Queer- en trans-taal vir diegene wat beter wil verstaan
'n Woordelys deur Chan Croeser
Hierdie woordelys word gedeel om ’n storie oor Sir Gently, ’n drag daddy van Kaapstad, te vergesel. Sien die storie hier.
’n Nota aan die leser van my kant af: Deel van wat die queer gemeenskap so lekker maak, is dat ons juis ruimte skep vir vloeibaarheid. Persoonlik droom ek oor ’n wêreld waar ons wegdoen met kategorieë en die beperkende idees wat daarmee gepaard gaan. Boonop skiet taal maar altyd, of ten minste die meeste van die tyd, tekort om die mooi kompleksiteite van realiteit vas te vang. ’n Woordelys gaan dus nooit genoeg ruimte bied om die nuanse van mense se spesifieke identiteite oor te dra nie. Baie van die terme in hierdie woordelys is vloeibaar, konstant besig om te verander en verskillende mense gebruik terme op verskillende maniere. Hierdie woordelys is dus gans en al nie allesomvattend nie en maak geen aanspraak op volledigheid nie. Sien dit eerder as my manier om queer- en trans-taal ’n bietjie meer toeganklik te maak vir diegene wat beter wil verstaan.
Ek is geen lavender linguist nie, maar ek kan nog ’n hele artikel skryf waarin ek wik en weeg oor die mate van toeganklikheid wat verleen moet word aan queer- en trans-taal. Miskien is sommige woorde net vir ons? Daarteenoor, hoekom sal ek nou sulke soort gatekeeping wil doen?
Gender: Dis belangrik om te begin met die onderskeid tussen gender en geslag. Tradisioneel word geslag beskou as verwysend na die biologiese eienskappe wat mans en vrouens van mekaar onderskei, en gender word verstaan as die sosiale, kulturele en seksuele houding of identiteit wat “natuurlik” met die biologies-geslagtelike liggaam gepaard gaan. Judith Butler problematiseer beide hierdie kategorieë en die onderskeid tussen die twee. Boonop bly hulle ook maar net die beste uitgangspunt om gender te verstaan, so ek gaan my heel beste probeer om hulle hier kortliks te verwoord. Butler daag essentialist idees van gender uit deur te wys dat gender nie biologies inherent, essensieel of natuurlik is nie, maar eerder ’n stel norme, gedrag en rolle is wat sosiaal gekonstrueer is en wissel tussen verskillende samelewings en oor tyd. Gendered gedrag (masculinity en femininity) is dus nie natuurlik of biologies ’n gegewe nie, maar word op allerhande maniere blatant en subtiel op ons afgedwing. Beskrywings van huidige (dominante) maniere om masculinity en feminity uit te voer, word ook gewoonlik beskou as waardes oor die regte manier om gender op te voer. Dit wil sê dat daar ’n sogenaamde “regte” of “sosiaal aanvaarbare” manier is om gender op te voer en alles anders is eintlik taboo. (Jy weet, mans moet sterk wees en eerder nie huil nie, en vrouens moet wil babas hê anders is daar iets fout – ek oorvereenvoudig ’n bietjie, maar ek dink jy weet wat ek bedoel.) Hierdie gendernorme bepaal ook watse soort lewens as legitiem (of selfs moontlik) beskou word. Dis darem nie als doom en gloom nie. Omdat genderkonstruksie kunsmatig, konvensioneel en histories van aard is, beteken dit gender is iets waarmee ons kan speel. Dit beteken daar is baie ruimte om die aannames van die gender binary te kritiseer en weg te doen met daardie reëls (sosiaal, familiaal en wetlik) wat ons dwing om te konformeer. Dit beteken as mense ophou deelneem aan die herhaling van hierdie norme, kan daardie norme uiteindelik verdwyn. Ons kan in elk geval nooit gendernorme presies “reg” kry nie, so ek het lankal ophou probeer.
Geslag (ook seks): Vir baie jare al is die Westerse benadering tot menslike geslag oorwegend binêr en strak. Daarvolgens kan alle mense in een van slegs twee kategorieë gegroepeer word, man of vrou. Hierdie groepering is gebaseer op sekere visueel-waarneembare biologiese merkers, soos of iemand ’n penis (en dus XY-chromosome) of ’n vagina (en dus XX-chromosome) het. Geslag bepaal tot vandag nog grootliks die mate van toegang tot regte, geleenthede en die behandeling wat mense ontvang. Omdat geslag en gender deur die meeste mense as onafskeidbaar beskou word, bepaal geslag dus ook hoe ons deur ander gegender en kondisioneer word. In eenvoudige terme: Volgens dié benadering haal die dokter jou uit jou ma se baarmoeder uit, kyk na jou genitalieë en besluit daar en dan wie jy is vir die res van jou lewe. Deesdae is daar egter al meer navorsing wat aandui dat menslike geslag nié so binêr is nie, dat geslag eerder ’n spektrum is en dat die kategorisering van sekere biologiese merkers dalk ook sosiaal gekonstrueer is. Judith Butler vat ’n stappie verder en sê dat geslag, nes gender, sosiaal en kultureel gekonstrueer is.
Masculinity en femininity: Ek gebruik doelbewus masculinity en masculine en femininity en feminine, eerder as manlikheid en manlik of vroulikheid en vroulik, omdat die Engelse woorde toelaat vir die idee van masculinity om apart te staan van mans en vir femininity om apart te staan van vrouens. Masculinity en femininity hoef dus nie gebonde te wees aan die gender binary nie en enige iemand kan masculine en/of feminine wees. Omdat die Afrikaanse woorde man en vrou bevat, is dit moeilik om hulle konsepsueel op dieselfde manier te ontkoppel.
Nie-binêr: ’n Sambreelterm wat verwys na mense wat buite die gender binary val. Dit kan beteken dat hulle nóg man nóg vrou is, ’n heel ander gender is (soos two-spirit, demigirl, demiboy of derde gender), meer as een of ’n mengsel van genders is (bigender of pangender), fluktueer in hulle gender (gender-vloeibaar, gender-nie-konformerend of gender queer), of geen gender is (agender). Nie alle nie-binêre mense beskou hulself as trans nie, maar baie (soos ek) doen wel. Sien hier en hier vir meer van my idees oor nie-binêr wees.
Enbies: Die meervoudvorm van die woord enby, ’n shorthand wat verwys na nie-binêre mense en spruit uit die fonetiese uitspraak van NB. Enby word in stede van NB gebruik om verwarring te vermy.
AFAB: Assigned female at birth. Dié akroniem verwys na mense wat by geboorte as vrou toegewys is (weens binêre idees oor die sogenaamde biologiese merkers van geslag – sien geslag en gender), maar wat nie vrouens is of nie altyd vrouens is nie (omdat hulle fluktueer in hul gender). Die term trek aandag na die maniere hoe genderidentiteit en geslag toegewys by geboorte (kan) verskil van mekaar. Dit trek ook aandag na die wyse waarop die mediese toewysing van geslag by geboorte ietwat arbitrêr is en verbonde is aan ’n binêre verstaan van die sogenaamde biologiese merkers van geslag. My raad aan buitestanders van die gemeenskap is om eerder nie die term te gebruik wanneer julle verwys na mense nie. AFAB is nie noodwendig ’n identiteit op sigself nie, maar is eerder ’n term geskep deur en vir die trans gemeenskap om te praat oor wat trans mense ervaar omdat ons ’n spesifieke liggaam het, gekondisioneer is en/of soms gelees word as die geslag wat ons by geboorte toegewys is. Wanneer mense buite die gemeenskap die akroniem gebruik om na trans mense te verwys, erase dit hulle genderidentiteit en reduseer dit hulle van voor af na hulle geslag toegewys by geboorte.
AMAB: Assigned male at birth – sien AFAB.
Ballrooms: Die ballroom scene (ook bekend as die ballroom-gemeenskap, ballroom-kultuur, of net ballroom) het begin as ’n Afro-Amerikaanse en Latino/Latinex ondergrondse queer-subkultuur. Die oorsprong daarvan kan gevind word in drag balls van die middel 19de-eeuse Verenigde State. Teen die vroeë 20ste eeu was geïntegreerde drag balls gewild in stede soos New York, Chicago, New Orleans, Baltimore en Philadelphia. In die middel van die 20ste eeu, as ’n reaksie op rassisme in geïntegreerde drag-ruimtes, het die balls ontwikkel tot house ballroom, waar Swart en Latino deelnemers in ’n verskeidenheid kategorieë vir trofeë en kontantpryse kon “walk” – dit wil sê vogue, dans of loop en pose op die loopplank. Die meeste deelnemers aan ballroom behoort aan groepe bekend as “huise”. Huise is ruimtes gelei deur “mothers” en “fathers” wat reeds ballroom-ervaring het. In hierdie ruimtes ontwikkel mense verhoudings en gemeenskappe, bekend as chosen families, wat apart is van hulle families van herkoms omdat hulle dikwels van hulle families vervreem is. Die invloed van ballroom-kultuur kan steeds in dans, taal, musiek en populêre kultuur gesien word, en die ballroom-gemeenskap bestaan vandag nog. In Suid-Afrika self word daar in stede soos Kaapstad en Johannesburg gereeld ballroom events soos Spectrum en VNJ Ball gehou. Daar is ook verskeie huise soos House of Le Cap en The Royal House of Labeija South African Chapter.
DIY: DIY drag-kunstenaars verwys na mense wat hulle hele drag look of dele van hulle look self skep, gewoonlik omdat hulle dit nie andersins sal kan bekostig nie. Hulle maak byvoorbeeld hulle eie padding of hulle eie uitrustings.
Drag-pa en -ma: ’n Gevestigde en ervare drag king (pa) of queen (ma) wat nuwe en minder ervare drag kings of queens onder hulle vlerk neem, oplei, ondersteun en touwys maak deur hulle te leer oor make-up, performance, klere en hoe die wêreld van drag werk. Party drag-pa’s en -ma’s het drag-families en soms neem hulle drag-seuns en -dogters selfs hul name aan.
Pansy: Gereeld gebruik teenoor veral gay mans as ’n neerhalende term. Dit is onduidelik of die term spruit uit die insinuasie dat gay en/of effeminate mans delikaat is soos pansy-blomme (gesiggies) en of dit voortvloei uit die helder kleure van die blomme. In ieder geval insinueer die neerhalende gebruik van die term dat gay en/of effeminate mans nie masculine genoeg is nie en dus swak is. In die verlede is drag queens gereeld pansy performers genoem.
Transmasc: ’n Verkorte weergawe van die sambreelterm transmasculine wat verwys na trans mense wie se genderidentiteit en/of -uitdrukking oorwegend masculine is. Die term sluit trans mans in, maar ook nie-binêre mense wat slegs gedeeltelik, soms of glad nie as mans identifiseer nie.
Transfemme: ’n Verkorte weergawe van die sambreelterm transfeminine wat verwys na trans mense wie se genderidentiteit oorwegend feminine is. Transfemme kan verwys na trans vrouens, maar ook nie-binêre mense wat slegs gedeeltelik, soms of glad nie as vrouens identifiseer nie.