Granny Lee, die queer Hillbrow-ikoon

Granny Lee, die queer Hillbrow-ikoon
Foto’s: Herb Klein (kopiereg voorbehou)

Foto’s: Herb Klein (kopiereg voorbehou)

Fopdosser het alle grense oorskry

Granny Lee is op 18 Maart 1919 as Leonard Malcolm Christian Du Plooy gebore in ’n Coloured, dikwels disfunksionele familie. Hy (die voornaamwoorde in dié artikel morfeer saam met die subjek se lewensverhaal) het in Kimberley grootgeword en het later as ’n kleuterskoolonderwyser en ’n tennisafrigter gewerk, en het graag gedans, klavier gespeel en gebrei. Weens hierdie feminiene stokperdjies is Lee meer aanvaar deur die vroulike gemeenskap, en met agterdog bejeën deur die mans.

In hulle dertigs, met die loop van hulle metamorfose, het Lee na Durban verhuis en hulself in dié stad se gaylewe gedompel. Kort voor lank het hulle ’n bordeel bedryf. Hulle drankgebruik (dikwels dubbel Brandy en Coke met suurlemoen) was van so aard dat hulle vel weens ’n lewertoestand begin wit word het. Dit is aangevuur deur oordosis medikasie. In Lee se vyftigs het hulle na Johannesburg getrek, weg van die konstante teistering deur die Durbanse polisie. Hulle witterige vel het Lee toegelaat om deels die rasregulasies te oortree – hulle het gedoen en gegaan waar hul wou.

In latere jare is die vroulike transformasie na Granny Lee voltrek, met dié dat Granny Lee slegs vroueklere gedra het. Die persona van Granny Lee het ’n voltydse betrekking geword. Sy was veral lief vir hoede wat sy self gemaak het, sowel as vere, krale, kostuumjuwele, en uitspattige grimering. Granny Lee het alle vorme van selfbehoud laat vaar en het as pensionaris een van Johannesburg se mees bekende klubgangers en fopdossers geword. Haar manewales, kru taal, drankgebruik en selfgemaakte uitrustings het ’n kenmerk van die stad en veral van Hillbrow se naglewe geword. Sy het vir menige katelknape (rent boys), baie van hulle Afrikaans, wat met ambisies en ideale in die groot stad aangekom het, verblyf en ’n bord kos aangebied by haar woonstel in Joubertpark wanneer hulle geluk opgedroog het. Hierdie seuns het later vir hulle “den mother” gesorg deur geld en ander hulp aan te bied.

Sy het vir menige katelknape (rent boys), baie van hulle Afrikaans, wat met ambisies en ideale in die groot stad aangekom het, verblyf en ’n bord kos aangebied by haar woonstel in Joubertpark wanneer hulle geluk opgedroog het.

Granny Lee het ’n ikoon geword. Sy het voorgegee dat sy in haar tagtigs was as deel van haar persona. Sy het haar “81ste verjaarsdag” gevier by die bekende Connections in Hillbrow. Sy was ’n trekpleister na klubs en ander partytjies en haar kroegrekening is gevolglik dikwels afgeskryf. Sy was gereeld by Mandy’s, The Dungeon, Mrs Hendersons, Champions, Skyline Bar, Res Club en Zipps. Nie almal het van haar gehou nie, maar sy is orals verdra. Met haar dood op die ouderdom van 70 het sy haar roubeklaers verras met ’n opname van haar afskeidboodskap — bestaande uit beledigings van die aanwesiges (luister hierna in die video hieronder). Sy het, na bewering, haar eie dood sien kom en dit die aand voor haar noodlottige karongeluk in 1989 voorspel. Sy was die eerste PVK (persoon van kleur) wat in Johannesburg se destydse “slegs-Wit” Westpark-begraafplaas begrawe is.

Granny Lee se liggaam is deur Inspekteur Mostert van die Vrede-polisiestasie gerapporteer as dié van ’n Wit vrou: daar is eers later met skok ontdek dat die kadawer nie Wit of ’n vrou was nie. Granny Lee wou nooit ’n sogenaamde geslagsbevestiging-operasie ondergaan nie: “I am not one of those people who want to shine like common brass in sunlight… The reason why I will never have a sex change is for the simple reason that I’m a very holy type of person. People may not think so, but I’ve been brought up that way. I don’t think I will be accepted with a plastic body in the new hemisphere, wherever it is. That’s why I keep my body as I was born. The other reason is this. If a man wanted a fish, he’d go to real fish.”

Luiz DeBarros het in 2000 ’n dokumentêr vir SABC3 oor die lewe van Granny Lee gemaak, Metamorphis: The Remarkable Story of Granny Lee. In die dokkie word daar gebruik gemaak van foto’s wat deur Herb Klein geneem is, ’n erotiese mansfotograaf wat dikwels vir Granny Lee afgeneem het en met haar bevriend was. Klein het ook die foto’s wat in hierdie storie gebruik is, geneem. Baie van hierdie foto’s en ander materiaal verbonde aan Granny Lee, word bewaar in die GALA Queer Archive in Johannesburg, wat deur Klein aan dié argief geskenk is. Meer verhale oor Granny Lee is gedokumenteer in Klein se fotoboek Lost Gay South Africa.

Jy kan meer leer oor die queer geskiedenis van Hillbrow in GALA en Dlala Nje se staptoer op die laaste Sondag van elke maand.

IMG_0080.PNG
IMG_0081.PNG
Granny+Lee.jpeg
86970101_1597999720347138_530984169694560256_n.jpeg
87010787_1597999620347148_3605897251429285888_n.jpeg
87432273_1597999587013818_3136261685921185792_n.jpeg
87529724_1597999760347134_3539948445211033600_n.jpeg
170652924_1965593246921115_2227780995859179030_n.jpeg
96422960_1667813100032466_2455052711402405888_n.jpeg
96275660_1667812330032543_7738684834280636416_n.jpeg
110137831_10221392781101942_1288415705284705559_n.jpeg
122221819_1826044267542681_6802703281965987646_n.jpeg
129221375_1866183196862121_7383993371334232599_n.jpeg
129311858_1867896310024143_7812042395076713403_n.jpeg
129478443_1866182886862152_5037608618825944612_n.jpeg
196143525_2010828219064284_7862581114149182690_n.jpeg
199624308_10223838361479923_4885906093651733760_n.jpeg

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Granny Lee, die queer Hillbrow-ikoon gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand