Die seun van Port Elizabeth met die vele gesigte

Die seun van Port Elizabeth met die vele gesigte
christopher smith 1.png

’n Shapeshifter in ’n klein kamertjie

Al die foto’s van Christopher Smith, ’n 22-jarige, word in sy klein slaapkamer in Port Elizabeth geneem, en almal is boonop selfportrette. Hy gebruik al vandat hy 17 is ’n kompakte digitale Samsung-kamera ná hy aanbeweeg het van eksperimenteer met vroeë selfoonkameras. Hy spandeer omtrent twintig minute tot ’n uur van begin tot einde met die skep van ’n foto, maar nie veel langer as dit nie. “Ek probeer om die goedkoopste en eenvoudigste ding moontlik te doen, as dit nie werk nie los ek dit heeltemal. My slaapkamer is klein. Ek het drie plekke om foto’s te neem - op my bed, langs die rak as ek daglig gebruik, of langs die bed as ek ’n nagfoto met my bedlampie neem,” vertel hy aan Another Man.

Christopher, wat grafiese ontwerp studeer, se visuele geletterdheid het aanvanklik van modetydskrifte gekom, veral Vogue se Britse, Amerikaanse en Franse uitgawes. Hy het later begin om bronmateriaal te trek vanaf die internet: fotoargiewe, albumomslae, nuusfoto’s en outopsies. “My lewe in ’n neutedop is ek wat op rusbank sit met my rekenaar en na foto’s kyk, met CNN of VH1 musiekvideo's wat speel in die agtergrond.”

Buiten die feit dat hy homself gebruik as model in die foto’s, vertel Christopher dat hy selfbewus is en nie daarvan hou om deur ander mense afgeneem te word nie. Hy is baie privaat oor sy proses, en wil nie hê dat ander moet sien hoe hy “poseer soos ’n idioot nie”, al weet hy die finale produk reg sal uitdraai. Sy foto’s is dikwels donker, met bebloede, vasgebinde en gemartelde portrette van obskure karakters wat lyk of hulle uit ’n David Lynch film kom. Die foto’s beeld doelbewus die gevoel van ’n ander era uit, verwyderd van die beheptheid met moderne kultuur. Die foto’s is dan ook queer, seksueel en dikwels geskoei op BDSM.

In een foto, waar hy homself met ’n strik hang, het hy oorweeg om vir logistieke hulp te vra. “Ek was nie seker hoe om die tou reg te kry nie, toe vra ek my suster of sy dit kan vashou. Sy het gesê: ‘Nee, ek studeer’.” Al word die meer as 160 foto’s op sy Instagram almal as self-portrette beskryf, benadruk hy dat dit meer gaan oor die skep van ’n beeld en dat hy nie veel in gemeen het met die karakters nie. Hy sê hy is eintlik baie gewoon, ’n plain Jane. Dit laat mens dink aan Karen Zoid se song waar sy sing: “I’ll get stuck in a small room with you any day, any day now”, ook die ander waar sy sing: “Aeroplane Jane's gone insane.”

37328422_264015894185025_741302052390436864_n.jpg
41418488_692987984433192_179824852410993522_n.jpg
14052730_285604595150148_772872123_n.jpg
15275746_1197934660301590_8481066529780137984_n.jpg
24175467_191668134723676_4843564877467353088_n.jpg
19379350_2140162102876765_5355107877696569344_n.jpg
14499044_1755417491341932_3514508649542189056_n.jpg

Redakteur van Klyntji, assistent-kurator van die Konstitutionele Hof se kunsversameling en tans besig met 'n LLM in mediareg. Instagram / redakteur@klyntji.com

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Die seun van Port Elizabeth met die vele gesigte gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand