Simon Nkoli, 'n Mandela-ikoon
Queerregte is grotendeels te danke aan dié aktiviste
Dit is in geen klein mate te danke aan ’n groep aktiviste van Johannesburg dat gelykheid op grond van seksuele oriëntasie in Suid-Afrika se grondwet verskans is. Dié groep, bekend as die Gay and Lesbian Organisation of the Witwatersrand (GLOW), is gelei deur Simon Nkoli, ’n anti-apartheid aktivis wat sy politiese stryd as ’n swart man onlosmaakbaar deel van sy stryd om gay-regte beskou het.
Simon Tseko Nkoli is in 1957 in Soweto gebore en het later na die Sebokeng-township, suid van Johannesburg verhuis. Op 19-jarige ouderdom het Nkoli betrokke geraak by die 1976-opstand en hy is telkens tussen 1976 en 1981 deur die polisie in hegtenis geneem, dikwels vir maande lank. Sy ma het dit aanvanklik moeilik gevind om sy homoseksualiteit te aanvaar. Sy het hom gedwing om vir omtrent ’n jaar lank op besoek te gaan by die sangomas in Sebokeng om die oorsaak van sy vervloeking te probeer vind. Die kerk het weer op sy beurt bloot die Bybel se anti-gay-gedeeltes vir Nkoli aangehaal. Hy het wel later regte ondersteuning gekry by ’n sielkundige.
Nkoli se betrokkenheid by jeugpolitiek in die stryd teen apartheid het daartoe gelei dat hy aangesluit het by die Congress of South African Students (COSAS) en die United Democratic Front (UDF). Toe sy kamerade agterdogtig begin raak het oor sy seksuele oriëntasie het hy aan hulle uitgekom. Baie wou hê dat hy sy posisie as Transvaalse streeksekretaris van COSAS moes opgee, met die argument dat homoseksualiteit nie inheems (African) is nie. Hulle het egter nie in hulle pogings geslaag nie – Nkoli het die nodige stemme gekry om sy posisie te behou. Nkoli was terselfdertyd ’n lid van die (oorheersend wit) Gay Association of South Africa (GASA) en in 1983 het hy die Saturday Group gestig, ’n subgroep van GASA wat meestal op sy paar swart lede gerig was.
Delmas-verraadverhoor
In 1984 is Nkoli, saam met 21 ander politieke leiers, aangekla en verhoor vir verraad teen die apartheidstaat in die langdurige Delmas Treason Trial. Die verhoor het in die klein dorpie van Delmas plaasgevind, meer as ’n uur se ry van Johannesburg af, om die waarskynlikheid van betogings te bekamp. Die inhegtenisnemings het plaasgevind ná die polisie op 3 September 1984 op betogers in die Sebokeng-township geskiet het. Ongeveer twintig mense is doodgeskiet. By die begrafnis op 23 September het die polisie die begraafplaas omring en baie in hegtenis geneem, onder andere Nkoli. Hy was nege maande lank in aanhouding voordat die staat hom in Junie 1985 formeel aangekla het. In dié tyd het verraad die doodstraf as ’n moontlike vonnis ingehou.
Dit sou nog twee jaar duur voordat Nkoli op borgtog vrygelaat is. En nog ’n halwe jaar voordat hy ’n opgeskorte vonnis opgelê is, wat streng beperkings op sy regte op vryheid van spraak en assosiasie geplaas het. Nóg ’n jaar het verloop voordat die hele verhoor ongeldig verklaar is deur die appèlhof. Dit het een van die langste politieke verhore in Suid-Afrika geword – 420 dae in die hof. Nkoli en die ander Delmas-verhoorlede is uiteindelik vrygespreek op al die aanklagte teen hulle.
Alhoewel hy openlik gay was ten tyde van sy inhegtenisneming, was sy seksualiteit nie noodwendig aan al sy medebeskuldigdes bekend nie. Vir baie van Nkoli se mede-verhoorlede was dit die eerste keer dat hulle gekonfronteer is met die kwessie van homoseksualiteit. Nkoli het hulle aannames van gaywees uitgedaag deur die openlike uitlewing van sy identiteit as ’n swart gay man. Hierdie bydrae, tesame met die werk van ander vryheidsvegters en internasionale invloed, het die African National Congress (ANC) onder druk geplaas om seksuele regte op hulle agenda te plaas.
GLOW, GASA en ander organisasies
GASA het geweier om Nkoli te ondersteun tydens die Delmas-verraadverhoor, met die aanvoering dat dit hulle “apolitiese” aard in gedrang sou bring. Dit het daartoe gelei dat GASA uitgeskop sou word by die International Lesbian and Gay Association (ILGA), wat GASA as konserwatiewe organisasie vir die wit middelklas nog verder van die internasionale gay- en lesbiese stryd geïsoleer het. Dit was die internasionale gemeenskap wat ter ondersteuning van Nkoli opgetree het deur bewusmakingsveldtogte.
Ná sy vrylating in 1988 het Nkoli saam met ander aktiviste GLOW gestig. GLOW het ten doel gehad om ’n eksplisiet nie-homofobiese, nie-rasistiese en nie-seksistiese ruimte te skep vir gays en lesbiërs wat in en om Johannesburg woon. Die organisasie het takke regoor die stad gehad, onder meer in Hillbrow, KwaThema, Berea, Soweto en Yeoville. GLOW het ook in 1990 Suid-Afrika se eerste Pride-protesoptog in Johannesburg gereël, waarby 800 mense opgedaag het. Nkoli, Beverly Ditsie, Edwin Cameron, Donne Rundle en Hendrik Pretorius het die skare toegespreek. Pretorius het tydens sy toespraak bedank as NG dominee om die Reformerende Gemeentes van Gelykes in Christus te stig – ’n gemeente vir gay lidmate. Teen 1999 het die optog na raming 20 000 mense getrek, en ’n straathoek in Hillbrow, Johannesburg is na Nkoli vernoem.
Buiten die reël van die eerste Pride-optog, het GLOW die maandelikse nuusbrief Glowletter gepubliseer. Dit het nuus oor die organisasie en internasionale gayregte bevat, sowel as penvriend-advertensies, boekresensies, strokiesprente en briewe van GLOW-lede wat reageer op ’n verskeidenheid onderwerpe. GLOW het ook verskeie werkgroepe gehad, waaronder ’n mediagroep, ’n lesbiese forum, ’n opvoedingsforum en die VIGS-werkgroep wat deur Nkoli gelei is.
GLOW het ’n belangrike rol gespeel in die stryd vir die insluiting van ’n grondwetlike klousule wat diskriminasie op grond van seksuele oriëntasie verbied. Politieke steun vir die insluiting van dié klousule het reeds in 1990 begin. Onder die vaandel van die sambreelorganisasie National Coalition for Gay and Lesbian Equality, wat in 1994 gestig is, is voorleggings voorgelê aan die Konstitusionele Vergadering ter ondersteuning van die gelykheidsklousule. Teen 1996 is hierdie klousule in die Grondwet verskans, ’n wêreldwye eerste waar daar in ’n grondwet teen diskriminasie op grond van seksualiteit gewaarborg is. Suid-Afrika was boonop die vyfde land ter wêreld wat selfdegeslag huwelike wettig gemaak het en die eerste land in Afrika.
Nkoli is in die tronk as MIV-positief gediagnoseer. Hy bly een van die min mense in Suid-Afrika wat gekies het om openlik met hulle MIV-status te leef. Antiretrovirale behandeling was nie vrylik beskikbaar nie, en Nkoli, wat nie die peperduur medikasie kon bekostig nie, het vir ’n geruime tyd sonder enige behandeling geleef. Dit was eers later dat ’n buitelandse skenker sy behandeling sou borg. Hy het ’n aktiewe MIV/Vigs-kampvegter in Suid-Afrika en in die buiteland geword. Nkoli het in 1990 die Township AIDS Project (TAP) in Soweto help stig, en hy het ook die Positive African Men-groep in Johannesburg tot stand gebring. Hy is op 30 November 1998 aan VIGS-verwante oorsake op 41 oorlede.
Bev Ditsie
Simon Nkoli het nie eiehandig die stryd aangepak nie. ’n Reeks ander figure het prominente rolle gespeel, soos dit duidelik gemaak word in die boek Defiant Desire: Gay and Lesbian Lives in South Africa (1995, met redakteurs Mark Gevisser en Edwin Cameron). Dit was waarskynlik die aktivis Beverly Ditsie wat die mees prominente rol in Nkoli se lewe gespeel het, beide persoonlik en as kollega in die queerbevrydingsbeweging (Ditsie was sy de facto adjunk by GLOW). Dinge tussen hulle was nie altyd maklik nie – ’n verhouding wat herinner aan dié van die kunstenaarspaartjie Robert Mapplethorpe en Patti Smith.
In 2002 het Beverley Ditsie saam met Nicky Newman die dokumentêre film Simon & I gemaak. Die film handel oor haar verhouding met Nkoli, haar mentor, met wie sy kontak verbreek het vir ’n paar jaar weens ’n uitval oor haar invloed wat in syne begin ewenaar het, sowel as seksisme binne GLOW. In die film word die verhaal van Nkoli se aktivisme vertel, maar dit is ook ’n tipe outobiografie van Ditsie se lewe en ervarings, soos dat sy as kind geglo het dat sy eintlik ’n seun is. Ditsie het later die eerste gay vrou in Afrika geword wat die gehoor by ’n VN-konferensie toegespreek het.
Hoofbron: GALA Queer Archive
Baie van die foto’s in hierdie storie word bewaar en beskikbaar gemaak deur GALA.