'n Lewe van oorvloed anderkant die lyne

Kunswerk: Luami Calitz
'n Paar kronkelende gedagtes oor nonmonogamy, deur Chan Croeser
Ek leef in ’n liggaam wat noodgedwonge ’n bestaan buite die lyne wil uitkerf. Ek kan myself net nie verbuig of skraal genoeg maak sodat ek sierlik, soos ’n Cirque du Soleil-sirkusakrobaat, op my tone kan loop op die drade van gender-, seksualiteit- en ander norme nie. Ek is te veel soos water en gebore met my skouers opgehaal in die vorm van ’n vraagteken. En my skepsis voel broodnodig, ’n tool vir survival in ’n wêreld wat brand. So, toe ek op 20 my eerste ernstige verhouding aanknoop, het ek vinnig besef dat ook monogamie iets is waaroor ek baie skepties is, ’n norm wat aan my pas soos ’n te klein jas.
Moet my nie verkeerd verstaan nie: Ek was glad nie geïnteresseerd in ’n verneukspul nie; my destydse girlfriend was gaaf en lief en goed vir my. Ons was jonk en op ons onervare manier het ons seks en plesier en liefde saam verken, maar daar was vrae wat by my bly neul het: Hoe, binne die raamwerk en reëls van monogamie, maak mens ruimte en tyd vir vriendskappe wat op ’n platoniese manier romanties voel, vriendskappe waarsonder jy nie kan bestaan nie? Hoe kan een mens in elk geval ooit genoeg wees om die omvattende aard van ’n ander se behoeftes en begeertes te bevredig? En hoe kan ons só baie druk op mekaar plaas deur só baie van mekaar te verwag? Wat van daardie dinge wat jy doodeenvoudig net nie kán gee nie, al probeer jy hoe? Én wanneer jy nou daardie een mens gekies het, móét jy regtig jouself nou afsny van al die wêrelde wat oopgaan in verskillende verhoudings, van al die vorme wat liefde kan aanneem? Met min kennis, geen ervaring en baie braafheid, het ek aan my destydse girlfriend voorgestel dat ons consensual nonmonogamy probeer. Sy wou niks weet nie en ek het my versoek teruggetrek. Steeds het die verhouding na ’n jaar en ’n half van mooiheid geëindig omdat ek meer wou hê. (ek soek alles. ek wil alles hê. à la Bibi Slippers.)
Met elke monogamiese verhouding daarna het ek net nog meer vrae begin ontwikkel en monogamie het aanhou misluk. Dit het gevoel asof die lewe binne die raamwerk van monogamie my keer op keer insluk en dit onmoontlik maak om ’n vol en ryk lewe van my eie te behou. Die jaloesie wat monogamiese besitlikheid kweek, het gespoel oor alles. Minder tyd vir my stokperdjies, minder tyd vir my vriende, minder tyd vir myself, tot my lewe so klein voel dat ek verstik. Bo alles was dit oorvloed wat ek elke keer só gemis het: oorvloed van sorg, kennis, ervaring, vriende en samesyn. Ek kon nie wegkom van die gevoel dat monogamie juis al daardie dinge van my steel nie. Na elke mislukte monogamiese verhouding het ek toevlug gevind in Ingrid Jonker se hartgebroke vraag: “Wat wil jy nou nog van my hê, eerdat die laaste gloed uitbrand?” Leeggetap, kon ek net my laaste woorde gee, my laaste trane en my laaste leed. In myself was ek soos telkemale vantevore, teleurgestel. En oor en oor het ek by die gevolgtrekking gekom dat die liefde van vriende altyd vir my ’n hoë prioriteit sal wees, en iets is waarrondom ek my lewe wil bou. Inderdaad was dit vir my duidelik dat ek vriendskap as die middelpunt van my lewe ag en dat romantiese en erotiese verhoudings deel vorm van daardie konstellasie. Dít is veral nie toelaatbaar binne ’n monogamiese raamwerk wat partnership bo alles plaas nie. Teen dié tyd dink jy dalk dat ek die een is wat iets verkeerd doen, glo my, ek het ook so gedink. Of dalk sien jy iets van jouself in die storie wat ek vertel. In ieder geval vra ek: Bly nog ’n rukkie hier by my.
Foto’s verskaf deur die skrywer
Kyk, monogamie het ’n eeue-oue script. Sonder om te hard te dink, weet die meeste mense wat die ongesegde reëls daarvan is. Hou by die voorskrifte, dan sal jy beloon word. Nie net deur jou partner nie, maar ook deur die samelewing: Monogamiese partnership is op verskeie maniere wetlik beskerm, dit word algemeen en met gemak herken deur families en is selfs, in die geval van veral queer mense, gereeld ’n weg tot aanvaarding (dit maak jou een van the good gays wat nie los is soos die res van ons nie). Trou is natuurlik eerste prys, want om jou monogamiese verhouding vas te lê in die wet is ’n one-way ticket tot allerhande vorme van publieke herkenning: Jou partner word deel van die familie, jy verklaar openbaar jou liefde voor almal wat belangrik is, en ma en pa en die goewerment spreek hul seën oor julle uit. Trou is ook verweef met ’n stel gendernorme wat moeilik is om aan te ontsnap: Wie loop by die aisle af en wie wag? Wie gaan jou weggee: jou pa, jou ma of jy? Wie dra rok, wie dra das en wie betaal? (Etienne le Roux se Sewe dae by die Silbersteins lê bloot presies hoe bisar dit alles kan raak.)
Ek probeer nie sê dat trou of monogamie noodwendig verkeerd is nie; ek probeer eerder wys hoe vanselfsprekend dit is, hoedat die foutlyne daarvan soms versteek is agter tradisies en hoe daardie selfde foutlyne moeilik is vir iemand soos ek om te aanvaar. Inderdaad, monogamie is vir die meeste mense in die Westerse samelewing so vanselfsprekend soos baie van die ander norme wat ons samelewing struktureer, en wat jy prysgee om monogamies te wees, word gesien as ’n grootmoedige en geesverheffende opoffering in die naam van liefde. Ja, die prentjie van romantiese en erotiese liefde wat vir ons geskets is, is dat “regte, ware liefde” noodwendig verg dat ons al, of ten minste die meeste van, ons energie en tyd daaraan bestee, dat ons onsself daaraan toewy. Tog praat ons min oor presies wat mens prysgee en wat in die proses daarvan verlore gaan.
“Ek probeer nie sê dat trou of monogamie noodwendig verkeerd is nie; ek probeer eerder wys hoe vanselfsprekend dit is, hoedat die foutlyne daarvan soms versteek is agter tradisies en hoe daardie selfde foutlyne moeilik is vir iemand soos ek om te aanvaar.”
Wonder bo wonder is dít stadig maar seker besig om te verander, en dit word al hoe meer algemeen om skepties te wees oor monogamie. Meer en meer mense begin vra: Is dit moontlik om ware gemeenskappe en netwerke van sorg te bou en behou met ons vriende as monogamie ons in silos van twee vaskeer? En is dit regtig gesond om die meerderheid van ons tyd, sorg en energie aan slegs een mens te bestee? Verskeie vorme van nonmonogamy is nou te siene in populêre reekse soos White lotus (2021), What we do in the shadows (2019), Sense 8 (2015), Succession (2018) en vele meer. Dit is ook selfs een van die sentrale vrae in populêre flieks en reekse soos Challengers (2024) en Scenes from a marriage (2021). Alternatiewe familiestrukture en consensual nonmonogamy word ook al meer ondersoek in boeke en romans soos All fours (2024), The ethical slut (1997) en Detransition, baby (2021). Plaaslik wonder Azille Coetzee in haar nuwe boek Desire at the end of the white line, onder andere, oor die kerngesin, compulsory heterosexuality, reproduktiwiteit, hiërargie, die gender binary en monogamie. Sy stel voor dat om witheid te herdink, moet ook verhoudings, gender, begeerte, seks, liefde en hoe ons tuistes skep herdink word. Consensual nonmonogamy is ook al hoe meer algemeen in die samelewing. Die meeste mense ken of weet van iemand in hulle lewe wat consensually nonmonogamous is, of het al self daaraan gedink.
Terwyl consensual nonmonogamy minder bekend is onder my ouers se generasie in Suid-Afrika, is dit definitief nie ’n nuwe ding hier nie. In 1975 publiseer Jeanne Goosen ’n ongewone novelle met die naam Om ’n mens na te boots. Daarin maak die leser kennis met ene Brim, Bres en Dana wat woon in ’n afgeleë plek, afgesny van die samelewing. Hul afsondering is nie net ’n keuse nie, maar iets waarvoor veral Dana en Bres baklei. Terwyl hulle redes vir hul afsondering nooit uitdruklik uitgespel word nie, word dit al duideliker dat hulle anders is – Dana beaam hierdie feit wanneer sy aan die begin van die verhaal verklaar dat ander mense hulle en hul lewenswyse sal bevooroordeel: “Ons sal mevrou So & So en haar man moet binnenooi [...]. En hulle sal na ons meubels kyk, en ons besittings, en die klere wat ons aan het, en hulle sal besluit: watter rare voëls, watter rare voëls [...].” Waarom is hulle dan sulke rare voëls? Wel, een manier om die verhaal te interpreteer, is dat die drie van hulle ’n throuple is en saam kinders grootmaak. Dit is onduidelik presies wie se kinders dit is en waar die kinders vandaan kom, want ook Brim en Bres se gender word nooit duidelik gemaak nie. Die verteller gebruik nooit voornaamwoorde vir Brim of Bres nie en slegs vir Dana word daar “sy” gebruik. Sorg, en besorgdheid, in hierdie alternatiewe verhoudingstruktuur word gelyk verdeel en al drie van hulle kry dus die geleentheid om hulle belangstellings na te streef. Brim is in die onderwys, Bres is ’n skrywer en Dana maak musiek. Natuurlik is als nie utopies nie, die verhaal en die karakters se vloeibaarheid weier sulke binêre denke en ook ek weet beter as om dinge so te romantiseer dat hulle kompleksiteit onsigbaar raak. Al drie karakters jok soms vir mekaar, bekommer gereeld oor dinge wat onsigbaar is maar tog bedreigend voel, en ook jaloesie duik soms op subtiele manier op. Tog bied die klein wêreldjie wat hulle saam skep, vir hulle ’n toevlug. Bres beskryf dit as “die weg uit ’n waansinnige wêreld waarin ek nie betrokke kan wees nie omdat die ellende en onreg daarvan verbyster”, al gee hulle toe dat hulle Dana en Brim uit hulle eie behoefte versin het. Boonop is dit hulle leuens en die gebrek aan kommunikasie oor hulle bekommernisse wat eindelik hul gesamentlike verhouding in die grond in dryf. Ek wil nie te veel weggee nie, want dis die soort storie wat mens self wil ontdek. Wat ek wel sal sê, is dat Goosen deur dié storie al in 1975 begin verbeel het wat moontlik word deur alternatiewe verhoudingstrukture én wat dit verg om hierdie soort strukture volhoubaar te maak.
“Waarom is hulle dan sulke rare voëls? Wel, een manier om die verhaal te interpreteer, is dat die drie van hulle ’n throuple is en saam kinders grootmaak. Dit is onduidelik presies wie se kinders dit is en waar die kinders vandaan kom, want ook Brim en Bres se gender word nooit duidelik gemaak nie.”
My eie kennismaking met consensual nonmonogamy wat regtig werk, is redelik onlangs, seker vier of so jaar terug. Aan die einde van nog ’n mislukte monogamiese verhouding het ek ’n nuwe sielkundige begin sien. Na sy my storie gehoor het, het sy voorgestel dat ek consensual nonmonogamy met erns probeer. Haar gevolgtrekking was dat besitlikheid iets is wat my angstig maak en dat die omstandighede van my grootword deel is van waarom ek smag na oorvloed (’n baie lang storie vir ’n ander dag). Kort na ek besluit het om haar raad te volg, het ek weer na my lewe gekyk: Ek en my beste vriend leef eintlik as lewensmaats; ons maak geen groot besluite sonder mekaar nie; ons het aan mekaar belowe dat ons nooit in verskillende stede sal woon nie; ek weet wat by sy begrafnis moet gebeur en hy by myne; hy’s in my testament en ek in syne; hy’t die spaarsleutels vir my woonstel; as ieder van ons hulp nodig het, steun ons eerste op mekaar, hetsy dit nou emosioneel of struktureel is. Die lys is eindeloos. Ons huiwer nie om mekaar te ondersteun nie en geen guns is te groot nie. Met hom kan ek ook heeltemal eerlik en eg wees. Baie lovers, boyfriends en girlfriends het al in en uit ons vriendskap gevloei en bymekaar het ons nog altyd gebly. Al my girlfriends en al sy boyfriends het van die begin geweet dat ons ’n baie belangrike deel van mekaar se lewens is, so belangrik soos dié van lewensmaats, en hulle het dit só aanvaar. Die liefde tussen ons laat my veilig en geborge voel. Ons het dit nog nooit eroties beskou nie – ons is altwee te gay daarvoor, maar ons spot gereeld dat in ’n ander leeftyd, waar ek ’n man is of hy ’n vrou, sou ons die perfekte paartjie wees. Tog is ons sielsgenote op ’n heel ander manier wat soms meer volhoubaar voel. Queer vriendskappe is vloeibaar en oop genoeg om allerhande vorme, soos hierdie een, aan te neem en is gereeld ’n model vir wat moontlik is wanneer ons aan sorg buite monogamie begin dink. Ook ’n paar van my hegte ander vriende wat al jare in my lewe is, is my gemeenskap en ons is committed daaraan om mekaar te ondersteun op ’n manier wat mekaar se lewens verryk.
Na ek besluit het om nonmonogamy te probeer, het my wêreld oopgegaan vir meer en meer sulke soort vriendskappe. Ek het vriende begin word met meer mense wat intentional is oor en toegewyd is aan die bou van ’n gemeenskap van sorg en ons gesprekke en denke wentel gereeld rondom hoe mens hierdie soort netwerke van sorg volhoubaar maak. Dit wentel ook rondom die soort lewe(ns) wat hierdie soort gemeenskap moontlik maak. Deur ons behoeftes, gedagtes, begeertes, resources, sorg, idees, talente en alles anders oor ’n wye netwerk van mense te versprei, het almal toegang tot meer en niemand word leeggetap nie. Daar waar ek min het, is meer as net een mens vir my sterk, en daar waar ek meer het, kan ek sterk wees vir ’n klomp ander.
“Daar waar ek min het, is meer as net een mens vir my sterk, en daar waar ek meer het, kan ek sterk wees vir ’n klomp ander.”
Ek het soveel stories om te vertel van die afgelope paar jaar wat hierdie idee versterk, maar laat ek die een vertel wat my eerste byval. Verlede jaar was een van die moeilikste jare van my lewe. In ’n baie kort tyd het ek meer verloor as wat ek ooit gedink het is moontlik en die mat van sekuriteit wat ek met soveel sorg onder my voete geweef het, is onder my uitgeruk. Dinge wat ek my hele lewe lank op gereken het, het in ’n oogwink ontrafel, en ek het besef hoe ek eintlik nie daarop moes reken nie. Dit was die soort ontrafeling en verlies wat mens vir dae, weke, maande in trane in jou bed of op jou bank vaskeer. Mense het vir my kos gebring en my genooi om by hulle te kom eet, of huil, of cuddle, of net in stilte te sit. Almal het seker gemaak dat daar altyd iemand was om my te ondersteun. Die ontrafeling was op die ou end en is nog steeds vir die beste, maar dit maak nie die pyn daarvan makliker nie. Wat die pyn daarvan wel makliker maak, is die ondersteuning wat ek van my gemeenskap ontvang.
Toe my verlies en die storm wat my lewe geword het, ’n tipe crescendo bereik het, het ek vir ’n wyle by my ma in Hermanus gaan bly. Iets aan die lug en see daar is genesend. Dit was winter en in die dak het vlermuise hulle huis gemaak en tot laatnag met mekaar gesels. Slaap was moeilik en wakker word nog moeiliker. Een aand na middernag kry ek ’n oproep wat soos ’n sirene nog ’n krisis aankondig en in die weke van daardie krisis het dit gevoel asof ek finaal knak. Te midde van die krisis, stuur ek vir almal in my lewe ’n boodskap wat verduidelik wat aangaan. Binne ’n paar minute is een van my vriende op pad uit die Kaap na Hermanus met wyn en kos en geselskap. Ons het sop geëet en vir dae aaneen gesels tot dit weer gevoel het asof ek kan asemhaal en krag het om my lewe aan te pak. Ek kon die krisis opnuut face en daardeur kom met myself intak. Terwyl my vriend by my kuier, het my ma gevra of sy my girlfriend is, want binne ’n monogamiese raamwerk is dit slegs partners wat mens met soveel tyd en energie in krisisse ondersteun. Sy is nie my girlfriend nie, maar sy is een van die mense by wie ek geleer het dat vriende partners kan wees.
Consensual nonmonogamy is nie vir almal nie. Hoewel die oorvloed daarvan baie vreugde bring, bring dit ook unieke uitdagings. Dit verg dat mens met duidelikheid, empatie en eerlikheid kommunikeer met die mense in jou gemeenskap en die mense wat jy date. Selfs, en veral, oor die dinge wat jou kwesbaar en broos laat voel. Dit verg dat jy vra vir wat jy nodig het en sê wanneer iets pla. Dit laat jou jouself opnuut sien en soms is dit baie uitdagend om só in die spieël te kyk. Daar voor die spieël sien jy dikwels die skaduwees van jouself wat jy lank ontduik het. Tog dink ek dat as mens bereid is om die uitdagings daarvan te aanvaar, leer jy so baie oor jouself en ander mense.
Ek het vir my Instagram followers gevra om hul ervarings en opinies oor consensual nonmonogamy mee te deel en beide monogamous en consensually nonmonogamous mense het geantwoord. Vir dié wat monogamous is en dit ook nie wil probeer nie, was die antwoorde meestal as volg: Vir party plaas dit te veel druk op hulle verhouding met te min voordele; ander het weer nie die emosionele kapasiteit daarvoor nie; party is net nie aangetrokke daartoe nie; ander sê hulle verstaan dit op ’n intellektuele vlak, maar kan dit glad nie in praktyk hanteer nie; baie mense erken dat hulle bloot te jaloers is, al reeds sukkel om een persoon geïnteresseerd te hou; dat hulle te veel trauma van vorige verhoudings het; dat die bestuur daarvan vir hulle angs gee; dat een mens vir hulle genoeg is of dat dit net nie sal werk met hulle verhouding-dynamic nie. My followers wat consensually nonmonogamous is, getuig dat dit hulle toelaat om vry te voel, hulself te ontdek en te aktualiseer; dat dit persoonlike groei bring, ’n beter verstaan van hul emosies en dieper bande met mense aanmoedig en hulle toelaat om vrylik lief te hê. Party wat al lank consensually nonmonogamous is, getuig dat dit dieper vertroue aanmoedig; hulle beter ouers maak; hulle toelaat om groter en meer hegte gemeenskappe te bou; en dien as ’n teengifmiddel vir angs en die eksistensiële dread van monogamy. Een persoon het geskryf dat dit hulle leer om nie uitkomste te probeer beheer nie en hulle tyd beter te bestuur. ’n Ander het gesê dat dit vir hulle gewys het dat hulle verhouding van 15 jaar nie so secure is soos hulle gedink het nie, maar dat dit vir hulle die geleentheid gegee het om dieper sekuriteit in hulle verhouding te ontwikkel. Een follower het gedeel dat hulle nou al agt jaar ’n oop huwelik het en dat hulle kommunikasie baie verbeter het in die afgelope agt jaar. ’n Hele paar het getuig dat deur vrylik erotiek en intimiteit (hetsy dit eroties of nie) met ander te kan verken, het dit intimiteit en erotiek in hul bestaande verhouding(s) verdiep. ’n Paar mense getuig dat hulle dit al baie jare volhoubaar beoefen en beplan om dit op ’n langtermynbasis te doen. Party getuig dat die vooroordele moeilik is: die vrae oor of die verhouding okay is, of mens regtig ernstig is oor al jou partners, of dit net oor seks gaan, ensovoorts. Ten spyte van die uitdagings, is die oorvloed die eienskap wat oor en oor deurgeskemer het: oorvloed van ondersteuning, kommunikasie, liefde, sorg, vryheid, outonomie, vreugde en nog soveel meer.
Vir my part wens ek my hele lewe al vir sulke oorvloed. Vir my part is ek geïnteresseerd in al die moontlikhede en groei wat sit net anderkant die lyne van norme wat vir ons voorgeskryf word. Vir my part bied my skepsis die weg na ’n verbeeldingryke wêreld waarin gemeenskap floreer as ’n teengifmiddel vir al die kwale waarmee kapitalisme ons lewe verarm. Vir my part is ek nie meer skaam om te sê nie: Ek wil alles hê, want ek weet alles is moontlik.
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van 'n Lewe van oorvloed anderkant die lyne gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.