Die 'Goefpêlle' van Yzerfontein

Foto’s verskaf; grafika deur Andréa Müller
Warm kameraadskap in die Fantastic Atlantic
Elke oggend kort ná die son opkom beweeg ’n klein skare in ’n reënboog van duikpakke, bikini’s, kortbroeke en ander soorte swembroeke in die ysige Atlantiese oseaan in Yzerfontein. Die plaaslike mense dink hierdie groep laggende, baljarende ooms, tannies en ’n paar jongelinge is van hulle sinne beroof.
Wanneer enigeen wel braaf genoeg is om self die bibberende waters aan te durf, sal hulle leer dat daar sin in die waansin is. Die warm lywe in die koue see is nie deel van ’n kultus nie; hulle is maar net ’n paar “Frozen Vriende”, soos wat hulle WhatsApp-groep bekend staan.
Ek het dikwels fluisteringe gehoor van die “mal mense” in die see. Ek het swem vreeslik gemis vandat ek na hierdie klein kusdorpie getrek het en nooit gedink dat ek self ook die koue kan oorwin en by die groep sal aansluit nie. Kort voor ek na Asië vertrek het, het ek wel besluit om die branders van nader te groet. Min wetende dat dit die begin van ’n nuwe tydverdryf vir my sou word.
My eerste ontmoeting met die ysige water was so erg soos wat jy jou kan indink dit sal wees. Ek het met my eerste treë al begin bewe, op my tande gekners en my vuiste gebal. Die pyn wat jy voel in bykans al jou ledemate wanneer jy onder die water induik is erger as die ysbyt van ’n roomys wat deur jou skedel skiet. Daar is wel heelwat dinge wat my verbaas het van dié eerste ervaring. Die aktiwiteit aktiveer adrenalien en wek ’n kinderlike opgewondenheid. Om dit saam met ander mense te doen maak dit nog meer opwindend.
Sommiges kla natuurlik oor die koue, maar die geselsies raak later so lekker dat jy amper vergeet hoe hoog die hoendervleis op jou arms uitbult. Ná daardie eerste swem het ek dadelik onder my warmste kombers geklim en vir ’n hele paar minute gelê en bewe. Die volgende dag het ek weer die moed bymekaargeskraap en die water aangedurf. Hierdie keer het ek glad nie gebewe nie en dit was vir my merkwaardig om te sien hoe veerkragtig die liggaam en psige is om sulke uiterste omstandighede te oorwin.
Hierdie stokperdjie is wel nie ’n nuwe perd wat opgesaal word nie. Arms word al vir eeue in ysige water geswaai. Mense ysswem wêreldwyd, onder andere in Nordiese lande soos Finland, asook Engeland, Rusland en selfs Antarktika. Die fenomeen word dus al heelwat langer beoefen as wat Wim Hof se metode gepopulariseer is rondom 2011.
Hof is ’n Nederlandse ekstreme atleet. Hy het die bynaam “Ysman” gekry, omdat hy verskeie rekords gebreek het wat verband hou met blootstelling aan koue, insluitend om Kilimanjaro te klim in ’n kortbroek. Hy gebruik die uiterste kragte van die natuur om hom te leer hoe om sy hartklop, bloedsirkulasie en asemhaling te reguleer. Sodoende kan hy die ysige temperature oorwin. Sy metode behels drie pilare: asemhaling, koue terapie en toewyding. Die doel hiervan is om fisiologiese prosesse te stimuleer en die mens te help om hulle volle potensiaal te bereik. Ook om ons verhoudings met die natuur, ander en onsself te herverbind.
“Sy metode behels drie pilare: asemhaling, koue terapie en toewyding. Die doel hiervan is om fisiologiese prosesse te stimuleer en die mens te help om hulle volle potensiaal te bereik. Ook om ons verhoudings met die natuur, ander en onsself te herverbind.”
Bewuswording van die voordele van ysswem dateer so ver terug as 400 vC. Volgens Hippocrates het waterterapie gehelp vir moegheid. Seeswemmery het wel eers gewild begin raak in die 18de eeu, veral nadat die fisiese en geestelike voordele ontdek is. Gesondheidvoordele van ysswem sluit ’n positiewe invloed op die kardiovaskulêre sisteem in en dra by tot ’n gesonder bloeddruk. Ysswem is ook voordelig vir die psige en kan optree as anti-depressant om depressie en angs te verminder. Die immuunstelsel kan ook sterker word deur die koue aan te durf. Daar is bewyse dat swemmers minder infeksies en siektes kry vandat hulle gereeld begin ysswem het. Verskeie swemmers rapporteer ook dat hulle minder en ligter infeksies van die boonste lugweë ervaar, moontlik as gevolg van ’n sterker immuunstelsel. Ander voordele sluit ook verminderde stresvlakke, verhoogde kreatiwiteit, beter slaap, meer energie, verbeterde fokus en verhoogde wilskrag in. Die liggaam het die merkwaardige vermoë om aan te pas tot die uiterste temperature. Om saam in die yswater te baljaar lei nie net na beter fisiese en geestesgesondheid nie, maar kweek ook kameraadskap.
Die ysswemmers hier in Yzerfontein swem ongeveer 20–30 minute of tot ons tone te erg begin pyn. Adri Visser vertel dat die swemmery redelik informeel met haar gesin begin het, met haar ma, Olive Van Niekerk, ook bekend as Ouma Olive, as die voorbok. Hulle is van kindsdag af rondom 07:00 in die oggend aangepor om saam te swem. Later jare het Adri self ook in Yzerfontein kom woon en stelselmatig mense ontmoet en gevra of hulle nie wil saam swem nie. Sy sê ’n paar van die mense is alreeds oorlede. Aanvanklik was dit net vrouens, maar later het mans ook begin saam swem. Die eerste WhatsApp-groep wat vir die swemmery geskep is, is “Goefpêlle” gedoop en die mense wat in die see swem het bekend gestaan as “goefters”, ’n troetelnaam vir die ysswemmers. In September 2021 het Tim McGill ’n nuwe groep, “Frozen Vriende”, geskep, en enige belangstellendes kan op die groep geplaas word om inligting te deel oor swemtye en die weer. Enigeen is welkom om aan te sluit en saam te swem.
Dié groep het al ’n hegte band onder mekaar gevorm. Adri noem dat die groep altyd daar vir mekaar is; hulle gee om vir mekaar en sal altyd help as iemand in die nood is. Daar is ook getuienisse van heelwat mense met verskeie soorte pyne en kwale wat genees is deur die swemmery. Vir Adri is die swemmery ’n hartsding en ’n lewenslyn. Sy sê sy sal krepeer as sy dit nie doen nie. Die swem en die samesyn met ander is ’n wonderlike ontvlugting om bietjie weg te breek van alledaagse omstandighede.
Marï Coetzee swem ná Adri al die langste in die groep, sedert 2003. Aanvanklik het Adri vir Marï wat op die strand gestap het saam met haar vriendinne, raakgeloop en haar genooi om saam te swem. Marï sê die swemmery hou haar jonk. Die lag en samesyn is die beste medisyne om goed oud te word, meen sy.
Daar is ook ’n ander Adri wat swem. Adri van Aswegen-Janse van Vuuren vertel dat sy in die neëntigerjare na Yzerfontein verhuis het van Pretoria af en sy het baie daarna uitgesien om in die see hier te swem. Die ontnugtering was wel groot nadat sy die eerste keer haar tone in die water gesit het. Sy sê sy het sommer uitgehardloop, so koud was dit. Sy het weer probeer, maar dit was te erg en vir eers het sy vrede met haarself gemaak dat sy nie in die ysige water kan swem nie. Eindelik het sy ook vir die ander Adri en Ouma Olive ontmoet en eendag het sy verby die see gery en ’n lig het by haar aangegaan. Sy het by haarself gedink: Hoe kan ek sê ek kan nie in die water swem nie, maar al die ouer mense kry dit reg? Dit was vir haar ’n geestelike les dat jou denke jou handelinge kan beperk. Daarna het sy die wilsbesluit gemaak om te begin swem in die “fantastic Atlantic”.
Ouma Olive is toe later na ’n ouetehuis, Huis Groeneweide. Eendag het Adri vir haar gaan kuier en Ouma Olive vertel toe hoe sy die oseaan mis. Adri sê toe sy sal saam met Ouma Olive se twee dogters help om haar terug na die oseaan te vat. Hulle het saamgewerk om haar in die see in te neem. Adri onthou nog hoe Ouma Olive die water in haar gesig gespat het en gesê het: “Oe, is dit nie lekker nie.”
Sy is ook nostalgies oor ander herinneringe. Twee dolfyne het eendag baie naby aan die groep geswem. Adri het langer as die res in die water gebly en ’n bietjie dieper gegaan om die dolfyne van nader te bekyk. Sy het altyd die droom gehad om op die rug van ’n dolfyn te ry. Sy moes wel versigtig wees, ingeval haar droom bewaarheid word en die dolfyn haar op sy rug die oseaan in dra. Sy onthou ook ander ervarings met seediere, soos ’n skool vissies in die branders wat breek en ’n see-sterrestelsel skep.
Ek het self ook al geleer dat elke keer as mens swem, daar iets nuuts is wat jy teëkom. Sommige dae is die water mooi helder en jy kan van die seediere oplet, soos krappe of jellievisse. Ander dae groet ’n rob in die verbygang, of seemeeue, albatrosse en oestervangers vlieg bo-oor ons. As die weer verander, bring dit ook wonderlike ervarings mee, soos weerlig oor die oseaan.
Christa Janssen is ’n kunstenaar en nuwe “Frozen Vriend” wat 1 Maart vanjaar by die swemgroep aangesluit het. Sy vertel dat sy nie elke dag tyd kry om te swem nie, aangesien sy nie naby aan die hoofstrand bly nie. Sy is gehoorgestremd vanaf 24, maar kan steeds bietjie hoor met behulp van gehoorapparate. Wanneer sy in die water is, voel sy gelyk aan ander mense. Vir haar is die swem meer as net ’n ritueel; dit laat haar terugkeer na kalmte, dit versag haar angs en help haar om haar asem te vind. En dít inspireer haar kuns, wat sy beskryf as ’n huldeblyk aan die krag van daaglikse veerkragtigheid en die stil ruimtes wat ons skep om in die wêreld kop bo water te hou.
Marietjie Hanekom en haar broer Michael van Niekerk het in 2009 op Yzerfontein kom aftree. Soggens het hulle 15 kilometer fiets gery en so die buitelewe en natuurskoonheid geniet. Marietjie het vir Michael gevra om een oggend saam te swem. Hy wou eerder op die fietsry fokus, maar Marietjie sê aanhouer wen. Ná hulle eerste swemsessie was hulle albei onmiddellik verslaaf. Om die branders met haar lyf te ry en die gepaardgaande samesyn en skaterlag vir lawwe grappe is nou elke oggend ’n hoogtepunt van haar dag.
André Kneisel is ’n Engelse man wat ook gereeld saam met die groep swem en hy deel een oggend sy gedagtes oor die swemmery. Hy voel dat die ervaring om stadig in die ysige Yzerfontein-see in te beweeg nogal uniek is. Die gevoel wat jy kry wanneer jy ander mense sien inspring, daardie oomblikke van skok, die gekronkel van lywe, onwillekeurige inasemings, gilletjies en die geskree is, vreemd genoeg, aangenaam en amper genotvol. Dis nie ’n boosaardige sadisme nie, maar net ’n gewone waardering vir die gedeelde lyding voordat die swemmers uiteindelik die saligheid ervaar om een te wees met die oseaan. Die mengsel van vrees en opwinding word deur almal gedeel en skep die kouewater-kameraadskap.
Sommige oggende as die groep groot, vrolik of vol nuwe swemmers is, vorm die skare ’n sirkel in die see, vat mekaar se hande en sing saam ‘Ring a Ring o' Rosie’ en val saam op hul rûe tussen die branders. Ná die swemmery is dit natuurlik tyd vir ’n bietjie “anti-freeze”, ook bekend as jerepigo of swart koffie. In ’n blikbekertjie of ’n shot-glas drink elkeen ’n drankie wat die liggaam opwarm in die sonskyn, met verdere samesyn en staaltjies wat gedeel word.
Yzerfontein word soms vir my ’n eensame plek, aangesien ek nie dikwels mense ontmoet met gedeelde belangstellings nie. Hierdie groep bied wel vir my ’n veilige hawe wanneer ek dit nodig het. Ek het al op my eie gaan swem, maar dit is net nie dieselfde nie. Om saam met die ander warm lywe my eie lyf te laat vries en te lag daaroor bring ’n veel ryker atmosfeer mee. As ek nooit braaf genoeg was om my tone in die water te sit nie, sou ek nooit hierdie wonderlike groep mense met hul kleurryke ervarings ontmoet het nie. Mense kan maar dink ons is mal, maar dis lekker om so saam die oseaan en sy natuurskoonheid te geniet en wonderlike herinneringe te skep, maak nie saak hoe baie ons bewe terwyl ons dit doen nie.
“As ek nooit braaf genoeg was om my tone in die water te sit nie, sou ek nooit hierdie wonderlike groep mense met hul kleurryke ervarings ontmoet het nie. Mense kan maar dink ons is mal, maar dis lekker om so saam die oseaan en sy natuurskoonheid te geniet en wonderlike herinneringe te skep, maak nie saak hoe baie ons bewe terwyl ons dit doen nie.”
So, as jy weer verby ’n koue see ry en jy sien brawe goefters, gaan trek jou swembroek aan en sluit aan by die lawwigheid – jy mag dalk net verbaas wees oor hoe baie jy daarvan hou …
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Die 'Goefpêlle' van Yzerfontein gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.