diegene wat as vroue identifiseer, ten minste – ken haar. Sy’s die stem in jou kop wat konstant scrutenise hoe hard jy praat, hoe nice jy is, hoeveel jy eet, of jy te opinionated is; die stem wat kort-kort in oomblikke van twyfel jou aanmoedig om jou drome van onafhanklikheid te laat vaar (silly girl!) en eerder te settle met ’n man wat vir jou en jou toekomstige kinders kan sorg (want jy móét mos eendag iets met daai baarmoeder doen!); die Big Sister wat jou te alle tye dophou en jou herinner om jouself soos ’n dame te gedra. Sy is Pappa Patriargie se darling girl. Alhoewel sy in verskillende gedaantes en onder verskeie skuilname verskyn, ken die meeste van ons haar as Tradisionele Vroulikheid.

Vir diegene wat die tyding nog nie ontvang het nie, is daar egter goeie nuus: The bitch is dead. Of so het Turksvy haar in September vanjaar verklaar. Op Saterdag 14 September is haar begrafnis gehou. In ’n voormalige bordeel, nogal.

Dit is egter nie die eerste keer dat Tradisionele Vroulikheid se mooi koppie ter ruste gelê is nie. In 1968 het die New York Radical Women as deel van hulle protesaksie teen die oorlog in Viëtnam haar eerste begrafnis gereël. Turksvy se stigters, Azille Coetzee en Bibi Burger, skryf hieroor:

Ten einde bewustheid te skep van hoe stelsels van onderdrukking met mekaar oorvleuel en deurkruis, het [die New York Radical Women] ’n ritueel uitgevoer waarin hulle op ’n simboliese manier Tradisionele Vroulikheid begrawe het. Die begrafnis het gedien as ’n soort verklaring deur die vroue dat hulle nie langer passief sal toekyk op ongeregtigheid nie, maar hulself polities sal laat geld, al verg dit ongehoorsaamheid aan hul mans en die reëls wat gestel word vir “ordentlike” vroulikheid. Die byeenkoms het onderstreep hoe die onderdrukkende stelsels van nasionalisme, kapitalisme, kolonialisme afhanklik is van vroulike onderdanigheid, en hoe die tradisionele vrou dus inherent medepligtig is aan ongeregtigheid. Die verwerping van Tradisionele Vroulikheid maak feministiese solidariteit oor grense van ras en klas moontlik en het die potensiaal om bestaande vernietigende magstrukture te destabiliseer.  

Danksy Turksvy blaas Tradisionele Vroulikheid se (Suid-) Afrikaanse suster in 2024 haar laaste asem uit, en kon daar in die leemte van haar teenwoordigheid – ten minste vir één aand – in feministiese, queer- en trans-solidariteit gevier word. Sonder haar stem wat in ons ore tut-tut vir ons simboliese moord en rebellie. Ordentlike dames doen mos nie só iets nie.

Met die aankoms is die opgewondenheid en jovialiteit in die lug aanvoelbaar. Groepies begrafnisgangers (geklee in swart, natuurlik) staan en drink wyn en praat opgewonde oor wat die aand moontlik gaan inhou. Duidelik is g’n trane oor die nuus van die heengaan van Ons Suster gestort nie. Inteendeel, we’re all gathered here today om te sien dat sy ons, deur haar sagte hande grootgemaak en haar skerp tong geboelie, werklik verlaat het. Ná al die jare, kan dit régtig moontlik wees? 

Azille en Bibi verwelkom die jolly begrafnisgangers. Die aand is nie nét ’n simboliese byeenkoms nie, dis ook ’n geleentheid om like-minded mense te ontmoet, om ’n feministiese, queer en trans gemeenskap in Kaapstad byeen te roep, verduidelik hulle. Janke Mostert, ons dominee vir dié besonderse begrafnis, lei ons deur die res van die verrigtinge, wat performance-kuns deur Lorin Sookool en Nicolene Burger, spoken word poetry deur Veronique Jephtas en ’n begrafnislied gelei deur Robyn Reid insluit.

Bibi Burger en Azille Coetzee verwelkom die begrafnisgangers

Nicolene Burger se performance-kuns, getiteld My moeder en haar moeders, neem die begrafnisgangers na ’n baarmoeder-agtige plek. Sagte rooi lig vul die ruimte waarin ’n doilie-lap oor stoele gedrapeer is om ’n tipe tent of fort te vorm. Dominee Mostert begelei die begrafnisgangers om in ’n sirkel om die vertrek te staan. Burger kom die vertrek binne met ’n skinkbord klapperkoekies in die een hand en ’n swaar sak grond in die ander. Een vir een deel sy klapperkoekies aan die begrafnisgangers uit, die sak grond al slepend agterna. Tradisionele Vroulikheid het ons mos geleer om altyd te bedien, altyd te sorg, altyd nóg van ander te dra en te aanvaar, en nie te kla oor die ongemak nie. Toe almal klapperkoekies het, speel Burger ’n rondte musical chairs terwyl sy sing: “Siembamba / mamma se kindjie…” Die knop spring meteens in my keel toe sy by die volgende reëls kom: “draai haar nek om / gooi haar in die sloot / trap op haar kop / dan weet jy sy’s dood”. Burger sing hierdie weergawe van die bekende rympie herhaaldelik, vinniger en vinniger, soos sy om en om die stoele hardloop; die knop in my keel word versmorend en stoot trane in my oë op. Ek moet mooi knip dat die trane nie oor my wange begin loop nie. “I am alive in places where women die,” spook Cistamatic se lirieke by my. Só manipuleer Burger deur die res van haar performance ander herkenbare gebare, klanke en woorde om die kompleksiteite wat betrokke is by die konstruksie van tradisionele vroulikheid – soos ras, klas, grondbesit, geweld, ouerskap en genderperformatiwiteit – gestalte te gee. Sodoende roep Burger terselfdetyd die spook van Tradisionele Vroulikheid in die lewe en poog sy om dié spook uit te dryf. ’n Tipe exorcism, if you will.

Tradisionele Vroulikheid het ons mos geleer om altyd te bedien, altyd te sorg, altyd nóg van ander te dra en te aanvaar, en nie te kla oor die ongemak nie.
— Andréa Müller

Grepe uit Nicolene Burger se performance-kuns, My moeder en haar moeders

Foto: Olivia Crow

Ná Burger se roerende performance lei dominee Mostert ons terug na die vertrek waarheen ons gekom het, waar Veronique Jephtas se gedigte dit regkry, soos altyd, om die begrafnisgangers te laat lag, maar ook om ’n diepgesetelde woede binne-in my (en ek vermoed vir die res van die gehoor) vir die onregverdighede van patriargale en kapitalistiese stelsels uit te grawe, af te stof en in die oë te kyk – dié keer om afskeid te neem daarvan.

Met Lorin Sookool se dans-performance, getiteld Gogga on da dance floor (xperiment wun), gaan die verrigtinge voort. Met ’n JBL-speaker om haar buik gebind, kruip en dans Sookool deur die vertrek en tussen die begrafnisgangers; sy lei ons – nee, demand van ons – om op haar versoek op te staan of te sit; saam te dans of nie. Haar bewegings wissel tussen fluid en sag, kwesbaar en kwaad. ’n Visuele uitbeelding van ’n “[h]erkonneksie met [die] mens se innerlike aard”, soos die program beskryf. (Hierdie performance is ’n live ontwikkeling van haar film Gogga – kyk dít hier.)

Ten slotte lei Reid die gemeente in die begrafnislied: Queen se ‘Bohemian Rhapsody’ weerklink teen die ou gebou se hoë plafon soos die gemeente sing en op die maat van die musiek hande klap. ’n Paar oë knip-knip glimlaggend deur die trane. Hierna skuif ons na die bar, waar die after-tears gehou word. Die wyn vloei, die snacks vlieg en kort voor lank speel Charli XCX se Brat oor die luidsprekers. “I think the apple’s rotten right to the core / from all the things passed down / from all the apples coming before,” sing ons in ons roukleed.

Veronique Jephtas perform haar gedigte

Lorin Sookool tydens haar performance

die kisbesigtiging

Voor die begrafnis is ons gevra om nie blomme te bring nie, maar ’n objek wat min of meer in die palm van ’n hand pas, wat vir ons elkeen ’n simbool van Tradisionele Vroulikheid en/of ons verhouding met haar is. (Die objekte sal deur Nicolene Burger in ’n kunswerk omskep word – watch this space.) Ek kies die hair extensions wat ek jare terug in my hare gedra het en sedertdien in ’n laai gebêre het (vir ingeval Tradisionele Vroulikheid se insecurity weer te hard in my kop klop), want ’n tradisionele vrou het mos lang, dik lokke, nie dunnerige, fyn follicles soos ek nie, en sy kyk beslis neer op die kort kapsels wat ek van hoërskool af verkies. (Hiermee insinueer ek geensins, liewe leser, dat die lengte van ’n vrou se hare ’n aanduider van haar mate van “bevryding” is nie. Laat jou hare jou boude kielie, of jou kopvel die son voel, babes!)

Ek moet bieg, ek het verwag dat die oorgee van hierdie objekte ’n groter rol in die aand gaan speel. Ek het ’n seremonie verwag; iets grandious om die afskeid finaal te maak. In stede daarvan is ons ná die verrigtinge ingelig dat daar ’n doos agter in die vertrek staan, waar ons in ons eie tyd ons objekte kan plaas en afskeid kan neem. Die begrafnisgangers scatter dus, party reguit vir die bar, ander vir die platters begrafniskos.

Stukkies Tradisionele Vroulikheid in haar kis, 14 September 2024. Foto: Andréa Müller

Ek self nader die boks – wat by dié begrafnis as kis instaan – eers ná ’n glas wyn en ’n bietjie geselligheid. Wanneer dit my beurt is om die kis te besigtig, lê ’n hele paar objekte reeds daarin: ’n paar opwashandskoene (gebind met die middelvinger uitgestrek); ’n resep vir ’n gevulde en bondage-agtige gebinde heel hoender; ’n fitbit; roll-on waarop geskryf is “PINK TAX”; ’n koevert waarvan ek wens ek die inhoud kon lees; wasgoedpennetjies, wasgoedsponse; eyelash curlers…

Ek aarsel voor ek my ou hair extensions ingooi. Moet ek ’n gebed opsê? Moet ek my frustrasies met Tradisionele Vroulikheid sommer hier, nou uitdruk en vir eens en altyd ontslae raak daarvan, saam met dié simpel, over-priced haaraanvullers? Moet – of wil? – ek huil? Ek plaas eerder sonder enige theatrics die onderdrukkende hair extensions in die boks. Ek en ’n paar ander begrafnisgangers bekyk die inhoud van die kis, wonder oor elk, en deel met mekaar wat ons gebring het.

Without a bang, but a whimper, inderdaad.

Wanneer dit my beurt is om die kis te besigtig, lê ’n hele paar objekte reeds daarin: ’n paar opwashandskoene (gebind met die middelvinger uitgestrek); ’n resep vir ’n gevulde en bondage-agtige gebinde heel hoender; ’n fitbit; roll-on waarop geskryf is ‘PINK TAX’; ’n koevert waarvan ek wens ek die inhoud kon lees; wasgoedpennetjies, wasgoedsponse; eyelash curlers…
— Andréa Müller

Vroulikheid is nie 'n vloekwoord nie

In daardie oomblik voor haar kis besef ek tog: Om van haar afskeid te neem ís bittersoet. Soos ons na die inhoud van die boks staar, klink Simone de Beauvoir se woorde in my gedagtes op: “One is not born, but rather becomes a woman.” En Bibi en Azille se woorde op die uitnodiging vir dié geleentheid: “Om van haar afskeid te neem verg dat ons van voor af vra wie ons is, wie ons wil wees, wat ons wil hê en wat ons wil doen in die wêreld.” So bevrydend as wat hierdie afskeid is, bring dit nuwe onsekerhede. Dis ’n spesiale en gekompliseerde tipe rou, dié.

Maar dis juis in hierdie ongemak en onsekerheid waarin die grootste waarde van Turksvy se begrafnis-performance vir my lê. Dit het vir my gedwing om self na te dink oor (my) vroulikheid – oor die sisteme wat tradisionele vroulikheid in plek hou en oordra en oor hoe tradisionele vroulikheid sekere sisteme bemagtig en in plek hou. Hoe my keuses, as Wit, heteroseksuele en Afrikaanssprekende vrou, bydra tot en baat by die instandhouding van sulke sisteme. Hoe ek, soos De Beauvoir sê, vrou gemaak is. Wie de fok is ek – en my ma, my ouma, my oumagrootjie, my vriendinne – as Tradisionele Vroulikheid se baggage weggeskraap word? Wie kan ons wees sonder haar? Wie wil ons wees in haar afwesigheid?

Wie de fok is ek – en my ma, my ouma, my oumagrootjie, my vriendinne – as Tradisionele Vroulikheid se baggage weggeskraap word? Wie kan ons wees sonder haar? Wie wil ons wees in haar afwesigheid?
— Andréa Müller

Die ironieë van die geleentheid val my natuurlik ook op. Gesprekke (spesifiek met mans) oor die begrafnis het my laat besef dat idees van vroulikheid so intiem met tradisionele vroulikheid verstrengel is, dat die twee vir sommiges nie geskei kán word nie. Alhoewel ons begrafnis hou vir Tradisionele Vroulikheid, probeer ek in hierdie gesprekke verduidelik, is hierdie geleentheid geensins ’n afskryf van vroulikheid nie. Inteendeel, dis ’n bemagtigende hertoeëiening en herdefiniëring van wat dit beteken om vrou(lik) te wees – ’n viering van die Volledige Vroulike Ervaring, selfs. Een waarin die mag van keusevryheid nie onderskat kan word nie. Om te identifiseer as vrou is nie beperk tot die vooropgestelde en beperkende boksie wat Tradisionele Vroulikheid vir ons aanbied nie.

Tweedens val dit my op dat feministiese kwessies so gereeld afgemaak word as “women’s issues” waarby mans (of manlik-identifiserendes) nie betrokke wil word nie. Daarom: Shout out aan die mans wat in solidariteit en allyship die begrafnis van Onse Gemeenskaplike Suster bygewoon het, en wat met ’n oop kop luister en saampraat in gesprekke oor haar en haar impak op ons almal se lewens (ja, joune ook, Boetie Bester). We see you.

'It is only a symbolic happening, of course'

Dis alles simbolies, natuurlik. Ek dink nie die organiseerders of enige van die bywoners glo of het voorgehou dat hierdie “begrafnis” onderdrukkende patriargale en kapitalistiese sisteme sommer so gaan ontmag nie. So iets gebeur uiteraard nie oornag nie. Dit hét egter beslis gesprekke aan die gang gesit, wat (hopelik) lank ná hierdie begrafnis gevoer is. Maar, dalk die waardevolste van als, is dat hierdie ritualistiese performance ’n gevoel van samehorigheid en gemeenskap geskep het. In ’n wêreld waarin die patriargie wil hê dat alle vroue soos Tradisionele Vroulikheid optree en lyk, kan diegene van ons wat nie doen nie, dikwels soos freaks voel.

Ons kón wel ook op daardie aand in September treur – oor die skade wat Tradisionele Vroulikheid as gedweë handlanger van Patriargie en Kapitalisme al berokken het, in ons eie lewens en oor generasies heen; oor stygende femicide-syfers; oor hoe ons elkeen in daardie vertrek se groei en ontwikkeling en lewenspaaie op een of ander manier indringend deur Tradisionele Vroulikheid en haar besties (Patriargie en Kapitalisme) beïnvloed is, of nog sal word. Treur vir wat ons – as individue, maar ook as ’n kollektief – kon wees. Maar Tradisionele Vroulikheid se begrafnis was oorhoofs ’n joyous occasion – een waarin die gevoel van kollektiewe verlossing en bevryding en die belofte van nuwe moontlikhede enige gevoelens van hartseer en verlies oorweldig het. “The oppressor would not be so strong if he did not have accomplices among the oppressed”, was net De Beauvoir se manier om te sê “freaks to the front”, besef ek nou.

Maar Kathie Amatniek se woorde, geuiter in 1968, eggo steeds, tot in 2024, hier aan die suidpunt van Afrika: “It is only a symbolic happening, of course,” het Amatniek by Onse Suster se begrafnis in New York gesê, “and we have a lot of real work to do.”


Die organiseerders van Turksvy se begrafnis vir Tradisionele Vroulikheid: Elodi Troskie, Azille Coetzee en Bibi Burger. Foto: Chan Croeser

Foto: Sadé Walter

Janke Mostert as dominee

Foto: C-J Sidego

Foto: Stella Viljoen

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Turksvy se begrafnis van Tradisionele Vroulikheid gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R

Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand